Waar was sy bene?
“STOFLIKE oorskot toon dat slagoffer aan kruis verwring is.” Het jy so ’n opskrif in Januarie 1971 gesien? Heel moontlik, want daar was talle koerantartikels oor nuwe “bewyse” vir ’n kruisdood.
Na die bogemelde titel het die artikel begin: “Jerusalem, 3 Jan. (Reuter)—Israeliese argeoloë, wat die eerste stoflike bewyse van ’n kruisiging opgegrawe het, het vandag gesê dat dit kan toon dat Jesus Christus miskien in ’n ander posisie gekruisig is as dié wat aan die tradisionele kruis getoon word.”
Het hierdie nuwe bewyse werklik getoon hoe Jode in Jesus se tyd aan ’n kruis of ’n paal tereggestel is? Wat het argeoloë vasgestel omtrent die liggaamsposisie van die slagoffer? Het dit betrekking op Jesus se dood gehad? En hoe gegrond was die bewyse? vra jy dalk.
’n Spyker in die hakke
In 1968 is grafgrotte toevallig naby Jerusalem ontdek. Daarin was daar tussen die herbegrawe beendere ’n skynbaar uitsonderlike vonds—hakskeenbene met ’n verroeste spyker daardeur., Dr. Nico Haas, ontleedkundige en antropoloog aan die Hebreeuse Hadassah-Universiteit se Mediese Fakulteit, het aan die hoof gestaan van ’n ondersoek van hierdie spesifieke beendere. Die gerespekteerde Israel Exploration Journal (1970, Deel 20, bladsye 38-59) het sy gevolgtrekkings gepubliseer, wat tot sensasionele koerantartikels gelei het. Wat was daardie gevolgtrekkings?
Hy het berig dat wat ontdek is niks minder was as die oorskot van ’n man wat in die eerste eeu aan ’n kruis tereggestel is nie. Dit het basies gelyk of die slagoffer se twee hakke saam aan ’n regop paal vasgespyker is, maar dat die spykerpunt gebuig het toe dit ’n kwas in die hout getref het. Na die Joodse slagoffer se dood het familielede gesukkel om die spyker uit te trek, en daarom is hy daarmee in sy hakke begrawe. Aangesien een spyker albei hakskeenbene deurboor het en aangesien dit gelyk het of die skeen bene skuins gesny is, het dr. Haas berig dat die slagoffer waarskynlik tereggestel is in die posisie wat hieronder getoon word. (Dr. Haas het ook gemeen dat ’n krap aan ’n armbeen daarop gedui het dat die man se arms aan ’n dwarsbalk vasgenael is.) Jy het miskien so ’n tekening in ’n koerant of tydskrifartikel gesien. Talle was opgewonde oor die implikasies van hoe Jesus gesterf het.
Maar jy kan weer tereg vra: Was die bewyse betroubaar, en het dit werklik betrekking gehad op die manier waarop Jesus gesterf het?
Herbetragting van die hakskene
In die daaropvolgende paar jaar het party bekende vakkundiges, soos professor Yigal Yadin, begin om Haas se gevolgtrekkings te bevraagteken. Uiteindelik het Israel Exploration Journal (1985, Deel 35, bladsye 22-27) “’n Herbetragting” deur antropoloog Joseph Zias (Israeliese Departement van Oudhede en Museums) en Eliezer Sekeles (Hebreeuse Hadassah-Universiteit se Mediese Fakulteit) gepubliseer. Hulle het die oorspronklike bewyse, foto’s, vormafdrukke en radiograwe van die beendere bestudeer. Jy sal dalk verbaas wees oor party van hulle bevindinge:
Die spyker was korter as wat Haas gesê het en sou dus nie lank genoeg gewees het om deur twee hakskeenbene en die hout te dring nie. Stukke been is verkeerd geïdentifiseer. Daar was geen bene van ’n tweede hak nie; die spyker het slegs een hak deurboor. Party beensplinters was dié van ’n heeltemal ander individu. Die gekrapte armbeen “was nie oortuigende” bewys dat dit aan ’n dwarsbalk genael is nie; ‘trouens, twee soortgelyke merke is aan ’n skeenbeen opgemerk; nie een hou met die kruisiging verband nie’.
Tot watter gevolgtrekkings het hierdie nuwe ontleding gelei? “Sowel die aanvanklike as die finale rekonstruksie van die kruisiging [deur Haas] is tegnies en anatomies onmoontlik wanneer ’n mens die nuwe bewyse in oënskou neem . . . Ons het geen bewys van die linkerhakskeenbeen gevind nie en reken dat die spyker genoeg was om net een hakskeenbeen vas te spyker . . . Die gebrek aan traumatiese besering aan die voorarm en middelhandbene dui blykbaar daarop dat die arms van die veroordeelde vasgebind eerder as vasgenael is.” Jy sien op hierdie bladsy hoe Zias en Sekeles meen die man vir die teregstelling in posisie geplaas is.
Wat van Jesus?
Wat toon dit dus oor hoe Jesus tereggestel is? In werklikheid nie veel nie! Soos ons byvoorbeeld op bladsy 23 bespreek het, is Jesus waarskynlik aan ’n regop paal sonder enige dwarsbalk tereggestel. Niemand kan vandag met sekerheid weet selfs hoeveel spykers in Jesus se geval gebruik is nie. The International Standard Bible Encyclopedia (1979, Deel 1, bladsy 826) sê: “Daar is grootliks bespiegel . . . oor die presiese aantal spykers wat gebruik is. In die vroegste afbeeldings van die kruisiging word daar getoon dat Jesus se voete afsonderlik vasgespyker is, maar in lateres is hulle gekruis en met een spyker aan die regop paal vasgespyker.”
Ons weet wel dat sy hande of arms nie net vasgebind was nie, want Thomas het later gesê: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien [nie]” (Johannes 20:25). Dit kon ’n spyker deur elke hand beteken het, of die meervoud “spykers” kon op die spykermerke in ‘sy hande en sy voete’ geslaan het. (Kyk Lukas 24:39.) Ons weet nie waar presies die spykers hom deurboor het nie, hoewel dit klaarblyklik êrens in sy hande was. Die Bybelverslag verskaf eenvoudig nie fynere besonderhede nie en dit hoef ook nie. En as vakkundiges, wat self die beendere ondersoek het wat in 1968 naby Jerusalem gevind is, nie eens seker kan wees wat die posisie van daardie lyk was nie, bewys dit beslis nie wat Jesus se posisie was nie.
Ons besef dus dat afbeeldings van Jesus se dood in ons publikasies, soos jy op bladsy 24 sien, bloot redelike kunstenaarsweergawes van die toneel is en nie verklarings van definitiewe anatomiese posisies nie. Sulke afbeeldings hoef nie die veranderende en botsende menings van vakkundiges te weerspieël nie, en die tekeninge vermy beslis godsdienssimbole wat van die eertydse heidendom afkomstig is.