’n Jesuïet se belydenis
BAIE mense glo vandag nog dat 25 Desember ’n gewyde dag, Jesus se geboortedag, is. Maar die feit dat godsdiensleiers al lank bewus is van die ware godsdiensbetekenis van hierdie dag blyk uit die volgende aanhaling uit ’n werk van Urbanus Holzmeister, ’n Jesuïetegeleerde:
“Daar word vandag algemeen erken dat die geleentheid vir die viering van die dag 25 Desember die fees was wat die heidene op hierdie dag gevier het. Petavius [’n Franse Jesuïetegeleerde, 1583-1652] het reeds tereg opgemerk dat 25 Desember as ‘die geboortedag van die onoorwonne son’ gedenk is.
“Die getuies van hierdie fees is: (a) Die Calendar van Furius Dionysius Filocalus, saamgestel in die jaar 354 [G.J.], waarin daar gemeld word: ‘25 Desember, die geboortedag van die onoorwonne (Son).’ (b) die kalender van sterrewiggelaar Antiochus (saamgestel omstreeks 200 [G.J.]): ‘Die maand Desember . . . 25 . . . Die geboortedag van die Son; daglig neem toe.’ (c) keiser Julianus [Julianus die Afvallige, Romeinse keiser 361-363 G.J.] het die spele aanbeveel wat aan die einde van die jaar gehou is ter ere van die son, wat ‘die onoorwonne son’ genoem is.”—Chronologia vitae Christi (Chronologie van die lewe van Christus), Pontificium Institutum Biblicum, Rome, 1933, bladsy 46.