Jongmense—Is julle geestelik progressief?
“Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 TIMOTHEÜS 4:15.
1, 2. Wat beteken dit om geestelik progressief te wees, en wat beteken dit nie?
WAT beteken dit om geestelik progressief te wees? Dit beteken om soos jong Jesus en Timotheüs te wees wat geestelike belange eerste in hulle lewe gestel het. As jy geestelik progressief is, sal jy weet wat jy met jou lewe wil doen. Jy sal nie sê: ‘Ek sal dit ernstig oorweeg om Jehovah te dien wanneer ek ouer is’ nie. Nee, jy sal hom nou dien!
2 As ’n mens geestelik progressief is, beteken dit andersyds nie dat jy monnikagtig is, godsdienstige skyn wek of selfs ’n boekwurm word nie; dit beteken ook nie dat ’n mens somber en ernstig is en nooit gesellig met ander omgaan nie (Johannes 2:1-10). Jehovah is ’n gelukkige God, en hy wil hê dat sy aardse kinders gelukkig moet wees. Die matige deelname aan sport en ander ontspanningsbedrywighede dra dus God se goedkeuring weg.—1 Timotheüs 1:11, NW; 4:8.
Doop is ’n bewys
3. Wanneer is Timotheüs heel waarskynlik gedoop?
3 Voorbereiding vir doop en doop self is bewyse dat ’n jong persoon geestelik progressief is. Indien Timotheüs, soos beweer is, nog ’n tienderjarige was toe hy die apostel Paulus se reisgesel geword het, is Timotheüs waarskynlik gedoop toe hy in sy middel- of vroeë tienderjare was. Hy is van kleins af in die Skrif onderrig, en nadat hy met voldoende kennis en waardering toegerus is, het hy nie geaarsel om gedoop te word nie.—2 Timotheüs 3:15.
4. Watter vraag is aan Filippus gestel, en waarom het Filippus sy versoek toegestaan al het die vraer pas tevore van Christus geleer?
4 Wat van julle tienderjariges wat in die Skrif onderrig is? Het julle al die vraag oorweeg: “Wat verhinder my om gedoop te word?” In die eerste eeu is daardie vraag gestel deur ’n man wat ’n deeglike kennis van die Skrif gehad het maar wat pas tevore verneem het wie die Christus is. Die man het weliswaar nie alles geweet wat daar van God se voornemens af te wete is nie, maar hy is aangedryf deur diepe waardering vir wat hy wel geweet het! Die dissipel Filippus het dus geen gegronde rede gehad om hom nie te doop nie.—Handelinge 8:26-39.
5. Wat word van jou vereis as jy gedoop wil word?
5 Wat verhinder jou om gedoop te word? Om aan die vereistes te voldoen, moet jy natuurlik verstaan wat by die saak betrokke is. Jy moet waarlik begeer om Jehovah te dien omdat jy hom liefhet. Jy moet jou ook in die gebed persoonlik aan hom toewy. Jy moet daarbenewens God se morele vereistes nakom en genoeg ondervinding hê van hoe om jou geloof aan ander te verkondig. Wanneer jy aan hierdie vereistes voldoen, is dit noodsaaklik dat jy verder gaan en jou laat doop.—Mattheüs 28:19; Handelinge 2:38.
6. Waarmee kan doop vergelyk word, en wat moet daarop volg?
6 Hoewel jou doop ’n bewys is dat jy geestelik progressief is, moet jy onthou dat doop net ’n eerste stap is. Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, word jy ’n vreemdeling in hierdie ou wêreld waaroor Satan regeer. Toewyding kan gevolglik vergelyk word met ’n aansoek om die ewige lewe in God se nuwe stelsel, en die formele doopplegtigheid is in werklikheid ’n demonstrasie voor getuies wat hierdie feit bevestig (Johannes 12:31; Hebreërs 11:13). Daarna moet jy jou toewyding getrou gestand doen om God se gawe, die ewige lewe, te ontvang.—Romeine 6:23.
