Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 1/1 bl. 14-15
  • “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Soortgelyke materiaal
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Jehovah seën handhawers van onkreukbaarheid in Ciprus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Deel 5—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Jehovah sorg altyd vir ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 1/1 bl. 14-15

“Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie”

DIE Soewereine Heer Jehovah het vir die jong Jeremia gesê dat Hy hom “’n versterkte stad en ’n ysterpilaar en kopermure” sou maak teen enigeen wat sou probeer om hom te vernietig. Vandag het ons as Jehovah se Getuies dieselfde versekering van God. Ja, onder invloed van Satan ‘sal hulle teen ons veg’, maar hulle sal ons nie oorwin nie. “Want Ek is met jou”, sê Jehovah, “om jou uit te red.”—Jeremia 1:18, 19.

Vreemdelinge gaan afgeleë dorpe in die Salomons-eilande met lewensgevaar binne, veral as hulle ’n nuwe godsdiens bring. Dit was die ondervinding van twee spesiale pioniers van Jehovah se Getuies. Kwaai dorpenaars het pyle en boë op hulle gerig. Hulle het bevel gehad om te skiet! Terwyl die spanning opgelaai het, het ’n ou man skielik tussenbeide getree en gesê: “Dit is my besoekers. Moenie hulle seermaak nie.” Tot die dorpenaars se ontsteltenis het hy hulle na sy huis geneem. Hierdie man het van die Getuies gehoor; nou het hy die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aanvaar, en ’n Bybelstudie is begin. Hy het dadelik begin om vergaderinge by te woon. Vandag kan die broers vryelik in daardie gebied getuig, en hulle is dankbaar vir die bevryding wat Jehovah in die begin voorsien het.

Broers is al dikwels gered omdat hulle as Jehovah se Getuies geïdentifiseer is. As gevolg van die huis-tot-huisprediking vind die mense uit wie die Getuies is en wat hulle standpunt ten opsigte van sake van die dag is. In ’n klein dorpie in Peru het terroriste die dorpenaars van verraad beskuldig. Hulle het die manne van die dorp gevange geneem en in ’n ry laat staan om geskiet te word. (In soortgelyke situasies is hele dorpe uitgewis.) Maar toe het een van die terroriste die broer erken en vir die laksmanne gesê: “Daardie man is nie een van hulle nie. Ek weet hy is ’n Jehovahsgetuie, en hulle bemoei hulle nie met die politiek nie.” Die broer is vrygelaat. Jehovah beskerm inderdaad sy eiendom!

Die eiland Ciprus berig dat die Grieks-Ortodokse Kerk baie hard probeer om die werk van Jehovah se Getuies te ondermyn. Die kerk versprei pamflette wat die Getuies van baie dinge beskuldig en ontmoedig sy lede om enige besprekings met die Getuies te hê. Party teoloë het selfs saamgespan om mense te besoek wat met Jehovah se Getuies studeer met die doel om hulle te ontmoedig. ’n Tipiese voorbeeld is wat in Pafos gebeur het, waar Paulus en Barnabas soortgelyke teenstand te bowe gekom het (Handelinge 13:6-12). ’n Priester-teoloog het probeer om drie verskillende mense daarvan te oortuig dat hulle nie meer die Bybel saam met Jehovah se Getuies moet ondersoek nie. Hulle het, die een na die ander en afsonderlik van mekaar, gereël dat ’n broer aan ’n bespreking met hierdie teoloog deelneem. Die resultaat is dat al drie nou aktief met die Getuies assosieer. Die priester het gesê: ‘Ek sal nooit weer ’n bespreking met Jehovah se Getuies hou nie.’

Party priesters het sover gegaan om die Getuies te slaan terwyl hulle in een van die dorpe van huis tot huis gewerk het. Vreemd genoeg, ’n paar dae later het ’n warrelwind hierdie dorp getref en die dakke van baie huise afgewaai. Sommige dorpenaars het gesê: ‘God straf ons nou vir wat die priesters aan Jehovah se Getuies gedoen het.’ Regskape persone in hierdie dorp ontvang steeds broers in hulle huise. Eenkeer, terwyl ’n broer besig was om die jongste tydskrifte vir ’n belangstellende aan te bied, het een van die priesters wat die broers geslaan het, toevallig verbygeloop en vir die broer gesê om ‘sy kudde’ uit te los. Die belangstellende het vir die priester gesê: ‘Ek is oud genoeg om te weet wat ek doen.’ Die geestelikes oorwin dus nie Jehovah se Getuies nie; hulle pogings slaan terug op hulle, en meer mense skaar hulle aan Jehovah se kant.

In ’n oorloggeteisterde land in Sentraal-Afrika het soldate ’n kringopsiener voorgekeer vir ’n roetineondersoek. Hulle het beswaar gemaak teen iets in ’n brief wat hy by hom gehad het en het hom na die polisiehoofkwartier geneem, waar drie soldate hom geslaan en gemartel het. Hoewel daar geen aanklag teen hom gemaak is en hy nie verhoor is nie, is hy ’n jaar lank aangehou. Ses maande lank is hy in ’n stampvol sel saam met 40 ander prisoniers gehou. Omdat die sel so klein was, moes hulle beurte maak om te slaap, drie uur op ’n slag. Hulle moes die res van die tyd bly staan. Terwyl ons broer daar was, het 137 prisoniers gesterf, en dit was sy werk om hulle lyke in sakke te sit sodat hulle begrawe kon word.

Hierdie kringopsiener het sterk gebly deur soveel moontlik vir medeprisoniers te getuig. Sy rapporte toon dat hy meer as 30 uur per maand gepreek het; hy het vier Bybelstudies in die tronk gehou. Een van sy studente het selfs vir ander begin getuig. Jehovah het hierdie broer in al sy beproewinge bygestaan. Hy gee die die volgende raad aan ander: “Wanneer jy in die gevangenis is, moet jy alles aan Jehovah oorlaat. Wag op Hom. Vertrou op Hom. Moet jou nie te veel bekommer nie. Wees getrou.”

Op een plek in Zimbabwe is kinders van Jehovah se Getuies uit die skool gesit omdat hulle nie aan politieke oefeninge deelgeneem het nie. Politieke bendes wat nie hiermee tevrede was nie, het selfs die huise van die ouers afgebrand en hulle gesaaides vernietig. Getuiegesinne is gedwing om vir hulle lewe te vlug en hulle beeste en ander besittings agter te laat. Die saak is egter na hoër regeringsowerhede geneem, wat goedgunstiglik gereël het dat die gesinne na hulle huise terugkeer. Die beeste is teruggegee, en die regering het stappe gedoen om die broers vir hulle verliese te vergoed. Jehovah se Getuies waardeer dit inderdaad wanneer “hoëre owerhede” toon dat hulle ‘God se dienaars ten goede’ is (Romeine 13:1-4, vgl. NW). ’n Goeie getuienis is daardeur gelewer, en mense van die omgewing toon nou baie belangstelling in die Koninkryksboodskap. Soos een van die broers dit gestel het: ‘Ons weet dat Jehovah sulke situasies kan gebruik as ’n getuienis tot sy naam.’

Gedurende die afgelope diensjaar het Jehovah die werk in Malawi geseën. Dit is net in gebiede waar dorpenaars haatdraend is dat die Getuies lastig geval is. Die volgende rapport getuig hiervan: “In baie dele van die veld is dit stil. Maar twee Getuiegesinne van een gemeente is kwaai gemolesteer deur die jeugbendes. Een van hierdie gesinshoofde is so erg geslaan dat hy vier uur lank bewusteloos was. Daarna is hy na die polisiestasie geneem, waar die diensdoende polisieman hom en die ander wat saam met hom ingebring is, weer geslaan het. Later het ’n ander polisieman egter aan diens gekom. Hierdie een was vriendelik. Hy het die broers vrygelaat en hulle huis toe gestuur, sodat hulle Jehovah gedank het vir hierdie onverwagte vrylating. Daar is later ontdek dat die oorsaak van hierdie voorval die persoonlike haat van naverwante was. Die opkoms by vanjaar se Gedenkmaal was bemoedigend. Daar was 23 476. Dit toon dat daar nog regskape mense in Malawi is wat gehelp moet word om dissipels van Jesus Christus te word.”

’n Land in Oos-Europa stuur hierdie boodskap van waardering: “Ons is dankbaar dat ons in noue voeling met die Bestuursliggaam bly deur al die kanale van Jehovah se aardse organisasie. Daardeur kan ons sien hoe ons hemelse Vader deur sy Seun en al die engele sy skape vandag versamel en hoe ons ’n klein aandeel daarin kan hê. Wat ’n voorreg is dit tog! Ons Vader het ons pogings met vermeerdering geseën. Hierdie seën het gelei tot meer tyd in die veld, meer hulppioniers wat die goeie nuus ywerig verkondig en die grootste getal hardebandboeke wat nog in die veld uitgeleen of versprei is.”

Die hedendaagse jubelbasuin word duidelik gehoor. Die voorgaande getabuleerde rapport toon hoe Jehovah se Getuies in alle dele van die aarde op hierdie oproep ag gee.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel