Vertroue in Jehovah lei tot toewyding en doop
“Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid.”—PSALM 37:3.
1. Watter getuienis deur wêreldwyse manne toon dat dit dwaas is om op menseleiers te vertrou?
OP WIE kan ons vertrou? Op menseleiers? Hulle reputasie toon dat dit dwaas is om op onvolmaakte mense te vertrou. Selfs wêreldwyse manne erken immers daardie feit! Die Europese saketydskrif Vision het derhalwe eenkeer gesê dat “die ergste omtrent die huidige situasie is dat niemand ’n uitkoms kan sien nie”. En ekonomiegeskiedskrywer Robert Heilbroner het gesê: “Daar is iets anders wat aan ons knaag. Dit is die vermoede dat niemand in beheer is nie, dat niemand toegerus is om die probleme wat ons oorval te hanteer nie.”
2. Wat kan oor die voordele van die moderne wetenskap gesê word?
2 Die mens het weliswaar groot vooruitgang op verskillende gebiede van die wetenskap gemaak. Maar was dit alles voordelig? Nee, dit was nie. Soos skrywer Lewis Mumford gesê het: “Die opvatting dat meganiese en wetenskaplike vooruitgang parallelle voordele vir die wens waarborg . . . het nou volkome onhoubaar geword.” ’n Goeie voorbeeld is suurreën, wat mere en riviere besoedel en daartoe bydra dat dermiljoene bome vernietig word. Daarbenewens getuig die haglike toestand van die wêreld—die toename in misdadigheid, geweld en terrorisme, in dwelm- en alkoholverslawing en in seksueel oorgedraagde siektes, en die wankelende ekonomiese situasie—dat dit nutteloos is om ons vertroue in menseleiers te stel.
3. Watter raad gee God se Woord oor waar ons ons vertroue moet stel?
3 God se Woord raai ons uiters gepas aan: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, by keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:3, 4). In wie kan ons dan ons vertroue stel as ons dit nie in mense kan stel nie? Ons kan ons vertroue in die Skepper van hemel en aarde stel, want ons lees: “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.”—Jeremia 17:7.
Waarom op Jehovah vertrou?
4. Wat is Jehovah se vernaamste hoedanighede, en hoe verskaf hulle ons grondige redes om ons vertroue in hom te stel?
4 Ons kan om grondige redes op Jehovah vertrou. Eerstens, ons kan ons vertroue in hom stel vanweë sy vernaamste hoedanighede—liefde, wysheid, geregtigheid en mag—en ander wonderlike eienskappe. Sy Woord verseker ons dat hy almagtig is, en een van sy titels is “God, die Almagtige” (Genesis 28:3). Dit is inderdaad ’n grondslag vir vertroue! Niemand kan hom met welslae teen Jehovah verset nie en niemand kan sy voornemens dwarsboom nie. Hy is ook die Alwetende. Hy weet nie net die einde van die begin af nie, daar die toekoms vir hom ’n ope boek is, maar in hom woon ook alle kennis en wysheid soos blyk uit sy wonderlike skeppingswerke. Hy het nog nooit in enige van sy handelinge ’n fout begaan nie (Jesaja 46:10; Romeine 11:33-35). Jehovah is boonop volkome betroubaar, ’n regverdige en getroue God. Dit is onmoontlik vir hom om ’n leuen te vertel (Deuteronomium 32:4; Titus 1:2; Hebreërs 6:18). Aangesien onselfsugtige liefde sy oorheersende eienskap is, word daar bowenal gepas gesê: “God is liefde.”—1 Johannes 4:8, 16.
5. Watter verslag bevat God se Woord wat van Sy betroubaarheid getuig?
5 Jehovah se handelinge met die mensdom getuig verder dat hy ’n betroubare God van almag, wysheid, geregtigheid en liefde is. Moses het die Israeliete verseker dat Jehovah die verbond en goedertierenheid hou ten opsigte van diegene wat hom liefhet en sy gebooie onderhou (Deuteronomium 7:9). Vroeër het Jehovah godvresende Noag en sy familie deur die groot Vloed bewaar. God het regverdige Lot en sy twee dogters van die vurige vernietiging van Sodom en Gomorra gered. Later het God die Israeliete uit Egipte gelei en hulle ooreenkomstig sy belofte aan Abraham die land Kanaän gegee (Genesis 7:23; 17:8; 19:15-26). En het Jehovah nie die drie Hebreërs wat in die vuuroond gegooi is sowel as Daniël in die leeukuil gered nie?—Daniël 3:27; 6:23.
6. Watter hedendaagse getuienis het ons dat vertroue in Jehovah nie misplaas is nie?
6 Die feit dat ons ons vertroue in Jehovah kan stel, word ook bevestig deur die ondervindinge van sy hedendaagse Getuies. Adolf Hitler het byvoorbeeld gespog dat hy die “gebroedsel” van Jehovah se Getuies in Duitsland sou uitroei. Maar Hitler en sy Nazi-party is eerder uitgeroei, en daardie groep Getuies het talle kere vermenigvuldig en tel vandag meer as 119 000. Daarbenewens getuig letterlik honderde lewensverhale van Jehovah se Getuies wat in Die Wagtoring en sy medetydskrif Ontwaak! gepubliseer word van die feit dat Jehovah inderdaad die God is op wie ons kan vertrou.
Waarom sommige nie op Jehovah vertrou nie
7. Waarom het een persoon ges dat hy “’n Jehovah-toeskouer” is?
7 Maar hoe min vertrou vandag tog op Jehovah! Selfs baie wat van sy eienskappe en prestasies geleer het, stel nie hulle vertroue in hom nie. ’n Artikel in die tydskrif U.S. Catholic (Januarie 1979) sê van een so ’n persoon: “Toe die meningspeiler die man gevra het wat sy godsdiensvoorkeur is, het hy geantwoord: ‘Ek is seker maar ’n Jehovah-toeskouer.’ Toe hy gevra is om daaroor uit te wei, het hy verduidelik: ‘Ek glo min of meer wat Jehovah se Getuies glo—maar ek wil nie betrokke raak nie.’” Die tydskrif het gesê: “’n Toegewyde getuie van Jehovah kan nie anders as om diep betrokke te raak nie.”
8. Watter fundamentele eienskappe wek by ’n mens die begeerte om by Jehovah se diens betrokke te raak?
8 Waarom wil party nie betrokke raak nie? Omdat hulle nie die regte hartstoestand het nie. ’n Persoon moet “die regte gesindheid vir die ewige lewe” hê (Handelinge 13:48, NW). Soos Jesus in sy gelykenis van die saaier getoon het, ontvang diegene wat vrug dra die woord van waarheid in ‘edele en goeie harte’ (Lukas 8:15). Ja, die waarheid vind nie byval by onopregte persone nie. ’n Opregte hart is ’n fundamentele vereiste. Die waarheid van God se Woord vind ook nie byval by diegene wat trots is nie. ’n Nederige gesindheid is nodig (Jakobus 4:6). Verder vind die waarheid nie byval by selfvoldane, eiegeregtige persone nie. Maar dit vind wel byval by diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, wat na geregtigheid honger en dors en wat sug en steun oor al die gruwels wat hulle vandag in die wêreld sien.—Mattheüs 5:3, 6, NW; Esegiël 9:4.
Vertroue in Jehovah lei tot toewyding
9, 10. (a) Wat is nodig voor iemand vertroue in Jehovah kan stel, en hoe reageer diegene met die regte hartstoestand? (b) In wie beoefen sulke mense geloof?
9 Voor ’n persoon vertroue in Jehovah kan stel, moet hy eers van Hom hoor. Maar “hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (Romeine 10:14). Wanneer Jehovah se knegte preek, reageer diegene met die regte hartstoestand gunstig, net soos talle in eertydse Thessalonika. Paulus het aangaande hulle geskryf: “Toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, [het] julle dit aangeneem . . . nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.”—1 Thessalonicense 2:13.
10 Wanneer sulke goedhartige persone van Jehovah leer, beoefen hulle geloof in hom. Dit is van die allergrootste belang, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Dit is ook noodsaaklik om geloof in God se Seun te beoefen. “Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie”—ja, geen ander naam behalwe dié van Jesus Christus nie.—Handelinge 4:12.
11. Watter raad van die apostel Petrus sal ’n mens volg as jy vertroue in Jehovah stel?
11 Vertroue in God se Woord, in Jehovah en in sy Seun Jesus Christus sal ’n persoon beweeg om die apostel Paulus se raad aan die Jode van sy dag te gehoorsaam: “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom” (Handelinge 3:19, 20, NAV). Deur kennis van Jehovah en Sy vereistes op te doen, leer ’n persoon dat dit God se wil vir hom is om ’n volgeling van Jesus Christus te word. Soos Petrus dit gestel het: “Hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21). Jesus het duidelik getoon wat dit behels toe hy gesê het: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mattheüs 16:24). Dit beteken dat ’n mens hom aan Jehovah God moet toewy om sy wil te doen en Jesus Christus se voetstappe moet navolg.
Toewyding is nie net nog ’n verbintenis nie
12. Hoe word die woord “verbintenis” dikwels in die Christendom gebruik?
12 In die valse Christendom word die uitdrukking “verbintenis” herhaaldelik gebruik wanneer iemand ’n Christen word. Ons word dus meegedeel dat Evangeliesgesindes van die Verenigde State “’n persoonlike verbintenis met Jesus beklemtoon”. ’n Rooms-Katolieke geestelike het van ’n “Katolieke godsdiensverbintenis” gepraat. ’n Katolieke priester het eenkeer ter verdediging van sy betrokkenheid by die politiek gesê: “My toetrede tot die politiek was ’n uitbreiding van my (priesterlike) verbintenis.” En sakeondernemings adverteer: “Ons verbintenis teenoor ons klante.” ’n Mens kan dus terselfdertyd talle verbintenisse hê: sakeverbintenisse, sosiale verbintenisse, politieke verbintenisse en godsdiensverbintenisse.
13. Wat beteken dit as jy jou aan Jehovah toewy?
13 Toewyding aan Jehovah God is egter nie net nog ’n verbintenis nie. ’n Verbintenis is bloot “’n ooreenkoms of belofte om iets in die toekoms te doen”. Maar as jy jou toewy, beteken dit dat jy jou uitsluitlik aan die diens of aanbidding van ’n goddelike wese of aan heilige gebruike wy’. Die meeste mense is tevrede om ’n verbintenis aan te gaan in plaas van hulle toe te wy. Dit verklaar ongetwyfeld die feit dat hulle godsdiens bloot soos agtergrondmusiek is. Dit is aangenaam om na te luister, maar maak nie werklik inbreuk op enigiets wat ’n persoon werklik wil doen nie.
14. Waarom is ’n blote verbintenis nie vir Jehovah God aanvaarbaar nie?
14 As jy jou aan God toewy, maak dit die uitvoering van sy wil die allerbelangrikste ding in die lewe. Dit vereis dat jy die eerste en grootste gebod hou, wat deur Jesus aangehaal is toe hy gesê het: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag.” Jesus het beklemtoon hoe uitsluitlik diens aan God moet wees toe hy gesê bet: “Niemand kan twee here dien nie; want of hy sal die een haat en die ander liefhê, of hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie!” (Markus 12:30; Mattheüs 6:24). Dit is dus duidelik dat ’n blote verbintenis nie vir Jehovah aanvaarbaar is nie.
Waarom waterdoop?
15. Watter voorbeeld het Jesus gestel ten opsigte van ’n openbare belydenis van geloof in God?
15 Waarom moet toewyding aan God deur doop gesimboliseer word? As iemand een van Jehovah se Getuies wil wees, kan hy nie anders nie. Dieselfde geld as hy as ’n Christen, ’n volgeling van Jesus Christus, bekend wil staan. Jehovah se “getroue getuie”, Jesus, het die voorbeeld hierin gestel, want hy is in die Jordaanrivier gedoop. Aangesien Johannes berouvolle sondaars gedoop het, kon hy nie verstaan waarom Jesus gedoop wou word nie, maar Jesus het vir hom gesê: “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” (Openbaring 1:5; Mattheüs 3:13-17). God se Seun het derhalwe sy geloof in die openbaar bely deur homself vir Jehovah aan te bied en het so ’n voorbeeld gestel vir almal wat die goddelike wil wil doen.
16. Watter bevel het Jesus sy volgelinge oor doop gegee, en wat toon dat sy dissipels daardie bevel gehoorsaam het?
16 Kort voor Jesus na sy Vader in die hemele teruggekeer het, het hy boonop sy volgelinge beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Die verslag in die boek Handelinge toon dat Jesus se dissipels daardie bevel ywerig gehoorsaam het.—Handelinge 2:40, 41; 8:12; 9:17, 18; 19:5.
17. Waarom kan blote besprinkeling nie ’n geldige doop wees nie?
17 Hoe is hierdie persone gedoop? Is water bloot op hulle gesprinkel, soos die gebruik in die meeste kerke van die Christendom is? Volstrek nie! Jesus ‘het uit die water opgeklim’ na hy gedoop is. Dit toon duidelik dat hy onder die water gedompel is (Markus 1:9, 10). Trouens, niks anders sou doop wees nie, want die Griekse woord wat met “doop” vertaal word, beteken “indompel, onderdompel”.—Handelinge 8:36-39.
18. Waarom is onderdompeling so ’n gepaste simbool van ’n mens se toewyding aan God?
18 So ’n doop is ’n uiters gepaste simbool van toewyding. Wanneer ’n persoon onder die water gaan, lig dit gepas toe dat hy sy voormalige handelwyse afsterf. Wanneer hy uit die water gelig word, beeld dit af dat hy tot ’n nuwe lewenswyse opgewek word. Net soos ’n huweliksplegtigheid help om hulle getroude staat by ’n bruidegom en bruid te laat insink, sal waterdoop voor getuies waarskynlik ’n blywende indruk op die doopkandidaat maak. Daar bestaan geen twyfel nie: Jou doop behoort jou toewyding aan Jehovah onuitwisbaar in jou verstand en geheue te prent as die allerbelangrikste gebeurtenis in jou lewe. Dit dui die keerpunt aan waar jy ophou om jouself te dien en begin om Jehovah God te dien.
19. Wat is nog ’n rede om gedoop te word?
19 Ons moet nie die feit oor die hoof sien dat waterdoop ’n voorvereiste is om ’n goeie gewete voor Jehovah te verkry nie. Dit word duidelik gestel in 1 Petrus 3:21, wat lui: “Waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus.”
Doop op watter ouderdom?
20. Waarom kan suiglinge nie vir doop in aanmerking kom nie?
20 Jesus se woorde in Mattheüs 28:19 toon dat dit diegene is wat sy dissipels gemaak is wat gedoop moet word. Daaruit volg derhalwe dat geen suigling of kleuter aan die Skriftuurlike vereistes vir doop kan voldoen nie. ’n Suigling kan nie geloof in God se Woord, in God die Skepper en in sy Seun Jesus Christus beoefen nie. ’n Suigling kan nie verstaan dat die heilige gees God se werkende krag is nie; hy kan hom ook nie van vorige sondes bekeer en ’n plegtige gelofte aflê om God se wil te doen nie.
21. Is dit gepas dat jongmense hulle laat doop?
21 Maar dit lyk of party onder Jehovah se volk tot die ander uiterste gegaan het. Talle Christenouers laat hulle kinders wag totdat hulle in hulle laat tienderjare is voordat hulle doop te berde bring. Keer op keer hoor ons van jongmense wat heeltemal uit eie aandrang ’n geldige toewyding maak. ’n Ouere man se seun in sy vroeë tienderjare het byvoorbeeld ’n innige begeerte gehad om gedoop te word. Sy vader het derhalwe drie ander ouere manne die vrae wat opgestel is vir diegene wat doop oorweeg met die seun laat bespreek.a Hulle het tot die slotsom gekom dat hy, hoewel baie jonk, aan die vereistes voldoen het om as ’n geordende bedienaar van Jehovah God gedoop te word. Die Pionierdiensskool in die Bahamas is onlangs dan glad bygewoon deur ’n gedoopte meisie van tien, die dogter van twee voltydse bedienaars!
22. Wat kan ouers van hulle kinders verwag as hulle Christelike persoonlikhede in hulle kinders bou?
22 Dit lyk of party ouers in hierdie opsig te kort skiet. In watter mate gebruik hulle ‘vuurvaste materiale’ om Christelike persoonlikhede in hulle kinders te bou? (1 Korinthiërs 3:10-15). Om dit te doen, beteken in die eerste plek dat die ware aanbidding van Jehovah die allerbelangrikste saak in die ouers se lewens moet wees. Daarbenewens moet die ouers die goeie raad in Deuteronomium 6:6, 7 en Efesiërs 6:4 gehoorsaam. Die gevolg hiervan kan wees dat die ouers hulle kinders dalk moet keer om nie te vroeg gedoop te word nie in plaas van hulle later te moet aanspoor.
23. Wat anders is nodig wanneer iemand hom toegewy en laat doop het?
23 As ’n persoon eers sy vertroue in Jehovah deur toewyding en waterdoop getoon het, moet hy voortgaan om daardie vertroue te toon. Die volgende artikel “Dien as Jehovah se vertrouende medewerkers”, sal ons help besef wat dit behels.
[Voetnote]
a Die boek Georganiseer om ons bediening te vervul bevat die reeks vrae wat beantwoord moet word deur almal wat as een van Jehovah se Getuies gedoop wil word. Dit word gegee aan diegene wat hulle vir doop voorberei.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter feite benadruk hoe dwaas dit is om ons vertroue in mense te stel?
◻ Waarom bied Jehovah se hoedanighede en handelinge ons grondige redes om op hom te vertrou?
◻ Waarom verg vertroue in Jehovah toewyding en nie bloot ’n verbintenis nie?
◻ Hoe kan ouers by hulle kinders die begeerte inskerp om hulle op ’n vroeë ouderdom aan Jehovah toe te wy?
[Prent op bladsy 10]
Ons kan ons vertroue in Jehovah as die Groot Verlosser stel