Getoon deur gedrag
7. Hoe hou jou gesindheid teenoor dinge van die wêreld verband met jou geestelike progressiwiteit?
7 Nog iets wat sal toon of jy progressief is of nie, is jou gesindheid teenoor dinge van die wêreld. Watter dinge? Dit sluit in ’n ongebonde lewenswyse, dwelms, seksuele vryheid, onsedelike rolprente, suggestiewe musiek, vuil praatjies, sinlike danse, rasse- en volkstrots, ensovoorts (1 Johannes 2:16; Efesiërs 5:3-5). Jongmense in die besonder moet op hulle hoede wees. Onthou, jou gedrag ten opsigte van sulke dinge sal openbaar of jy geestelik gesond is of nie.—Spreuke 20:11.
8. Waarom huiwer sommige jongmense om hulle te laat doop?
8 Satan sorg dat die wêreld se onsedelike weë baie aantreklik lyk. Trouens, ’n 15-jarige het gesê: “Hoe meer ons seks en dwelms op die TV sien, des te normaler lyk dit in die samelewing.” Jongmense wat nie meedoen aan die weë van die wêreld nie, kry die indruk dat hulle sonderling is en dat hulle pret mis. Voel jy ooit so? Sommige wat aan die gemeente verbonde is, voel wel so, en hulle is besluiteloos. Toe daar vir een jong persoon gevra is of hy hom wil laat doop, het hy gesê: ‘Ek wil nie nou gedoop word nie, want ek doen dalk iets waarvoor ek uitgesit sal word.’ Maar jy kan nie op die draad sit of op twee gedagtes hink nie. God se profeet het eenkeer gesê: “As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!”—1 Konings 18:21.
9. Watter beskerming geniet ’n mens as jy geestelik progressief is?
9 Al wat jy mis wanneer jy die wêreld se onsedelike weë vermy, is in werklikheid net ’n klomp moeilikheid. “’n Heftige afkeer van en berou oor die lewe wat ek gelei het, het my oorweldig”, het een vrou bely. “Ek het myself en die kind wat ek ontvang het goedkoop gemaak en bedrieg.” Ja, die oënskynlike betowering en glans van die Duiwel se wêreld is net ’n illusie, sinsbedrog. Dit bevat niks waardevols nie. Die wêreld se weë lei tot buite-egtelike swangerskappe, ontwrigte gesinne, seksueel oordraagbare siektes en matelose frustrasie en ellende. Luister dus na raad, wees geestelik progressief. “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is.”—1 Petrus 3:11, NAV.
10. Op watter vermaning en op wie se voorbeelde sal ’n jong persoon wat geestelik progressief is ag slaan?
10 ’n Jong persoon wat geestelik progressief is, sal ag slaan op die vermaning van die apostel Paulus: “Wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand” (1 Korinthiërs 14:20). Jong Timotheüs het beslis hierdie raad toegepas. Kan jy jou voorstel dat hy die geselskap van losbandige, wêreldse jongmense van sy dag opgesoek het? Glad nie! Sy metgeselle was ook knegte van God (Spreuke 13:20). Volg sy voorbeeld. Voordat jy enigiets verdags doen, kan jy jou afvra: Sou Timotheüs of Jesus dit gedoen het?
Getoon deur Bybelstudie
11. Watter gesig het jongmense van die wêreld nie, en hoe word dit verkry en behou?
11 ’n Artikel uit Italië wat in World Press Review gepubliseer is, het gesê: “Jongmense se ontnugtering en wanhoop neem daagliks toe, en niemand kan hulle ’n bemoedigende toekoms bied nie.” Die verblinde oë van diegene in Satan se wêreld het geen gesig van God se beloofde nuwe wêreld en van die heerlike toekoms wat wag op diegene wat voldoen aan die vereistes vir die lewe aldaar nie (2 Korinthiërs 4:4; Spreuke 29:18, NW; 2 Petrus 3:13). Maar jongmense wat geestelik progressief is, het so ’n gesig wat deur middel van gereelde Bybelstudie helder en duidelik gehou word.
12. (a) Hoe moet ons te werk gaan om kennis van God te verkry? (b) Waarom is hierdie kennis die moeite werd?
12 Is God se nuwe wêreld vir jou werklik? Dit kan wees, maar dit verg groot inspanning van jou kant om daar te kom. Jy moet ’n goeie aptyt vir Bybelbegrip ontwikkel sodat “jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte” (Spreuke 2:1-6). Wat laat ’n skatsoeker soms jare lank aanhou soek en grawe? Hy begeer die rykdom wat die skat hom sal bring vuriglik. Maar kennis is soveel kosbaarder as stoflike skatte. “Dit beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle voortdurend kennis in hulle opneem van u, die enige ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3, NW). As jy werklik glo wat Jesus daar gesê het, sal Bybelstudie iets word wat jy gretig najaag en wat jou sal beloon met iets wat kosbaarder as juwele van onskatbare waarde is.—Spreuke 3:13-18.
13. Watter wenke in verband met studie sal geestelik progressiewe jongmense toepas?
13 Jy sal vind dat hoe meer jy studeer, des te groter jou aptyt na geestelike voedsel sal wees. Leer goeie studiemetodes aan. Moenie net antwoorde onderstreep nie, maar slaan Bybelteksverwysings na en volg dan verwante tekste deur middel van die kruisverwysings in die Bybel. Jy kan ook bykomende navorsing doen deur indekse, soos die Watch Tower Publications Index 1930-1985, te gebruik. Ontleed hoe die materiaal van toepassing is en hoe dit gebruik kan word. Praat met ander oor wat jy bestudeer. Dit sal gedagtes by jou verstand inskerp en ander aanspoor om ook navorsing te doen. Deur jou werklik daarop toe te lê, sal jy ag slaan op die raad wat aan jong Timotheüs gegee is: “Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien.”—1 Timotheüs 4:15, NAV; 2 Timotheüs 2:15.
Getoon by vergaderinge en in die diens
14. Wat help om Christenvergaderinge ’n groter genot te maak, en hoe kan jy ander aanmoedig terwyl jy sulke vergaderinge bywoon?
14 Wanneer jy Bybelstudie geniet en goed voorberei het, word Christenvergaderinge ’n groter genot (Psalm 122:1; Hebreërs 2:12). Jy sien dan selfs nog meer daarna uit om deel te neem aan dele met gehoordeelname en om toesprake in die Teokratiese Bedieningskooi te hou. Maar wanneer ons vergaderinge bywoon, is daar ander maniere om uitvoering te gee aan die bevel ‘om mekaar aan te moedig’ en “aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Hebreërs 10:24, 25, NAV). Neem jy byvoorbeeld die inisiatief om met ander te praat? ’n Vriendelike: “Hallo, ek is bly om jou te sien!” of ’n opregte navraag: “Hoe gaan dit?” kan baie bemoedigend wees, veral as dit van ’n jong persoon kom.
15. Hoe kan jy jou beskikbaar stel om nodige dienste te verrig, en waarom is dit goed om Christus se voorbeeld in gedagte te hou?
15 Die werksaamhede van ’n gemeente verg baie werk. Kan jy help? Jong Timotheüs het waarskynlik talle nuttige dienste vir Paulus verrig—boodskappe gedra, voorrade gekry, ensovoorts. Indien jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy gerus vir die ouere manne meld dat jy bereid is om te help. Jy sal moontlik gevra word om vergaderingtoewysings uit te gee, die saal skoon te hou of ’n ander nodige diens te verrig. Onthou, Christus het sy dissipels se voete gewas, en daarom is geen werk benede die waardigheid van iemand wat geestelik progressief is nie.—Johannes 13:4, 5.
16. Watter bedrywigheid het ’n Katolieke tydskrif erken is ’n Christelike verantwoordelikheid?
16 Wanneer ons na ander godsdienste kyk, kan ons voorwaar dankbaar wees vir die opleiding wat ons by ons vergaderinge vir die uiters belangrike predikingswerk ontvang. Kenneth Guentert het verlede September in U.S. Catholic geskryf: “Ek het grootgeword in die dae toe Katolieke nie veronderstel was om die Bybel te lees nie omdat hulle vreemde idees sou kry—soos dat Christene aan deure moet gaan klop in ’n poging om mense te bekeer. Toe is die Tweede Vatikaanse Konsilie gehou, en ek het begin om die Bybel te lees. En jou waarlik; nou dink ek dat Christene aan deure moet gaan klop om mense te probeer bekeer.” Hy het bygevoeg: “Jy moet begryp dat dit nie is omdat die gedagte my juis geval nie; maar as jy die Nuwe Testament lees, is dit feitlik onmoontlik om hierdie gevolgtrekking te vermy.”—Mattheüs 10:11-13; Lukas 10:1-6; Handelinge 20:20, 21.
17. Hoe kan die bediening vir jou aangenamer word?
17 Ja, die vroeë Christene was bedrywig in die predikingswerk van huis tot huis, en jeugdiges soos Timotheüs was klaarblyklik saam met ouer persone daar in die bediening. Maar vir sommige is dit vandag weliswaar nie die aangenaamste werk nie. Waarom nie? Bedrewenheid is ’n faktor. Byvoorbeeld, is dit nie waar dat jy ’n spel of sport meer geniet as jy goed daarin vaar nie? So ook met die bediening. As jy die Bybel vaardiger kan gebruik en Bybelonderwerpe op bekwamer wyse kan bespreek, sal die bediening ’n bron van genot word, veral wanneer jy iemand vind aan wie jy lewegewende kennis kan oordra. Wees dus geestelik progressief! Oefen die aanbiedings wat jy van deur tot deur gebruik. Kry wenke by ander. Smeek Jehovah om hulp.—Lukas 11:13.
Deur verhoudinge met ouer persone
18. Watter soort verhouding het Jesus en Timotheüs met ouer persone gehad?
18 Toe Jesus ’n seun van net 12 was, het hy dit geniet om geestelike dinge met ouer persone te bespreek. Sy ouers het hom eenkeer “in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra” (Lukas 2:46). Dit was dieselfde geval met Timotheüs. Toe die apostel Paulus en sy metgeselle Listre besoek het, het Timotheüs klaarblyklik hulle geselskap geniet en met groot aandag na hulle leer geluister. Daar was ’n rapport tussen hom en die plaaslike broers wat hom hoog aanbeveel het.—Handelinge 16:1-3.
19. Veral waarom het Paulus Timotheüs as reisgesel gekies, en hoe was Timotheüs van hulp?
19 Hoewel Timotheüs gewillig fisiese dienste vir ander verrig het, het Paulus hom as ’n reisgesel gekies hoofsaaklik vanweë sy vermoë om in mense se geestelike behoeftes te voorsien. In die lig daarvan het Paulus, nadat ’n gepeupel hom gedwing het om Thessalonika te verlaat, jong Timotheüs gestuur om die nuwe dissipels te vertroos en te versterk. Timotheüs was dus nie alleen gretig om by ouer persone te leer en hulle geselskap te geniet nie; hy was ook vir hulle van groot geestelike hulp.—Handelinge 17:1-10; 1 Thessalonicense 3:1-3.
20. Watter optrede sal verstandig van jou wees, en watter dienste kan jy vir ouer persone verrig?
20 Jy sal verstandig wees as jy Jesus en Timotheüs navolg en gretig is om by die ondervinding en kennis van ouer persone baat te vind. Soek hulle geselskap op en stel vrae aan hulle. Maar toon ook jou geestelike progressiwiteit deur vir hulle van hulp te wees. Is daar bejaardes of siekes wat dit sal waardeer as jy vir hulle inkopies doen of ander nodige take verrig? Jy kan hulle moontlik net besoek, vir hulle lees en ondervindinge vertel wat jy in die bediening geniet het.
Die rol van ouers en ander
21. Hoe belangrik is ouers se rol, en wat kan nie oorbeklemtoon word nie?
21 Die geestelike gesondheid van jongmense hang grootliks af van die onderrig en voorbeeld van hulle ouers (Spreuke 22:6). Jesus het beslis baat gevind by die leiding wat sy godvresende aardse ouers gegee het (Lukas 2:51, 52). En Timotheüs sou beslis nie die geestelik progressiewe jongeling gewees het wat hy wel was as dit nie vir die opleiding was wat hy van sy moeder en grootmoeder ontvang het nie (2 Timotheüs 1:5; 3:15). Die belangrikheid van gereelde Bybelonderrigting kan nie oorbeklemtoon word nie! Ouers, voorsien julle dit? Of word dit nagelaat?
22. (a) Hoe word kinders geraak wanneer ouers gesinsbybelstudie as noodsaaklik beskou? (b) Watter leiding moet ouers aan hulle kinders gee?
22 ’n Jong man by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies verduidelik dat die weeklikse Bybelstudie met die kinders dwarsdeur sy kinderjare ’n gereelde deel van hulle gesinslewe was. “Soms was Pa so moeg as gevolg van sy werk dat hy skaars wakker kon bly, maar die studie is nietemin gehou, en dit het ons gehelp om te besef hoe ernstig dit is.” Ouers, dit is onwaarskynlik dat julle kinders geestelike sake hoog sal aanslaan tensy julle dit doen. Hou die pionierdiens, sendingwerk en Betheldiens as doelwitte aan hulle voor. Help hulle om te besef dat die bediening ’n loopbaan met ’n toekoms is en dat daar geen werklike toekoms in wêreldlike loopbane is nie.—Vergelyk 1 Samuel 1:26-28.
23. Hoe kan ander in die gemeente jongmense help om geestelik progressief te wees?
23 Ander kan jongmense ook help om geestelik vordering te maak. Jy kan jou dit ten doel stel om by die vergaderinge met hulle te gesels. Probeer ook om hulle by sommige van jou bedrywighede in te sluit. ’n Ouere man kan reël om ’n jong persoon, met die ouers se toestemming, saam te neem wanneer hy elders ’n toespraak hou of hom insluit wanneer hulle ’n uitstappie maak (Job 31:16-18). Iets wat gering lyk, kan baie beteken. Een reisende opsiener, wat opgemerk het dat ’n seun wat na sy toespraak luister nie ’n Bybel het nie, het daarna vir hom een persent gegee. Die knaap was beïndruk, nie alleen deur die geskenk nie, maar ook deur die belangstelling wat in hom getoon is. Meer as 30 jaar later onthou die seun, wat nou self ’n ouere man is, nog steeds daardie broer se liefdevolle gebaar met innigheid.
24. Watter wete is aangrypend, en wat moet ons vaste voorneme wees?
24 Is dit nie aangrypend om te besef dat daar honderdduisende “jong manne net soos doudruppels” is wat die verkwikkende Koninkryksboodskap verkondig en dat daar ten minste net soveel jong vroue is wat ‘’n groot leër’ uitmaak ‘wat die goeie nuus vertel’ nie? Mag hulle hulle almal daarop toelê om geestelik progressief te wees, en mag ons almal hulle daarmee help.—Psalm 110:3, NW; 68:11, NW.
Hersieningsvrae
◻ Wat kan ’n jong persoon help om te besluit wanneer hy gedoop moet word?
◻ Hoe is ’n jong persoon se gedrag ’n aanduiding van sy geestelike progressiwiteit?
◻ Wat kan jongmense help om vergaderinge en velddiens te geniet?
◻ Watter verhouding moet jongmense met ouer persone verkry?
◻ Hoe kan ouers en ouer persone jongmense help?
[Prent op bladsy 16]
Wat verhinder jou om gedoop te word?