Ouers—Hoe kan julle jul huisgesin ‘opbou’?
“Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word, en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig bevestig word.”—SPREUKE 24:3, NW.
1. Wat is een voorvereiste vir ’n sterk gesin?
IN ’N ONLANGSE opname is daar aan 550 beroepsmense wat spesialiseer in gesinsvoorligting gevra watter eienskappe hulle die algemeenste in sterk gesinne aantref. Bo-aan die lys was kommunikasie en die vermoë om te luister. Die outeur van die opname, Dolores Curran, het die rede verduidelik: “Dit is die kragbron agter omgee, gee, deel en verseker. As ons nie werklik luister en van onsself gee nie, kan ons mekaar nie ken nie. Ons word ’n gesin van kamermaats wat klinies pleks van hartlik op mekaar se behoeftes reageer.” Ja, die vrye vloei van kommunikasie is die lewenstroom van ’n sterk gesin.
2, 3. (a) Watter probleem word selfs in sommige Christenhuise ondervind? (b) Wat kan volgens Spreuke 24:3, 4 help om ’n sterk gesin op te bou? (c) Watter vrae moet beantwoord word?
2 Waar intimiteit ontbreek, kan die gevolge egter tragies wees. Een van die Wagtoringgenootskap se takke in Afrika is byvoorbeeld gevra waarom sommige jong Christene Bybelse sedes oorboord gegooi het. “Die vernaamste swakheid wat die hele probleem ten grondslag lê”, het die antwoord gelui, is “ouers se versuim om goeie luisteraars te wees en hulle onvermoë om met hulle kinders te redeneer. So baie ouers het nie ’n werklik intieme verhouding met hulle kinders nie.” Dit is natuurlik net een sy van die probleem—ofskoon ’n belangrike sy. Persoonlike gehoorsaamheid en godvrugtige toewyding aan die kant van jongmense is, soos met enigiemand anders, hoofsaak (Romeine 14:12; 1 Timotheüs 6:6, NW). Kyk ook na Spreuke 24:3, 4 (NW). Dit lui: “Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word, en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig bevestig word. En deur kennis sal die binnekamers gevul word met allerlei kosbare en aangename dinge van waarde.”
3 Maar hoe kan jy wysheid, onderskeidingsvermoë en kennis gebruik om die nodige emosionele intimiteit te bereik, veral met adolessente? Hoe kan jy voorkom dat jy per abuis hindernisse in die weg van kommunikasie plaas? (Vergelyk Spreuke 14:1, 12.) Bowenal, hoe kan jy ’n gesin opbou wat standvastig is in ware aanbidding? Weens die baie eise wat aan jou tyd en aandag gestel word, wonder jy dalk waar om te begin. Die eerste eienskap, wysheid, kan jou help om voorkeure te stel.
Toon wysheid deur voorkeure te stel
4. Wat moet ’n Christengesin se hoogste voorkeur wees?
4 “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid”, het die psalmis geskryf (Psalm 111:10). Jou eie gesonde vrees om God te mishaag, terwyl jy sy aanbidding eerste stel, is noodsaaklik. Een moeder het verduidelik hoe sy en haar man hulle twee seuns suksesvol grootgemaak het om Jehovah te dien: “Ons het ons lewens met die waarheid gevul—al die byeenkomste bygewoon, vir die vergaderinge voorberei en dit bygewoon, die velddiens ’n gereelde deel van ons lewens gemaak.” Haar man het bygevoeg: “Die waarheid is nie ’n deel van ons lewe nie, dit is ons lewe. Dit is die spil waarom alle ander dinge draai.” Geniet Jehovah se aanbidding ook die hoogste voorkeur in jou huis?
5. Waarom het Christenouers balans nodig?
5 Hoewel deelname aan die veldbediening as gesin julle hegter sal saamsnoer, vereis die unieke behoeftes van kinders dat ouers van hulle private tyd en emosionele energie aan hulle kinders afstaan. Balans is dus nodig om te bepaal hoeveel tyd jy vir die predikingswerk of gemeentelike pligte kan gebruik terwyl jy ook geestelik, emosioneel en materieel ‘vir jou eie mense’ sorg. Jy moet “eers leer om in [jou] eie huisgesin godvrugtige toewyding te beoefen” (1 Timotheüs 5:4, 8, NW). Om veral vaders te help om die balans te vind tussen gesinsverantwoordelikhede en bedieningspligte het Die Wagtoring van 15 Desember 1959 die volgende raad gegee: “Laat daar . . . behoorlike gewig gegee word aan die belange van u eie gesin. Jehovah God sal sekerlik nie verwag dat ’n man al sy tyd in gemeentewerk gebruik, om sy broers en naaste te help om redding te verkry, en nogtans nie die redding van sy eie huisgesin behartig nie. ’n Man se vrou en kinders is sy vernaamste verantwoordelikheid.”
6. Watter gevaar moet ouers vermy, en hoe?
6 Hierdie verantwoordelikheid word nie noodwendig nagekom deur baie ure saam met jou kinders deur te bring nie, maar deur ten volle gebruik te maak van daardie tyd. Ongelukkig is sommige ouers so besig met gemeentelike verantwoordelikhede, ’n veeleisende betrekking, of om in materiële behoeftes te voorsien dat hulle gedagtes elders is selfs wanneer hulle tyd saam met hulle kinders bestee. Eers na ’n gesinstragedie besef hulle dat hulle hul voorkeure moet heroorweeg. “Die wysheid van bo is . . . redelik, bereid tot gehoorsaamheid” (Jakobus 3:17, NW). Sulke hemelse wysheid sal jou help om jou tyd en emosionele betrokkenheid behoorlik in te deel sodat jy aan al Jehovah se gebooie gehoorsaam is.
Die roede en bestraffing gee wysheid
7. Hoe kan Spreuke 29:15 met welslae toegepas word?
7 Wanneer jy streng maar liefdevol by regte beginsels staan, kom jou kinders agter dat jy vir hulle omgee. Permissiwiteit is die teelaarde van sowel jeugdige onsekerheid as weerbarstigheid. “Die roede en die bestraffing gee wysheid” (Spreuke 29:15; 22:15). “Die roede en die bestraffing” sal alleen doeltreffend wees as dit met liefde gepaard gaan. Tug wat onbillik of in die hitte van emosie toegepas word, kan ’n kind se gees breek. “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie” (Kolossense 3:21). Die ‘tugroede’ sluit gepaste straf in, maar as jy onredelike eise stel, te krities is en die kind verneder, maak jy misbruik van hierdie “roede” en kan jy ’n kind se vertroue in homself en in jou verpletter. Hy kan “moedeloos word”.
8. Verduidelik waarom “teregwysing” meer as kastyding beteken.
8 Maar “die roede en die bestraffing” is albei nodig. Bestraffing, of teregwysing, verg meer as kastyding; dit behels die voorlê van feite om ’n ander te oortuig.a Die Hebreeuse woord vir “teregwysing” word ook weergegee met “teëspraak” (Psalm 38:15). Teregwysing beteken dus dat ’n mens bereid en in staat is om feite voor te lê sodat die kind die rede vir jou optrede kan insien. Die publikasies van die Wagtoringgenootskap bevat materiaal, in sommige gevalle hoofsaaklik vir jongmense geskryf, wat jou kan help om aan jou kind grondige redes voor te lê oor waarom ’n sekere handelwyse verkeerd is. Maak jy ten volle van sulke materiaal gebruik?
Onderskeidingsvermoë wek empatie
9. Wat is onderskeidingsvermoë, en waarom is dit belangrik?
9 Onderskeidingsvermoë is nog ’n noodsaaklike faktor by kommunikasie. Die oorspronklike Hebreeuse woord kom van ’n grondwoord wat beteken “om te onderskei tussen”. Hierdie goeie insig kyk verder as wat voor die hand lê en is derhalwe verwant aan begrip, empatie en medelye.—1 Petrus 3:8.
10. Hoe is vyandelikhede in Bybeltye voorkom omdat daar dieper gekyk is as wat voor die hand lê?
10 ’n Bybelvoorbeeld wat die waarde van onderskeidingsvermoë toon, is in Josua 22:9-34 opgeteken. Die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse, wat grondgebied aan die oostekant van die Jordaan ontvang het, het ’n reusealtaar op hulle grond gebou. Die ander stamme het dit as afvalligheid beskou en hulle gereed gemaak om hierdie oënskynlik moedswillige oortreding van God se wet te straf (Levitikus 17:8, 9). Voordat hulle opgetree het, het hulle ’n afvaardiging gestuur om met die twee en ’n halwe stam te praat (Spreuke 13:10, NW). Die bespreking het aan die lig gebring dat die altaar nie gebou is om offerandes daarop te bring nie, maar dat dit eerder “uit ’n sekere besorgdheid” gebou is. Omdat hulle deur die Jordaan van die ander stamme geskei was, was die twee en ’n halwe stam baie bekommerd oor die moontlikheid dat hulle nasate van Jehovah se aanbidding afgesny sou word. Die altaar sou ’n voortdurende herinnering, “’n getuie”, wees dat hulle ook ’n deel van God se volk is. Wat ’n ommekeer het hierdie verduideliking meegebring! ’n Ander lig is op hierdie oënskynlik vermetele sonde gewerp. Danksy hulle ‘lankmoedigheid’ kon daardie ander stamme die ware toedrag van sake onderskei, en dit het tot begrip gelei.—Spreuke 14:29.
11. Hoe het een ouer onderskeidingsvermoë getoon?
11 Probeer jy om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê wanneer daar ’n probleem met jou kind opduik? Beskou ’n voorbeeld: een van die seuns van ’n Christenegpaar het begin om elke dag ‘briesend vir die wêreld’ van die skool af te kom. “Hy wou nie sê hoekom hy so kwaad is nie”, het die vader verduidelik. “Eers het ek gedink hy is sommer opstandig, maar toe het ek agtergekom dat hy stil raak wanneer ek oor die skool uitvra. Wel, ons het lank gesels, en ek het ontdek dat die kinders by die skool met hom spot omdat hy klein is vir sy ouderdom. Nadat ek hom verseker het dat ek verstaan hoe swaar dit moet wees om sulke behandeling te verduur, het ek hom praktiese wenke gegee oor hoe om dit die hoof te bied.” Die seun se gesindheid het gou verbeter.
12. Waarom is die tienderjare vir die meeste kinders moeilik, en wat verg dit van ouers?
12 Sou jy dieselfde geduld met jou kind aan die dag gelê het? Kinders, veral tienderjariges, kan grootliks beïnvloed word deur die skool, hulle voorkoms, seksuele begeertes en gewildheid. “Van al die stadiums van die mens se ontwikkeling is adolessensie die moeilikste”, het die blad Adolescence gesê. “Die adolessente, selfkrities en onervare, voel ontoereikend in ’n wêreld wat mededingend en ongevoelig is. Hulle weet nie hoe om vernedering en mislukking te aanvaar nie en reageer eerder met groot gebelgdheid en angs.” Sulke lastige emosies kan ’n kind se gedrag beïnvloed. (Vergelyk Prediker 7:7a.) Slegs deur intieme kommunikasie met jou kind op te bou sal jy die eintlike probleem verstaan en kan onderskei hoe om op die beste manier te help.
13. (a) Watter dinge kan kommunikasie verhinder? (b) Waarom moet ouers Spreuke 20:5 met volharding toepas? Lig dit toe.
13 Baie jongmense vind dit moeilik om hulle vrese in woorde uit te druk. Wanneer jou kind jou in sy vertroue neem, moet jy dus waak teen onbedagsame kommentare wat seermaak, soos: ‘Is dit al? Ek dog dis iets belangriks.’ ‘Jou moeilikheid is . . . ‘ ‘Hoe durf jy dit aan my doen?’ ‘Wel, wat verwag jy? Jy’s nog maar ’n bogkind’ (Spreuke 12:18). ’n Kind moet soms versigtig uitgevra word, veral as hy ’n delikate probleem het. “Die man [of, vrou] met onderskeidingsvermoë” sal aanhoudend probeer om sulke gevoelens ‘na bo te bring’ (Spreuke 20:5, NW). Een Christenegpaar het gevind dat hulle dogter haar aan gesinsbedrywighede onttrek. Die ouers het probeer uitvind wat die rede is, maar sonder welslae. Hulle het aangehou. “Uiteindelik het ek op ’n dag saam met haar op die bed gesit, my arm om haar gevou en haar weer gevra wat skort”, het die moeder gesê. “Sy het deur die trane gesê dat sy dink dat ons en ander eenvoudig nie van haar geselskap hou nie, en daarom het sy haar soveel moontlik afgesonder. Ek wou eers sê: ‘Dis louter onsin’, maar ek het geswyg en net geluister terwyl sy haar hart uitgepraat het.” Haar ouers het haar verseker dat hulle haar baie lief het en daarna seker gemaak dat hulle haar tuis laat voel in die gesinskring. Sy het die probleem te bowe gekom en dien nou as ’n gelukkige voltydse evangelis.
14. Waarom is dit nie genoeg om ’n emosioneel hegte gesin te hê nie?
14 Dit is belangrik om ’n hegte gesin op te bou, en daar is selfs gesinne in die wêreld wat dit reggekry het. Maar dit is ’n ander saak om ’n geestelik gesinde gesin op te bou wat na aan Jehovah bly en wat rondom sy Woord verenig is. Dit verg meer as om bloot emosioneel na aan jou kinders te wees.
Dra kennis oor
15. Watter soort kennis is noodsaaklik, en waarom?
15 “Deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed” (Spreuke 24:4). Hierdie kosbare goed is nie materiële skatte nie, maar sluit geestelike sekuriteit, selfopofferende liefde, godvresendheid en geloof gegrond op die kennis van God in. Dit is die boustene van ’n ryk gesinslewe (Spreuke 2:5; 15:16, 17; 1 Petrus 1:7). Hierdie kennis sal aan kinders innerlike krag gee sodat hulle Satan se sette, selfs subtiele sette, kan weerstaan, want Spreuke 24:5 sê: “’n Wyse man is sterk, en ’n man van kennis ontwikkel krag.” Maar sulke kennis moet in hulle hart ingeskerp word.—Deuteronomium 6:6, 7; 1 Johannes 2:14.
16. (a) Wat is noodsaaklik indien jy kennis van God in jou kind se hart wil inskerp? (b) Wat is nodig as jy jou kinders werklik wil bevoordeel?
16 Een van die beste hulpmiddele by die inskerping van die Woord van God in jou kinders se harte is gereelde gesinstudie wat hulle aanspoor om die waarheid hulle eie te maak. “Die gesinstudie skep die regte gemoedstemming, sodat jou kind se verstand ontvanklik is vir onderrigting”, verduidelik een suksesvolle ouer van vier. Hy voeg daaraan toe: “Wanneer jy jou kinders begin teregwys, het jy onmiddellik ’n ‘vyandige gehoor’. Maar wanneer jy materiaal kan bespreek op ’n tyd wanneer daar geen vyandigheid is nie, soos tydens die gesinstudie, is daar ’n beter kans dat die gedagtes wat jy wil oordra, sal indring.” Maar as jy jou kinders werklik wil bevoordeel, moet jy die apostel Paulus navolg, wat geskryf het: “Ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word” (Romeine 1:11). ’n Gawe of geskenk word veral waardeer wanneer dit iets is wat die ontvanger kan gebruik en wat vir hom van praktiese waarde is. Haal dus iets uit die materiaal wat die kind se lewe raak.
17. (a) Wat kan help om ’n gesinstudie interessant sowel as leersaam te maak? (b) Het jy bykomende wenke?
17 Ouers moet ook sorg dat almal in die gesin weet wanneer die studie gehou gaan word, asook watter materiaal behandel gaan word. Sommige ouers gebruik aanskouingsmiddele, soos kaarte en tabelle, om die materiaal aantrekliker te maak. Ander ouers reël dat daar verversings voor of na die studie is. Na die studie bespreek hulle miskien die dag of die week se probleme. (Kyk bygaande venster vir bykomende wenke.) Die heel belangrikste is dat hierdie Bybelstudie gereeld gehou moet word! Baie ouers doen groot moeite om hulle kinders van kos en onderdak te voorsien; maar dit is selfs belangriker om hulle te voorsien van “die onvervalste melk van die woord, dat [ons kinders] daardeur kan opgroei” tot redding.—1 Petrus 2:2, vgl. NW; Johannes 17:3.
18. Wat sal jou help om jou huisgesin ‘op te bou’?
18 Dit kos vaardigheid en tyd om ’n geestelik sterk gesin op te bou. Wees vasbeslote om die kommunikasiekuns te bemeester sodat jy emosioneel na aan jou kinders bly. Moenie dat enigiets verhinder dat jy die nodige tyd opsysit om jou gesin deur wysheid, onderskeidingsvermoë en kennis te versterk nie. Bid vir, en saam met, jou kinders in die wete dat net Jehovah jou ‘bouwerk’ met sukses kan bekroon.—Psalm 127:1.
[Voetnote]
a Volgens The Hebrew and English Lexicon deur John Parkhurst kom die woord vir “teregwysing” van ’n werkwoord wat beteken ‘om duidelik aan te toon, aan die hand van feite uit te wys, toe te lig, deur duidelike of oortuigende redes of argumente aan te toon’. Old Testament Word Studies deur William Wilson sê van dieselfde werkwoord: “om te bewys”.
Onthou jy?
◻ Hoe word ’n huisgesin deur wysheid versterk, en wat kan kinders help om dit aan te kweek?
◻ Waarom help onderskeidingsvermoë om goeie gesinskommunikasie te bewerkstellig?
◻ Waarom is kennis van God noodsaaklik?
◻ Hoe kan ’n gesinstudie interessant en leersaam gemaak word?
[Venster op bladsy 24]
’N DOELTREFFENDE GESINSTUDIE
Hoe moet ’n studie gehou word?
Hou die atmosfeer ontspanne maar eerbiedig. Vermy ’n meganiese, alte stywe prosedure. Stel bykomende vrae en gebruik illustrasies om denke te stimuleer en almal te betrek. Vereenvoudig die materiaal waar nodig. Moet liewer nie studieperiode gebruik om kinders te berispe nie. Nodige teregwysing moet liefs privaat gegee word.
Wat moet bestudeer word?
Kies na gelang van gesin se behoeftes. Wees buigsaam. Kan moontlik weeklikse les in Die Wagtoring voorberei. Spesifieke sake moet moontlik bespreek word, soos probleme by die skool, afsprake, buitemuurse bedrywighede, sport en onsedelike neigings. Gebruik artikels of publikasies wat dit bespreek. Kan studietyd verdeel sodat verskillende onderwerpe gedek word.
Wanneer moet dit gehou word, en hoe lank?
Gesinshoof kan besluit nadat hy gesinslede se roosters en hulle beperkings in aanmerking geneem het. Dink aan ouderdom van kinders en hoe lank hulle aandag kan skenk. Kan miskien verskeie kere per week verkorte sessies hê as kinders jonk is. Sommige hou sulke sessies aan die etenstafel onmiddellik na die ete. Belangrike faktor is nie lengte nie, maar gehalte van tyd wat saam bestee word.
Hoe kan jy seker wees dat jy jou kind se hart bereik?
Moedig kind aan om in eie woorde te antwoord. Maak taktvol van gesigspuntvrae gebruik om vas te stel hoe kind werklik oor saak voel. Jy kan vra: “Hoe voel kinders by die skool hieroor? Dink jy hulle het reg?” Of: “Hoe sal jy vir ’n klasmaat verduidelik waarom ons nie buite-egtelike geslagsomgang het nie? Dink jy dit is regtig vir jou beswil? Hoekom?” Moenie oorreageer wanneer jou kind op gesigspuntvrae antwoord nie, anders sal hy huiwerig wees om hom eerlik uit te spreek. Gee elkeen kans om te praat, sodat jy seker kan wees dat kind belangrike gedagtes reg verstaan.