Soek jy ’n lewensmaat?
“DAAR is geen liefliker, vriendeliker en bekorender verhouding, gemeenskap of geselskap as ’n goeie huwelik nie.” Dit is hoe een persoon die saak gestel het. Dit is dus geen wonder dat miljoene ongetroude mense graag ’n lewensmaat wil hê nie.
Party gebruik ’n rekenaar as ’n koppelaar, ander wend hulle tot die sterre. Maar hoeveel beter is dit tog nie om ons tot ons Skepper, die Insteller van die huwelik, te wend nie! (Genesis 2:18-24). God se liefdevolle belangstelling en wysheid bied ’n vaste grondslag vir vertroue op sy raad en beginsels wat ons help om te weet waarna om in ’n huweliksmaat te soek (Psalm 19:8). Sy Woord beveel ons:
‘Trou net in die Here’
Waarom? Omdat Jehovah God besorg is oor ons ewige welsyn. Die apostel Paulus se raad om ‘net in die Here te trou’, strook met die gebruik van Jehovah se vroeë knegte om diegene wat eweneens ware aanbidders is as huweliksmaats te kies (1 Korinthiërs 7:39; Deuteronomium 7:3, 4). Die voordele daarvan is talryk en moet in gedagte gehou word.
’n Godvrugtige huweliksmaat kan byvoorbeeld bydra tot voortdurende getrouheid aan ons liefdevolle, hemelse Vader. (Vergelyk Prediker 4:9-12.) Christenhuweliksmaats kan mekaar bemoedig en kan verskillende beproewings saam die hoof bied. Hulle kan saam die druk wat huweliksbande kan verswak, weerstaan. Aangesien albei op Jehovah staatmaak en sy wonderlike raad toepas, kan hulle die storm met groter gemak deurstaan en harmonies saamwerk in plaas van mededingers te wees. Hulle opregte pogings om Jehovah te dien en hulle lewens na sy weë te skik, sal bydra tot ’n geslaagde huwelik wat ons Skepper vereer.
Etlike jare gelede het ’n vrou met die naam Gloria uitgegaan met ’n jong man wat Christenvergaderinge bygewoon en selfs tydens die Wagtoring-studie geantwoord het. Sy is vermaan om nie so heg bevriend te raak met hierdie ongedoopte persoon nie, maar sy was “so verlief” dat sy die raad in die wind geslaan het. Sy het nietemin geweet dat die raad goed was. Sy het dus eendag opreg tot Jehovah gebid en om sy hulp in die saak gesmeek. Kort daarna is daar ontdek dat die jong man onsedelik is, en toe het Gloria dadelik die vriendskap beëindig. Sy het mettertyd met ’n gawe jong Christen getrou. Hy is vandag ’n aangestelde ouere man en hulle twee kinders is bedrywig in die waarheid. Wanneer sy terugkyk, sê sy: “Danksy Jehovah het ek baie probleme vermy. As gevolg van sy leiding het ek die beste raad ontvang wat my in staat gestel het om ’n gelukkige lewe saam met ’n liefdevolle man te lei.”
Waarom elders soek?
Waarom sou ’n persoon wat aan Jehovah toegewy is dan elders na ’n huweliksmaat soek? Is die Christen nie daarvan oortuig dat Jehovah weet wat die beste vir ons is en ons welsyn op die hart dra nie? (Spreuke 3:1-7; Psalm 145:16). Wat van jou? Glo jy dat Jehovah die “God van trou” is? (Psalm 31:6). Dan besef jy tog seker dat hy altyd betroubare raad gee wat goed en nuttig is (Jesaja 48:17, 18). Ons liefdevolle, hemelse Vader gee inderdaad raad met ons ewige welsyn in gedagte, maar ons kan op kortsigtige wyse ons planne tot die onmiddellike toekoms beperk. Moet ons nie, wanneer ons na ’n lewensmaat soek, egter vir meer as die onmiddellike toekoms beplan nie?—Psalm 37:11, 29.
Glo jy werklik dat die Koninkryk naby is en binnekort gaan optree om die aarde te reinig? En sien jy jouself in die voorspelde globale Paradys? Of wil jy die teenswoordige stelsel ten volle geniet? Soek jy ’n maat wat vir jou ’n goeie lewenstyl kan gee? Of soek jy een wat die voorkeur aan ware aanbidding gee? (Mattheüs 6:33). Wat kom in werklikheid eerste in jou lewe? Dit is verstandig van ons om ons diepste gedagtes en beweegredes te ondersoek. Dan kan ons, indien nodig, veranderinge aanbring en sodoende ’n handelwyse vermy wat Jehovah kan mishaag.—Vergelyk Psalm 78:40, 41.
Ons bedrieglike hart
Jeremia 17:9 waarsku: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge.” Ons moet dit dus in toom hou. Dit is ook goed om te onthou dat diegene wat die geïnspireerde Bybelvermaning en die herinneringe wat liefdevol deur gemeentelike ouere manne en ander gegee word in die wind slaan dikwels baie trane stort en hartseer verduur.
‘Maar hoe kan jy dit sê?’ vra iemand dalk. ‘Ek weet van ’n broer wat nie met ’n medeaanbidder getrou het nie, en nou dien hulle Jehovah albei.’ In ’n paar gevalle het sake weliswaar so verloop, en ons is bly dat albei maats nou “in die waarheid wandel” (3 Johannes 4). Die broer wat met ’n ongedoopte persoon getrou het, was nietemin ongehoorsaam. Sal daardie onafhanklike gees weer kop uitsteek? Kan hy in die versoeking kom om te dink dat hy beter weet as God en gevolglik Bybelraad ignoreer en in ’n ander situasie op sy eie wysheid vertrou? Ons word aangespoor om ‘met ons hele hart op Jehovah te vertrou’ (Spreuke 3:5). Dit impliseer onderdanige gehoorgewing aan die goddelike wil in alle dinge. Dit moet dus ons begeerte wees om ’n gehoorsame hart te verkry, een wat selfs in klein dingetjies in die toets van gehoorsaamheid slaag (Lukas 16:10). Watter soort patroon vorm ons as ons aan God ongehoorsaam is? Die broer wat nie ‘in die Here getrou het’ nie, besef nou waarskynlik dat hy ’n fout begaan het deur dinge op sy manier te doen en het Jehovah om vergifnis gevra. Maar is dit hoe jy jou huwelik wil begin?
‘Maar my kêrel het begin om die Bybel te bestudeer en woon Christenvergaderinge by’, sal iemand anders dalk sê. Ja, maar waarom studeer hy? Om ’n huweliksmaat te kry of om van Jehovah God te leer en hom te dien? Dwarsdeur die hofmakery kan daar twyfel oor die man se beweegredes bestaan. Wat gaan jy ná die troudag ontdek? Jy kan natuurlik wag totdat jou kêrel gedoop is en kort daarna die troudag vasstel. Dan sal jy, streng gesproke, ‘in die Here trou’. Maar handel jy in ooreenstemming met die gees van daardie raad?
Het jy opgemerk wanneer ’n broer vir sekere diensvoorregte aanbeveel word? Is dit genoeg om gedoop te wees? Nee, so ’n broer moet “eers ’n proeftyd deurmaak” (1 Timotheüs 3:10). Kan ons ’n les daaruit leer? Ja. Staan stil, kyk en luister. Staan stil en dink oor die erns van die huwelik. Kyk na die individu, nie met oë wat deur verliefdheid verblind is nie, maar objektief. En luister ook. Praat hy (of sy) uit die hart met liefdevolle lofbetuigings tot God? Het hy, oor ’n redelike tydperk, blyk van Christelike vordering gegee? Nadat hy sy getrouheid en geestelike kwalifikasies getoon het, is dit gou genoeg om hom (of haar) as ’n moontlike lewensmaat te begin oorweeg. ’n Gevatte digter het gesê:
“Juffies, hier volg ’n bietjie raad:
Voorkom ’n bitter roudag—
Kies nie alleen die regte maat,
Maar ook die regte troudag.”
