Die grootste kindergeboorte op aarde is ’n voorspel tot wêreldwye veiligheid
“’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem; Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.”—JESAJA 9:5.
1. Onder wie is wêreldwye veiligheid wis en seker, en hoe weet ons dit?
WÊRELDWYE veiligheid! Onder “die vors van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, is dit ’n vergeefse droom (Johannes 12:31, Katolieke Nuwe Testament). Maar wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”, Jesus Christus, is wis en seker. Jehovah verseker ons hiervan in die profesie oor die geboorte en loopbaan van die “Vredevors”. In Jesaja 9:5, 6 lees ons: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”
2. (a) Onder watter omstandighede is die profesie in Jesaja 9:5, 6 gegee? (b) Hoe weet ons dat Jehovah onfeilbaar getrou gaan bly aan die verbond wat hy met Dawid gesluit het vir ’n ewige koninkryk in sy geslag?
2 Wat ’n wonderlike profesie tog! Dit sal aangrypend wees om hierdie profesie oor die grootste kindergeboorte op aarde te ondersoek. Maar voordat ons dit ten volle kan waardeer, moet ons eers kyk na die omstandighede waaronder die profesie gegee is. Dit was ’n tyd van internasionale sameswerings in die dae van die koninkryk van Juda onder koning Agas. Hoewel daardie koning ontrou teenoor Jehovah was, is hy toegelaat om op Jehovah se troon te sit. Hierdie verdraagsaamheid teenoor hom is betoon vanweë die verbond wat Jehovah met Dawid gesluit het vir ’n ewige koninkryk in sy geslag. Hoewel Dawid die voorreg ontsê is om ’n tempel vir Jehovah te bou, het God hom ’n alternatiewe seën gegee. Dit is uiteengesit in die woorde van die profeet Natan: “En die HERE gee jou te kenne dat die HERE vir jou ’n huis sal stig. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid” (2 Samuel 7:11, 16). Daardie goddelike belofte het koning Dawid so bevredig dat hy uitgesien het na die heerlike vervulling daarvan.
3. (a) Deur wie word daardie verbond met Dawid vervul, en in watter sin was daardie verbond uniek? (b) Wat het die Duiwel hom ten doel gestel wat die Koninkryksverbond betref?
3 Daardie verbond met Dawid word vervul deur die groot Seun van Dawid, Jesus Christus, die “Vredevors”. Geen ander dinastie op die ganse aarde het ooit so ’n verbond vir ’n koninkryk waar daar geen einde aan die oorvloed van heerskappy en geen einde aan die vrede sal wees, geniet nie. Maar daardie Koninkryksverbond het ’n uitdaging gebied aan al die koninkryke van die wêreld waarvan Satan die vors of die heerser is. Die Duiwel en sy demone het hulle dit dus ten doel gestel om die huis van Dawid te vernietig en sodoende die moontlikheid dat dit ’n permanente erfgenaam sal hê uit te skakel. Satan het gevind dat koning Resin van Sirië, koning Peka van die tienstammeryk van Israel en die koning van Assirië gewillige instrumente was.
Sameswering teen die Koninkryksverbond
4. Hoe het die Duiwel te werk gegaan om ’n einde te maak aan die ontplooiing van Jehovah se Koninkryksverbond wat met Dawid gesluit is?
4 Wat was die Duiwel se plan? Sy doel was om koning Agas van Juda te dwing om uit vrees ’n onbehoorlike verbond met die koning van Assirië te sluit. Hoe kon die Duiwel dit doen? Wel, hy het koning Peka van Israel en koning Resin van Sirië ’n sameswering teen die huis van Dawid laat smee. Hulle het saamgesweer om Agas van die troon van Juda af te sit om hulle eie man, die seun van Tabeal, as skynkoning op die troon te plaas. Wie was hierdie seun van Tabeal? Dit is betekenisvol dat hy nie ’n afstammeling van Dawid se huis was nie. Hy was gevolglik nie ’n man deur wie God se verbond vir die Koninkryk oorgedra kon word totdat die permanente Erfgenaam, naamlik die “Vredevors”, verskyn het nie. Hy sou hulle man, nie God se man nie, op die troon van Juda wees. Die Bybel stel dus Satan se poging aan die kaak om ’n einde te maak aan die ontplooiing van Jehovah se Koninkryksverbond wat met Dawid gesluit is.
5, 6. Hoe het koning Agas gereageer op die sameswering teen die huis van Dawid, en watter bemoedigende boodskap het Jehovah hom gegee?
5 Hoe het koning Agas op die bedreiging gereageer? Hy en sy volk het van vrees gebewe. Jehovah het dus bemoedigende inligting aan hom gegee om te voorkom dat hy ’n verbond om beskerming met die koning van die opkomende wêreldmoondheid, Assirië, sluit. Jehovah het sy profeet Jesaja gestuur om Agas tegemoet te gaan en hierdie boodskap in Jesaja 7:4-9 oor te dra:
6 “Wees nie bevrees . . . omdat Aram onheil teen jou besluit het [nie], Efraim [die vernaamste lid van die koninkryk van Israel] en die seun van Remalia [Peka], deur te sê: Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tabeal daaroor koning maak. So sê die Here HERE: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie. . . . As julle nie glo nie—voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!”
’n Teken van die sameswering se mislukking
7. (a) Wat het gelei tot die merkwaardige profesie in Jesaja 7:14? (b) Waarvan was die geboorte van Immanuel ’n betroubare teken, en as wat sou Jesaja se seuns dien?
7 Jehovah het aldus die omverwerping van die samesweerders voorspel. Toe het die tyd aangebreek vir ’n goddelike profesie van kardinale belang, want dit het gewys op die koninklike Erfgenaam van die Koninkryksverbond met Dawid. Maar wat het tot daardie merkwaardige profesie aanleiding gegee? Wel, Jehovah het met koning Agas gepraat. Hy het vir Agas gesê om enige wonderdadige teken waaraan hy kon dink te vra, en dan sou Jehovah dit doen as ’n absolute waarborg dat God die sameswering teen die huis van Dawid sou verpletter. Maar Agas het nie so ’n teken gevra nie. Wat het toe gebeur? Jesaja 7:14 deel ons mee: “Daarom sal die HERE self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immanuel noem.” Daardie naam beteken “God met ons”. Aangesien Immanuel en Jesaja se twee ander seuns as tekens sou dien, het die profeet in Jesaja 8:18 gesê: “Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het—tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare.” Die geboorte van Immanuel was dus ’n betroubare teken dat al die samesweerders en hulle sameswerings teen God se Koninkryksverbond en die Erfgenaam daarvan verydel sou word!
8. (a) Wat het die profesie in Jesaja 7:15, 16 oor die seun Immanuel gesê, en wat was die uitslag? (b) Wat is moontlik die rede waarom die identiteit van Immanuel in die dae van Jesaja steeds onseker is?
8 Die Bybelverhaal sê nie wie die lewe geskenk het aan die seun genaamd Immanuel nie. Dit was moontlik ’n Joodse maagd wat die profeet Jesaja se tweede vrou geword het. In elk geval, die profesie het voorts gesê dat die twee konings wat teen die huis van Dawid saamgesweer het ’n rampspoedige einde sou hê voordat die seun oud genoeg sou wees om tussen goed en kwaad te onderskei (Jesaja 7:15, 16). Dit was die geval. Die rede waarom die identiteit van Immanuel in die dae van Jesaja onseker is, is dalk sodat latere geslagte se aandag nie van die Groter Immanuel afgelei word wanneer hy as ’n wonderdadige teken uit die hemel sou verskyn nie.
9. (a) Wat het die vervulling van die teken en die verydeling van die sameswering teen die Koninkryksverbond gewaarborg? (b) Wat is die grootste wêreldsameswering van alle tye?
9 In die dae van Agas was daar natuurlik slegs ’n kleinskaalse vervulling van die teken en van die verydeling van die wêreldse sameswering teen God se Koninkryksverbond. Maar daardie eerste vervulling het gewaarborg dat die teken en die verydeling van wêreldsameswering in ons kritieke tyd op groot skaal vervul sou word. Ons staan vandag voor die grootste wêreldsameswering van alle tye. In watter sin? In die sin dat die nasies Jehovah se reëling om blywende vrede te bring heeltemal ignoreer en selfs die verteenwoordigers van die “Vredevors” teenstaan. Die sameswering is in werklikheid teen die Erfgenaam van die Koninkryksverbond, die “Vredevors”. Maar wat nou van die volledige vervulling van die profesie? As ons die teken onderskei, sal ons besef dat die lot van hierdie wêreldsameswering ’n uitgemaakte saak is.
Die geboorte van die “Vredevors”
10. (a) Wie het die kind, in die volledige vervulling van Jesaja 7:14, as die teken en Erfgenaam van die Koninkryksverbond voortgebring? (b) Hoe verbind die geskiedskrywer Mattheüs die lmmanuel-teken met die huis van Dawid?
10 In die profesie se volledige vervulling was die maagd wat die kind voortgebring het as die teken en Erfgenaam van die Koninkryksverbond Maria, ’n Joodse maagd wat van koning Dawid afgestam het. Die engel Gabriël het haar meegedeel dat sy die lewe sou skenk aan ’n seun wat Jesus genoem sou word, dat Jehovah God “aan Hom die troon van sy vader Dawid [sou] gee” en dat daar “aan sy koninkryk . . . geen einde [sou] wees nie” (Lukas 1:26-33). Die geïnspireerde geskiedskrywer Mattheüs verbind die Immanuel-teken met die huis van Dawid. Ons lees in Mattheüs 1:20-23: “Maar terwyl hy [Josef] dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”
11. Wanneer en waar het die voorspelde geboorte van Immanuel plaasgevind?
11 Wanneer en waar het hierdie voorspelde geboorte van Immanuel plaasgevind? Alle Joodse oë is op die regte plek gevestig deur die woorde van Miga 5:1, wat in Mattheüs 2:6 aangehaal word: “En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” Dit was in die jaar 2 v.G.J. in die stad Betlehem dat die “Vredevors” gebore is en die aangrypende profesie van Jesaja 9:5, 6 in vervulling begin gaan het.
12, 13. Wie is deur die geboorte van die “Vredevors” tot groot eer gestrek, en watter heerlike en skitterende aspekte het hierdie geboorte gehad?
12 Vir wie van ons sou dit nie ’n eer en ’n vreugde wees om die ouer te word van die een wat die titel “Vredevors” sou dra nie? Dit het gevolglik groot heerlikheid vir die koninklike Vader van hierdie Vors beteken. Trouens, nog nooit, nee nooit tevore, het ’n menslike geboorte soveel heerlike en skitterende aspekte gehad nie.
13 Jehovah se stralende engel het verskyn aan herders wat in die nag in die velde buitekant Betlehem oor hulle kuddes wag gehou het en “die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn”. Die engel het toe die geboorte ter vervulling van goddelike profesie aangekondig en gesê: “Dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.” Asof dit nie heerlik genoeg was nie, het ’n mag der menigte engele wat die Vader van die pasgebore kind loof in die hemel bo hulle verskyn en asof met een stem gesê: “Glorie in die hoogste hemele aan God, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.” Hoe gepas was dit tog vir die engele om by die geboorte van die aangewese “Vredevors” aan te kondig dat daar goddelike vrede sou wees vir alle mense wat God se welwillendheid geniet!—Lukas 2:8-14, vgl. NW.
14, 15. (a) Oor watter gebeure het die hemelse seuns van God Jehovah geloof? (b) Waarom kon geen ander kindergeboorte in die ganse mensegeskiedenis met hierdie een vergelyk nie?
14 Lank voor die geboorte van die een wat die “Vredevors” sou wees, het die engele God by ’n spesiale geleentheid geloof. Dit was toe hy, tydens die skepping, die aarde gegrond het (Job 38:4). Het jy al foto’s van ons aarde gesien wat deur ruimtevaarders vanuit die buitenste ruimte geneem is? Dan het jy gesien wat slegs die engele tot onlangs gesien het. En hoe het die engele destyds gereageer? Job 38:7 deel ons mee dat “die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het”.
15 Die grootste geboorte waarmee die aarde ooit vereer is, sou eweseer ’n gebeurtenis wees waaroor die seuns van God hulle melodiese stemme in ’n loflied sou verenig. Net soos ’n aardse vader by die geboorte van sy eersgebore seun gelukgewens word, verdien die hemelse Vader wat verantwoordelik is vir die grootste geboorte wat ooit op aarde plaasgevind het om in sang verheerlik te word deur lede van sy hemelse gesin. Hoe moes die goddelike Wese tog nie daardie asemrowend mooi konsert geniet het toe hy die eerste keer in heeltemal nuwe omstandighede vader geword het nie! Nog nooit tevore in die ganse geskiedenis van die heelal was daar ’n kindergeboorte wat kon vergelyk met dié van die aangewese “Vredevors” nie.
“’n Groot lig” skyn
16. Wanneer en hoe was daar ’n verdere vervulling van Jesaja hoofstuk 9?
16 Toe Jesus met sy openbare bediening begin het, was daar ’n verdere vervulling van Jesaja hoofstuk 9 NW. Dit het verband gehou met die eerste vers van daardie hoofstuk wat voorspel het dat “’n groot lig” sou skyn op mense “wat in duisternis wandel”. Die vervulling van Jesaja 8:23 en 9:1 word vir ons verklaar deur die geïnspireerde geskiedskrywer Mattheüs in hoofstuk 4, vers 13 tot 17: “En Hy [Jesus] het Nasaret verlaat en gaan woon in Kapernaüm aan die see, in die gebied van Sebulon en Naftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Die land Sebulon en die land Naftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene—die volk wat in duisternis sit, het ’n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ’n lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
17 Sebulon en Naftali het in die noordelikste deel van Israel gelê en die gebied van Galilea ingesluit. Die hele westelike kus van die See van Galilea het aan Naftali gegrens. Dit was dus deur die goeie nuus van God se Koninkryk in daardie gebiede te verkondig dat Jesus en sy dissipels lig laat skyn het vir die mense wat so lank in duisternis gesit het. Jesus het in Johannes 8:12 gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Deur middel van Jesus is “die wat sit in die land en skaduwee van die dood” in staat gestel om “die lig van die lewe” te hê omdat hy sy lewe “as ’n losprys vir baie” gegee het. Hy is die een wat deur Jehovah gebruik is om lig te werp op die manier waarop mense die lewe kan verkry.—Mattheüs 4:23; 20:28.
18 Hierdie “groot lig” wat verlossing van die dood en verdrukking beloof het, was nie tot die mense van Galilea beperk nie. Het Jesaja dan nie voorspel dat die regering se oorvloed geen einde sou hê nie? En het Jesaja nie voorspel dat die rol van die “Vredevors” ’n geweldige sou wees nie? Ja, want Jesaja 9:5, 6 sê: “Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.” In die volgende artikel sal ons Jesus Christus se rol as “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader” en “Vredevors” bespreek.
Onthou jy?
◻ Watter sameswering het in die dae van koning Agas ontstaan?
◻ Wat was die kleinskaalse vervulling van die teken van Jesaja 7:14?
◻ Wat was die volledige vervulling van daardie teken?
◻ Waarom was die geboorte van die “Vredevors” die grootste kindergeboorte op aarde?
17. Hoe kon Jesus lig laat skyn op die mense in Sebulon en Naftali, en wat sou die lig beteken vir diegene wat in die duisternis sit?
18. (a) Waarom sou hierdie “groot lig” nie tot die mense van Galilea beperk wees nie? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?