‘God sal julle opleiding voltooi’
’N ATLEET wat hom vir ’n belangrike byeenkoms voorberei, moet hard oefen. Hy wil fiks wees sodat hy op die groot dag so goed moontlik kan presteer. Christene moet ook hard oefen, maar met ’n ander doelwit. Die apostel Paulus het gesê: “Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel.”—1 Timotheüs 4:7, NW.
’n Christen moet hom dus geestelik fiks hou. Soos ’n atleet sy liggaam ontwikkel, ontwikkel die Christen sy geestelike krag en volharding. Hy doen dit deur God se Woord die Bybel te bestudeer, deur gebed, deur gereelde omgang met mede-Christene en deur openbare belydenis van sy geloof.
’n Atleet het dikwels ’n afrigter, en Christene het ook ’n afrigter. Wie? Niemand anders as Jehovah God self nie! Die apostel Petrus het op Jehovah se belangstelling in die Christelike opleidingsprogram gewys: “Die God van alle onverdiende goedheid . . . [sal] self julle opleiding voltooi, hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak” (1 Petrus 5:10, NW). Watter opleiding gee Jehovah ons? Baie soorte, en almal is noodsaaklik as ons as Christene fiks wil bly.
Direkte dissipline
Petrus self het opleiding van Jehovah ontvang. Ons kan baie uit sy ondervinding leer. Soms was Petrus se opleiding pynlik. Stel jou voor hoe Petrus gevoel het toe hy probeer het om Jesus in die uitvoering van God se voorneme te ontmoedig en Jesus geantwoord het: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Mattheüs 16:23). Stel jou ook voor hoe hy baie jare later gevoel het toe mensevrees hom onverstandig laat optree het. Die apostel Paulus het by daardie geleentheid Jehovah se dissipline toegedien: “Toe Petrus in Antiochië gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het.”—Galasiërs 2:11-14.
Tog het Jehovah Petrus by albei geleenthede opgelei. Hy het geleer dat “elke tugtiging [lyk] of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11). Petrus het daardie sterk teregwysings as dissipline van Jehovah aanvaar. Dit het hom gehelp om die regte beskouing van sake te kry en het hom opgelei om die noodsaaklike Christelike eienskappe ootmoedigheid en nederigheid in groter mate te betoon.—Spreuke 3:34; 15:33.
Hoe om situasies te hanteer
Jehovah kan ons oplei deur toe te laat dat situasies ontstaan wat moeilik is om te hanteer—soms ontstaan hulle selfs in die Christengemeente. Ons groei as Christene wanneer ons om leiding bid, die Bybelbeginsels toepas wat ons geleer het en sien hoe die toepassing van hierdie beginsels altyd die beste is.
Petrus was betrokke by persoonlikheidskonflikte wat onder Jesus se apostels ontstaan het. Wanneer ons die verslae hiervan lees, is dit interessant om te sien hoe Jesus hierdie konflikte—wat in werklikheid die gevolg van onvolmaaktheid en onervarenheid was—gebruik het as geleenthede om sy volgelinge op te lei om in die noodsaaklike Christelike eienskappe liefde, nederigheid en vergewensgesindheid te verruim.—Mattheüs 18:15-17, 21, 22; Lukas 22:24-27.
Paulus het ook met persoonlikheidskonflikte te doen gehad (Handelinge 15:36-40; Filippense 4:2). Hy het verduidelik hoe sulke probleme aan Christene die geleentheid bied om opgelei te word: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”—Kolossense 3:13, 14, NAV.
In die eerste eeu het ’n onheilspellender gevaar onder Christene verskyn. Petrus het daarteen gewaarsku: “Daar [sal] onder julle valse leraars . . . wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Petrus 2:1, 2). Hierdie ondervinding sou tot die vernietiging van die onberouvolle “valse leraars” lei (2 Petrus 2:3). Maar wat van diegene wat getrou gebly het?
Die ondervinding sou hulle oplei om “helder te . . . dink” (2 Petrus 3:1, NAV). Hulle waaksaamheid teen die indringing van valse leerstellings sou vereis dat hulle die redes vir hulle geloof hersien. Hulle vertroue in Christelike waarheid sou selfs sterker word wanneer hulle die slegte gevolge van die “valse leraars” se optrede sien.—2 Petrus 3:3-7.
Die bejaarde apostel Johannes is byvoorbeeld in een gemeente teëgestaan deur ’n sekere Diotrefes, ’n ambisieuse man met min respek vir Johannes se gesag. Hy het nie net geweier om die boodskappers wat deur Johannes gestuur is te ontvang nie, maar het moontlik selfs probeer om diegene wat dit wel gedoen het uit die gemeente te sit. Dit moes pynlik gewees het vir al die opregte Christene wat in dieselfde gemeente as Diotrefes was. Maar dit het aan hulle die geleentheid gebied om te toon dat hulle nie “navolg wat kwaad is nie” en om dus gevorderde opleiding ten opsigte van lojaliteit aan Jehovah en aan apostoliese gesag te ontvang.—3 Johannes 9-12.
Omgang met nie-Christene
Jesus het gesê dat sy volgelinge geen deel van die wêreld is nie (Johannes 17:16, vgl. NW). ’n Christen se eerste lojaliteit is teenoor Jehovah en sy Koninkryk. Hy probeer om God se morele standaarde te handhaaf, en daarom verskil sy vernaamste belange van dié van die wêreld. Maar ’n Christen moet in die wêreld lewe, en dit veroorsaak onvermydelik spanning.
Petrus het gedurende sy lang bediening seker dikwels gesien hoe Christene moeilike besluite moet neem en die eise van die wêreld teen die stem van hulle gewete moet opweeg. In Petrus se eerste brief het hy goeie, praktiese raad gegee oor hoe om dit te doen sodat Christene ‘’n goeie gewete kan behou’.—1 Petrus 2:13-20; 3:1-6, 16.
As Christene sien ons natuurlik uit na die tyd wanneer ons nie meer die eise van hierdie stelsel in ag sal hoef te neem nie. Maar intussen word ons opgelei om te volhard en toegelaat om ons lojaliteit ten spyte van versoeking en goddelose invloed te bewys. Namate ons meer ervare word om Bybelbeginsels in verskillende omstandighede toe te pas en moedig optree soos ons weet Jehovah wil hê ons moet, word ons ook ten opsigte van praktiese wysheid en moed opgelei. Dink net hoeveel meer opleiding ons almal sal ontvang het omdat ons in hierdie stelsel gelewe en soveel moeilike probleme met welslae die hoof gebied het!
Tydens vervolging
Toe Petrus gesê het dat God ons oplei, het hy in die besonder vervolging bedoel. Hy het getoon dat Christene vervolging moet verwag: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”—1 Petrus 5:8; kyk ook 2 Timotheüs 3:12.
Petrus was bevoeg om hieroor te praat, want hy het self vervolging verduur. In die vroeë dae van die Christengemeente is hy en die ander apostels geslaan en beveel om op te hou preek. Wat was hulle reaksie? Hulle “het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly”.—Handelinge 5:41.
Petrus het dus uit ondervinding, en onder inspirasie, die volgende gesê: “Maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus.”—1 Petrus 4:13, 14.
Ja, direkte vervolging kan ’n vorm van opleiding wees. Tydens vervolging leer ’n Christen om selfs meer op God se gees te vertrou. Sy geloof verkry ’n “beproefde hoedanigheid” (1 Petrus 1:7, NW). Hy word opgelei ten opsigte van moed wat op Jehovah se krag berus (2 Timotheüs 1:7). Hy kweek geduldige volharding aan, en soos Jesus ‘leer hy gehoorsaamheid uit wat hy ly’.—Hebreërs 5:8; 1 Petrus 2:23, 24.
Jehovah voltooi ons opleiding
Die netelige probleme wat ’n Christen verduur, waaronder vervolging, kom nie van God nie. Jakobus maan: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie” (Jakobus 1:13). Probleme kan talle oorsake hê, onder meer wanneer mense foute begaan of uit eie wil sondig. Maar aangesien sulke dinge wel gebeur, gebruik Jehovah dit om sy knegte in noodsaaklike Christelike eienskappe op te lei.
Job, Jeremia, Petrus, Paulus en al God se knegte in Bybelse tye is op hierdie manier opgelei. Ons moet ook die verskeie netelige situasies waarmee ons dalk te kampe het, beskou as ’n bron van opleiding wat Jehovah toelaat. Deur hulle in Jehovah se krag die hoof te bied, sal ons opgelei word ten opsigte van gehoorsaamheid, wysheid, nederigheid, moed, liefde, verdraagsaamheid en talle ander eienskappe.—Vergelyk Jakobus 1:2-4.
Die wete dat hierdie fase van ons opleiding eendag tot die verlede sal behoort, is ook vir ons bemoedigend. Petrus het sy mede-Christene derhalwe vertroos: “Maar nadat julle ’n kort tyd gely het, sal die God van alle onverdiende goedheid, wat julle geroep het tot sy ewige heerlikheid in eenheid met Christus, self julle opleiding voltooi, hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak” (1 Petrus 5:10, NW). Hierdie woorde is ewe veel van toepassing op die “groot menigte” wat die vooruitsig op ewige lewe op die paradysaarde het.
Daardie gedagte op sigself behoort ons te help om ons geduldig aan hierdie opleidingsondervindinge te onderwerp en vasbeslote te wees om nie toe te gee nie. Dan sal ons die waarheid van Paulus se bemoedigende woorde ervaar: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”—Galasiërs 6:9.