Die wêreld was hulle nie werd nie
“Hulle is gestenig, . . . versoek, . . . die wêreld was hulle nie werd nie.”—HEBREËRS 11:37, 38.
1, 2. Onder watter omstandighede het Jehovah se getuies van die ou tyd onkreukbaarheid bewaar, en hoe raak hulle dade God se knegte vandag?
JEHOVAH SE GETUIES van die ou tyd het onkreukbaarheid teenoor God bewaar ondanks baie toetse waaraan die onregverdige mensegemeenskap hulle onderwerp het. God se knegte is byvoorbeeld gestenig en deur die swaard vermoor. Hulle is mishandel en het verdrukking gely. Hulle geloof het nogtans nie afgeneem nie. Dit is dus gewis soos die apostel Paulus gesê het: “Die wêreld was hulle nie werd nie.”—Hebreërs 11:37, 38.
2 Die geloofsbesielende dade van godvrugtige antediluviane, aartsvaders en Moses spoor Jehovah se hedendaagse getuies aan om God in geloof te dien. Maar wat van ander wat in Hebreërs hoofstuk 11 en 12 gemeld word? Hoe kan ons baat vind by ’n bespreking van die fasette van hulle geloof?
Die geloof van rigters, konings en profete
3. Hoe toon voorvalle in verband met Jerigo en Ragab dat geloof deur werke bewys moet word?
3 Geloof is nie bloot oortuiging nie; dit moet deur werke of dade bewys word. (Lees Hebreërs 11:30, 31.) Na Moses se dood het geloof die Israeliete die een oorwinning na die ander in Kanaan besorg, maar dit het inspanning van hulle kant geverg. Byvoorbeeld, deur die geloof van Josua en ander “het die mure van Jerigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was”. Maar “deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames [die ongelowige inwoners van Jerigo] omgekom nie”. Waarom nie? “Omdat sy die [Israelitiese] spioene in vrede ontvang het” en haar geloof getoon het deur hulle vir die Kanaäniete te versteek. Ragab se geloof het ’n vaste grondslag gehad in die berigte dat “die HERE die water van die Skelfsee” voor die Israeliete laat opdroog het en hulle oorwinnings oor Amoritiese konings Sihon en Og laat behaal het. Ragab het gepaste sedelike veranderinge aangebring en is geseën vir haar daadwerklike geloof deur saam met haar huisgesin bewaar te word toe Jerigo geval het en deur ’n voormoeder van Jesus Christus te word.—Josua 2:1-11; 6:20-23; Mattheüs 1:1, 5; Jakobus 2:24-26.
4. Wat beklemtoon Gideon en Barak se ondervindinge oor die betoning van geloof wanneer gevaar dreig?
4 Geloof word getoon deur volkome vertroue op Jehovah wanneer gevaar dreig. (Lees Hebreërs 11:32.) Paulus het erken dat die tyd hom sou ontbreek as hy vertel het van “Gideon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete”, wie se prestasies oorvloedige bewys van geloof en vertroue op God in gevaarlike situasies gelewer het. Deur die geloof en met ’n krygsbende van net 300 man het rigter Gideon die krag van God ontvang om ’n leër van die verdrukkende Midianiete te verpletter (Rigters 7:1-25). Bemoedig deur die profetes Debora het rigter Barak en 10 000 swak toegeruste voetsoldate geseëvier oor koning Jabin se veel groter mag met 900 pantserstrydwaens onder aanvoering van Sisera.—Rigters 4:1–5:31.
5. Hoe het Simson en Jefta geloof geopenbaar wat blyk van volkome vertroue op Jehovah gelewer het?
5 Nog ’n voorbeeld van geloof uit die dae van Israel se rigters was Simson, die sterk vyand van die Filistyne. Hy het weliswaar mettertyd hulle verblinde gevangene geword. Maar Simson het baie van hulle gedood toe hy die pilare omgetrek het van die huis waarin hulle ’n groot offer aan hulle valse god Dagon gebring het. Ja, Simson het saam met daardie Filistyne gesterf, maar nie in wanhopige selfmoord nie. In geloof het hy op Jehovah vertrou en tot hom gebid vir die krag om wraak te neem op daardie vyande van God en Sy volk (Rigters 16:18-30). Jefta, vir wie Jehovah die oorwinning oor die Ammoniete laat behaal het, het ook geloof getoon wat blyk gelewer het van sy volkome vertroue op Jehovah. Dit is slegs met sulke geloof dat hy sy gelofte aan God kon nakom deur sy dogter as ’n ewige maagd aan Jehovah se diens te skenk.—Rigters 11:29-40.
6. Hoe het Dawid sy geloof getoon?
6 Nog iemand met merkwaardige geloof was Dawid. Hy was net ’n jongman toe hy teen die Filistynse reus Goliat geveg het. ‘Jy kom na my met swaard, spies en lans’, het Dawid gesê, ‘maar ek kom na jou in die naam van Jehovah van die leërskare.’ Ja, Dawid het op God vertrou, die yslike Filistyn om die lewe gebring en ’n dapper stryderkoning geword wat in die belang van God se volk geveg het. En vanweë Dawid se geloof was hy ’n man na Jehovah se hart (1 Samuel 17:4, 45-51; Handelinge 13:22). Dwarsdeur hul lewe het Samuel en ander profete ook groot geloof in en volkome afhanklikheid van God geopenbaar (1 Samuel 1:19-28; 7:15-17). Watter puik voorbeelde vir Jehovah se hedendaagse knegte, jonk en oud!
7. (a) Wie het “deur die geloof koninkryke oorweldig”? (b) Wie het deur geloof “geregtigheid uitgeoefen”?
7 Deur geloof kan ons in elke toets van onkreukbaarheid slaag en enigiets doen wat met die goddelike wil strook. (Lees Hebreërs 11:33, 34.) Toe Paulus verdere geloofsdade opgenoem het, het hy klaarblyklik Hebreeuse rigters, konings en profete in gedagte gehad, want hy het pas tevore sulke manne by die naam gemeld. “Deur die geloof” het rigters soos Gideon en Jefta “koninkryke oorweldig”. So ook koning Dawid, wat die Filistyne, Moabiete, Arameërs, Edomiete en ander onderwerp het (2 Samuel 8:1-14). Regskape rigters het ook deur geloof “geregtigheid uitgeoefen”, en die regverdige raad van Samuel en ander profete het ten minste sommige beweeg om sonde te vermy of te staak.—1 Samuel 12:20-25; Jesaja 1:10-20.
8. Watter belofte het Dawid verkry, en waartoe het dit gelei?
8 Dawid was een van die wat deur geloof “beloftes verkry” het. Jehovah het aan hom beloof: “Jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid” (2 Samuel 7:11-16). En God het daardie belofte gehou deur die Messiaanse Koninkryk in 1914 op te rig.—Jesaja 9:5, 6; Daniël 7:13, 14.
9. Onder watter omstandighede is ‘die bekke van leeus deur geloof toegestop’?
9 Die profeet Daniël het in ’n toets van onkreukbaarheid geslaag toe hy aangehou het om tot God te bid ooreenkomstig sy daaglikse gebruik ondanks ’n koninklike verbod. Met die geloof van ’n handhawer van onkreukbaarheid het Daniël gevolglik die “bekke van leeus toegestop” daar Jehovah hom lewend bewaar het in die leeukuil waarin hy gegooi is.—Daniël 6:5-24.
10. Wie het deur geloof “die krag van vuur uitgeblus”, en wat sal vergelykbare geloof ons in staat stel om te doen?
10 Daniël se Hebreeuse metgeselle Sadrag, Mesag en Abednego wat hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het, het in werklikheid “die krag van vuur uitgeblus”. Toe hulle met die dood in ’n oorverhitte vuuroond gedreig is, het hulle koning Nebukadnesar meegedeel dat hulle, of hulle God hulle nou gaan red of nie, nie die Babiloniese koning se gode sou dien of die beeld wat hy opgerig het, sou aanbid nie. Jehovah het nie die vuur in daardie vuuroond geblus nie, maar hy het gesorg dat dit die drie Hebreërs geen skade berokken nie (Daniël 3:1-30). Vergelykbare geloof stel ons in staat om onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf tot die punt waar ons moontlik deur die vyand gedood word.—Openbaring 2:10.
11. (a) Wie het deur geloof “die skerpte van die swaard ontvlug”? (b) Wie het deur geloof ‘krag ontvang’? (c) Wie was ‘dapper gewees in die oorlog’ en het ‘die leërs van vreemdes op die vlug gedryf’?
11 Dawid het “die skerpte van die swaard” van koning Saul se manne “ontvlug” (1 Samuel 19:9-17). Die profete Elia en Elisa het ook ’n swaarddood ontkom (1 Konings 19:1-3; 2 Konings 6:11-23). Maar wie het “krag uit swakheid ontvang”? Wel, Gideon het gemeen dat hy en sy manne te swak was om Israel van die Midianiete te verlos. Hy het egter ‘krag ontvang’ van God, wat hom die oorwinning laat behaal het—en dit met net 300 man! (Rigters 6:14-16; 7:2-7, 22). In “swakheid”, toe sy hare afgeskeer was, het Simson ‘krag ontvang’ van Jehovah en baie Filistyne gedood. (Rigters 16:19-21, 28-30; vergelyk Rigters 15:13-19.) Paulus het moontlik ook koning Hiskia in gedagte gehad as een wat ‘krag ontvang’ het toe hy op militêre gebied en selfs liggaamlik swak was (Jesaja 37:1–38:22). Onder God se knegte wat “dapper gewees het in die oorlog” was daar rigter Jefta en koning Dawid (Rigters 11:32, 33; 2 Samuel 22:1, 2, 30-38). En diegene wat die “leërs van vreemdes op die vlug gedryf het”, het rigter Barak ingesluit (Rigters 4:14-16). Al hierdie prestasies moet ons daarvan oortuig dat ons deur geloof in elke toets van ons onkreukbaarheid kan slaag en enigiets kan doen wat met Jehovah se wil strook.
Ander met voorbeeldige geloof
12. (a) Watter “vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry”? (b) In watter sin sal die opstanding van sekere geloofshelde “beter” wees?
12 Geloof sluit vaste vertroue in die opstanding in, ’n hoop wat ons help om onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf. (Lees Hebreërs 11:35.) As gevolg van geloof het “vroue . . . hulle dode deur opstanding teruggekry”. Deur geloof en God se krag het Elia ’n weduwee se seun by Sarfat opgewek, en Elisa het die seun van ’n Sunamitiese vrou opgewek (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:17-37). Maar “ander is gefolter [letterlik, “met stokke geslaan”] en wou geen bevryding aanneem nie, om ’n beter opstanding te kan verkry”. Hierdie getuies van Jehovah wat nie deur die Skrif geïdentifiseer word nie, is klaarblyklik doodgeslaan omdat hulle geweier het om bevryding aan te neem wat vereis het dat hulle ’n kompromis ten opsigte van hulle geloof aangaan. Hulle opstanding sal “beter” wees, omdat hulle dan nie weer onvermydelik hoef te sterf nie (soos diegene wat deur Elia en Elisa opgewek is) en omdat dit sal plaasvind onder die Koninkryksheerskappy van Jesus Christus, die “Ewige Vader” wie se losprys die geleentheid bied om vir ewig op aarde te lewe.—Jesaja 9:5; Johannes 5:28, 29.
13. (a) Wie het “bespottinge en geselinge” verduur? (b) Wie het “boeie en gevangenis ondervind?
13 As ons geloof het, sal ons vervolging kan verduur. (Lees Hebreërs 11:36-38.) Wanneer ons vervolg word, is dit nuttig om die opstandingshoop te onthou en te besef dat God ons kan onderskraag soos hy ander onderskraag het wat “die proef [of, toets van geloof] van bespottinge en geselinge deurstaan [het], ook van boeie en gevangenis”. Die Israeliete het voortdurend “met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het” (2 Kronieke 36:15, 16). Deur geloof het Miga, Elisa en ander knegte van God “bespottinge” verduur (1 Konings 22:24; 2 Konings 2:23, 24; Psalm 42:4). “Geselinge” was bekend in die dae van Israel se konings en profete, en teenstanders het Jeremia “geslaan”, en dit was nie bloot ’n beledigende klap nie. “Boeie en gevangenis” kan ons aan sy ondervindinge herinner, sowel as aan dié van Miga en Hanani (Jeremia 20:1, 2; 37:15; 1 Konings 12:11; 22:26, 27; 2 Kronieke 16:7, 10). Omdat Jehovah se hedendaagse getuies soortgelyke geloof het, was hulle in staat om vergelykbare lyding te verduur “ter wille van die geregtigheid”.—1 Petrus 3:14.
14. (a) Wie was onder diegene wat “gestenig” is? (b) Wie is moontlik “in stukke gesaag”?
14 “Hulle is gestenig”, het Paulus gesê. Een sodanige geloofsheld was Sagaria, die seun van priester Jojada. Vervul deur God se gees het hy teen Juda se afvalliges gespreek. Die gevolg? Op die bevel van koning Joas het samesweerders hom in die voorhof van Jehovah se huis gestenig (2 Kronieke 24:20-22; Mattheüs 23:33-35). Paulus het bygevoeg: “Hulle is . . . in stukke gesaag, versoek.” Hy het moontlik aan die profeet Miga gedink as een van diegene wat “versoek” is, en volgens onbevestigde Joodse oorlewering is Jesaja glo gedurende koning Manasse se bewind in twee gesaag.—1 Konings 22:24-28.
15. Wie is “mishandel” en “het in woestyne rondgedwaal”?
15 Ander is “deur die swaard vermoor”, soos byvoorbeeld Elia se medeprofete van God wat in die dae van goddelose koning Agab “met die swaard gedood” is (1 Konings 19:9, 10). Elia en Elisa was onder diegene met geloof wat “rondgeloop [het] in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel”. (1 Konings 19:5-8, 19; 2 Konings 1:8; 2:13; vergelyk Jeremia 38:6.) Diegene wat “in woestyne rondgedwaal [het] en op berge en in spelonke en skeure in die grond” omdat hulle vervolg is, moet nie alleen Elia en Elisa insluit nie, maar ook die 100 profete wat Obadja 50 by 50 in ’n spelonk weggesteek het en met brood en water onderhou het toe afgodsaanbiddende koningin Isebel begin het om ‘die profete van Jehovah uit te roei’ (1 Konings 18:4, 13; 2 Konings 2:13; 6:13, 30, 31). Watter handhawers van onkreukbaarheid tog! Geen wonder Paulus het gesê nie: “Die wêreld [onregverdige mensegemeenskap] was hulle nie werd nie”!
16. (a) Waarom het voorchristelike getuies van Jehovah nog nie ‘die vervulling van die belofte verkry nie’? (b) Waarmee moet ‘volmaakwording’ verband hou in die geval van Jehovah se getuies van voorchristelike tye?
16 As ons geloof het, is ons daarvan oortuig dat almal wat God liefhet op Sy bestemde tyd ‘die vervulling van die belofte sal verkry’. (Lees Hebreërs 11:39, 40, NW.) Voorchristelike handhawers van onkreukbaarheid het “deur die geloof getuienis ontvang”, iets wat nou deel van die Skriftuurlike verslag is. Maar hulle het nog nie “die vervulling van die belofte” van God deur ’n aardse opstanding met die vooruitsig om vir ewig onder Koninkryksheerskappy te lewe, ontvang nie. Waarom nie? “Sodat hulle nie sonder” Jesus se gesalfde volgelinge “volmaak sou word nie”, want vir laasgenoemde het ‘God iets beters beskik’—onsterflike hemelse lewe en die voorregte van medeheerskappy saam met Christus Jesus. Deur hulle opstanding, wat begin het ná die Koninkryk in 1914 opgerig is, word gesalfde Christene “volmaak” in die hemele voordat Jehovah se getuies van voorchristelike tye op aarde opgewek word (1 Korinthiërs 15:50-57; Openbaring 12:1-5). Vir daardie vroeëre getuies moet ‘volmaakwording’ verband hou met hulle aardse opstanding, hulle uiteindelike bevryding “van die slawerny van die verganklikheid” en hulle verkryging van menslike volmaaktheid deur die dienste van die Hoëpriester Jesus Christus en sy 144 000 hemelse onderpriesters gedurende sy Duisendjarige Heerskappy.—Romeine 8:20, 21; Hebreërs 7:26; Openbaring 14:1; 20:4-6.
Hou die oog gevestig op die Volmaker van ons geloof
17, 18. (a) Wat moet ons doen om te slaag in ons wedloop om die ewige lewe? (b) Hoe is Jesus Christus die “Volmaker van die geloof”?
17 Nadat Paulus die dade van voorchristelike getuies van Jehovah bespreek het, het hy die aandag op die vernaamste voorbeeld van geloof gevestig. (Lees Hebreërs 12:1-3.) Hoe bemoedigend is dit tog om ‘so ’n groot wolk van getuies rondom ons te hê’! Dit spoor ons aan om elke las af te lê wat ons geestelike vooruitgang kan belemmer. Dit help ons om die sonde van die verlies van geloof of die gebrek daaraan te vermy en die Christenwedloop om die ewige lewe met volharding te loop. Maar om ons doel te bereik, moet ons nog iets doen. Wat is dit?
18 As ons wil slaag in ons wedloop om die ewige lewe in God se nuwe stelsel moet ons “die oog gevestig [hou] op Jesus, die Leidsman [of Vernaamste Leier] en Voleinder [“Volmaker”, NW] van die geloof”. Die geloof van Abraham en ander handhawers van onkreukbaarheid wat voor Jesus Christus se aardse bediening gelewe het, was onvolmaak, onvolledig, in die sin dat hulle nie destyds die onvervulde profesieë oor die Messias verstaan het nie. (Vergelyk 1 Petrus 1:10-12.) Maar deur Jesus se geboorte, bediening, dood en opstanding is talle Messiaanse profesieë vervul. Geloof in ’n volmaakte sin het dus deur Jesus Christus “gekom” (Galasiërs 3:24, 25). Daarbenewens het Jesus, vanuit sy hemelse posisie, voortgegaan om die Volmaker van die geloof van sy volgelinge te wees, soos toe hy die heilige gees op Pinkster van 33 G.J. op hulle uitgestort het, en deur openbaringe wat hulle geloof progressief laat ontwikkel het (Handelinge 2:32, 33; Romeine 10:17; Openbaring 1:1, 2; 22:16). Hoe dankbaar is ons tog vir hierdie “getroue getuie”, hierdie “Vernaamste Leier” van Jehovah se Getuies!—Openbaring 1:5; Mattheüs 23:10, NW.
19. Waarom moet daar op Jesus ‘ag gegee word’?
19 Omdat dit nie maklik is om die smaad van die ongelowiges te verduur nie, het Paulus aangespoor: “Julle moet ag gee op Hom [Jesus] wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.” As ons ons oë gevestig hou op “die getroue getuie”, Jesus Christus, sal ons nooit moeg word om die goddelike wil te doen nie.—Johannes 4:34.
20. Wat is sommige van die dinge wat jy omtrent geloof geleer het deur Hebreërs 11:1-12:3 te beskou?
20 Ons leer baie by die ‘groot wolk van getuies’ oor die fasette van geloof. Geloof soos dié van Abel vergroot byvoorbeeld ons waardering vir Jesus se offer. Ware geloof maak ons moedige getuies, net soos Henog Jehovah se boodskap vrymoedig gespreek het. Soos in die geval van Noag beweeg ons geloof ons om God se instruksies noukeurig uit te voer en as predikers van geregtigheid te dien. Abraham se geloof bring die nodigheid by ons tuis om God te gehoorsaam en op Sy beloftes te vertrou, selfs al is sommige van hulle nog nie vervul nie. Moses se voorbeeld toon dat geloof ons in staat stel om ons vlekkeloos van hierdie wêreld te bewaar en lojaal by Jehovah se volk te staan. Die prestasies van Israel se rigters, konings en profete bewys dat geloof in God ons te midde van vervolging en beproewings kan onderskraag. En hoe dankbaar is ons dat die skitterende voorbeeld van Jesus Christus ons geloof vas en onwankelbaar maak! Laat ons dus, met Jesus as ons Leier en in die krag van ons God, voortgaan om duursame geloof as Jehovah se Getuies te openbaar.
Wat is jou antwoorde?
◻ Watter dade van voorchristelike getuies van Jehovah bewys dat geloof getoon word deur volkome vertroue op God wanneer gevaar dreig?
◻ Waarom kan daar gesê word dat ons deur geloof in elke toets van ons onkreukbaarheid kan slaag?
◻ Watter bewys is daar dat ons vervolging deur geloof kan verduur?
◻ Waarom word Jesus die ‘Volmaker van die geloof” genoem?
◻ Wat is sommige van geloof se talle fasette?
[Prent op bladsy 16, 17]
Dawid het geloof getoon deur volkome op Jehovah te vertrou. ’n Goeie voorbeeld vir Jehovah se volk vandag!
[Prent op bladsy 18]
“Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry.” Geloof in die opstanding help ons om onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf