Die pionierdiens was die dryfkrag in my lewe
Soos vertel deur Arthur Gustavsson
DIE waarheid in God se Woord, die Bybel, het my ouers, Fred en Amanda Gustavsson, hoog in die besneeude Himalaja bereik. Dit was 1903, en my moeder was destyds swanger met my. Wat het my ouers daar bo, so ver van hulle tuisland, Swede, gedoen?
In 1880 het hulle van Swede na die Verenigde State geëmigreer. Albei het sterk geloof in God gehad. Hulle het by die Skandinawiese Sendingbond in Chicago aangesluit. Na ’n opleidingstydperk is hulle as sendelinge na Baltistan, wat in die noorde van Pakistan geleë is, gestuur. Maar hulle het weldra gevind dat dit baie moeilik was om die Moslems tot die Christendom se leerstellings te bekeer. Hulle het self begin twyfel of God werklik so wreed kan wees om hierdie goedhartige, gasvrye mense tot ewige straf in ’n helse vuur te verdoem as hulle hulle nie bekeer nie. Min het hulle besef dat dit hulle verstande vir iets beters voorberei het.
’n Ruk later het hulle ’n boek van ’n vriend in die Verenigde State ontvang wat hulle denke heeltemal verander het. Dit was The Divine Plan of the Ages, deur Charles T. Russel, destyds die president van die Wagtoringgenootskap. Hulle het dit gelees, en dit was asof skille van hulle oë afgeval het. Hulle het duidelik gesien dat die loon van die sonde die dood is, en nie ewige foltering nie (Romeine 6:23). Hulle het toe ’n positiewe boodskap van hoop vir die mense gehad—dat God se Koninkryk die aarde in ’n paradys sal omskep.
’n Verandering van sending
Ek is ongeveer hierdie tyd in Shigar in Baltistan gebore. My suster Mirjam is ’n rukkie later gebore. My ouers het besluit dat hulle onder leiding van die Wagtoringgenootskap wou werk om die nuwe waarheid wat hulle gevind het te verkondig. Omstandighede het hulle egter gedwing om in 1908 terug te gaan Swede toe. Daar het hulle as kolporteurs, soos voltydse bedienaars toe genoem is, die ‘goeie nuus van die Koninkryk’ in Gotenburg begin verkondig (Mattheüs 24:14). Gedurende die eerste tien jaar het hulle die hele stad drie keer in hulle huis-tot-huisbediening gedek. Baie mense het die waarheid aangeneem.
Ek onthou ’n mev. Hanna Gunnarsson wat baie verontwaardig was toe my vader gesê het dat die Bybel nie leer dat die mens ’n onsterflike siel het nie. Sy het uitgeroep: “As ons nie ’n onsterflike siel het nie, kan jy jou net sowel in die spruit gaan verdrink!” My vader het net vriendelik geglimlag en haar die boekie What Say the Scriptures About Hell? gegee. Sy het later ’n Getuie geword, en so ook haar dogters. Daardie voorval het my geleer om nooit toe te laat dat die dinge wat mense sê my van stryk bring nie.
Toe ek tien jaar oud was, het broer Rutherford na Gotenburg gekom om die openbare toespraak “Waar is die dode?” te hou. Gedurende sy toespraak het hy enigiemand in die gehoor $1 000 aangebied as hy kon bewys dat die mens ’n onsterflike siel het. Niemand het die uitdaging aanvaar nie.
Die pioniergees in die gesin
Danksy die goeie voorbeeld van my ouers is ek weldra met die pioniergees besiel. Ek het op ’n vroeë ouderdom aan die bediening begin deelneem. My vader het my strooibiljette laat uitgee wat die openbare toesprake geadverteer het. Ek het dit geniet en het party buitengewone ondervindinge gehad. Eendag het ek my onderwyseres besoek om haar na ’n toespraak te nooi. Sy het die blaadjie kortaf geweier. Ek was so verbaas dat ek gestruikel en van die trap afgeval het. Dit was ’n les vir my—dit het my geleer om realisties te wees. Mense is nie altyd wat ons wil hê hulle moet wees nie.
Ons huis het soos ’n pionierhuis geword, en elkeen het sy deel gedoen. Ek en my suster Mirjam het die belangrikheid besef van die predikingswerk wat vader en moeder gedoen het. Daarom het ons dikwels vanself die huis skoongemaak wanneer ons ná skool tuisgekom het.
Op die ouderdom van 16 het ek my toegewy om Jehovah se wil te doen, en ek is in 1919 by ’n byeenkoms in Orebro gedoop. Die daaropvolgende jaar is ek genooi om saam met die groepie van agt broers te werk wat by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Swede gedien het. Daardie jare van diens by die takkantoor het ’n grondslag vir ’n gedissiplineerde en ordelike lewe in Jehovah se diens gelê.
1914—’n onvergeetlike jaar
Die Bybelstudente, soos ons toe bekend gestaan het, het voor 1914 baie jare lank na daardie jaar uitgesien as iets spesiaals. Aangesien dit deur Bybelprofesie aangedui is, het ons buitengewone gebeure verwag. Ek kan Sondag, 2 Augustus 1914 duidelik onthou. My vader het die vergadering in Gotenburg gehou toe ons ’n koerantjoggie buite hoor uitroep het: “Wêreldoorlog het uitgebreek!” Die broers in die saal het na mekaar begin kyk. Party van die dinge wat ons omtrent 1914 verkondig het, was besig om vervul te word.
Die jaar 1914 het ook vir Johan Severin Petersson iets beteken. Sy suster Ida het voorheen vir hom drie boeke gegee wat deur broer Russel geskryf is. Hy het gemeen dat hulle gevaarlik is en hulle derhalwe verbrand. Ida het dit te hore gekom en volgehou deur vir hom nog drie te leen. Hierdie keer het hy hulle in ’n laai toegesluit.
Toe het die Groot Oorlog van 1914 uitgebreek. Johan het gehoor dat die boeke oor daardie datum praat. Uit nuuskierigheid het hy die laai oopgesluit, die boeke uitgehaal en hulle gelees. Sy oë is geopen vir Bybelwaarheid, en hy het ook ’n Bybelstudent geword. Hy is in 1917 gedoop, en sy dogter Rosa het sy voorbeeld in 1918 gevolg. In 1928 het sy my dierbare vrou en lewensmaat in Jehovah se diens geword.
Reisende bedienaar van die goeie nuus
Toe ek getrou het, het ek die takkantoor verlaat, en ek en Rosa het ons wittebroodsdae in die pionierdiens deurgebring! Gedurende ons eerste maand van getroude lewe het ons 4 000 eksemplare van die boekie Freedom for the Peoples versprei.
Net ’n paar maande later is ek gevra of ek dit sou oorweeg om as ’n streekdiensopsiener, vandag bekend as kringopsiener, rond te reis. Dit sou beteken dat ek gemeentes dwarsoor Swede en later in Noorweë sou besoek. Daar was destyds geen reëling om jou vrou op hierdie reise saam te neem nie. Ek sou elke keer ses of sewe weke van die huis af wees, met net ’n paar dae tussen elke reis. Ons was bereid om die opoffering te maak en het 14 jaar lank so gedoen.
Wat het Rosa gedurende hierdie tyd gedoen? Sy het saam met my suster in Halsingborg, Swede, pionierdiens gedoen. Hulle moes destyds lang afstande per fiets aflê om die groot gebied te dek. Maar laat sy daardie verhaal vertel.
“Die pionierdiens in die dertigerjare was baie anders as vandag. Ek en Mirjam het ’n kamertjie ’n week of twee op ’n slag gehuur terwyl ons van plek tot plek gegaan het. Dan het ons met sak en pak op ons fietse verder gegaan—klere, kastrolle en houers met boeke. Dit was omtrent ’n gesig!
“Dit was nie altyd maklik om verblyf te vind nie. Op ’n dag, nadat ons afsonderlik gewerk het, het ek en Mirjam omstreeks agtuur die aand ontmoet.
“Ons het na die volgende plaas gery waar ons ligte gesien het. Toe het ons die huis herken. Ons harte het in ons skoene gesak. Die mense daar was met ons vorige besoek baie vyandig. Mirjam het huiwerig gaan aanklop en om verblyf gevra. Tot ons verbasing en verligting het die vrou ons gevra om in te kom en te sit. Na ’n rukkie is ons na die beste vertrek genooi, waar ’n tafel met ’n groot maaltyd gedek was. Ons kon skaars ons oë glo! Na ons geëet het, is ons na ’n kamer geneem waar die beddens met die beste linnegoed oorgetrek was. Ons kon hierdie verandering van gesindheid nie kleinkry nie.
“Die volgende oggend is ons ontbyt gegee. Toe ons wou betaal, het hulle geweier om ons geld te vat. Ons het gevra of ons hulle die boek Verlossing as geskenk kon gee. ‘O ja, ons wil daardie boek hê’, het hulle gesê. ‘Ons buurvrou het vir ons vertel dat julle vir haar een gegee het toe julle by haar gebly het. Sy het vir ons vertel hoe baie sy dit geniet het.’
“Daardie ondervinding het ons geleer dat jy nooit weet watter vrugte ’n enkele Bybelpublikasie sal afwerp nie.”
Volharding in die pionierdiens
In 1942 is die reiswerk tydelik gestaak, wat beteken het dat ek en Rosa weer saam pionierdiens kon doen. Later het haar vader siek geword en het ons uit die voltydse diens getree om hom te versorg. Maar by die eerste geleentheid het ons teruggekeer na ons geliefkoosde werk—die voltydse diens. Ons het gevoel dat ons weer in ons regte element was. Wanneer ons tuisgekom het na ’n veeleisende dag in die predikingswerk het ons dikwels gesê: “Die pionierdiens is al die opofferings en inspanning werd.”
Ons werk was nie sonder teenstand nie. In party plekke is ons onbeskof weggejaag terwyl ons beledig en uitgejou is. In die meeste gevalle was dit omdat die huisbewoner nie die beweegrede agter ons besoek verstaan het nie. Soms was sulke onbeskoftes bitter spyt oor hulle optrede. Een vrou het vir ’n buurvrou vertel hoe sleg sy ’n Getuie (my vrou) behandel het, en hoe die Getuie haar, tot haar verbasing, nie met gelyke munt betaal het nie, maar bloot kalm weggegaan het. Toe Rosa hierdie vrou weer besoek het, het sy haar arms om Rosa geslaan en haar om vergifnis gesmeek. Sy het selfs Bybellektuur gevra.
Ons dien nou al baie jare as pioniers in die westelike deel van Swede en is verbonde aan die Svenljunga-gemeente van Jehovah se Getuies. Omdat ons nou bejaard is, het ons nie die krag van ons jonger dae nie, maar ons is bly dat ons in die pionierdiens kan bly. Ek het nou 55 jaar in die voltydse diens voltooi en my vrou 48 jaar. Maar ons lewe nie net van herinneringe nie, al laat hulle ons goed voel. Ongeag hoe oud jy is, jy moet altyd vorentoe kyk. Dit is ons innige begeerte dat ons getrou en beskeie met ons God, Jehovah, sal wandel, en uiteindelik die wonderlike seëninge van sy Koninkryk sal ontvang waaroor ons soveel jare in die voltydse diens gepreek het.—Miga 6:8, vgl. NW.
[Prent op bladsy 26]
Ek en my vrou werk al 58 jaar lank saam in Jehovah se diens