Bly na aan Jehovah se organisasie
Soos vertel deur John Barr
EK WAS op die laaste skof van ’n besoek wat ek verlede Junie by die huis afgelê het en het van Glasgow na Aberdeen gevlieg. Terwyl ons vliegtuig skerp oor die groen Skotse platteland en toe oor die stadig vloeiende Clyde-rivier geklim het, het ek teruggedink aan die jaar 1906 en aan die dorpie Bishopton, wat daar iewers suid van die rivier geleë is.
Jy sien, in daardie jaar en op daardie plek het my grootmoeder, Emily Jewell, begin om Charles T. Russell se boek The Divine Plan of the Ages te lees. Sy kon onmiddellik die waarheid sien—dat die Bybel nie die leerstelling van die helse vuur verkondig nie. Haar twee volwasse dogters Bessie en Emily (laasgenoemde het my moeder geword) het weldra ook begin om die lig van waarheid te sien skyn deur die newels van valse leerstellings wat deur die Verenigde Vrye Kerk van Skotland verkondig is. Ouma is in 1908 gedoop ten einde haar toewyding om God se wil te doen te simboliseer, en haar dogters is kort daarna gedoop.
My vader was die sekretaris van die kerkraad in dieselfde Verenigde Vrye Kerk in Bishopton. Hy het dit altyd moeilik gevind om die leerstelling van die Drie-eenheid te aanvaar, en daarom het die predikant aangebied om een Sondag ter wille van hom ’n spesiale preek te gee. Dit was die laaste strooi! Toe my vader hoor hoe die predikant dit probeer verduidelik, is hy daarvan oortuig dat die Drie-eenheidsleerstelling vals is. Hy het sy lidmaatskap aan die kerk opgesê en is in 1912 gedoop om sy toewyding aan Jehovah te simboliseer. Kort daarna het my ouers met hulle twee kinders, Louie en James, noordwaarts na Aberdeen verhuis, waar ek in 1913 gebore is.
Terwyl die vliegtuig begin daal het oor die heuwels, riviere en valleie wat ek van kleins af ken, het ek bly dink aan daardie vroeë jare en aan my ouers se pogings om hulle drie kinders ‘in die tug en vermaning van Jehovah’ op te voed (Efesiërs 6:4). Hoe het ek Jehovah tog op hierdie pragtige, sonnige oggend bedank vir daardie ouerlike opleiding! Ek het geweet dat dit daartoe bygedra het dat ek altyd na aan Jehovah se organisasie gebly het.
Die waarde van vroeë opleiding
Ons gesin was altyd gelukkig en verenig. As Vader en Moeder ooit ’n meningsverskil gehad het, het hulle probeer om dit nie voor die kinders te wys nie. Dit het ons nie net respek vir ons ouers gegee nie, maar het ook vir ons ’n milieu van ware vrede en veiligheid in ons huis geskep.
Van my aangenaamste herinneringe is die aande wat ons saam as gesin deurgebring het. Ons het ons eie vermaak voorsien deur byvoorbeeld met ons eie musiekbegeleiding te sing en bordspeletjies soos Monopoly te speel. Ook het Vader, al was hy hoe besig, nooit nagelaat om feitlik elke dag tyd in te ruim om vir ons uit die Bybel en die Wagtoringpublikasies, asook uit ander lektuur—ontspanningslektuur sowel as ernstige lektuur—voor te lees nie. Al hierdie dinge het ons gesin verenig gehou terwyl ons grootgeword het.
Ons was in daardie vroeë jare die enigste “waarheidgesin” in daardie noordelike deel van Skotland. Gevolglik het baie reisende verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap (pelgrims, soos hulle toe genoem is), soos Albert Lloyd, Herbert Senior en Fred Scott, ons huis gereeld besoek. Party het selfs van die Genootskap se hoofkantoor in Brooklyn, New York, gekom, onder meer W. E. Van Amburgh en A. H. Macmillan. Hierdie besoeke was mylpale in my jeugjare.
Ek is vandag nog dankbaar vir die opregte gees van gasvryheid wat my ouers geopenbaar het. Dit het ons gesinslewe verryk, en hoewel ek jonk was, het my waardering vir die hele broederskap begin toeneem. O, hoe baie kan ouers tog doen om ’n innige liefdesband tussen hulle kinders en die wêreldwye broederskap op te bou!
Ek bied ’n persoonlike probleem die hoof
In my vroeë tienderjare het ek al hoe skamer en meer teruggetrokke geword. Hoe ouer ek geword het, des te moeiliker was dit vir my om mense te ontmoet en met hulle te gesels. Hierdie skuheid was in baie opsigte ’n groot struikelblok, maar veral wanneer ek my geloof moes bewys deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.
Kort na die Eerste Wêreldoorlog het my grootmoeder en my moeder die eerste Getuies in Aberdeen geword wat aan die huis-tot-huisbediening deelgeneem het. Ons as kinders het traktate versprei, maar nou moes ek met mense by hulle huise praat—wel, dit was iets heeltemal anders! Dit was ’n groot uitdaging. Maar ek het dit uiteindelik aanvaar. Ek sal nooit daardie Sondagmiddag in November 1927 vergeet toe ek vir my vader gesê het dat ek hom in die huis-tot-huisbediening gaan vergesel nie. Dit was die eerste keer dat ek trane op my vader se wange gesien het—in hierdie geval vreugdetrane!
’n Gesinstragedie het my geraak
Die vreedsame kalmte van ons gesinslewe is op die aand van 25 Junie 1929, toe ek 16 was, versteur. My moeder en my suster het hulle ná ’n dag in die bediening huis toe gehaas om Vader se aandete voor te berei. Skielik het ’n voortsnellende motorfiets Moeder getref en haar omtrent 37 meter straat af gesleep. Haar hoofbeserings was so ernstig dat dit gelyk het asof sy sou sterf. Maar danksy maandelange, liefdevolle versorging deur my suster Louie, het sy dit oorleef. Mettertyd kon Moeder ’n betreklik normale lewe lei tot haar dood in 1952.
Daardie traumatiese ondervinding het iets baie belangriks vir my gedoen—dit het my beweeg om my lewe en wat ek daarmee doen ernstig te ondersoek. Daardie somer het ek die Bybel baie deegliker as voorheen begin bestudeer—ek het my van die waarheid oortuig. Dit was die groot keerpunt vir my, en ek het my toegewy om my lewe in Jehovah se diens deur te bring. Maar ek het eers ’n paar jaar later die geleentheid gehad om my toewyding deur waterdoop te simboliseer.
Ek betree die voltydse diens
Toe ek in 1932 die skool verlaat het, het ek ’n opleidingskursus in werktuigkunde en elektrotegniek gevolg. Destyds was daar nie in Brittanje die aanmoediging wat daar vandag vir jongmense is om die voltydse predikingswerk as pioniers te betree nie. Maar soos die jare verbygegaan het, het ek geweet waar ek my behoort in te span—in die voltydse bediening.
Ek onthou iets wat ons vroeg in 1938 bestudeer het wat my laat besef het hoe voordelig dit is om na aan Jehovah se organisasie te bly en die instruksies daarvan persoonlik toe te pas nog baie duidelik. Dit was die nommers van Die Wagtoring oor Jona se ervaringe toe hy van sy diensopdrag gevlug het. Ek het hierdie les ter harte geneem en het my voorgeneem om nooit enige opdrag wat ek van Jehovah se organisasie ontvang van die hand te wys nie. Toe het ek nie besef hoeveel teokratiese toewysings voorgelê het om my voorneme op die proef te stel nie.
Ek het om leiding gebid, en die antwoord het gekom in die vorm van ’n onverwagte brief van die Genootskap se hoofkwartier in Londen, waarin ek gevra is om ’n lid van die Bethelgesin te word. Ek het die geleentheid gretig aangegryp om in te gaan deur daardie groot deur wat tot groter diensvoorregte lei. So het dit gekom dat ek in April 1939 saam met Harold King gewerk het, wat later as sendeling in China gedien en weens sy predikingswerk jare in ’n kommunistiese gevangenis deurgebring het. Ons het transkripsiemasjiene en ook grammofone gemonteer wat gebruik is om opnames van preke by die deure van mense se huise te speel.
Ek en Harold het ons al die verskillende mense voorgestel wat uiteindelik deur middel van die toerusting wat ons gemaak het na die Koninkryksboodskap sou luister. Sodoende het ons nooit die eindresultaat van ons werk uit die oog verloor nie. Sedertdien probeer ek om hierdie beskouing in al die verskillende toewysings wat ek by Bethel ontvang, te huldig. My werk is gevolglik ’n ware vreugde en is altyd sinvol met betrekking tot die Koninkryksverkondiging.
Diensvoorregte
Kort nadat ek by die Londense Bethel aangekom het, is ek as groepskneg (nou die presiderende opsiener) van ’n gemeente met meer as 200 verkondigers aangestel. Voorheen was ek die opsiener van ’n gemeente met net tien verkondigers! Toe is ek aangestel oor die Klankafdeling vir ’n wonderlike, landwye byeenkoms wat in 1941 in Leicester gehou is. Ek het op daardie stadium nog maar min ondervinding op die gebied van klank gehad.
Later is ek aangestel as ’n kneg vir die broers, wat nou ’n kringopsiener genoem word. Daar was net ses sulke knegte in Brittanje toe daardie werk in Januarie 1943 begin is. Ek sou oorspronklik net ’n maand gedien het, maar op die ou end het ek die gemeentes oor ’n tydperk van meer as drie jaar besoek. Gedurende daardie selfde moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog moes ek toesig hou oor drie groot byeenkomste—iets wat ek nog nooit gedoen het nie.
Die werk van reisende opsieners was destyds heeltemal anders as wat dit vandag is. Ons was altyd aan die rondreis, en gedurende daardie oorlogsjare was dit dwarsdeur Brittanje soms baie moeilik om te reis. Ek moes herhaaldelik ’n gedeelte van die rit tussen gemeentes per fiets aflê. Pleks van een gemeente per week te besoek, soos reisende opsieners vandag doen, het ons, as gemeentes klein was, tot ses gemeentes in een week besoek!
’n Tipiese dag se rooster was soos volg: Ek het om halfses opgestaan; ná ontbyt na die volgende gemeente gery sodat ek die gemeente se verslae teen agtuur kon begin nagaan. Ek het die middag gewoonlik in die veldbediening deurgebring, in die aand ’n uurlange vergadering met die knegte van die gemeente gehou en daarna ’n toespraak vir die gemeente gehou. Ek het selde voor elfuur gaan slaap, of selfs later as ek daardie selfde aand die dag se verslag oor die gemeente geskryf het. Elke Maandag is opsygesit om die week se verslae te voltooi en persoonlike studie en enige ander voorbereiding vir die volgende week te doen.
‘Dis ’n baie besige rooster vir ’n week’, sê jy? Ja, dit was, maar, O, hoe lonend was dit tog om te voel dat ons die broers versterk het gedurende daardie oorlogsjare toe daar nie altyd noue kontak met die organisasie was nie! Ons het in ’n baie letterlike sin bevrediging geput uit die wete dat ons die gemeentes kan “versterk in die geloof”.—Handelinge 16:5.
Terug na Betheldiens
Ek is in April 1946 gevra om weer my Betheldiens te hervat. Ek het dit met graagte gedoen, maar ek het gemeen dat my lewe geestelik verryk is as gevolg van daardie drie en ’n half jaar as reisende opsiener. Die organisasie het nou vir my meer beteken, en dit was asof ek gedoen het wat in Psalm 48:13, 14 beskryf word: “Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings; . . . wandel deur sy paleise.” Omdat ek meer omgang met God se volk gehad het, het my liefde vir “die broederskap” gegroei.—1 Petrus 2:17.
Nadat ek na Bethel teruggekeer het, was ek bevoorreg om toesig te hê oor baie van die drukwerk wat by ons Londense drukkery gedoen is, en ek het later ook in die stereotiepafdeling gewerk. Toe, in September 1977, het ek die unieke voorreg ontvang om ’n lid te word van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, wat in Brooklyn, New York, VSA, gesetel is.
Ek moet erken dat ek soms lus gehad het om ‘weg te vlug’ van party van die moeiliker toewysings wat ek ontvang het. Maar dan het ek teruggedink aan Jona en die fout wat hy begaan het en daardie wonderlike belofte in Psalm 55:23 by myself herhaal: “Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.” Hoe waar het ek hierdie woorde tog gevind!
Jehovah vra nooit enigeen van ons om iets te doen wat hy weet ons nie kan doen nie. Maar dit is net deur middel van sy krag dat ons kan doen wat hy vra. En nog iets—as jy jou broers wat saam met jou werk werklik liefhet, sal hulle jou ondersteun en bystaan. Hulle sal “skouer aan skouer” saam met jou werk om jou te help om jou toegewese arbeidslas te dra.—Sefanja 3:9, NW.
Kosbare verhoudinge
Daar is natuurlik altyd party Christenbroers aan wie ’n mens besonder geheg is. Een van hulle was Alfred Pryce Hughes, wat in 1978 oorlede is. Sy lewensverhaal het in The Watchtower van 1 April 1963 verskyn. Hy het talle jare as takkneg en later as Takkomiteelid gedien. Die broers in die Britse veld het hom baie liefgehad vanweë sy groot respek vir en lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie en sy liefde vir al die broers. Hy was ook lief vir die veldbediening. Hierdie liefde het sy lewe lank nooit verflou nie, ongeag watter verantwoordelikheid hy op hom moes neem. Dit het werklik vir my baie beteken om saam met getroue broers soos Pryce te werk, en dit het my vaste voorneme versterk om na aan Jehovah se organisasie en bedrywig in die bediening te bly.
Op 29 Oktober 1960 het ek ’n besonder kosbare verhouding aangeknoop met ’n ywerige pionier wat reeds lank as sodanig gedien het. Sy was ’n sendeling van die 11de Gileadklas en het destyds in Ierland gedien. Ek en Mildred Willett is op daardie datum getroud, en sy het my sedertdien getrou in my Betheldiens bygestaan.
Voordat Mildred se moeder in 1965 gesterf het, het sy haar dogter aangeraai om nooit “jaloers op Jehovah” te wees nie. Mildred hou altyd haar moeder se woorde in gedagte, en dit voorkom dat sy ontevrede raak wanneer ek dikwels oortyd moet werk. Dit het my baie gehelp om blymoedig om te sien na enige bykomende werk wat ek ontvang. Ons albei het dit veral geniet om talle lonende ondervindinge in die bediening te deel.
Een jong egpaar met wie ons ’n Bybelstudie gehou het, het byvoorbeeld vinnig tot toewyding en doop gevorder en gereeld aan die bediening deelgeneem. Ons was so verheug! Toe het hulle skielik, om geen duidelike rede nie, opgehou om met die gemeente om te gaan. Ek en Mildred was teleurgesteld, en ons het bly wonder waar ons ’n fout begaan het toe ons hulle opgelei het. Ons het voortdurend tot Jehovah gebid dat hy tog hulle harte moet open om hulle liefde vir die waarheid te bewys. Stel jou ons vreugde voor toe ons omtrent tien jaar later ’n brief van hierdie egpaar ontvang het waarin hulle ons meegedeel het dat hulle weer eens bedrywig is en met die gemeente omgaan en dat ’n Boekstudie nou in hulle huis gehou word.
Die man, Will, het geskryf: “Ek wil julle graag bedank vir al julle hulp en liefdevolle bedagsaamheid . . . Dis my skuld dat ek weggedryf het, ek het nie die regte hartswaardering gehad nie . . . Dit verskaf ons groot vreugde om weer in Jehovah se organisasie te wees . . . Ek skryf vanaand met liefdevolle herinneringe aan julle, mag Jehovah voortgaan om julle albei te seën terwyl julle hom dien.”
In ’n ander brief het ’n moeder aangaande haar seun Mike aan ons geskryf: “Ek is so bly dat die engele hom langs julle laat sit het.” Wat het sy bedoel? Wel, Mike het saam met sy moeder en jonger broer ’n byeenkoms bygewoon, maar hy het nie werklik in die waarheid belanggestel nie. Mildred het opgemerk dat die seun alleen sit en het met hom gesels. Toe het ons hom en sy broer genooi om te kom kyk wat ons by die Londense Bethel doen.
Mike het later gekom, en wat hy gesien het, het sy belangstelling dermate geprikkel dat hy sy Bybelstudie voortgesit het. Die gevolg? Hy is nou ’n ouere man in die gemeente, en sy vrou en twee seuns is almal bedrywig in die bediening. ’n Ruk gelede het Mike se vrou geskryf: “[Mike] vertel dikwels hoe hy julle ontmoet het . . . Hoe julle vriendelikheid en belangstelling in hom hom beïndruk het.”
Wanneer ek en my vrou dankbetuigings ontvang van iemand soos Will of Mike wat ons bevoorreg was om te help, loop ons harte eenvoudig oor van dankbaarheid teenoor Jehovah! Watter onskatbare belonings is sulke lewende “aanbevelingsbriewe” tog—alles ’n deel van die vreugde wat ’n mens ontvang as jy na aan Jehovah se organisasie bly.—2 Korinthiërs 3:1-3.
Diens by die wêreldhoofkwartier
“’n Nasie op hul eie.” Dit is hoe die redakteur van ’n koerant in Brooklyn Heights die groot gesin van meer as 3 500 Getuies beskryf het wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, en op Watchtower Farms, omtrent 160 kilometer daarvandaan in die platteland van New York, woon. Jehovah beskou sy gesalfdes voorwaar as ’n geestelike nasie! Vandag kom ’n menigte uit talle wêreldse nasies na vore en sê aan die lede van hierdie nasie: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sagaria 8:23; 1 Petrus 2:9.
Kan jy jou dan voorstel hoe opwindend dit vir my en my vrou was om permanente lede van hierdie groot Bethelgesin te word? Ek kan sonder enige huiwering sê dat die afgelope agt jaar van my lewe verreweg die uitnemendste jare van my hele teokratiese ondervinding was. Hier voel jy die polsslag van Jehovah se sigbare organisasie; hier word die geestelike voedsel voorberei en na die uithoeke van die aarde gestuur; hier sien jy hoe Jehovah se gees gewigtige besluite wat geneem moet word, lei en rig; en hier word jy meer as op enige ander plek bewus van die kumulatiewe bewyse dat Jehovah die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk seën. Al hierdie onlangse ondervindinge en indrukke was vir my ’n verdere aansporing om immer nader aan Jehovah se volk te kom.
Ek het net enkele van my lewensondervindinge vertel. Maar hulle help jou dalk om te verstaan waarom ek, toe my vliegtuig eindelik op daardie sonnige oggend in Junie op die Aberdeen-lughawe neergestryk het, Jehovah so dankbaar was dat ek nog steeds ’n lid van ons liefdevolle, wêreldwye broederskap is. Ek het gedurende die vlug herinneringe aan my jare in die waarheid opgehaal, en dit het my weer eens laat besef hoe voordelig dit vir ons is om ander van tyd tot tyd te vertel van die talle seëninge wat ons van Jehovah ontvang.—Psalm 40:6.
My suster Louie was daar om my te groet—steeds getrou, ywerig en lojaal na meer as 60 jaar van toegewyde diens aan Jehovah. Ek het Jehovah vir daardie bykomende seën gedank, want het die apostel Paulus nie gesê dat Jehovah getrouheid van al sy “bedienaars” vereis nie? (1 Korinthiërs 4:2). Watter groot bron van bemoediging kan een gesinslid tog vir ’n ander wees deur getrou te bly!
Moses het eenkeer gebid: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” (Psalm 90:12). Namate ek en Mildred ouer word, besef ons hoe nodig dit is om altyd op Jehovah se wysheid staat te maak ten einde ons lewe te gebruik op ’n manier wat ons liefde vir hom en ons broers openbaar. Jehovah wys ons liefdevol daardie manier as ons na aan sy organisasie bly.
[Prent op bladsy 28]
John Barr (links voor) omstreeks 1930, saam met sy suster, broer en ouers
[Prent op bladsy 31]
John Barr vandag, saam met sy vrou Mildred