Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 6/1 bl. 13-18
  • Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Dra jou pak’ van sorg
  • Familiesamewerking
  • “Wysheid” en “onderskeidingsvermoë” wanneer ouers intrek
  • Versorging in ’n verpleeginrigting
  • Blymoedige gewers, blymoedige ontvangers
  • Die versorging van bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Hoe ons ons bejaarde ouers moet eer
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Wat sê die Bybel oor die versorging van bejaarde ouers?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Heg groot waarde aan heilige diensvoorregte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 6/1 bl. 13-18

Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers

“Laat [kinders of kleinkinders] eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huis te beoefen en ’n gepaste vergoeding aan hul ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë.”—1 TIMOTHEÜS 5:4, NW.

1, 2. (a) Op wie plaas die Bybel die verantwoordelikheid vir die versorging van bejaarde ouers? (b) Waarom sal dit ’n ernstige saak wees as ’n Christen hierdie plig versuim?

AS KIND is jy deur hulle versorg en beskerm. As volwassene het jy hulle advies en steun gevra. Maar nou het hulle oud geword en het hulle iemand nodig om hulle te onderhou. Die apostel Paulus sê: “Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied [“godvrugtige toegewydheid”, NW] te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.”—1 Timotheüs 5:4, 8.

2 Duisende van Jehovah se Getuies sorg vandag vir bejaarde ouers. Hulle doen dit nie bloot uit “goedhartigheid” (The Living Bible) of ‘pligsgevoel’ (The Jerusalem Bible) nie, maar uit “godvrugtige toegewydheid”, dit wil sê, eerbied vir God. Hulle besef dat indien ’n mens jou ouers in ’n tyd van nood in die steek sou laat dit sou neerkom op ‘’n verloëning van die [Christelike] geloof’.—Vergelyk Titus 1:16.

‘Dra jou pak’ van sorg

3. Waarom kan die versorging van ’n mens se ouers ’n groot uitdaging wees?

3 Die versorging van bejaarde ouers het ’n groot uitdaging geword, veral in Westerse lande. Gesinslede woon dikwels ver uitmekaar. Koste styg buite beheer. Huisvroue het dikwels ’n sekulêre werk. Die versorging van ’n bejaarde ouer kan dus ’n yslike onderneming wees, veral wanneer die versorger self nie meer jonk is nie. “Ons is nou in ons vyftigerjare, met volwasse kinders en kleinkinders wat ook hulp nodig het”, sê een suster wat sukkel om vir haar ouer te sorg.

4, 5. (a) Wie kan volgens die Bybel dikwels die versorgingslas help dra? (b) Hoe het sommige in Jesus se dag hulle verantwoordelikheid teenoor hulle ouers ontduik?

4 Paulus het aangedui dat die verantwoordelikheid deur die “kinders of kleinkinders” gedeel kan word (1 Timotheüs 5:4). Maar soms is die ander kinders onwillig om ‘hulle pak van sorg te dra’. (Vergelyk Galasiërs 6:5.) “My ouer suster het haar eenvoudig aan die situasie onttrek”, kla ’n ouere man. Maar kan so ’n handelwyse Jehovah behaag? Onthou wat Jesus eenkeer vir die Fariseërs gesê het: “Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder . . . Maar julle sê: As ’n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is ’n offergawe—dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie. So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering.”—Markus 7:10-13.

5 As ’n Jood sy brandarm ouers nie wou help nie, was dit slegs vir hom nodig om te sê dat sy besittings “korban” is—’n gawe wat opsygesit is vir gebruik deur die tempel. (Vergelyk Levitikus 27:1-24.) Maar hy het klaarblyklik onder geen onmiddellike verpligting gestaan om hierdie vermeende gawe oor te handig nie. Hy kon gevolglik sy besittings onbepaald hou (en ongetwyfeld gebruik). Maar as sy ouers finansiële hulp nodig gehad het, kon hy hom uit sy plig uitdraai deur vroom te sê dat alles wat hy besit het “korban” is. Jesus het hierdie bedrog veroordeel.

6. Wat kan sommige vandag beweeg om hulle pligte teenoor hulle ouers te ontduik, en behaag dit God?

6 ’n Christen wat holle verskonings gebruik om sy plig te ontduik, lei God dus nie om die bos nie (Jeremia 17:9, 10). Finansiële probleme, agteruitgaande gesondheid of soortgelyke omstandighede kan weliswaar die hulp wat ’n mens aan jou ouers verleen baie beperk. Maar vir sommige is bates, tyd en privaatheid eenvoudig belangriker as hulle ouers se welsyn. Hoe skynheilig sal dit tog wees om die Woord van God te verkondig maar dit “kragteloos” te maak deur ons dadeloosheid teenoor ouers!

Familiesamewerking

7. Hoe kan families saamwerk om vir ’n bejaarde ouer te sorg?

7 Sommige deskundiges beveel aan dat ’n familiekonferensie belê moet word wanneer ’n krisis in verband met ’n bejaarde ouer ontstaan. Een gesinslid moet dalk die grootste deel van die verantwoordelikheid dra. Maar deur kalme en objektiewe “beraadslaging” kan families dikwels maniere vind om die werklas te deel (Spreuke 15:22). Sommige wat ver weg woon, kan dalk geldelik bydra en nou en dan besoek aflê. Ander kan takies verrig of vervoer voorsien. Blote instemming om die ouers gereeld te besoek, kan al ’n groot bydrae wees. Een suster in haar tagtigerjare sê van haar kinders se besoeke: “Dis soos ’n tonikum!”

8. (a) Is familielede in die voltydse diens onthef van die plig om vir hulle ouers te sorg? (b) Watter moeite het sommige in die voltydse diens gedoen om hulle verpligtinge teenoor hul ouers na te kom?

8 Families kom egter voor ’n netelige probleem te staan wanneer ’n lid in die voltydse diens is. Voltydse bedienaars ontduik nie sulke verpligtinge nie, en talle het hulle op buitengewone wyse ingespan om vir hulle ouers te sorg. ’n Kringopsiener sê: “Ons het nooit kon dink hoe fisies en emosioneel uitputtend die versorging van ons ouers kon wees nie, veral as ’n mens terselfdertyd probeer om die eise van die voltydse diens te bevredig. Ons het inderdaad die perke van ons volharding bereik en was bewus van die behoefte aan ‘krag bo die normale’” (2 Korinthiërs 4:7). Mag Jehovah voortgaan om sulke persone te onderskraag.

9. Wat kan diegene bemoedig wat geen keuse gehad het as om die voltydse bediening te verlaat om vir hulle ouers te sorg nie?

9 Maar nadat alle ander moontlikhede ondersoek is, het ’n familielid soms geen alternatief as om die voltydse diens te verlaat nie. Dit is te begrype dat so iemand gemengde gevoelens kan hê omdat hy van sy diensvoorregte moet afsien. ‘Ons weet dat dit ons Christelike verantwoordelikheid is om vir my bejaarde en siek moeder te sorg’, sê een gewese sendeling. ‘Maar soms voel dit baie vreemd.’ Onthou egter dat ‘die beoefening van godvrugtige toegewydheid by die huis aangenaam in God se oë is’ (1 Timotheüs 5:4, NW). Onthou ook: “God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien” (Hebreërs 6:10). Een egpaar wat die voltydse diens na baie jare moes verlaat, sê: “Soos ons die saak beskou, is dit net so belangrik vir ons om nou vir ons ouers te sorg as wat dit vir ons was om in die voltydse diens te wees.”

10. (a) Waarom het sommige die voltydse bediening ontydig verlaat? (b) Hoe moet families die voltydse diens beskou?

10 Maar sommige het moontlik die voltydse diens ontydig verlaat omdat hulle familielede geredeneer het: ‘Julle is nie gebonde deur betrekkings en ’n gesin nie. Waarom kan julle nie vir Pa en Ma sorg nie?’ Maar is die predikingswerk nie die dringendste werk wat vandag gedoen word nie? (Mattheüs 24:14; 28:19, 20). Diegene in die voltydse diens doen dus ’n noodsaaklike werk (1 Timotheüs 4:16). Jesus het ook aangedui dat God se diens in sommige gevalle voorkeur geniet bo familieaangeleenthede.

11, 12. (a) Waarom het Jesus ’n man aangeraai om ‘die dooies hul eie dooies te laat begrawe’? (b) Watter reëlings het sommige families getref wanneer een lid in die voltydse diens is?

11 Toe ’n man byvoorbeeld ’n uitnodiging om Jesus se volgeling te wees van die hand gewys het deur te sê: “Laat my toe om eers my vader te gaan begrawe”, het Jesus geantwoord: “Laat die [geestelike] dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God” (Lukas 9:59, 60). Aangesien die Jode hulle dooies begrawe het op die dag waarop hulle gesterf het, is dit onwaarskynlik dat die man se vader klaar dood was. Die man wou waarskynlik net by sy bejaarde vader gebly het tot sy vader se dood. Maar aangesien ander familielede klaarblyklik byderhand was om vir hom te sorg, het Jesus die man aangespoor om ‘die koninkryk van God te verkondig’.

12 Sommige families het eweneens gevind dat wanneer al die lede saamwerk, daar dikwels gereël kan word dat die een in die voltydse diens help om vir sy ouers te sorg sonder om die voltydse diens te verlaat. Sommige voltydse bedienaars help byvoorbeeld hulle ouers oor naweke of gedurende hulle vakansie. Dit is interessant dat heelparty bejaarde ouers daarop aangedring het dat hulle kinders in die voltydse diens bly, al het dit baie selfopoffering van die ouers geverg. Jehovah seën diegene wat Koninkryksbelange eerste stel ryklik.—Mattheüs 6:33.

“Wysheid” en “onderskeidingsvermoë” wanneer ouers intrek

13. Watter probleme kan ontstaan wanneer ’n ouer genooi word om by sy of haar kinders in te trek?

13 Jesus het gereël dat sy weduwee-moeder by haar gelowige familielede woon (Johannes 19:25-27). Baie Getuies het eweneens hulle ouers genooi om by hulle te kom woon—en talle aangename tye en seëninge as gevolg daarvan geniet. Maar botsende lewenstyle, min privaatheid en die spanning om daagliks vir hulle te sorg kan dikwels vir al die betrokkenes frustrasie veroorsaak wanneer ’n ouer in die huis ingeneem word. “Noudat ek vir Ma sorg, is ek meer gespanne”, sê Ann, wie se skoonmoeder aan Alzheimer se siekte ly. “Soms raak ek selfs ongeduldig en praat ek kortaf met Ma—en dit laat my so skuldig voel.”

14, 15. Hoe kan “wysheid” en “onderskeidingsvermoë” help om ’n gesin onder hierdie omstandighede ‘op te bou’?

14 Salomo het gesê: “Deur wysheid word ’n huis gebou, en deur verstand [“onderskeidingsvermoë”, NW] word dit bevestig” (Spreuke 24:3). Ann het byvoorbeeld probeer om meer begrip vir haar skoonmoeder se probleem te hê. “Ek hou in gedagte dat sy aan ’n siekte ly en nie opsetlik moeilik is nie.” Maar “ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2). Toon dus wysheid wanneer konflikte ontstaan deur nie toe te laat dat ’n wrok ontstaan of humeure opvlam nie (Efesiërs 4:31, 32). Bespreek sake as ’n familie en soek na maniere om ’n vergelyk te tref of aanpassings te maak.