Wat kan gebeur as ons hart ons goeie raad en objektiewe redenering in die wind laat slaan? Die gevolge kan rampspoedig wees. Onthou, die Bybel sê vir ons:
‘Jy maai wat jy saai’
Kyk wat met Jacqueline gebeur het. ’n Ouere man het haar raad gegee oor ’n vriendskap wat sy met ’n jong man buite die Christengemeente aangeknoop het.
Maar omdat sy gemeen het dat die broers te eng is, het sy nie gehoor aan Bybelse aanbevelings gegee nie. Met verwysing na haar gesindheid het sy later erken: “’n Mens sien wat jy wil sien en nie wat Jehovah sien en sê nie.” Die jong man het begin om die Bybel te bestudeer en is mettertyd gedoop. Hulle is binne drie maande getroud.
Kort voor lank het daar probleme ontstaan. Trouens, dit het tydens die wittebrood begin! Onwenslike karaktertrekke wat Jacqueline nie tevore opgemerk het nie of geriefshalwe deur die vingers gesien het, het toe duidelik geword. Sy het gedroom van ’n gelukkige en hegte huwelik, maar ongelukkig het die teenoorgestelde plaasgevind. Haar man is uitgesit en het haar en hulle twee babas verlaat. Nou moet sy nie alleen die ekonomiese druk van hierdie verslegtende stelsel die hoof bied nie, maar ook die uitdaging om twee kinders groot te maak en in hulle fisiese en emosionele behoeftes te voorsien. Wat het Jacqueline uit hierdie bittere ondervinding geleer? “Gehoorsaamheid”, sê sy. “Hoewel die raad wreed klink of vir jou nie na die beste raad lyk nie, moet jy dit beskou as raad wat van Jehovah af kom en dit ten volle gehoorsaam.”—Galasiërs 6:7; Psalm 86:11.
Beskou nog ’n voorbeeld. Maritza het haar aanstaande man by die werk ontmoet. Hy het vir haar dinge in die wêreld gewys waarvan sy nie geweet het nie—en dit het nie vir haar so sleg gelyk nie. Hy het ’n goeie geleerdheid gehad, was goed gemanierd en kon onderhoudend oor baie onderwerpe gesels. Hoewel sy talle Skriftuurlike waarskuwings ontvang het, het dit eenvoudig nie tot haar deurgedring nie. Sy was te “verlief”.
Kort voor lank het die Christenvergaderinge vir Maritza eentonig geword omdat dit nie die glans van opwindende aande saam met haar vermaaklike metgesel gehad het nie. Voor hulle huwelik het hy beloof dat hy haar nie sou verhinder om Christenvergaderinge by te woon nie, en hy het sy woord gehou. Maar sy het geleidelik gevind dat haar tyd so deur ander dinge in beslag geneem word dat haar geestelike bedrywighede nie meer die voorkeur geniet het nie, en sy het onbedrywig geword.
Wat van daardie interessante gesprekke? Hulle het geleidelik opgehou en mettertyd het haar man van haar geskei en haar met vier kinders van vier tot nege jaar oud agtergelaat. Maritza was lam van skok, en eers na drie jaar het sy kalm genoeg gevoel om te ontleed wat gebeur het en wat sy met haar lewe moet doen. Sy het voortdurend vir haarself gesê: “Om te lewe is om te ly.” Maar dit het haar nie te vrede gestel nie, want sy kon nog die jare onthou toe sy gelukkig was, toe sy selfs ’n koel bries teen haar gesig geniet het terwyl sy in die veldbediening was en die evangelie van die Koninkryk aan ander verkondig het.
“Ag, hoeveel leed en verdriet kon ek tog vermy het as ek maar net geluister het!” het Maritza uitgeroep. Deur middel van haar kinders se skoolmaats het sy weer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Haar belangstelling in die waarheid en haar liefde vir Jehovah is weer aangewakker, en nou is sy en haar kinders bedrywig in sy diens. Maritza beveel nou heelhartig aan: “Leer om jou te onderwerp aan die leiding wat Jehovah gee en besef dat Jehovah die persone van wie jy dit die minste verwag, gebruik om sy wil aan ons bekend te maak.” Dit is soos Jesus Christus gesê het: “Pas dan op hoe julle hoor” (Lukas 8: 18). Ja, staan stil, kyk en luister!
Kyk gedurende die volgende vergadering by die Koninkryksaal om jou rond. Jy sal ongetwyfeld talle gelukkige Christenegpare sien en opmerk hoe hulle dit geniet om tyd saam deur te bring en dinge saam te beleef. Jy sal andersyds sommige sien wat alleen daar is omdat hulle ongelowige huweliksmaats het. O, hoe wens hulle tog hulle man of vrou was saam met hulle daar! Hulle moet dikwels dadelik na die vergadering huis tot gaan en kan dus nie opbouende gesprekke en omgang met medegelowiges geniet nie. Is jy bereid om die risiko te loop om jouself onnodig in soortgelyke omstandighede te bevind omdat jy die raad om ‘net in die Here te trou’ in die wind geslaan het? Hoe verstandig is dit tog om Jehovah se instruksies te gehoorsaam en aldus treurige gevolge te vermy!—Psalm 119:9; Spreuke 28:26.
Wag op Jehovah
‘Maar’, sê jy dalk, ‘ek kan niemand in die gemeente kry nie. Daar is so min mense van my ouderdom.’ Dit is moontlik waar. Maar is jy daarvan oortuig dat Jehovah jou gelukkig wil sien? “Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6, 7). Onthou jy die spreuk wat sê: “’n Verstandige vrou is van die HERE”? (Spreuke 19:14). Maak dus gerus die huwelik ’n saak van gebed.—Filippense 4:6, 7.
Onthou jy Hanna en haar begeerte om ’n kind te hê? Wat het sy gedoen? Sy het haar hart in ’n smeekbede teenoor Jehovah uitgestort en volkome op hom vertrou. Toe het sy sake in sy hande gelaat. Mettertyd is haar gebed op wonderlike wyse verhoor—deur die geboorte van ’n seun.—1 Samuel 1:9-11, 18-20; Psalm 62:9.
Al is daar min mense van jou ouderdom in die plaaslike gemeente, wat van kring- en streekbyeenkomste? Ons woon sulke byeenkomste om geestelike redes by. Maar diegene wat by sulke geleenthede hulle dienste vrywillig aanbied, smaak die genoegdoening om ander te dien en broers en susters te ontmoet wat Jehovah heelhartig dien. En by sulke geleenthede bestaan die moontlikheid dat jy jou toekomstige lewensmaat kan ontmoet.
Maar selfs al kan jy nie nou ’n geskikte Christenmaat kry nie, moet jy biddend op Jehovah vertrou om jou te help om ’n kuis lewe as ’n ongetroude persoon te lei. En terwyl jy nog ongetroud is, moet jy eienskappe en vermoëns aanleer wat jou in staat sal stel om ’n goeie man en vader of ’n goeie vrou en moeder te wees (Galasiërs 5:22). Baie is al gehelp om juis dit te doen deur die voltydse bediening as pioniers te betree. Daar is geen beter manier om jou tyd en kragte te bestee nie!
Gestel jy soek ’n lewensmaat. Waar gaan jy dan begin? Mag dit wees onder bedrywige medeaanbidders van Jehovah, diegene met dieselfde lewensdoelwitte as jy en met ’n innige begeerte om hom vir ewig te dien (2 Timotheüs 2:22). En as Jehovah jou met ’n godvresende lewensmaat seën, mag jou huwelik dan een wees wat ons liefdevolle God vereer.
[Lokteks op bladsy 29]
“Ag, hoeveel leed en verdriet kon ek tog vermy het as ek maar net geluister het!”