Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 3/1 bl. 21-24
  • Loof God, die Bron van lewe en groei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Loof God, die Bron van lewe en groei
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gehoorsaam aan die Bron van lewe
  • Ons loof Hom ondanks teenstand
  • Dankbaar vir Jehovah se goedheid
  • God gee lewe en groei
  • ’n Verpletterende slag
  • ’n Belofte wat ek beslis gaan hou
    Ontwaak!—1998
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ek het ver van die huis af belowe om God te dien
    Ontwaak!—1992
  • Ek Dien God ondanks uitdagings
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 3/1 bl. 21-24

Loof God, die Bron van lewe en groei

Soos vertel deur Eduard Warter

DIE majestueuse bergrûe wat uittroon bo diep, nou canyons en breë valleie is ’n lus vir die oog. Sterk strome vloei deur klowe en voorsien water aan tuine, wingerde en landerye op die vrugbare vlaktes. Maar meen die aanskouer dat die Bron van lewe, wat sulke groei moontlik maak, lofwaardig is?—Psalm 36:9, NW.

Hierdie sonnige, bergagtige landskap is in die Republiek van Kirgisië—’n dig bevolkte Sowjetrepubliek in Sentraal-Asië. Tienduisende Sowjetburgers van Duitse afkoms woon hier. My gesin het ook ’n ruk lank in hierdie vrugbare plek gewoon, en ons het ons verwonder oor die God wat sulke wonderlike groei gee. Ja, ons het hom geloof en openlik met ander oor sy groot dade gepraat.

Gehoorsaam aan die Bron van lewe

Toe ek in 1901 gebore is, het my ouers in Memel (nou Klaipeda), destyds ’n deel van Oos-Pruise, aan die kus van die Oossee, sowat tien kilometer van die Russiese grens, gewoon. Terwyl ek op skool was, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en het ons ooggetuies van die afgryse van massamoord geword. As Duitse grensbewoners het ons op goeie voet gestaan met ons Russiese bure en het ons gewonder: ‘Wie se skuld is dit? Aan wie se kant is God?’ Op skool het slagspreuke soos “Vir God, die keiser en die land” egter patriotiese gevoelens gewek.

Later, na die oorlog, het ek voor hierdie invloed geswig en my vrywillig aangebied vir diens in die grenswag en later in die Duitse Leër in Koningsbergen, nou Kaliningrad. Hier het ek tot die slotsom gekom dat die gewone soldaat maar net ’n pion is wat hom na die giere van ander moet skik. Kort na die anneksasie van Memel deur Litaue in Januarie 1923 het my moeder aan my geskryf: “Jy behoort nie oorlog te voer nie, want die vyfde gebod sê: ‘Jy mag nie doodslaan nie.’ Die Bybelstudente [Jehovah se Getuies] voer ook nie oorlog nie.” Ek was verbaas. Wie was hierdie Bybelstudente? Terwyl ek met verlof by die huis was, het ek geleer wat hulle fundamentele Bybelwaarhede is. Dit het ’n groot invloed op my gehad—my hele godsdiens- en politieke uitkyk op die lewe het verander.

Ek het toe besef dat die einde van die huidige goddelose stelsel naby is en dat dit plek sal moet maak vir God se Koninkryk. Waarom sou ek nog tyd daaraan bestee om Duitsland te help herstel? Ek het sonder versuim reëlings getref om uit die leër te tree en het na my tuisdorp teruggekeer om meer van hierdie waarhede te leer. Ek is in 1924 gedoop, en ek het een ding duidelik verstaan: Hierdie stap het beteken dat God nie tot op ’n sekere datum gedien moet word nie, maar vir ewig en in elke situasie. My hart het oorgeloop van vreugde. Ek het die allergrootste voorreg ontvang wat daar vir ons as nietige mense is, naamlik om die Allerhoogste te dien en sy boodskap aan ander uit te dra.

Ek was vasbeslote om te bewys dat ek dit waardig is. Ons het ’n groot plattelandse gebied met talle verspreide gehuggies en plaashuise gehad om te dek. Sondae het ons dikwels 10 tot 12 uur geloop om mense met die boodskap te besoek. Medegelowiges met groot huise het dit vir ons Christenvergaderinge beskikbaar gestel. Geen reis was te ver of stormweer te guur vir ons om hierdie kosbare vergaderinge by te woon nie. Dit het ons versterk vir die moeilike tye wat voorgelê het.

Ons loof Hom ondanks teenstand

Die Koninkrykswerk in die Baltiese lande het begin uitbrei, en dit het toe onder die toesig van die Noord-Europese Kantoor van die Wagtoringgenootskap in Denemarke gekom. Ek is in 1928 getroud, en ek en my vrou, Ruth, het met die Hydekruggemeente geassosieer. Terwyl ons broers in Nazi-Duitsland wreed vervolg is, het ons dit vrygespring—tot 1939. Vroeg op die oggend van 22 Maart het die tyding bekend geraak: “Memel is bevry! Die Führer kom!”

Ons het heeloggend die onheilspellende gedreun van talle vliegtuie in die lug gehoor. Hitler se besetting het begin. Sommer die volgende dag is die huise van al Jehovah se Getuies deurgesoek, en party Getuies is in hegtenis geneem. Ons lektuur, selfs Bybels, is gekonfiskeer en in die openbaar op die markplein verbrand. Ons werk was skaars verbied of ons het ondergronds begin werk en in die geheim lektuur versprei en belangstellendes besoek.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is ek vir militêre diens opgeroep. Ek het beginselvas geweier, en die Krygshof van die Ryk in Berlyn het op 10 April 1940 die doodsvonnis uitgespreek. My vrou is van die huis gebring om my te oorreed om by die leër aan te sluit. Sy het ook standvastig gebly en die respek van ’n bejaarde offisier gewen, wat gesê het: “Ek moet erken dat jou gesindheid heeltemal reg is. Oorlog is onmenslik.” My vrou was sonder ’n broodwinner om vir haar, ons vier kinders en haar bejaarde moeder te sorg. Het Ruth ooit gekla? In die paar briewe wat sy toegelaat is om te skryf, het sy my aangespoor om getrou te bly en nie te verswak as gevolg van die dierbares wat ek agterlaat nie.

In Oktober 1940 is my vonnis herroep. Maar ek is steeds in verskillende detensiesentrums aangehou en het later in die konsentrasiekamp by Stutthof, naby Danzig (vandag Gdansk), beland. Lojale Getuies wat reeds in die kamp was, soos Joseph Scharner, Wilhelm Scheider, Herman Raböse en Hermine Schmidt, het my hegte metgeselle geword en hulle het my geloof versterk.a Daar het ons die voorreg gehad om die vertroosting van Jehovah se Koninkryk te deel met die 30 000 geïnterneerdes, wat almal verlore en van hoop ontdaan was.

Dankbaar vir Jehovah se goedheid

In Januarie 1945, terwyl die oorlog aan die oostelike front al hoe nader gekom het, is daar begin om die kamp te ontruim. In Danzig se hawe het die skip Wilhelm Gustloff gewag om ons weswaarts te neem. Ons het te laat daar aangekom—ons konvooi is deur vliegtuie gebombardeer—en het ’n rampspoedige seereis gemis, aangesien min die sinking van daardie skip oorleef het.b Ons is toe ’n ruk lank saam met sowat 200 ander gevangenes in ’n omheinde skuur gehou. Weens die onhigiëniese toestande het ek ingewandskoors opgedoen. Toe het die bevel gekom: “Keer terug Stutthof-kamp toe!” As gevolg van ’n hoë koors kon ek skaars loop, en ek het die lang terugtog net met die hulp van ’n broer, Hans Deike, voltooi. Ek was tien dae in die kamp se siekeafdeling voor die koors gedaal het.

Op 25 April 1945 was ons weer op pad kus toe. Ek was nog baie siek, en die susters het gesukkel om my op my voete te hou. Party van hulle het nietemin ons liedere gesing. Ons gevaarlike reis het begin toe ons in ’n eenvoudige rivierskuit gesit is. Met meer as 400 mense aan boord het die vaartuig baie geskommel. Om die skuit in die trim te hou, is gevangenes geslaan en in die laer laairuim ingedwing. Daar het die mense letterlik bo-op mekaar gelê. Die dooies is oorboord gegooi. Dit was ’n seën dat ons groepie van 12 Getuies toegelaat is om op die dek te bly, en ons het God daarvoor gedank.

Ons was absoluut verkluim toe ons die volgende oggend by Sassnitz op die eiland Rügen aan wal gestap het. Die plaaslike bevolking was nie bereid om ons te ontvang nie en het ons net vars water gegee. Gedurende die nag van 29/30 April het ons skuit op een van die talle riwwe naby die eiland Eulenbruch geloop. Die sleepboot het ons vaartuig in ’n mynbesaaide gebied losgemaak en toe verdwyn. Was dit ’n manier om van ons ontslae te raak? Terwyl ons na die geskraap van die riwwe teen die romp van die skuit geluister het, het ons op God vertrou om ons nie te verlaat nie.

Die kuswag het ons in rubberbootjies land toe gebring. Ons bemanning is met vuurwapens gedwing om die reis op ’n ander vaartuig voort te sit. Omdat Geallieerde troepe alle Duitse hawes beset het, het ons hulle vermy en eindelik op die Deense eiland Mön geland. Ons was oplaas vry en het die omstanders gevra of daar enige getuies van Jehovah op die eiland is. Binne twee uur het twee susters ons hartlik omhels. Hoe verbaas was die omstanders tog nie! Toe die Wagtoringgenootskap van ons aankoms gehoor het, het hulle Filip Hoffmann gestuur om te reël dat ons liefdevolle sorg en aandag geniet. Hoe dankbaar was ons tog nie teenoor Jehovah nie!

God gee lewe en groei

Ons het gou van die ontbering herstel en was verheug om in September ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Kopenhagen by te woon. Twee jong vroue, ’n Let en ’n Oekrainer, wat die waarheid in die Stutthof-kamp leer ken het, is gedoop. Hulle het albei as ons geestelike susters na die Sowjet-Unie teruggekeer. En God het ons verdere groei gegee!

Memel was nou deel van die Sosialistiese Sowjet-Republiek Litaue. In weerwil van die aansporing van Russiese vlugtelinge het ek in Junie 1946 weswaarts gereis om by my gesin aan te sluit. Ek het ’n swaar bondel Bybellektuur saam met my geneem. Toe ek die grens oorgesteek het, het die patrollies my bondel geïgnoreer en meer belang gestel in al die knoffel wat ek by my gehad het. Hoe verheug was die plaaslike broers tog om die kosbare geestelike voedsel te ontvang!

Ek was Jehovah innig dankbaar dat hy my gesin so wonderlik deur die oorlog en die moeilike tye daarna bewaar het sodat ons met ons werk kon voortgaan. Ons het nooit opgehou om God te loof nie!

’n Verpletterende slag

Maar in September 1950 is al die Getuies in ons gebied gearresteer en weggeneem. ’n Aantal van ons is vonnisse van tussen 10 en 25 jaar in ’n werkkamp opgelê. Al ons familielede is lewenslank na Siberië verban.c

Dit was vir ons ’n verpletterende slag, maar ons het gou besef dat die Koninkryksboodskap ook in hierdie groot land versprei moes word. Dit was my voorreg om, saam met sowat 30 ander Getuies, vir die 3 000 geïnterneerdes van die Vorkuta-kamp in die noorde van Europese Rusland te preek. Baie het die waarheid aanvaar, is gedoop en het die werk ná hulle vrylating in nuwe gebiede voortgesit.

Na omstreeks vyf jaar, in die noordelike lente van 1957, het ek toestemming gekry om na die Tomsk-gebied te verhuis, en so is ons gesin herenig. Ons broers in Siberië moes sewe dae per week van soggens tot saans werk. Uiteindelik is feitlik al daardie bannelinge vrygelaat, en daarna was daar ’n groot suidwaartse trek van Duitse burgers. Soos aan die begin gemeld, het ons ons in 1960 in die Republiek van Kirgisië in Sentraal-Asië gevestig. Hier, in die dorp Kant naby Froense, het ons etlike gesinne van Jehovah se Getuies aangetref wat voor ons daar aangekom het.

Die eerste paar jare het vreedsaam genoeg verloop. Namate die waters van die waarheid ’n uitwerking gehad het, het ’n geestelike paradys hier en in ander dele van die land begin groei. Maar ons daadwerklike lowing van Jehovah het nie onopgemerk gebly nie. Die pers het lasterlike artikels oor ons gepubliseer. Die leiers van geregistreerde godsdienste het ons verbied om hulle “skape” te besoek en het gedreig dat hulle stappe teen ons sou doen. In 1963 is vyf broers skielik uit ons midde weggeneem en vonnisse van sewe tot tien jaar in werkkampe opgelê. Die onbevreesde en beginselvaste standpunt wat ons broers in die hof ingeneem het, het die publiek verstom. Hulle het gesien dat daar mense is wat vasbeslote is om ‘aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense’.—Handelinge 5:29.

Toe ek die aftree-ouderdom bereik het, is ons meegedeel dat ons toegelaat sal word om na die Bondsrepubliek van Duitsland te emigreer. Voor ons vertrek het die broers en susters in Kirgisië en Suid-Kasakstan ons dit op die hart gedruk dat ons hulle innige liefde en groete, tesame met Job 32:19-22 en Jeremia 20:9, 10, aan al Jehovah se Getuies wêreldwyd moet oordra. Ek en Ruth woon nou al sedert 1969 in Bremerhaven. Ondanks bejaardheid loof ons Jehovah, die Bron van lewe en groei, nog steeds vir sy goedheid. Ons sien met vertroue uit na die dag wanneer die hele aarde ’n letterlike paradys sal wees en alles wat asem het hom sal loof!—Psalm 150:6.

[Voetnote]

a Kyk The Watchtower van 15 Maart 1968, bladsye 187-190.

b Kyk Ontwaak! van 8 September 1978, bladsye 10-14.

c Kyk Die Wagtoring van 1 Mei 1956, bladsye 142-144.

[Prent op bladsy 23]

Eduard en Ruth Warter vandag

[Prent op bladsy 24]

Die groep Getuies van Stutthof-konsentrasiekamp word ná hulle aankoms in Denemarke in 1945 deur ’n plaaslike broer verwelkom. Eduard Warter is heel links

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel