Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 11/1 bl. 10-15
  • “Wees heilig . . . ”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wees heilig . . . ”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Heilige God, heilige aanbidders
  • ‘Die wet is heilig en regverdig en goed’
  • “Die gebod van Jehovah is rein”
  • Rein in ’n onrein wêreld
  • Vervolmaak heiligheid in die vrees vir God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • As ’n volk gereinig vir goeie werke
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Heilig, heilig, heilig is Jehovah”
    Kom nader aan Jehovah
  • “Julle moet heilig wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 11/1 bl. 10-15

“Wees heilig . . . ”

“Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”—1 PETRUS 1:15, 16.

1, 2. (a) Watter herinnering was op die tulband van die hoëpriester vertoon, en wat was die doel daarvan? (b) Waarom is ’n herinnering aan Jehovah se heiligheid vandag gepas? (c) Watter vermaning gee Petrus aangaande heiligheid?

“HEILIGHEID behoort aan Jehovah.” Hierdie aangrypende woorde was oop en bloot vertoon, gegraveer op ’n plaat van suiwer goud wat die hoëpriester van Israel aan sy tulband vasgebind het (Exodus 28:36-38, NW). Dit was ’n glansende herinnering dat Israel, anders as die heidennasies wat onrein gode vereer het, ’n rein, heilige God aanbid het.

2 Besef jy, indien jy reeds een van Jehovah se Getuies is, presies hoe vlekkeloos, rein, heilig en regverdig die God is wat jy aanbid? Dit lyk miskien oorbodig om aan so ’n elementêre waarheid herinner te word. As Jehovah se volk is ons immers geseën met insig in “die dieptes van God”—ingewikkelde Bybelprofesieë, die toepassing van Bybelbeginsels, Bybelleerstellings. (1 Korinthiërs 2:10; vergelyk Daniël 12:4.) Dit is nietemin duidelik dat sommige nie ’n hartgrondige besef van Jehovah se heiligheid het nie. Waarom? Omdat duisende hulle elke jaar aan vorme van onsedelikheid skuldig maak. Duisende ander speel met vuur deur dinge te doen wat op ’n nippertjie na oortredings van Bybelwette is. Sommige besef klaarblyklik nie die erns van die woorde in 1 Petrus 1:15, 16 nie: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”

Heilige God, heilige aanbidders

3. Wat toon Moses se lied omtrent Jehovah?

3 ‘’n Onvolmaakte mens—heilig? Onmoontlik!’ sê jy dalk. Maar beskou die agtergrond van Petrus se vermaning. Die apostel het hier woorde aangehaal wat oorspronklik aan Israel gerig is kort na die uittog uit Egipte. Deur hierdie wonderbaarlike verlossing is Jehovah geopenbaar as ’n Verlosser, ’n Vervuller van beloftes, “’n krygsman” (Exodus 3:14-17; 15:3). In ’n vreugdelied na die Egiptiese debakel by die Rooi See het Moses nog ’n faset van Jehovah geopenbaar: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid . . . ?” (Exodus 15:11). Dit is die eerste opgetekende geleentheid waar heiligheid aan Jehovah toegeskryf is.

4. (a) In watter opsig is Jehovah “verheerlik in heiligheid”? (b) Hoe het Jehovah aldus ’n kontras gevorm met die gode van Kanaän?

4 Die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel met “heilig” vertaal word, bevat die gedagte van ‘helder, nuut, vars, onbesmet en rein’. Moses het Jehovah derhalwe uitgebeeld as rein in die oortreffende graad, vry van onsuiwerheid, bo verdorwenheid verhewe, meedoënloos onverdraagsaam teenoor onreinheid (Habakuk 1:13). Jehovah het ’n skitterende kontras gevorm met die gode van die land wat die Israeliete eerlank sou betrek—Kanaän. Dokumente wat by Ras Sjamra, ’n dorp aan die noordelike kus van Sirië, opgegrawe is, bied ’n beperkte, maar nietemin insiggewende, kykie in die Kanaänitiese godewêreld. Hierdie manuskripte beskryf gode wat, volgens John Gray se boek The Canaanites, “twisgierig, afgunstig, wraaksugtig, wellustig” was.

5, 6. (a) Hoe het die aanbidding van ontugtige gode die Kanaäniete beïnvloed? (b) Hoe het die aanbidding van die heilige God die Israeliete beïnvloed?

5 Die Kanaänitiese kultuur was begryplikerwys ’n spieëlbeeld van die ontugtige gode wat hulle aanbid het. The Religion of the People of Israel verduidelik: “Dade in navolging van die godheid is as ’n diens aan die god beskou. . . . [Die seksgodin] Astarte het ’n aantal dienaars en dienaresse gehad wat as gewyde persone beskryf is . . . Hulle het hulself as prostitute in haar diens gewy.” Geleerde William F. Albright voeg by: “Op sy ergste moes die erotiese aspek van hulle kultus egter tot uiters ontaarde dieptes van maatskaplike verdorwenheid gedaal het.” Die aanbidding van falliese “heilige boomstamme”, kinderofferandes, towerkuns, beswering, bloedskande, sodomie en bestialiteit—al hierdie dinge het deel geword van “die werke van die land Kanaän”.—Exodus 34:13; Levitikus 18:2-25; Deuteronomium 18:9-12.

6 Jehovah is daarenteen “verheerlik in heiligheid”. Hy kon nie sulke verdorwenheid onder sy aanbidders duld nie (Psalm 15). Anders as die verderflike Kanaänitiese gode het Jehovah dus sy volk verhef. Jehovah het sy volk herhaaldelik vermaan met die woorde wat Petrus later sou aanhaal: “Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”—Levitikus 11:44; 19:2; 20:26.

‘Die wet is heilig en regverdig en goed’

7, 8. (a) Hoe kon die Israeliete ‘heilig wees’? (b) Hoe vergelyk Jehovah se Wet met die Babiloniese kodeks van Hammoerabi?

7 Die vereiste om ‘heilig te wees’ het nòg volmaaktheid nòg aangeplakte vroomheid beteken; dit het gehoorsaamheid beteken aan ’n uitgebreide stel wette wat deur Moses aan Israel gegee is (Exodus 19:5, 6). Anders as enige ander landswet kon God se Wet as “heilig en regverdig en goed” beskryf word.—Romeine 7:12.

8 Die Babiloniese kodeks van Hammoerabi, wat na bewering ouer as die Mosaïese Wet is, dek weliswaar ’n soortgelyke reeks onderwerpe. Sommige van die insettinge daarvan, soos die wet oor ‘oog vir oog’, of wedervergelding, is soortgelyk aan Mosaïese beginsels. Gevolglik beweer kritici dat Moses bloot sy wette van Hammoerabi se kodeks geleen het. Maar Hammoerabi se kodeks het weinig meer gedoen as om Hammoerabi te verheerlik en sy politieke belange te bevorder. God se Wet is aan Israel gegee ‘dat dit met hulle altyd goed mag gaan, om hulle in die lewe te hou’ (Deuteronomium 6:24). Daar is ook min bewyse dat Hammoerabi se wet ooit in Babilon bindend was; dit was weinig meer as “regshulp vir mense op soek na advies” (The New Encyclopædia Britannica, 1985-uitgawe, Deel 21, bladsy 921). Die Mosaïese Wet was egter bindend en het regverdige strawwe vir ongehoorsaamheid bevat. Ten slotte, Hammoerabi se kodeks beklemtoon optrede teen oortreders; net vyf van die 280 wette is regstreekse verbooie. Maar God se Wet is veral gerig op die voorkoming van sonde, nie die straf daarvan nie.

9. Watter uitwerking het die Mosaïese Wet op die lewe van die Jode gehad?

9 Omdat dit ‘heilig, regverdig en goed’ was, het die Mosaïese Wet ’n kragtige uitwerking op die persoonlike lewe van die Jode gehad. Dit het hulle aanbidding bepaal, voorsiening gemaak vir Sabbatte van onthouding van werk, die nasie se ekonomiese struktuur gereël, sekere vereistes ten opsigte van kleredrag gestel en nuttige rigsnoere verskaf in verband met dieët, seks en higiëne. Selfs normale liggaamsfunksies het in die Mosaïese Wet onder die loep gekom.

“Die gebod van Jehovah is rein”

10. (a) Waarom het die Wet so baie lewensterreine gedek? (b) Hoe het die Wet fisiese reinheid en goeie gesondheid bevorder? (Sluit voetnoot in.)

10 Hierdie uitvoerige voorskrifte oor daaglikse lewensaangeleenthede het ’n verhewe doel gehad: om die Israeliete rein te maak—fisies, geestelik, verstandelik en sedelik. Wette wat vereis het dat hulle hulle bad, hulle uitwerpsels begrawe, mense met aansteeklike siektes in kwarantyn plaas en sekere soorte kos vermy, het byvoorbeeld almal gesondheid en sindelikheid in die hand gewerk.a—Exodus 30:18-20; Levitikus, hoofstuk 11; 13:4, 5, 21, 26; 15:16-18, 21-23; Deuteronomium 23:12-14.

11. Wat het dit beteken om seremonieel onrein te wees?

11 Maar goeie gesondheid en sanitasie was in werklikheid ondergeskik aan geestelike reinheid. Dit is waarom iemand wat miskien een van die verbode kossoorte geeet, geslagsgemeenskap gehad of ’n lyk aangeraak het ook seremonieel onrein verklaar is (Levitikus, hoofstuk 11, 15; Numeri, hoofstuk 19). So ’n onreine kon gevolglik nie aan aanbidding deelneem nie—in sommige gevalle op straf van die dood! (Levitikus 15:31; 22:3-8). Maar wat het sulke verbooie met geestelike reinheid te doen gehad?

12. Hoe het die wette oor seremoniële reinheid geestelike reinheid bevorder?

12 Heidense aanbidding is gekenmerk deur prostitusie, die aanbidding van die dode, en fuiwery. Maar The International Standard Bible Encyclopedia wys op die volgende: “Geen seksdaad is toegelaat as ’n manier om Jahwe te aanbid nie. Al sodanige aktiwiteit in hierdie verband het ’n mens dus onrein gemaak. . . . In Israel is gepaste eerbied aan die dode betoon, maar hulle het geensins onbehoorlike verering gekry of voorwerpe van aanbidding geword nie . . . Verdere omgang by die feeste van heidense bure, wat feesmaaltye sou insluit, was vir ’n Israeliet onmoontlik, want hulle voedsel was onrein.” Die bepalings van die Wet was derhalwe ’n ‘muur’ van skeiding wat onrein godsdienselemente uitgehou het.—Efesiërs 2:14.

13. Hoe het die Wet verstandelike reinheid bevorder?

13 Die Wet het ook die verstandelike reinheid van die Israeliete bevorder. Die gebooie in verband met intieme huweliksake het byvoorbeeld mense se denke verhef (Levitikus 15:16-33). Die Israeliete het geleer om selfbeheersing in verband met seksuele sake aan die dag te lê en hulle nie aan onbeteuelde hartstog oor te gee soos die Kanaäniete nie. Die Wet het hulle selfs geleer om hulle gevoelens en begeertes te beheers deurdat dit begerige gedagtes veroordeel het.—Exodus 20:17.

14. Hoe was God se Wet uniek wat die bevordering van sedelike reinheid betref?

14 Die heel merkwaardigste was egter die klem wat die Wet op sedelike reinheid gelê het. Hammoerabi se wetboek het weliswaar ook sondes soos egbreuk veroordeel. Maar ’n artikel in The Biblical Archaeologist het opgemerk: “Anders as die Babiloniërs en die Assiriërs wat egbreuk bloot as ’n misdaad teen die eiendomsreg van die man beskou het, het die Ou-Testamentiese wet egbreuk ook as ’n ernstige skending van die sedes beskou.”

15. (a) Lig toe hoe dit groot inspanning van ’n Israeliet kon geverg het om rein te bly. (b) Hoe het die Israeliete baat gevind by sulke inspanning?

15 Hoe waar is die psalmis se woorde dus: “Die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal” (Psalm 19:8, NW). Soms het dit wel groot inspanning geverg om rein te bly. Nuwe moeders moes, net weke na die geboorte van hulle kinders, na Jerusalem opgaan om reinigingsprosedures na te kom (Levitikus 12:1-8; Lukas 2:22-24). Mans sowel as vroue moes hulle seremonieel reinig nadat hulle huweliksgemeenskap gehad het, sowel as in ander verwante situasies (Levitikus 15:16, 18; Deuteronomium 23:9-14; 2 Samuel 11:11-13). As hulle gewetensgetrou die Wet onderhou en rein gebly het, sou dit vir hulle “heilsaam” wees—fisies, verstandelik, sedelik en geestelik (Jesaja 48:17). Bowendien sou die belangrikheid en erns daarvan om rein te bly onuitwisbaar by hulle ingeprent word. Die allerbeste was dat sulke opregte pogings om heilig te bly hulle van God se goedkeuring sou verseker.

Rein in ’n onrein wêreld

16, 17. (a) In watter mate moet Christene vandag rein bly? (b) Waarom is dit vandag so moeilik om rein te bly? (c) Hoe het vooraanstaande persone mense teleurgestel as rolmodelle?

16 Ons kan nou Petrus se woorde aan Christene beter verstaan: “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”—1 Petrus 1:14-16.

17 Dit is weliswaar nie maklik nie. Oral waar ons kyk, sien ons mense wat bedrog pleeg, oneerlik is of hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig maak. The New York Times het berig: “Al hoe meer Amerikaners verkies om saam te lewe voor hulle trou.” Selfs vooraanstaande mense stel slegte voorbeelde. Sommige van die gewildste mense in die wêreld op die gebiede van sport, die politiek en vermaak beoefen vandag openlik sekere vorme van onreinheid. “Dis vreeslik teleurstellend”, het ’n sportliefhebber gekla, “om in iemand as ’n rolmodel te glo en dan uit te vind dat hy bevlek is.” Die probleem? Verskeie gewilde atlete het erken dat hulle dwelms gebruik. Mense wat verafgood word, lei alte dikwels onrein lewens, ja, selfs veragtelike lewens, as egbrekers, hoereerders, homoseksuele, lesbiërs, diewe, afpersers en dwelmslawe! Hulle lyk miskien fisies rein, maar uit hulle monde borrel daar vieslike taal. Hulle kan selfs behae daarin skep om die publiek se welvoeglikheidsin te skok deur oor hulle onsedelike eskapades te spog.

18. Wat toon dat baie wat ’n onrein lewe lei, ‘maai wat hulle gesaai het’?

18 Maar die Bybel se woorde kan nie maklik opsy gestoot word nie: “God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7, 8). Onkuise gedrag lei dikwels tot siekte, of selfs ’n ontydige dood, weens siektes soos sifilis, gonorree en Vigs, om maar die bekendstes te noem. Verstandelike en emosionele ongebalanseerdheid, depressie en selfs selfmoord is ook soms die resultaat van ’n losbandige lewenswyse. Hoewel mense wat onsedelik lewe miskien spottend lag vir diegene wat probeer om hulle rein te hou, hou die gelag op wanneer die spotters begin ‘maai wat hulle gesaai het’.—Vergelyk Romeine 1:24-27.

19, 20. Hoe het die Christendom se geestelikes getoon dat hulle godsdienstig en sedelik besmet is?

19 Ons lewe ook in ’n godsdienstig besoedelde wêreld. Die geestelikes dra nou wel mooi, skoon klere, maar hulle verkondig onsuiwer Babiloniese gebruike en leringe, soos afgodediens, die Drie-eenheid, die helse vuur, die onsterflikheid van die mensesiel en die vaevuur. Hulle is soos die godsdiensleiers van wie Jesus gesê het: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.”—Mattheüs 23:27, 28.

20 Die geestelikes sien selfs onreinheid in hulle kudde deur die vingers. Mense wat bekend is as onsedelik en onrein—hoereerders, egbrekers, homoseksuele—word toegelaat om as goeie lidmate aan te bly. Newsweek berig hieroor: “Sielkundige Richard Sipe van Maryland, ’n voormalige priester, reken dat nagenoeg 20 persent van die 57 000 Katolieke priesters in die VSA homoseksueel is . . . Ander terapeute meen dat die werklike syfer vandag nader aan 40 persent kan wees.” Katolieke teoloog John J. McNeill (’n erkende homoseksueel) praat homoseksualiteit openlik goed: “Die liefde tussen twee lesbiërs of twee homoseksuele is, solank dit ’n opbouende, menslike liefde is, nie sondig nie en vervreem die minnaars ook nie van God se plan nie, maar kan ’n heilige liefde wees.”—The Christian Century.

21. Waarom is die herinnering “Heiligheid behoort aan Jehovah” vandag vir ons gepas?

21 Die herinnering op die hoëpriester se tulband is dus meer gepas as ooit: “Heiligheid behoort aan Jehovah” (Exodus 28:36, NW). Jehovah vereis, ja, dring daarop aan, dat ons in alle opsigte rein bly! Maar hoe kan ons dit doen? Watter aspekte verg dalk besondere aandag? Die volgende artikel sal hierdie vrae behandel.

[Voetnoot]

a Hammoerabi se wet het nie sulke bepalings gehad nie; daar is ook geen vergelyklike vereistes rakende higiëne by die ou Egiptenaars ontdek nie, hoewel hulle ’n relatief gevorderde vorm van geneeskunde beoefen het. Die boek Ancient Egypt sê: “Towerspreuke en -formules kom oral [in Egiptiese geneeskundige tekste] saam met rasionele voorskrifte voor.” God se Wet het egter geen demoniese botone gehad nie, maar was wetenskaplik gegrond. Eers in moderne tye het dokters byvoorbeeld die nodigheid daarvan gesien om hulle te was nadat hulle aan ’n lyk geraak het, iets wat die Mosaïese Wet duisende jare gelede vereis het!—Numeri, hoofstuk 19.

Hersieningsvrae

◻ Hoe is Jehovah “verheerlik in heiligheid”, en wat beteken dit vir sy aanbidders?

◻ Hoe het die Wet van Moses van die wette van alle ander nasies verskil?

◻ Hoe het die Mosaïese Wet fisiese, geestelike, verstandelike en sedelike reinheid bevorder?

◻ Hoe weet ons dat baie wat ’n onrein lewe lei, ‘maai wat hulle gesaai het’?

[Prent op bladsy 11]

Die aanbidding van ontugtige gode het tot die ontaarding van die Kanaäniete gelei

[Erkenning]

Met vriendelike vergunning van die Britse Museum, Londen

[Prent op bladsy 12]

Hammoerabi se wet het orde in die ryk gebring en die koning verheerlik, maar dit het nie die Babiloniërs heilig gemaak nie

[Erkenning]

Die Louvre-Museum, Parys

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel