Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 3/15 bl. 29-31
  • Sal jy aan die waarheid vaskleef?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal jy aan die waarheid vaskleef?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Teenstand vandag
  • Waarom party teenstand bied
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die verdediging van ons geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Hou aan om God se woord met vrymoedigheid te spreek
    Aanbid die enigste ware God
  • Waarom word Jesus se ware volgelinge gehaat?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 3/15 bl. 29-31

Sal jy aan die waarheid vaskleef?

AS JY die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer het, is die vernaamste vraag waarvan jy jou moet vergewis: Is dit die waarheid? Gestel jy vind dat dit wel die waarheid is. Sal jy dan daaraan vaskleef? Mense het in die dae van Jesus Christus en sy apostels voor soortgelyke vrae te staan gekom.

Hoe het mense gereageer toe die apostels oor Jesus gepreek het? Wel, nuus oor Christus se Koninkryk, sy wonderwerke, sy losprysoffer, sy opstanding en die ewige lewe het goed geklink, en talle het die dinge wat hulle gehoor het as die waarheid aanvaar. Maar die meeste het nie. Trouens, daar is oral ‘gespreek teen’ die Christengemeente van daardie tyd (Handelinge 28:22). As iemand die waarhede aanvaar het wat Jesus se dissipels verkondig het, het dit dus beteken dat hy in stryd met die volksmening opgetree het en teenstand gekry het. Belangstellende persone moes hulle derhalwe daarvan vergewis dat Christelike leerstellings die waarheid is. Slegs dan kon hulle ’n ferm standpunt inneem.

Toe Paulus en Barnabas Antiochië in Klein-Asië besoek het, het baie mense met groot belangstelling na hulle boodskap geluister. Die Bybelverslag sê: “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word. En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor” (Handelinge 13:42, 44). Maar baie van die mense se aanvanklike belangstelling het verflou toe hulle gehoor het hoe emosionele teenstanders teen die apostels spreek.

Vers 45 van Handelinge hoofstuk 13 sê: “Toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.” Dan sê vers 50: “Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Barnabas ’n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf.” Belangstellendes moes besluit of hulle ondanks die teenstand verder na Jesus se volgelinge sou luister. Hulle moes of wat hulle gehoor het as die waarheid aanvaar of hulle ore daarvoor toestop.

Teenstand vandag

Net soos Christene in die eerste eeu G.J. teengestaan is, is daar hedendaagse teenstanders wat die ore van belangstellendes probeer toestop vir die Skriftuurlike waarhede wat Jehovah se Getuies verkondig. Vriende, familie en godsdiensleiers doen dikwels alles in hulle vermoë om belangstellendes te ontmoedig om die Bybel saam met die Getuies te bestudeer. Sonder Skriftuurlike bewys weerspreek die teenstanders die dinge wat verkondig word en maak hulle valse aantygings.

Wat moet belangstellende persone doen? Moet hulle toelaat dat die woorde van teenstanders hulle verstande en ore sluit, soos party in Antiochië gedoen het? Of moet hulle vir hulleself uit die Bybel bewys of die dinge wat hulle studeer die waarheid is of nie?

Die ontvanklike mense in die stad Berea is geprys omdat hulle die Skrif ondersoek het om te sien of die dinge wat Paulus hulle vertel het die waarheid is. Toe hulle vasgestel het dat hy die waarheid gepraat het, het hulle ’n ferm standpunt daarvoor ingeneem. Ons word meegedeel: “Hierdie [Bereane] was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”—Handelinge 17:10, 11.

Die Bereane het nie toegelaat dat die verklarings van teenstanders hulle verstande vir die goeie nuus sluit nie. Hulle het eerder die Skrif daagliks ondersoek om te bevestig dat die dinge wat hulle gehoor het waar is. Hulle het ’n skat gevind en sou nie toelaat dat teenstanders dit van hulle wegneem nie. Sou dit nie die verstandige handelwyse wees ten opsigte van dieselfde goeie nuus wat Jehovah se Getuies vandag verkondig nie?

Waarom party teenstand bied

Teenstanders is soms welmenende familielede wat jy liefhet en respekteer, en jy het alle rede om te glo dat hulle opreg in jou welsyn belangstel. Maar jy moet nadink oor die rede waarom hulle daarteen gekant is dat jy die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer. Het hulle vaste Skriftuurlike bewys dat wat jy leer nie die waarheid is nie? Of spruit hulle teenstand uit wat ander vir hulle vertel het? Verkeer hulle in onkunde oor wat die Getuies verkondig? Baie van die wat Jesus teengestaan het, het dit gedoen uit onkunde oor wat hy verkondig het en omdat hulle die valse aantygings van teenstanders geglo het.

Toe Jesus aan die folterpaal gehang het, het verbygangers “Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, verlos Uself en kom af van die [folterpaal]! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die [folterpaal] afkom, sodat ons kan sien en glo!” (Markus 15:29-32, vgl. NW). Wat was die oorsaak van hierdie slegte gesindheid?

Die mense het toegelaat dat hulle opinie van Jesus gevorm word deur die godsdiensleiers wat hom gehaat het omdat hy hulle aan die kaak gestel het as valse leraars wie se dade nie geklop het met hulle bewerings dat hulle die ware God verteenwoordig nie. Jesus het reguit vir hulle gesê: “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”—Mattheüs 15:3, 7-9.

Die godsdiensleiers het Jesus en die waarhede wat hy verkondig het so intens gehaat dat hulle saamgesweer het om hom dood te maak. Hulle het ook alles in hulle vermoë gedoen om die mense teen hom op te stook. Vandag staan talle godsdiensleiers Jehovah se Getuies net so heftig teë. En soos in die geval van die vroeë Christene word daar ook oral ‘gespreek teen’ die Getuies. Maar is dit verstandig om toe te laat dat hierdie algemeen verbreide teenstand jou denke beïnvloed?

Dieselfde Skriftuurlike waarhede oor God se Koninkryk wat Jesus en sy apostels verkondig het, word vandag deur Jehovah se Getuies bekendgemaak. Honderdduisende mense dwarsoor die wêreld aanvaar hierdie goeie nuus ondanks hewige teenstand van vriende, familie en godsdiensleiers. Diegene wat die Koninkryksboodskap aanvaar, het hulle daarvan vergewis dat dit die waarheid is, en hulle is vasbeslote om daaraan vas te kleef.

Waarom sal jy dan soos daardie persone in die eerste eeu wees wat hulle deur ander laat beïnvloed het om die lewegewende Skriftuurlike waarhede wat die ongewilde volgelinge van Jesus Christus aan hulle verkondig het te verwerp? Gaan eerder voort om die Bybel saam met die Getuies te bestudeer en gebruik die geskrewe Woord van God om jou daarvan te vergewis dat wat jy leer inderdaad die waarheid is (Johannes 8:32). En kleef met God se hulp aan die waarheid vas.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel