Uiteindelik vrede!—Wanneer God spreek
“Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”—JESAJA 9:6.
1. Wat het dwarsdeur die mensegeskiedenis gebeur al praat wêreldleiers gedurig oor vrede?
WÊRELDLEIERS praat gedurig oor vrede, en mense sê oor die algemeen dat hulle dit begeer. Die hedendaagse situasie herinner ons egter aan wat die profeet Jeremia gesê het: “Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op ’n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking” (Jeremia 8:15). Vandat Kain Abel doodgeslaan het, het die wêreld in werklikheid nie ware vrede gehad nie, maar is dit deur geweld geteister. En ons 20ste eeu is die gewelddadigste van alle eeue, met oorloë wat reeds sowat honderdmiljoen lewens geëis het. In ons tyd was 97 persent van die wêreldbevolking by ten minste een oorlog betrokke. Terwyl wêreldleiers oor vrede praat, het hulle dus hulle mense van die een ramp na die ander gelei.
2. Watter tol eis bykomende geweld in alle nasies?
2 Voeg by al daardie geweld die daaglikse lewensverlies as gevolg van gewelddadige misdade. In die Verenigde State word daar byvoorbeeld elke jaar ongeveer 20 000 mense vermoor. Meer as 80 000 vroue word verkrag, en baie ander verkragtings bly onaangemeld. Bykans tweemiljoen vroue word erg mishandel deur die man met wie hulle saamlewe. En ongeveer ’n kwart van alle huisgesinne is die slagoffers van die een of ander soort misdaad. ’n Verslag sê: “Ons het ’n verskriklik gewelddadige samelewing geword.” ’n Soortgelyke situasie bestaan in die meeste ander lande.
3. Watter groter geweld kan die mensdom nou aangedoen word?
3 Maar al daardie geweld is soos niks in vergelyking met die geweld wat deur hedendaagse kernwapens aangerig kan word nie. Daar is genoeg om elke bewoner van die aarde 12 keer dood te maak! ’n Dokter het gesê: “Die moderne geneeskunde sal niks hê om die slagoffers van ’n kernoorlog te bied nie.” Waarom nie? ’n Ander het geantwoord: “Die meeste dokters, verpleegsters en tegnici sal dood wees . . . Hospitale sal vernietig wees. Daar sal dus min oor wees met genoeg kennis en toerusting om enigiemand te red.”
4, 5. (a) Watter kommentaar het een publikasie oor die gebrek aan vrede in ons tyd gelewer? (b) Wat het ’n voormalige regeringsamptenaar eweneens gesê?
4 Weens die gebrek aan vrede in ons dag het die hoofartikel van ’n onlangse jaarboek van die Encyclopædia Britannica die titel gehad: “Ons desintegrerende wêreld—die bedreiging van wêreldanargie. ” Dit het gesê: “Na 1945 is daar veronderstel dat ‘vooruitgang’ onvermydelik is en dat die hedendaagse wêreld se toekoms basies een van samehang en samehorigheid sou wees.” Maar dit het gesê dat daardie aannames “baie ver van die kol af was”, en het bygevoeg: “Wat eerder . . . gebeur het, is dat die wêreld stil maar meedoënloos deur stadige desintegrasie uitmekaar geskeur word. Baie lande waarvan die strukturele en geestelike samehang as vanselfsprekend beskou is, verbrokkel . . . [in] stamme, familiegroepe, godsdiens[sektes], . . . stedelike bendes, moordbendes, terroristebewegings, guerrillabewegings en eng en rasende eiebelangegroepe.”
5 ’n Voormalige hoë regeringsamptenaar in die Verenigde State het eweneens gesê: “Die faktore wat tot internasionale onbestendigheid bydra, kry die geskiedkundige oorhand oor die kragte wat georganiseerde samewerking bevorder. Die onvermydelike gevolgtrekking van enige objektiewe ontleding van wêreldtendense is dat maatskaplike woelinge, politieke onrus, ekonomiese krisisse en internasionale wrywing waarskynlik gedurende die res van hierdie eeu algemener sal voorkom.” Hy het die gevolgtrekking gemaak: “Kortom, die mensdom word deur globale anargie bedreig.”
‘Besoekers uit die ruimte’
6. Hoe het ’n koerantredakteur die waarnemings beskryf wat besoekers uit die ruimte oor die hedendaagse wêreld kan maak?
6 In die lig hiervan het ’n redakteur in ’n Clevelandse koerant geskryf: “Gestel daar kom volgende week besoekers van ’n afgeleë sterrestelsel hier aan. Kan ons vir hulle sê dat ons onsself moes uitwis om die voortreflikheid van kommunisme of kapitalisme te bewys? Kan ons verduidelik dat ons ’n spesie was wat hom in nasies verdeel het, en dat daardie nasies daarop uit was om mekaar periodiek in bloeddorstige orgieë uit te moor? Hoe kan ons verduidelik dat ons sommige lede van ons spesie van die honger laat sterf het en ander in volslae vervallenheid en onkunde gelaat het, omdat die uitvinding van massadood vir ons belangriker was? Die besoekers van daardie afgeleë sterrestelsel sal ons tuis beslis as barbare beskryf. . . . Ons sal dalk teëwerp dat ons ook groot kunswerke gemaak en in geregtigheid geglo het. Hulle sal meewarig glimlag en vertrek voor die ontploffings begin.”
7, 8. (a) Watter magtige besoekers doen nou ’n inspeksie van die mensdom? (b) Waarom is hulle hier?
7 ‘Daar is natuurlik nie “besoekers uit die ruimte” wat so ’n inspeksie doen nie’, sal sommige sê. Nee, nie uit die stoflike ruimte nie. Maar etlike jare lank al doen uiters magtige, hoogs intelligente besoekers ’n deeglike inspeksie van wat die mensdom aan homself en aan die aarde doen. Hulle sien daarbenewens toe dat ’n duidelike boodskap oorgedra word “voor die ontploffings begin”.
8 Wie is daardie magtige besoekers wat ’n inspeksie van die mensdom doen? God se Woord deel ons mee dat hulle God se verteenwoordigers in die geesteryk is, getroue engele wat hy na die aarde gestuur het om dit te inspekteer. Psalm 103:20 sê van hierdie geesskepsele: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!” Hierdie magtige engele word dikwels in die Bybel gemeld. In Mattheüs hoofstuk 25 sê die profesie oor ons dag byvoorbeeld in vers 31 en 32: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei.”
9. Watter rol speel Christus Jesus gedurende hierdie inspeksie van die mensdom?
9 Hierdie “Seun van die mens” is God se hoofverteenwoordiger, Jesus Christus. Nadat hy opgewek is en opgevaar het hemel toe, het hy gewag dat Jehovah hom hierdie spesiale opdrag gee. Soos Psalm 110:1 dit beskryf, het Jehovah vir hom gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” Die vervulling van Bybelprofesie toon dat God se tyd om hierdie magtige geesskepsel op sy sending uit te stuur in die jaar 1914 aangebreek het.
10. Hoeveel engele kan Christus bystaan met die skeidingswerk?
10 Maar hy sou nie alleen kom nie, want Mattheüs 25:31 het gesê dat “al die heilige engele” saam met hom sou wees. Hoeveel kan dit wees? Openbaring 5:11 sê: “Toe sien ek, en ek hoor ’n stem van baie engele rondom die troon [van God] . . . en hulle getal was tienduisende van tienduisende.” En 10 000 maal 10 000 gee ’n totaal van 100 miljoen engele! Maar Openbaring praat in die meervoud, van “tienduisende van tienduisende” engele wat God dien. Dit is honderdmiljoene, moontlik duisendmiljoene of meer. Onder Christus se leiding help hierdie geesskepseie God se verteenwoordigers op aarde om die mensdom in twee groepe te verdeel, een vir “die ewige straf”, die ander vir “die ewige lewe”.—Mattheüs 25:46; kyk ook Mattheüs 13:41, 42.
“’n Ewige evangelie”
11. Wat is die “ewige evangelie” wat engelemagte vandag steun?
11 Wat is die kernboodskap wat hierdie engelebesoekers nou op aarde steun? Openbaring 14:6 deel ons mee: “Ek het ’n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ’n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” Wat is hierdie “ewige evangelie” of goeie nuus? Dit het te doen met iets wat Jesus gesê het een van die talle bewyse sou wees dat ons in die laaste dae lewe. In Mattheüs 24:14 het hy gesê: “En hierdie evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
12, 13. (a) Wat is die Koninkryksheerskappy? (b) Waarom is die Koninkryksboodskap die allerbeste nuus?
12 God se Koninkryk is die hemelse regering wat oor die aarde gaan heers nadat die teenswoordige menseheerskappy uit die weg geruim is (Daniël 2:44; Mattheüs 6:9, 10). Die Koning daarvan is Christus Jesus, en hy het medeheersers (Openbaring 14:1-4; 20:4). Daardie Koninkryk is die een wat soos volg in Daniël 7:14 beskryf word: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
13 Waarom is die boodskap oor die Koninkryksheerskappy sulke goeie nuus, die allerbeste nuus? Omdat dit ’n nuwe wêreld, ’n nuwe raamwerk van die mensegemeenskap, gaan bring. Onder God se Koninkryk sal die mensdom seëninge ontvang wat so wonderlik is dat Psalm 37:11 die volgende sê oor diegene wat dan sal lewe: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” Ja, “die HERE sal sy volk seën met vrede” (Psalm 29:11). Vandag, voordat die Koninkryk volle beheer oor alle aardse aangeleenthede oorneem, word die goeie nuus oor die permanente, vreedsame heerskappy daarvan in die hande van die “Vredevors” in alle nasies verkondig. Dit word gedoen deur God se aardse knegte onder die toesig van Christus en die engele.—Jesaja 9:5, 6.
14. (a) Wat is een manier waarop ons God se aardse knegte positief kan identifiseer? (b) Hoe is dit duidelik dat God se seën op hulle rus?
14 Wie is hierdie aardse knegte van God? Wel, wie is die enigstes wat mense gereeld met die Koninkryksevangelie besoek? Selfs teenstanders gee toe dat dit Jehovah se Getuies is. Daar is nou meer as driemiljoen van hulle, en die geledere van hierdie Koninkryksverkondigers groei vinnig. Verlede jaar is 225 868 nuwe bedienaars van die evangelie georden. En in daardie een jaar is 2 461 nuwe gemeentes van Jehovah se Getuies dwarsoor die aarde gestig, gemiddeld meer as ses elke dag, sodat daar nou ’n totaal van 52 177 gemeentes in 208 lande is. Die profesie in Jesaja 60:22 word waarlik vervul: Jehovah bespoedig sy predikings- en insamelingswerk “op die regte tyd”. En dit is nou daardie tyd!
15. Wat is die grondslag waarop mense vandag geoordeel word?
15 Mense se reaksie op die nuus van Koninkryksheerskappy is die grondslag waarop daar bepaal word of hulle afgeskei gaan word vir “die ewige straf” of vir “die ewige lewe” in die nuwe wêreld. Baie reageer soos diegene wat in 2 Kronieke 36:15, 16 beskryf is: “Die HERE . . . het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelye . . . gehad. Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het.” Ander reageer egter gunstig en verkry Jehovah se beskerming. “Die wat na my [ware wysheid] luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.”—Spreuke 1:20, 33; Mattheüs 25:34-46.
Hemelse leërs in aksie
16. Hoe gaan God binnekort tot die ongehoorsame mensdom spreek?
16 Die predikingswerk van Jehovah se knegte sal een van die dae afgehandel wees in die mate wat God wil hê. God se geduld met die ongehoorsame mensdom sal opraak. Die vreedsame boodskap wat hy in hierdie geslag tot die mensdom gespreek het, sal verander. In plaas daarvan “sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik” (Psalm 2:5). Dit is soos Jehovah self sê: “In my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid” (Esegiël 38:19). Dan sal hy vir Jesus Christus die teken gee om met sy hemelse leër op te ruk teen hierdie opstandige en wettelose wêreld.
17. Hoe is die mag van net een engel getoon?
17 Die dinge waartoe daardie leër in staat is, blyk uit wat met Assirië gebeur het toe God se tyd vir optrede aangebreek het. Tweede Konings 19:35 sê: “In dieselfde nag het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak—was dit almal dooie liggame!” Dit is wat net een engel gedoen het! Die dinge wat tienduisende van tienduisende van hulle binnekort gaan doen, sal ontsagwekkend wees.
18. Hoe deeglik sal die vernietiging tydens hierdie stelsel se einde wees?
18 Jeremia 25:31-33 beskryf soos volg wat gaan gebeur: “Die HERE het ’n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose—aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die HERE. So sê die HERE van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.”
19. Watter verdere besonderhede voeg Openbaring hoofstuk 19 by?
19 Openbaring hoofstuk 19 beskryf hoe Jehovah al hierdie dinge tot stand gaan bring. Dit is deur sy Koning Jesus Christus in die geveg te laat tree terwyl, soos vers 14 sê, “die leërs in die hemel” hom volg. Dan sê vers 17 en 18: “Ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ’n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.” En vers 19 tot 21 beskryf die vernietiging van alle menslike instellings omdat hulle geweier het om te luister toe God deur sy aardse boodskappers gespreek het.
20. Waarom kan hierdie wêreld nie met ’n kernramp eindig nie?
20 Die tyd kom dus vinnig nader vir God om ’n einde te maak aan hierdie gewelddadige, desintegrerende wêreldstelsel. Maar daardie einde sal nie selfvernietiging as gevolg van kernoorlogvoering tussen nasies wees nie. Indien dit sou gebeur, sou die regverdiges saam met die goddeloses uitgewis word. God se “ontploffings” teen hierdie wêreld sal egter nie so wees nie, maar sal selektief wees. Mense sal tot in die nuwe wêreld behoue bly. Spreuke 2:21, 22 sê: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
21. Watter verdere vrae sal in ons volgende artikel beantwoord word?
21 Waarom het hierdie wêreld hierdie toestand bereik waar so ’n aardwye vernietiging ophande is? Is dit nie moontlik dat die huidige vredesinisiatief van wêreldleiers vrugte sal afwerp sodat hierdie stelsel gered kan word nie? En hoe moet ons ons in hierdie allerbelangrikste tyd in die ganse mensegeskiedenis gedra as ons wil tel onder “die opregtes” en “die regskapenes” wat tot in die nuwe wêreld behoue sal bly en sal bly leef? Ons volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
Wat is jou antwoord?
◻ Hoe is die gebrek aan vrede opvallend, veral in ons dag?
◻ Watter rol speel engelemagte vandag in die skeiding van die mensdom?
◻ Waarom is die Koninkryksboodskap “’n ewige evangelie”?
◻ Op watter grondslag sal mense geoordeel word of hulle kan lewe of moet sterf?
[Prent op bladsy 13]
Die werk van Jehovah se Getuies word deur engelemagte gesteun