15 Onderskeidingsvermoë help ’n mens ook om op effektiewe wyse te kommunikeer (Spreuke 20:5). ’n Ouer vind dit moontlik moeilik om by die roetine van die nuwe huis in te pas. Of omdat sy oordeel nie meer so goed is nie, is hy geneig om nie saam te werk nie. Onder sommige omstandighede het ’n mens dalk geen keuse nie en moet jy baie ferm praat. (Vergelyk Genesis 43:6-11.) “As ek my moeder nie keer nie”, het een suster gesê, “sal sy al haar geld uitgee. ” Een ouere man het egter gevind dat hy sy moeder se liefde vir hom kan gebruik. “Baiemaal wanneer redenering nie help nie, sê ek eenvoudig: ‘Ma, sal Ma dit asseblief net om my ontwil doen?’ en dan luister sy.”

16. Waarom moet ’n liefdevolle man sy vrou met onderskeidingsvermoë behandel? Hoe kan hy dit doen?

16 Aangesien die vrou dikwels die grootste deel van die versorgingslas dra, sal ’n man met onderskeidingsvermoë toesien dat sy nie emosioneel, fisies of geestelik uitgeput raak nie. Spreuke 24:10 sê: “Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid, dan skiet jou krag te kort.” Wat kan ’n man doen om sy vrou se geesdrif te hernieu? “My man het huis toe gekom”, sê een suster, “en dan sy arms om my gesit en vir my gesê hoe baie hy my waardeer. Ek sou die mas nie sonder hom kon opkom nie!” (Efesiërs 5:25, 28, 29). Hy kan ook die Bybel saam met sy vrou bestudeer en gereeld saam met haar bid. Ja, selfs onder hierdie moeilike omstandighede kan ’n gesin ‘opgebou’ word.

Versorging in ’n verpleeginrigting

17, 18. (a) Watter stap is sommige families verplig om te doen? (b) Hoe kan volwasse kinders hulle ouers in sulke gevalle help om hulle aan te pas?

17 Een gerontoloog het gesê: “Die familie bereik ’n stadium waar hulle nòg die kundigheid nòg die geld het om die [ouer] tuis te versorg.” Een man het dit soos volg gestel: “Dit het die punt bereik waar my vrou se gesondheid ineengestort het omdat sy probeer het om Ma 24 uur per dag te versorg. Ons het geen keuse gehad as om Ma in ’n verpleeginrigting te sit nie. Maar dit het ons harte gebreek.”

18 Versorging in ’n verpleeginrigting is dalk die beste versorging wat onder die omstandighede beskikbaar is. Maar bejaardes wat in sulke fasiliteite gesit word, is dikwels verward en ontsteld en het die gevoel dat hulle verwerp is. “Ons het mooi vir Ma verduidelik waarom ons dit moes doen”, sê ’n suster wat ons Greta sal noem. “Sy het geleer om haar daarby aan te pas en beskou die plek nou as haar tuiste.” Gereelde besoeke maak ook die aanpassing vir die ouers makliker en lewer bewys van die egtheid van julle liefde vir hulle. (Vergelyk 2 Korinthiërs 8:8.) As afstand ’n probleem is, kan jy in voeling bly deur middel van telefoonoproepe, briewe en periodieke besoeke. (Vergelyk 2 Johannes 12.) Die lewe onder wêreldlinge het nietemin duidelike nadele. Wees ‘bewus van hulle geestelike behoeftes’ (Mattheüs 5:3, NW). “Ons voorsien Ma van leesstof, en ons probeer om soveel geestelike dinge moontlik te bespreek”, sê Greta.

19. (a) Waarna moet ’n mens oplet wanneer jy ’n verpleeginrigting kies en die versorging kontroleer? (b) Hoe strek dit ’n Christen tot voordeel as hy sy bes doen om vir ’n ouer te sorg?

19 The Wall Street Journal het verslag gelewer oor ’n studie van 406 verpleeginrigtings in die VSA waarvan “ongeveer ’n vyfde potensieel gevaarlik beskou is vir inwoners en feitlik die helfte slegs aan die minimumstandaarde voldoen het”. Ongelukkig is sulke verslae onrusbarend algemeen. Indien versorging in ’n verpleeginrigting nodig is, moet julle versigtig te werk gaan wanneer julle een kies. Gaan persoonlik soontoe om te sien of dit skoon is, of dit goed in stand gehou word, of daar gekwalifiseerde personeel is, of dit ’n huislike atmosfeer het en of die maaltye voldoende is. Kontroleer die sorg wat jou ouers ontvang so goed moontlik. Wees hulle voorspraak deur hulle te help om ongemaklike situasies wat moontlik in verband met openbare vakansiedae of ontspanning kan ontstaan te vermy. Deur jou bes te doen om toe te sien dat jou ouers die allerbeste sorg onder die omstandighede kry, kan jy jou bevry van skuldgevoelens wat jou andersins kan kwel.—Vergelyk 2 Korinthiërs 1:12.

Blymoedige gewers, blymoedige ontvangers

20. Waarom is dit belangrik dat kinders blymoedige gewers moet wees?

20 “Dis moeilik”, sê een Christin van die versorging van haar ouers. “Ek moes vir hulle kook, skoonmaak, hulle trane droog, die lakens omruil wanneer hulle swak van blaas was.” “Maar wat ons ook al vir hulle gedoen het”, sê haar man, “het ons met vreugde—blymoedig—gedoen. Ons het hard probeer om ons ouers nooit te laat voel dat ons nie daarvan hou om vir hulle te sorg nie” (2 Korinthiërs 9:7). Ouer persone huiwer dikwels om hulp te aanvaar en wil nie vir ander ’n las wees nie. Die gesindheid wat jy openbaar, is dus uiters belangrik.

21. (a) Hoe kan ouers blymoedige ontvangers wees? (b) Waarom is dit verstandig van ’n ouer om vir sy oudag te beplan?

21 Die gesindheid wat ouers openbaar, is eweneens belangrik. Een suster vertel: “Wat ek ook al vir Ma gedoen het, dit was nooit genoeg nie.” Ouers, moet dus nie onredelik of veeleisend wees nie. Die Bybel sê immers: “Dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders” (2 Korinthiërs 12:14). Sommige ouers verkwis hulle middele en word dan ’n onnodige las vir hulle kinders. Spreuke 13:22 sê egter: “’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe.” Ouers kan dus, sover moontlik, vir hulle oudag beplan deur geld opsy te sit en sommige reëlings vir hul eie versorging te tref.—Spreuke 21:5.

22. Hoe moet ’n persoon die inspanning om vir sy bejaarde ouers te sorg, beskou?

22 Paulus het dit goed gestel toe hy gesê het dat die versorging van ’n mens se ouers neerkom op “vergelding” (1 Timotheüs 5:4). Soos een broer sê: “Ma het 20 jaar lank vir my gesorg. Wat het ek in vergelyking daarmee gedoen?” Mag alle Christene met bejaarde ouers eweneens beweeg word om ‘godvrugtige toegewydheid tuis te beoefen’, met die wete dat hulle ryklik beloon sal word deur die God wat diegene wat hulle ouers eer, beloof: “Jy [sal] lank . . . lewe op die aarde.”—Efesiërs 6:3.

Gedagtes om te onthou

◻ Hoe het sommige in Jesus se dag probeer om hulle verantwoordelikheid teenoor hulle ouers te ontduik?

◻ Wie moet vir bejaarde ouers sorg, en waarom?

◻ Watter probleme kan gesinne ondervind wanneer ’n ouer intrek, en hoe kan dit te bowe gekom word?

◻ Waarom is dit dalk nodig om ouers in ’n verpleeginrigting te sit, en hoe kan hulle gehelp word om hulle by die lewe aldaar aan te pas?

[Prent op bladsy 15]

’n Familiekonferensie kan gehou word om te bespreek hoe die versorging van ’n ouer gedeel kan word

[Prent op bladsy 17]

Wanneer dit nodig is om ’n ouer in ’n verpleeginrigting te sit, is gereelde besoeke onontbeerlik vir bejaardes se emosionele en geestelike welsyn

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel