’n Brosjure met ’n nuwe gedaante
DIE inligting in die voorgaande artikel is gedurende 1986 wêreldwyd voorgedra by die “Goddelike Vrede”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies. Hier volg ’n samevatting van ander interessante kommentare deur die spreker:
“Kyk! Ek maak alles nuut.” Dit was die titel van ’n boekie wat oorspronklik in 1959 deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. ’n Boekie van hierdie aard is deur sendelinge in Japan aangevra. ’n Behoefte is aldaar gevoel aan ’n publikasie wat die Koninkryksboodskap op ’n duidelike, eenvoudige manier sou oordra aan mense wat nie goed met die Bybel self vertroud is nie. Meer as 30 sendelinge het, onder toesig van die Wagtoringgenootskap, gehelp om die boekie saam te stel. Het hierdie nuwe boekie in die behoefte voorsien toe dit die vernaamste hulpmiddel geword het om nuwe studies in Japan te begin?
Die resultate spreek vir hulself. Toe die “Kyk!”-boekie gepubliseer is, was daar ’n hoogtepunt van 1 390 Koninkryksverkondigers in Japan. Vandag is die hoogtepunt 114 480 verkondigers. Feitlik al hierdie verkondigers het hul studie van die Bybel met behulp van die “Kyk!”-boekie begin. Gedurende die afgelope 27 jaar is meer as 8 750 000 eksemplare van hierdie boekie in Japannees alleen versprei. En in die afgelope 20 jaar het Japan op twee maande na elke maand ’n nuwe hoogtepunt in verkondigers gerapporteer. Alhoewel daar ongetwyfeld ander faktore is wat tot hierdie wonderlike vermeerdering bygedra het, ly dit geen twyfel dat die gebruik van die “Kyk!”-boekie om Bybelstudies te begin ’n groot faktor was nie.
Hierdie boekie is nou bygewerk ooreenkomstig huidige behoeftes en is by die “Goddelike Vrede”-byeenkomste vrygestel in die vorm van ’n tydskrifgrootte-brosjure met 32 bladsye. ’n Nuwe deel is bygevoeg oor die onderwerp “Slegte dinge—Waarom laat God dit toe?” Daarbenewens is die slotparagrawe oorgeskryf om die student hartlik aan te moedig om met Jehovah se organisasie om te gaan. Die publikasie verskyn nou met groot, maklik leesbare druk en ’n aantal leersame illustrasies. ’n Kleiner weergawe van die pragtige volkleurillustrasie op die buiteblad verskyn op die bladsy hiernaas.
Is hierdie nuwe brosjure, “Kyk, Ek maak alles nuut”, net vir gebruik in die Ooste bedoel? Dit sal ongetwyfeld baie doeltreffend wees daar. Maar ons glo dat die “Kyk”-brosjure ook in die res van die wêreldveld nuttig sal wees om Bybelstudies te begin. Byna 30 jaar het verbygegaan vandat die oorspronklike boekie uitgegee is. Gedurende daardie tydperk het kennis van die Bybel tot ’n nuwe laagtepunt gedaal, selfs in lande wat beweer dat hulle Christelik is. Pleks van die welbekende Bybelverhale van hulle ouers te hoor, het ’n nuwe geslag grootgeword wat slaafs voor die televisie sit en alles indrink wat die wêreld aanbied. Hierdie en ander afleidings van ’n plesierbehepte wêreld het kosbare ure in beslag geneem wat vir geestelike ontwikkeling gebruik kon gewees het. Die moderne geslag, hetsy in die Christendom of elders, weet bitter min van God se Woord af. Hulle het die ‘melk van die woord’ nodig, soos dit op ’n eenvoudige manier in die “Kyk”-brosjure uiteengesit word.—Hebreërs 5:12.
Daar is wêreldwyd mense wat regverdig gesind is en wat verheug sal wees om te hoor hoe hulle hulle by die “groot menigte” kan skaar wat Armageddon sal oorlewe (Openbaring 7:9, 14). In ons werk van huis tot huis sal ons moontlik baie mense vind wat beïndruk sal wees deur die pragtig geïllustreerde buiteblad van die brosjure en deur die aangrypende beskrywing van die Paradys in die eerste paar paragrawe. Tydens ’n herbesoek kan ons die baie teksverwysings in hierdie paragrawe gebruik om te toon dat hierdie hoop veel meer as net ’n droom is. Dan kan ons hulle, deur ’n gereelde Bybelstudie met behulp van die “Kyk”-brosjure, help om op die weg na die lewe te kom. Soos Jesus in gebed aan sy Vader gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
Mag ons almal ywerig gebruik maak van die “Kyk”-brosjure om die Koninkrykswaarheid uit te dra. Mag die “groot menigte” saam met die oorblywende gesalfdes van die koninklike priesterdom ‘hulle lig voor die mense laat skyn’ (Mattheüs 5:16). Mag die weergalose naam van die Soewereine Heer Jehovah ten volle geheilig word. Mag daar vir altyd bewys word dat die beloftes van Jehovah God, Skepper van hemel en aarde, immer “waaragtig en betroubaar” is. Dit is hy wat vanaf sy troon in die hemel aankondig: “Kyk, Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:5.
Die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut”, tesame met die brosjures Die regering wat die Paradys gaan bring en “Laat u Naam geheilig word”—Watter naam? sal aan jou gepos word by ontvangs van ’n bydrae van R1,50. Stuur asseblief bestellings na die korrekte adres, soos op bladsy 2 aangegee.