Engele—in die hede en in die verlede
“In die Kerstyd word hulle uitgebeeld in die versiersels wat ons aan die Kersboom hang of op Kerskaarte sien—goue poppe met mooi gesigte wat die harp of kerkorrel bespeel of kerse dra. Hulle het kort vlerke soos dié van voëltjies. Kortom, hulle is oulik.”—The Sunday Denver Post.
“ENGELE word oor die algemeen in teologiese kweekskole geïgnoreer, in Sondagskool veronagsaam, en word nie eers in die register van die Nasionale Kategetiese Gids, die handleiding vir Katolieke godsdiensonderrig in Amerika, vermeld nie.”
Dit was godsdiensredakteur Charles W. Bell se woorde. Hy het gesê dat sommige teoloë, veral van gevestigde Protestantse kerke, “ongemaklik en onseker [is] oor engele”. Die New Catholic Encyclopedia merk op dat sommige moderne denkers sê dat “alle geloof in die bestaan van engele verwerp moet word”.
Dit was nie altyd die geval nie. In die 13de eeu het geleerdes wat ’n studie gemaak het van die engeleleer, ’n vertakking van die teologie wat aandag gee aan engele, glo baie belang gestel in die “aard, intelligensie en wil” van engele. Gebede is selfs deur etlike eeue heen tot “beskermengele” gerig. Maar beskouinge het sedertdien verander, soos hierbo gemeld word.
Volgens die New Catholic Encyclopedia “word engele in die moderne gedagte . . . al hoe meer na die sfeer van legende, sprokie en kinderverbeelding gerelegeer”. Trouens, teen die middel van die 19de eeu het engele in die gedagtes van talle mense minder met godsdiens verband gehou en is hulle meer met wêreldlike, romantiese idees geassosieer. Vandag meen selfs meer mense dat engele hersenskimme is; sulke mense ontken derhalwe die bestaan van engele.
Engele in sommige godsdienste
Maar in party godsdienste beklee engele steeds ’n plek. Die Rooms-Katolieke Kerk “spoor die getroues [byvoorbeeld] aan om die engele lief te hê, te respekteer en aan te roep”. Trouens, Katolisisme het drie wat hulle as engele beskou—Migael, Gabriël en Rafael—tot heiliges verhef. Rafael kom net in die apokriewe boeke voor en nie in die kanonieke Bybelboeke nie.
In Oosters-Ortodokse kerke is engele belangrik in die litanie, ’n gebedsvorm waarin smeekbedes of versoeke gedoen word, en die gemeente daarop antwoord. Engele beklee ook ’n plek in Islam, aangesien geloof in engele een van die geloofsartikels in die Moslemse teologie is.
Tog is geloof in die bestaan van engele ongetwyfeld in ons tyd besig om af te neem.
Glo jy aan engele?
Die New Catholic Encyclopedia sê aangaande geloof in engele: “Daar het geleidelik . . . in die loop van ’n langdurige ontwikkeling en verfyning . . . deur spekulatiewe uitbouing van die begrippe wat in die Heilige Skrif vervat is ’n engeleleer ontwikkel wat, met ’n meerdere of mindere mate van oortuiging, die leerstelling van die Kerk geword het.” [Ons kursiveer.] Hoe vas sou jy aan engele glo as jy weet dat jou geloof op “spekulatiewe uitbouing” berus?
Daar bestaan, interessant genoeg, selfs in die Katolieke Kerk meningsverskil oor hierdie saak. Oor die vraag wanneer engele geskape is, sê die Enciclopedia de la Religión Católica: “Volgens die Griekse vaders is engele voor die sigbare wêreld geskape, maar die algemene opvatting van die Latynse vaders is dat hulle daarna geskape is. Die beskouing dat engele en die wêreld op dieselfde tyd geskape is, het nietemin die meeste voorstanders.” Sulke onsekerheid skep verwarring in die gedagtes van mense en bevorder die hedendaagse neiging tot ongelowigheid.
’n Joodse filosoof, Philo, het beweer dat engele bloot “verskynsels en kragte van die heelal” is. Teoloë het deur die jare heen oor sinlose geskille aangaande die aard en eienskappe van engele gedebatteer, soos die ligsinnige vraag: Hoeveel engele kan op die punt van ’n naald staan? Is dit ’n wonder dat talle mense in ons moderne tyd verkies om nie aan engele te glo nie?
Met die oog op al hierdie teenstellende opvattings kan ons gerus ondersoek wat die Bybel self oor engele te sê het. Dit sal ons help om definitiewe antwoorde te kry op vrae soos: Bestaan engele werklik? Indien wel, het hulle al ooit in mensesake ingegryp? En, belangriker nog, kan engele jou lewe beïnvloed?