Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 5/15 bl. 28-30
  • Vrees Jehovah en jy sal gelukkig wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrees Jehovah en jy sal gelukkig wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Luister na wysheid
  • Stel wysheid op prys
  • Maniere om wysheid te openbaar
  • Gedagteprikkelende teenstellings
  • Spreuke met parallelle
  • Nuttige vergelykings
  • ‘Gewigtige boodskappe’
  • Bybelboek nommer 20—Spreuke
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Spreuke
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Verkry wysheid en aanvaar dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ‘Deur wysheid sal ons dae baie word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 5/15 bl. 28-30

Bybelglanspunte Spreuke 1:1–31:31

Vrees Jehovah en jy sal gelukkig wees

“Die vrees vir Jehovah is die begin van wysheid” (9:10, NW). Hoe goed word dit tog in Spreuke getoon! Hierdie Bybelboek, wat omstreeks 716 v.G.J. voltooi is, help ons om wysheid te openbaar deur kennis reg toe te pas. Slaan ag op hierdie wyse woorde, en jy sal gelukkig wees.

Luister na wysheid

Lees Spreuke 1:1–2:22. “Die vrees van [“vir”, NW] die HERE” is die wese van kennis. As ons dissipline aanvaar, sal ons nie saam met sondaars sondig nie. Jehovah gee wysheid aan diegene wat hom vrees, en dit beskerm hulle teen kwaaddoeners.

◆ 1:7—Wat is “die vrees van die HERE”?

Dit is ontsag, diep eerbied en ’n heilsame vrees om hom te mishaag omdat ons sy goedertierenheid en goedheid waardeer. “Vrees van die HERE” beteken dat ons erken dat hy die Opperregter en die Almagtige is, wat die reg en die mag het om diegene wat aan hom ongehoorsaam is te straf of dood te maak. Dit beteken ook dat ’n mens God getrou dien, hom ten volle vertrou en haat wat hy sê sleg is.—Psalm 2:11; 115:11; Spreuke 8:13.

◆ 2:7, NW—Wat is onkreukbaarheid?

Hebreeuse woorde wat met onkreukbaarheid verband hou, het die grondbetekenis van iets wat “heel” of “volledig” is. Hulle slaan dikwels op morele ongeskondenheid en regskapenheid. “Die wat in onkreukbaarheid wandel”, is onwrikbaar in hulle toewyding aan Jehovah. Vir sulke “opregtes” is hy ’n beskermende “skild” omdat hulle ware wysheid openbaar en hulle na sy regverdige standaarde skik.

Les vir ons: As ons Jehovah vrees, sal ons die dissipline aanvaar wat hy deur sy Woord en organisasie voorsien. Versuim om dit te doen, sal ons op een lyn stel met “sotte”, goddelose sondaars. Laat ons dus sy liefdevolle dissipline aanvaar.—Spreuke 1:7; Hebreërs 12:6.

Stel wysheid op prys

Lees Spreuke 3:1–4:27. Goeie insig word verkry as ’n mens “vertrou op die HERE met jou hele hart”. Diegene wat wysheid hoogskat, is gelukkig. Hulle pad is soos ’n lig wat immer helderder word, maar hulle moet die hart bewaak.

◆ 4:18—Hoe word “die pad van die regverdiges” helderder?

Die son se lig word helderder van dagbreek tot “die volle dag toe”. Met die verloop van tyd word geestelike lig eweneens vir Jehovah se volk helderder. Namate ons al nader aan gebeure kom, verkry ons ’n duideliker begrip van die vervulling van Jehovah se voornemens. Ons verstaan goddelike profesieë beter namate God se heilige gees lig daarop werp en namate hulle vervul word in wêreldgebeure of in die ondervindinge van Jehovah se volk. Sodoende word hulle ‘pad al helderder’.

Les vir ons: As ons ware wysheid aan die dag lê en goddelike bevele gehoorsaam, sal dit voorkom dat ons ’n dwase weg inslaan wat tot ’n vroeë dood kan lei. Diegene wat Jehovah se bevele teen geslagsonsedelikheid veronagsaam, kan byvoorbeeld seksueel oordraagbare siektes opdoen wat ’n ontydige dood kan veroorsaak. Laat ons dus in ooreenstemming met God se vereistes optree, want dan sal wysheid vir ons “’n lewensboom” wees.—Spreuke 3:18.

Maniere om wysheid te openbaar

Lees Spreuke 5:1–9:18. Dit is ’n blyk van wysheid om onsedelikheid te vermy en ‘jou oor die vrou van jou jeug te verheug’. Sewe dinge wat God haat, word aangehaal, en daar word gewaarsku teen die verleiding van ’n hoer. Die verpersoonlikte wysheid is God se “meesterwerker”. En “vrees vir Jehovah is die begin van wysheid” (NW).

◆ 6:1-5—Is hierdie raad strydig met die gees van vrygewigheid?

Hierdie spreuk ontmoedig nie vrygewigheid nie, maar dit waarsku wel teen betrokkenheid by die transaksies van ander, veral vreemdelinge. Die Israeliete moes hulle broer wat ‘verarm’ het, help (Levitikus 25:35-38). Maar sommige het by riskante ondernemings betrokke geraak, geldelike steun verkry deur ander te oorreed om vir hulle ‘borg te staan’ en belowe om, indien nodig, hulle krediteure te betaal. As iemand in so ’n penarie beland het, moontlik deur grootpratery, was die wyse raad dat hy hom sonder versuim daaruit moes bevry.—Spreuke 11:15.

◆ 8:22-31, vgl. NW—Is dit bloot ’n beskrywing van wysheid?

Nee, want wysheid het nog altyd as ’n eienskap van die ewige God bestaan (Job 12:13). Hier word egter gesê dat wysheid “voortgebring” is en tydens die skepping van die aarde “as ’n meesterwerker naas [Jehovah]” was. As die verpersoonlikte wysheid as God se seun geïdentifiseer word, strook dit met die feit dat “al die skatte van wysheid en kennis [in hom] verborge is”.—Kolossense 1:15, 16; 2:3.

Les vir ons: Deur melding te maak van haar “dankoffers” en “geloftes” wou die onsedelike vrou van Spreuke hoofstuk 7 moontlik te kenne gee dat sy nie ’n gebrek aan geestelikheid gehad het nie. Dankoffers het bestaan uit vleis, meel, olie en wyn (Levitikus 19:5, 6; 22:21; Numeri 15:8-10). Sy het dus aangedui dat daar volop voedsel en drank by haar huis was, en “die verstandelose jongman” sou daar pret kon hê. Dit is tipies van hoe iemand wat die verkeerde beweegrede het tot onsedelikheid verlei word. Hoe belangrik is dit tog om op hierdie waarskuwing ag te slaan en sulke sonde teen God te vermy!—Genesis 39:7-12.

Gedagteprikkelende teenstellings

Lees Spreuke 10:1–15:33. Salomo se spreuke begin hoofsaaklik met teenstellende spreuke. “Die vrees van die HERE” word beklemtoon.—10:27; 14:26, 27; 15:16, 33.

◆ 10:25—Waarom word ’n “stormwind” gemeld?

Omdat die goddelose nie ’n grondslag van regverdige beginsels het nie, is hulle soos wankelbare geboue wat tydens kwaai storms ineenstort. Maar die regverdiges is stabiel, want hulle denke is stewig op goddelike beginsels gegrond. Soos ’n gebou met ’n goeie fondament stort hulle nie onder druk ineen nie.—Mattheüs 7:24-27.

◆ 11:22—Hoe kan ’n vrou soos ’n neusring in ’n vark se snoet wees?

’n Goue neusring wat deur die kant van die neus of deur die neusskot gesteek is, het aangedui dat die draer ’n verfynde persoon is. Maar die Israeliete het varke as onrein en walglik beskou. ’n Mooi dog dwase vrou is dus soos ’n onvanpaste, goue neusring in ’n vark se snoet.

◆ 14:14, NW—Hoe word ’n trouelose versadig?

“Die trouelose van hart” word versadig deur sy materialistiese lewenswyse (Psalm 144:11-15a). Om te doen wat God behaag, is vir hom van geen belang nie, en hy dink nie daaraan dat hy aan Jehovah sal moet rekenskap gee nie (1 Petrus 4:3-5). Maar “die goeie man” verwerp die gebruike van troueloses en is tevrede met “die resultate van sy handelinge”. Hy hou geestelike belange eerste, leef God se standaarde na, smaak die hoogste geluk deur Hom te dien en word deur goddelike seën versadig.—Psalm 144:15b.

◆ 15:23—Hoe kan ons ‘blydskap hê in die regte antwoord van ons mond’?

Dit kan gebeur as daar op ons raad ag gegee word en as dit goeie gevolge meebring. Maar om iemand te help, moet ons aandagtig luister, die faktore oorweeg wat tot sy probleem bydra en ons raad op die Bybel baseer. “Hoe goed is [so] ’n woord op sy tyd!”

Les vir ons: “Die dwaas” reageer driftig en gou, “op die daad”, op ’n belediging of “skande”. Maar “die skrandere”—’n verstandige individu—bid om God se gees sodat hy selfbeheersing aan die dag kan lê en Sy Woord kan gehoorsaam (Spreuke 12:16). Sodoende kan ons verdere twis vermy wat vir ons of ander emosionele of liggaamlike skade tot gevolg kan hê.

Spreuke met parallelle

Lees Spreuke 16:1–24:34. Hierdie wyse woorde van Salomo gee voorligting hoofsaaklik deur ooreenstemmende gedagtes. “Vrees van die HERE” word weer beklemtoon.—16:6; 19:23; 22:4; 23:17; 24:21.

◆ 17:19—Wat is verkeerd met ’n hoë deur?

Diegene wat nie die deure van hulle huise en voorhowe laag gemaak het nie, het die gevaar geloop dat mans te perd kon inry en hulle goedere kon steel. Hierdie spreuk kan ook sinspeel op die mond as ’n deur wat deur hooghartige spraak en grootpratery hoog gemaak word. Sulke spraak kweek tweedrag en lei uiteindelik tot ’n ramp.

◆ 19:17, vgl. NW—Waarom is hulp aan die geringes soos ’n lening aan Jehovah?

Die geringes behoort aan God, en wat ons aan hulle doen, word beskou asof ons dit aan hom doen (Spreuke 14:31). As liefde en vrygewigheid ons beweeg om die geringes ’n guns te bewys of aan die armes gawes te gee, sonder om terugbetaling van hulle te verwag, beskou Jehovah sulke geëry as lenings aan hom, en hy betaal dit terug in die vorm van guns en seën.—Lukas 14:12-14.

◆ 20:1—Hoe is wyn “’n spotter”?

Wyn kan veroorsaak dat iemand wat te veel daarvan drink verspot en luidrugtig optree. Aangesien strawwe drinkery sulke slegte gevolge het, moet Christene dit vermy.—1 Timotheüs 3:2, 3, 8; 1 Korinthiërs 6:9, 10; Spreuke 23:20, 21.

◆ 23:27, vgl. NW—Hoe is ’n hoer ’n “kuil” en ’n “put”?

Soos diere gevang is in ‘diep kuile’ wat deur jagters gegrawe is, word diegene wat ’n prostituut besoek in onsedelikheid verstrik. “’n Buitelandse vrou” (NW) dui op ’n hoer, ongetwyfeld omdat die meeste prostitute in Israel buitelanders was. Dit is moeilik om water uit “’n nou put” te haal, want erdepotte breek maklik teen die kante daarvan. Diegene wat met hoere te doen het, kan eweneens deur emosionele en liggaamlike rampe getref word.—Spreuke 7:21-27.

Les vir ons: “’n Leuenagtige getuie” is oneerbiedig teenoor God en kon volgens die Wet doodgemaak word. Hy kon dus deur die optrede van mense of Jehovah ‘omkom’. (Spreuke 21:28; Deuteronomium 5:20; 19:16-21; vergelyk Handelinge 5:1-11.) Maar ‘die man wat aandagtig luister’, het net gepraat wanneer hy seker was van wat hy gehoor het. Sy getuienis het “vir altyd” bly staan, en is nie later as vals verwerp nie. Hy is boonop nie as ’n valse getuie tereggestel nie. Diegene wat by regterlike verhore onder Jehovah se Getuies getuig, moet aandagtig geluister het sodat hulle juiste inligting kan gee, want onjuiste of valse getuienis kan geestelike skade doen.

Nuttige vergelykings

Lees Spreuke 25:1–29:27. Salomo se spreuke wat deur koning Hiskia se manne afgeskryf is, onderrig hoofsaaklik deur vergelykings. Afhanklikheid van Jehovah word onder meer aangemoedig.

◆ 26:6—Waarom word ’n vergelyking gemaak met iemand wat ‘sy voete afkap’?

Iemand wat sy voete afkap, sal homself vermink, net soos iemand wat “’n dwaas” in diens neem sy eie belange verlammende geweld aandoen. ’n Projek wat aan ’n dwaas toevertrou word, sal misluk. Hoe verstandig is dit dan om ‘manne se geskiktheid te beproef voordat hulle vir gemeentelike verantwoordelikheid aanbeveel word!—1 Timotheüs 3:10, NW.

◆ 27:17, NW—Hoe word ’n aangesig ‘geslyp’?

Soos ’n stuk yster gebruik kan word om ’n lem van dieselfde metaal te slyp, kan een persoon ’n ander se intellektuele en geestelike toestand slyp. As teleurstellings en kontak met onaangename individue ons terneergedruk maak, kan ’n medegelowige se simpatieke uitdrukking en Skriftuurlike bemoediging baie opheffend wees. Ons droewige uitdrukking verander ten goede, en ons word deur nuwe hoop verlewendig vir hernieude optrede.—Spreuke 13:12.

◆ 28:5—Wat sluit “alles” in?

Diegene wat kwaad beoefen, is geestelik blind (Spreuke 4:14-17; 2 Korinthiërs 4:4). Hulle ‘verstaan nie die reg’ of wat volgens God se standaarde reg is nie. Hulle kan sake dus nie korrek beoordeel en behoorlike besluite neem nie. Maar dié wat “die HERE soek” deur gebed en studie van sy Woord “verstaan alles” wat nodig is om hom op aanvaarbare wyse te dien.—Efesiërs 5:15-17.

◆ 29:8—Hoe bring grootpraters “’n stad in oproer”?

Grootpraters wat gesag minag, praat impulsief. Hulle stook die twisvure en blaas die vlamme dus dermate aan dat ’n hele stad se inwoners ontvlam. Maar die wyse “bring die toorn tot bedaring”, praat sag en verstandig, blus vlamme van toorn en werk vrede in die hand.—Spreuke 15:1.

Les vir ons: As ons trots is, sal ons hoogmoed ons vernedering meebring (Spreuke 29:23). ’n Hoogmoedige persoon sal waarskynlik vermetel wees, en dit kan tot skande, struikeling en ’n ineenstorting lei (Spreuke 11:2; 16:18, NW; 18:12). God sal moontlik sorg dat ’n trotse individu verneder word, op die een of ander manier verlaag word, dalk in so ’n mate dat dit sy ondergang beteken. So ’n man hunker na eer, maar sy handelwyse is vir mense afstootlik. Maar “die nederige van gees sal [uiteindelik] eer verkry”.

‘Gewigtige boodskappe’

Lees Spreuke 30:1–31:31. Agur se “gewigtige boodskap” erken dat ‘elke woord van God gelouter is’. Dinge wat te wonderlik is om te begryp, word ook onder andere genoem (30:1-33, vgl. NW). “Die gewigtige boodskap” wat Lemuël van sy moeder ontvang het, waarsku dat die gebruik van sterk drank die reg kan verdraai, dit spoor ’n mens aan om regverdig te oordeel en beskryf ’n goeie vrou.—31:1-31.

◆ 30:15, 16—Waarop kom hierdie voorbeelde aan?

Hulle illustreer die onversadigbaarheid van hebsug. Bloedsuiers suig hulle propvol bloed, net soos hebsugtiges altyd meer geld of mag wil hê. Sjeool is insgelyks nooit versadig nie, maar bly oop om nog slagoffers van die dood te ontvang. ’n Onvrugbare moederskoot ‘roep uit’ om kinders (Genesis 30:1). Grond wat deur droogte geteister is, drink reënwater in en lyk gou weer droog. En die vlamme van ’n vuur wat alles verteer het wat daarin gegooi is, versprei en vernietig ander brandbare stowwe binne hulle bereik. Dit geld ook vir hebsugtige mense. Maar diegene wat deur goddelike wysheid gerig word, word nie eindeloos deur sulke selfsug gedryf nie.

◆ 31:6, 7—Waarom wyn gee aan diegene wat “bitter bedroef” is?

Sterk drank en wyn is kalmeermiddels. Dit is dus gegee aan “hom wat wil ondergaan”, of sterf, of aan “die wat bitter bedroef’ was om huile minder bewus te maak van hulle pyn en swaarkry. Die eertydse gewoonte om misdadigers wyn met ’n dwelmmiddel daarin te gee om die pyn van teregstelling te verdoof, verklaar moontlik waarom Romeinse soldate dit vir Jesus aangebied het toe hy aan die paal genael is. Hy het sulke wyn geweier, omdat hy gedurende daardie beproewende tyd by sy volle positiewe wou wees sodat hy onkreukbaarheid teenoor God kon handhaaf.—Markus 15:22-24.

◆ 31:15—Wie is hierdie “diensmeisies”?

Dit slaan op diensmeisies in die huis. Hulle kon nie kla oor ’n gebrek aan voedsel of toegewese werk nie. Die vlytige vrou het haar huisgesin voedsel gegee en het ook toegesien dat hierdie vroue kos en werk het.

Les vir ons: Omdat ons onvolmaak is, sal ons ons dalk soms op dwase wyse probeer “verhef”. As ons dit doen of iets in woede sê, moet ons “die hand op die mond” plaas en niks meer sê wat die persoon wat deur ons beledig is verder sal vertoorn nie. Soos melk gekarring moet word om botter te maak en die neus gewoonlik gedruk moet word om dit te laat bloei, ontstaan rusie wanneer mense se woede botvier (Spreuke 30:32, 33, vgl. NAV). Hoe verstandig is dit tog om in sulke gevalle stil te bly en meer moeilikheid te voorkom!

Hoe voordelig is die boek Spreuke tog vir ons! Laat ons hierdie wyse woorde wat eerbiedige vrees vir Jehovah bevorder, op prys stel. Die toepassing daarvan sal ons beslis gelukkig maak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel