Verafsku die wêreld se skandelike weë met jou hele wese
“Omdat julle nie meer met hulle hierdie weg bewandel na dieselfde lae poel van liederlikheid nie, is hulle dronkgeslaan en gaan hulle voort om teen julle te laster.”—1 PETRUS 4:4, NW.
1. Hoe beskryf die Bybel die voormalige wêreldse weë waarin talle Christene van die eerste eeu gewandel het?
’N “LAE poel van liederlikheid”. Dit is hoe die apostel Petrus die skandelike situasie beskryf het waarin talle in die eerste eeu verkeer het voordat hulle Christene geword het. Ander vertalings noem dit die “stroom van losbandigheid” (NAV); die “moeras van sedeloosheid” (The New American Bible). Wat was in hierdie lae poel van liederlikheid? Die apostel meld spesifiek ongebondenheid, wellus, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.—1 Petrus 4:3, 4.
2. Waarom moet Christene vandag geprys word?
2 Wat ’n verskil is daar tog tussen hierdie wêreld en die ware Christelike gemeente! Petrus het die Christene aan wie hy geskryf het hartlik geprys omdat hulle nie meer saam met hulle voormalige wêreldse metgeselle deur hierdie moeras, hierdie stroom van verdorwenheid, gewandel het nie. Dit is vir ons ’n groot genoeë om Christene vandag, wanneer toestande selfs erger as in die eerste eeu is, eweneens te prys. Jehovah se Getuies span hulle ywerig in om die rein en onbesmette godsdiens te beoefen wat deur ons God en Vader goedgekeur word, wat beteken dat jy jou vlekkeloos van die wêreld moet bewaar’ (Jakobus 1:27). Hulle hoë sedelike standaard bring groot eer op Jehovah se naam.
3. Wat was vir Paulus ’n rede tot droefheid, soos dit ook vandag vir ons is?
3 Maar om hulle hoë standaard as ’n rein organisasie te handhaaf, moet God se knegte soms die betreklik min persone wat toelaat dat hulle deur die liederlike gebruike van hierdie wêreld verlok word, teregwys of selfs uitsit. Dit is ’n rede tot droefheid, en ons voel soos die apostel Paulus toe hy ’n soortgelyke situasie in die eerste eeu gesien het. Hy het geskryf: “Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge” (Filippense 3:18, 19). Hoe kan ons, as individue, voorkom dat so iets met ons gebeur? Deur te leer om Jesus na te volg deur Jehovah se hoë standaarde van geregtigheid lief te hê en deur die onreinheid van hierdie wêreld te haat.—Hebreërs 1:9.
Moenie terugkyk nie
4. (a) Waarom bestaan daar ’n moontlikheid dat ons verlok kan word om ons tot die verdorwe gebruike van hierdie wêreld te wend? (b) Wat sal ons help om nie verkeerde begeertes te ontwikkel nie?
4 Moet nooit die krag van sonde onderskat nie. Die verlokkinge van hierdie wêreld is sterk en baie; die Duiwel is listig en boosaardig; die mensehart is bedrieglik (1 Johannes 2:15-17; 1 Petrus 5:8; Jeremia 17:9). Wanneer die begeerte na iets in die hart posgevat het, luister die hart dikwels nie na rede nie. Dit is waarom ons so dikwels in God se Woord daaraan herinner word om ons hart toegewy te hou aan Jehovah en die uitvoering van sy wil. Dit is baie belangrik om ’n verkeerde begeerte nie eens in die hart te laat begin ontwikkel nie (Jakobus 1:14, 15; Mattheüs 5:27-30). Ons moet voortdurend ons hart versterk met redes waarom ons die goeie moet liefhê en hierdie wêreld se smerige weë met ons hele wese moet verafsku en verwerp. Die apostel Paulus het dit soos volg opgesom: “Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan.”—Romeine 12:9.
