Gebreklike persone wat bekwame predikers is
DIE aantreklike jong man op krukke is ’n parapleeg. Hierdie vrou met die gelukkige oë is ’n doofstomme. Die drie glimlaggende manne is slagoffers van spierdistrofie. Wat het hulle gemeen? Hulle gebreke? Moontlik. Hulle vermoëns? Beslis! Hulle is almal bekwame predikers—voltydse pionierbedienaars.
Hierdie individue sê dat hulle hulle welslae as pionierbedienaars aan drie dinge te danke het: (1) positiewe leiding van Jehovah God deur sy liefdevolle organisasie; (2) die volgehoue hulp van hulle gesinne en lede van die Christengemeente; en (3) ’n hartgrondige begeerte om hulle diensvoorregte te vergroot. Kom ons kyk waarom en hoe hierdie gebreklike persone bekwame predikers is.
’n Parapleeg met ’n vol lewe
Selfs al kan hy nie sy bene gebruik nie, is 35-jarige Masashi Tokitsu al vyf jaar lank ’n gewone pionier. As kind was dit sy ideaal om gimnastiekonderwyser te word. Maar daardie ideaal is verpletter toe hy op die ouderdom van 15 van die rekstok afgeval het. Toe hy daardie bittere ondervinding gehad het, het dit vir hom gevoel of die ligte in sy lewe almal afgeskakel is. Maar hulle het weer begin brand toe hy die Bybel bestudeer het. Hierdie keer was dit egter die ligte van waarheid. (Vergelyk Johannes 1:5.) Binne tien maande is Masashi as een van Jehovah se Getuies gedoop. Kom ons luister terwyl hy vir ons vertel waarom en hoe hy ’n pionier geword het.
“Ek het feitlik uit die staanspoor gemeen dat die doel van my Bybelstudie was om vir ander te preek. Ek het dus die geleentheid aangegryp om met enigiemand wat na die huis toe gekom het te praat. Vir my was die pioniers die mense wat ek die meeste beny het. Hoe het ek tog nie daarna gesmag om elke dag vir mense te kan gaan preek nie! Parapleë is vatbaar vir dekubitus, of bedsere, en ek het ’n slegte een op my heup gehad wat etter, vog en bloed afgeskei het. Net die taak om die verbande talle kere per dag om te ruil, was so tydrowend! Omdat ek gedink het dat ek nie in hierdie stelsel ’n pionier kon wees nie, het ek gehuil wanneer ek die vriendelike, hartlike woorde aan diegene wat nie pionierdiens kan doen nie in die Wagtoringpublikasies gelees het.
“Omdat ek sere op albei heupe gehad het, het ek ’n ligte koors gehad. Dit het eienaardig genoeg bedaar wanneer ek Christenvergaderinge bygewoon het. Op die aanbeveling van ’n skerpsinnige broer wat ’n geneesheer is, het ek ’n operasie op die sere laat uitvoer. ’n Tweede operasie was ’n volkome sukses, sodat ek as hulppionier begin dien het nadat ek vyf maande aangesterk het. Ek het destyds egter gedink dat die gewone pionierdiens vir my te veeleisend sou wees sodat ek nie behoorlik na my verantwoordelikheid as gemeentelike ouere man sou kon omsien nie. Die gemeente is pas tevore gestig, en ek was die enigste ouere man.
“Ek wou destyds ook met ’n sekere suster trou, maar die belangstelling was eensydig. Dit het my diep seergemaak, maar ek het geredeneer dat hierdie verloop van sake Jehovah se wil moet wees, en daar was nie plek om voor emosies te swig wanneer daar soveel werk in die gemeente was nie. Ek het gemeen dat die beste medisyne vir my was om selfs meer by teokratiese werk betrokke te raak. Twee maande later het ek as gewone pionier ingeskryf. As ’n parapleeg pionierdiens wil doen, is persoonlikheidsveranderinge baie belangriker as fisiese veranderinge. Jy het soveel hulp van ander nodig om te doen wat jy wil doen, en daarom is dit noodsaaklik om ’n aangename manier te vind om daardie samewerking te kry. Aangesien ek ’n motor in die velddiens kan bestuur, hou ek, waar moontlik, naby die huise se ingange stil. Ek werk altyd saam met ’n ander Koninkryksverkondiger wat in die passasier se sitplek sit. My maat dra my tas en onthou wat ek daaruit nodig het, en in watter orde.
“Omdat ons op smal paaie ry, staan ek soms sommer by die hek en roep ek hard na die ingang om die huisbewoner se aandag te trek. As daar trappe is, gaan my maat na die deur en toon hy die Bybel vir die huisbewoner terwyl ek die praatwerk van onder af doen. Wanneer daar ’n ry huise is wat maklik is om te bereik, of die grondverdieping van ’n woonstelgebou bewoon word, los die vriende dit goedgunstiglik vir my. Wanneer ons tydskrifwerk doen, maak ek die las vir my maat ligter deur net ’n tas met tydskrifte en brosjures saam te vat.
“As diensopsiener hou ek daarvan om tuisbybelstudies by te woon. Ons hou gevolglik die studies in ’n Koninkryksverkondiger se huis wat maklik bereik kan word, of hulle kom na myne. Jy kan dus sien dat ek die broers se hulp nodig het. Dit is nie alleen belangrik dat die vriende begryp hoe om my te help nie, maar dat ek ook weet hoe om hulle hulp vriendelik aan te neem.
“Toe ek pionierdiens begin doen het, het ek aanvanklik baie getuieniswerk per brief gedoen. Aangesien ek nou die hele dag beenstutte kan dra sonder om slegte gevolge te ly, word feitlik al my prediking saam met die ander pioniers en verkondigers gedoen. Een onmiddellike voordeel van ’n volle dag in die diens is ’n hele nag se diepe slaap. Daar ek die Bybel elke dag gebruik, word my oortuiging dat ek die waarheid het sterker. Omdat ek ’n regstreekse aandeel in die daaglikse lewensdrama het en sien hoe nodig mense die waarheid het, verinnig my liefde vir hulle. Omdat ek altyd saam met iemand anders werk, bied dit my ook geleenthede vir herderswerk en help dit my om die kudde selfs beter te leer ken.
“Ek sien natuurlik uit na die nuwe stelsel en die geleentheid om Jehovah met ’n gesonde liggaam te dien. Maar dit is nie nodig om tot dan te wag nie. Die kans om hom nou te dien, met of sonder beperkings, is die beste geleentheid vir jonk sowel as oud.”
Sy soek na ’n horende oor
“My kinderjare was vol trane”, sê Katsuko Yamamoto. Na ’n hoë koors tesame met masels, was Katsuko doof op die ouderdom van twee. Sy onthou wat ’n pyniging dit was om skool toe te gaan asook die onvriendelike behandeling wat sy van die ander kinders moes verduur. Katsuko, wat bly is om sedert 1981 ’n pionier te wees, vertel vir ons hoe sy dit doen.
“Omdat ek nie mondeling kan kommunikeer nie, gebruik ek notas vir die veldbediening en wys ek dit vir die huisbewoner. Ek vra dikwels ’n suster wat kan hoor om my te vergesel sodat ek kan seker maak dat ek tot die huisbewoner deurdring. Ek doen soms die eerste herbesoek alleen en vra dan ’n suster wat kan hoor om my op die tweede besoek te vergesel. Ek het al Bybelstudies op daardie manier begin. Dit maak my baie gelukkig om aldus waardering vir Jehovah se goedheid te toon.”
Katsuko se “hartseerdae” behoort nou tot die verlede. Hierdie lieflike Christin put vandag groot vreugde uit haar besige lewe as pionierbedienares.
Drie broers wat dien
Die drie Tanizono-broers is in hulle veertiger jare en ly aan spierdistrofie wat die ledemate en middellyf aantas. Voordat hulle die waarheid geleer het, het hulle opgegaan in hulle sekulêre werk in die hoop om die geleidelike verswakking en ontydige dood wat hierdie kwaal kenmerk, te vergeet. Elkeen het die Bybel afsonderlik begin bestudeer en kennis van die waarheid verkry. Wat kon hulle doen om hulle diens te vergroot ten einde hulle waardering vir Jehovah te toon? Die jonger broer, Toshimi, vertel vir ons:
“Ek het tot 1979 by my oudste broer, Akimi, en sy vrou gewoon. Toe ek nie meer vir myself kon sorg nie, het ek by my broer Yoshito in ’n inrigting aangesluit. Ek het daar as hulppionier begin dien en gedurende die volgende vyf jaar die Bybel saam met sowat 12 kinders in die afdeling bestudeer. Een van daardie kinders is gedwing om op te hou studeer toe sy ouers hom teëgestaan het, maar hulle het hom toegelaat toe hy hulle gesoebat het om hom weer te laat studeer. Hy is op die ouderdom van 16 oorlede met ’n gewisse hoop op die opstanding. Ongeveer ’n jaar later het ek ’n telefoonoproep van die eens geopponeerde ouers ontvang. Hulle het probleme met hulle jonger dogter gehad en het gedink dat ’n studie haar sou help.
“Ek en my broer Yoshito wou gewone pioniers wees. Maar kon ons die vereiste jaarlikse doelwit van 1 000 uur bereik? Ons moes nou wel die tyd wat ons elke maand in die bediening deurgebring het met slegs 30 uur vermeerder. Maar sou ons liggame dit kon volhou? Ons het andersyds gedink: ‘As ons dit nie nou doen nie, sal ons die stadium bereik waar ons dit nie kan doen nie.’ Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 9:16 het herhaaldelik in ons gesprekke ter sprake gekom. ‘Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!’ Ons het inderdaad die verpligting om die evangelie te verkondig of ons nou gesond is of nie. Ons het dus ons aansoeke ingestuur en op 1 September 1984 gewone pionierdiens begin doen.”
Yoshito voeg by: “Toe ek in Januarie 1976 ‘tydelike’ pionierdiens probeer doen het, het ek my gesondheid benadeel en moes ek twee maande in die bed bly. My grootste vrees was dat gewone pionierdiens my sou laat siek word sodat ek vergaderinge mis. Ek is bly om te kan sê dat ek my uurdoelwit vir die jaar teen Augustus 1985 bereik het en nie een vergadering as gevolg van my pionierdiens gemis het nie!”
Toshimi sê: “Ons vervul ons bediening hoofsaaklik deur briewe te skryf. Ons skryf aan mense wat nie tuis was nie, vriende, familielede, ongelowige familielede van lede van die gemeente asook mense wat in ’n bergagtige gebied woon wat slegs twee keer per jaar tydens die bediening van huis tot huis besoek word. Ons preek informeel vir dokters, verpleegsters, leerlingwerkers en ander pasiënte. Tot dusver het ses pasiënte die waarheid geleer. Drie van hulle het Koninkryksverkondigers geword en het gewag om gedoop te word toe hulle oorlede is. Ons geniet fisiese voordele omdat ons besig bly, verstandelike bevrediging omdat ons weet dat ons die predikingswerk doen en hartgrondige vreugde omdat ons ander bemoedig.”
Yoshito voeg by: “As gemeentelike ouere manne kan ons albei uit ondervinding praat met diegene wat daarna streef om pioniers te word. Toe ons aansoeke ingevul het om pioniers te word, is twee ouer susters in die gemeente ook beweeg om by die geledere aan te sluit. Ek is veral bly om te kan sê dat my voormalige negatiewe denkwyse, in die gees van Psalm 119:71, verander het na Jehovah se denkwyse. Ja, ‘dit is goed vir my dat ek verdruk was sodat ek God se insettinge kon leer’.”
Laat ons nou van die oudste broer hoor. Akimi sê: “Dit is te danke aan die vriendelikheid van die broers en my liefdevolle, ondersteunende vrou dat ek kan doen wat ek wel op teokratiese gebied doen. Ek kan nie eens een tree loop nie. Die broers help my nou al 14 jaar lank onvermoeid om by elke vergadering en byeenkoms te kom. Van die tyd dat ek begin studeer het, was pionierondervindinge altyd die onderwerp van bespreking wanneer jongmense vir omgang bymekaargekom het. As gevolg van die voorstel in Ons Koninkryksbediening het ek besluit om een jaar lank pionierdiens te doen. Met bedenkinge oor my fisiese toestand het ek die belofte in gebed tot Jehovah gedoen, en ek het daardie belofte nou al vyf jaar lank elke jaar hernieu. In die velddiens gebruik ek ’n driewiel wat vir gebreklike persone ontwerp is. Ek kan daarmee tot naby die voordeur van baie huise kom. Ek sit dikwels in gebiede waar daar baie voetgangers is. As daar net ’n paar mense op straat is, bid ek daar en dan vir iemand vir wie ek kan getuig, en dan kom ’n persoon met ’n horende oor verby. Bybelstudente kom na my huis om te studeer, en ek het al agt persone gehelp om te vorder tot die punt waar hulle hulle laat doop het.
“As presiderende opsiener en Teokratiese Bedieningskoolopsiener daag ek vroeg by die vergaderinge op sodat ek daar is om die broers te verwelkom. Omdat ek hulle nie maklik tuis kan besoek nie, is dit baie belangrik dat ek die tyd voor en na vergaderinge goed benut. Ek gebruik ook dikwels die telefoon vir herderswerk.
“Gedurende die afgelope vier of vyf jaar het my spierkrag aansienlik afgeneem. Teen die aand kan ek letterlik nie ’n spier verroer nie, en dan het die spanning dermate opgebou dat dit vir my voel asof ’n groot gewig daar in die bed op my lê. My vrou verander die posisie van my ledemate sodat ek ’n bietjie verligting kan kry. Dit is op sulke tye dat die hartlike en liefdevolle woorde van die broers my help om ’n glimlag te hê wat ek hoop die toestand van my hart weerspieël en nie dié van my liggaam nie.”
Die vordering van hierdie kwaal kan nie nou gestuit word nie. Maar die Tanizono-broers meen dat hulle die ontwikkeling van die kwaal tot ’n minimum beperk deur hulle liggame besig te hou in die velddiens, bewus te bly van die huisbewoner en sy behoeftes, ten nouste met medegelowiges saam te werk en die bevrediging van diens aan God as pioniers te smaak. Hoe dankbaar is hulle Jehovah tog nie!
Gebreklik maar vasbeslote
Fisiese gebreke het nie hierdie bekwame predikers se liefde en ywer vir die voltydse bediening gesmoor nie. Hulle is net so vasbeslote soos die apostel Paulus wat geskryf het: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.”—2 Korinthiërs 4:16.
Nie alle gebreklike Koninkryksverkondigers kan natuurlik voltydse predikers wees nie. Omstandighede verskil van persoon tot persoon. Maar wat sulke individue ook al kan doen om die Allerhoogste te loof en ander geestelik te help, sal groot vreugde, persoonlike genoegdoening en die seën van ons liefdevolle God, Jehovah, meebring.
[Prente op bladsy 23]
Masashi Tokitso
Katsuko Yamamoto
Akimi Tanizono
Toshimi Tanizono
Yoshito Tanizono