5. Waarom is dit verstandig om ons beweegredes en begeertes noukeurig te ondersoek?
5 Met die oog op die gevaar om van die Christelike weg af te dwaal, is dit vir elkeen van ons verstandig om voortdurend ons beweegredes, ons begeertes, ons doelwitte te ondersoek. Is jy persoonlik soos daardie Christene vir wie Petrus kon prys omdat hulle nie na hierdie selfde “lae poel van liederlikheid” teruggekeer het nie? Of openbaar jy soms die gesindheid van Lot se vrou wat met verlange teruggekyk het na die dinge waarvan sy verlos is?—Genesis 19:26; Lukas 17:31-33.
Goddeloosheid vier hoogty in “die laaste dae”
6, 7. (a) Watter gesindheid teenoor genot sou volgens die Bybel “die laaste dae” kenmerk? (b) Hoe loop mense van die wêreld te koop met hulle onreine denke en dade?
6 Dink ’n oomblik na oor die wêreld waarin ons ons aan die einde van hierdie 20ste eeu bevind. Wat ’n oorvloed van goddeloosheid is daar tog nie! Soos die apostel Paulus voorspel het, is manne en vroue “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God”. ‘Goddelose mense en bedrieërs gaan inderdaad voort van kwaad tot erger en verlei en word verlei.’—2 Timotheüs 3:1, 4, 13.
7 Owerspel, hoerery, homoseksualiteit, lesbinisme en aborsie—hierdie en ander woorde het alledaagse uitdrukkings geword. Daar word vryelik en goedkeurend van sulke dinge gepraat oor die radio en op die televisie en in godsdiens- en opvoedkundige kringe. Pornografie het ’n groot bedryf geword en is geredelik beskikbaar vir almal. Party van die gewildste rolprente, toneelstukke en TV-vervolgverhale handel oor verhale wat met die een of ander soort onsedelikheid verband hou. Hoe dankbaar is ons tog dat ons geen deel hiervan is nie! En hoe hard moet ons tog stry om seker te maak dat sulke sluipende propaganda nie ons hart raak nie!
8. Wat sê die Bybel moet ons met betrekking tot die onsedelike gebruike van hierdie wêreld doen en nie doen nie?
8 Verstandige Christene slaan ag op Paulus se waarskuwing: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam . . . Beproef wat die Here welbehaaglik is . . . Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse.” Paulus het gesê dat ons eerder moet dink oor dinge wat waar, regverdig, rein, lieflik en loflik is.—Efesiërs 5:3-16; Filippense 4:8.
9. Wat kan maklik gebeur as ons twyfelagtige vermaak kies?
9 Hou jy hierdie gesonde raad noukeurig in gedagte wanneer jy vermaak kies? Onthou, hoe meer ons na verdorwe dinge luister, des te aanvaarbaarder lyk die wêreld se lewenstyl, ja, immers tog nie so sleg nie. Ons kan selfs begin om vooraanstaande sport- of vermaaklikheidsfigure wat sulke dinge beoefen heimlik te bewonder of na te volg. Pasop vir enige sodanige neiging.
Moenie deur hierdie wêreld se redenering verstrik word nie
10. Volgens watter lewensfilosofie het die Epikureërs van die eerste eeu gelewe?
10 In Paulus se dag het talle die filosofie van die Epikureërs voorgestaan, wat vir genot, vir sinsbevrediging, gelewe het. Wanneer jy sterf, het hulle gesê, is alles vir jou verby. Put dus soveel genot moontlik uit die lewe terwyl jy nog lewe, want môre sterf jy dalk.
11. Hoe volg talle mense van die wêreld vandag die Epikureërs in hulle denke en dade na?
11 Baie het vandag dieselfde gesindheid. Hulle gee hulle onbeskaamd aan alle vorme van genot oor en dink skaars aan hoe hulle gedrag ander raak. Vir hulle bestaan God nie of as hy wel bestaan, lewer by geen bewys dat hy in menseaangeleenthede belangstel nie. Aangesien die mens ’n produk van evolusie is—soos hulle beweer—is hulle werklik aan niemand verantwoordelik behalwe aan hulleself en die gemeenskap waarin hulle woon nie. Daar is selfs ’n verskoning om soos die diere op te tree. As onsedelike gebruike wat in die Bybel veroordeel word die sinne streel, kan hulle tog seker nie veroordeel word nie. Waarom sal ’n mens ’n onselfsugtige en frustrerende lewe lei, redeneer sulke persone, as ons almal in dieselfde plek—die graf—beland?
12, 13. (a) Watter gevaar bestaan as Christene aan wêreldse redenering blootgestel word? (b) Wat was die kern van die probleem in Korinthe? (c) Wat moet gedoen word om te voorkom dat ons deur ’n selfsugtige lewensbeskouing beïnvloed word?
12 Dit is opmerkenswaardig dat party Christene in Korinthe blykbaar deur hierdie soort redenering beïnvloed is. Toe hy aan die gemeente aldaar geskryf het, het Paulus erken dat “as die dode nie opgewek word nie” die algemene uitdrukking destyds: “Laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons” in ’n mate sin sou gemaak het. Maar hy ontbloot gou hierdie valse redenering: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.”—1 Korinthiërs 15:32-34.
13 Let op hoe Paulus reg tot die kern van die probleem van daardie Christene in Korinthe deurdring. Hulle verkeerde denke het uit slegte omgang gespruit. Ons kan hieruit leer. As ons nie oppas nie, kan ons begin dink dat ons van die verbode genietinge op die proef moet stel voordat ons te oud is om dit te geniet of voor ons sterf. As ons ’n neiging het om so te redeneer, moet ons gou ons denkwyse verander. Hoe? Onthou dat hierdie selfsugtige beskouing God se regverdige standaarde verontagsaam. Dit toon ’n gebrek aan geloof in God se gewisse beloftes, met inbegrip van die opstandingshoop. Selfs uit ’n praktiese oogpunt kan diegene wat ’n losbandige lewe lei hulle groot hartseer en talle probleme op die hals haal. Om die regte perspektief te verkry, moet hulle ‘nugter word op die regte manier’. Hulle kan nie reg en nugter redeneer as hulle “geen kennis van God” het nie.
14. Wie sal nie die seëninge van God se Koninkryk beërwe nie, maar wat het Paulus omtrent party se vorige lewenswyse erken?
14 Vroeër in sy brief aan die Korinthiërs het die apostel Paulus dit duidelik gestel dat hoereerders, egbrekers, afgodedienaars, homoseksuele, diewe, gierigaards, dronkaards, kwaadsprekers en afpersers, wat almal volop in Korinthe was, nie ’n deel van God se Koninkryk sou wees nie. Hy het bygevoeg: “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig.” Die feit dat hulle op hierdie manier gereinig is, het die krag van God se Woord en die losprysoffer getoon (1 Korinthiërs 6:9-11). Dit sou gewis die toppunt van dwaasheid wees om na die onreinheid van die ou wêreld terug te keer!
15. Watter beeldspraak het Petrus gebruik om die posisie te beskryf van diegene wat na die liederlike gebruike van hierdie wêreld terugkeer?
15 Petrus het gesê: “As hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol” (2 Petrus 2:20, 22). Dit is sterk taal! Maar kragtige woorde is soms nodig om by ons die erns van die raad tuis te bring. Hierdie waarskuwing wat aan Christene in die eerste eeu gegee is, is vandag op ons selfs toepasliker.
Ons maai wat ons saai
16. In watter opsigte ‘maai ’n persoon wat hy saai’ wanneer hy ’n losbandige lewe lei?
16 Christene sien oral om hulle bewys dat die onsedelike, losbandige lewenswyse van hierdie wêreld skadelik, dodelik is (Romeine 1:18-32). Wat geslagsake alleen betref, kan ’n mens dink aan die hartseer en lyding wat volg wanneer daar geen respek vir God se wet op sedelikheid is nie: verbroke gesinne, buite-egtelike swangerskappe, aborsies, verkragting, kindermolestasie en seksueel oorgedraagde siektes, om maar net ’n paar dinge te noem. Dan is daar die gesondheidsprobleme wanneer die liggaam misbruik word deur oormatige etery en drinkery en wanneer dwelms vir opwinding gebruik word. Oorgawe aan hebsug lei dikwels tot diefstal en bedrog. Daar is nouliks enige skending van God se wet wat die oortreder nie die een of ander fisiese of emosionele skade berokken nie. Dit is soos die apostel Paulus Christene gemaan bet: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”—Galasiërs 6:7, 8.
17. Waarom moet ’n Christen beweeg word om God se regverdige standaarde na te leef?
17 Aan die ander kant verstrek die Skrif uiters kragtige redes vir gehoorsaamheid aan God se standaarde. Dit is inderdaad waar wat God se Woord sê: “’n Betroubare man is ryk aan seëninge”! (Spreuke 28:20). Diegene wat hierdie wêreld se skandelike weë verafsku, vermy die verskriklike gevolge van ’n losbandige lewe. Hulle geniet ’n rein verhouding met hulle broers en susters en met hulle God, Jehovah. Daarbenewens het hulle die wonderlike hoop om die ewige lewe in God se nuwe wêreld as prys te ontvang. Noudat ons diep in die einde van hierdie stelsel van dinge is, het die lede van die “ander skape” selfs die besondere hoop om deur “die groot verdrukking” te lewe en glad nie te sterf nie. Hulle het die vaste vertroue dat, indien die dood voor daardie tyd sou aanbreek, God belowe om almal in die gedenkgrafte op te wek (Johannes 5:28, 29; 10:16; Openbaring 7:14). Waarom sou enigiemand, met die oog op al hierdie dinge, dit selfs vlugtig oorweeg om by die veragtelike gebruike van hierdie wêreld betrokke te raak?—Romeine 6:19-23; 1 Petrus 4:1-3.
18. a) Hoe sal Jehovah by “die groot verdrukking sy oordeel aan “goddelose mense” voltrek? (b) Wat sê Jehovah in sy laaste aangetekende woorde in die Bybel oor oordeel?
18 Die Bybel toon duidelik dat ons in die finale deel lewe van wat dit “die voleinding van die wêreld” noem (Mattheüs 24:3). Petrus het gesê: “Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7). Wanneer hierdie langverwagte dag van afrekening aanbreek, sal die bewering dat die mens onafhanklik van God kan optree en dat sy onsedelike, gewelddadige gedrag bloot ’n produk van evolusie is in rook opgaan (Kolossense 3:5, 6). Luister hoe God self, in sy laaste aangetekende woorde in die Bybel, die gevolg beskryf vir diegene wat hom dien en vir die wat hom nie dien nie: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. . . . Salig is die wat sy gebooie doen [“hul lang gewade was”, NW], sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.”—Openbaring 22:12-15.
19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen terwyl ons die toekoms tegemoetgaan?
19 Namate hierdie wêreld se sedelike toestand versleg, moet jy vasbeslote wees om Jehovah te behaag deur te doen wat rein, eerbaar en reg is. Streef voortdurend die lewe as prys na. Weier om in hierdie wêreld se “lae poel van liederlikheid”, wat ’n kuil van die dood is, ingesuig te word. Jy kan die stryd teen verdorwe denke wen as jy hierdie wêreld se skandelike weë met jou hele wese verafsku!
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom bestaan daar ’n gevaar om by die skandelike gebruike van hierdie wêreld betrokke te raak?
◻ Waarom moet ons bale versigtig wees in ons keuse van vermaak?
◻ Watter noodlottige redenering kan ons maklik beïnvloed as ons met hedendaagse Epikureërs omgaan?
◻ Wat is Jehovah se oordeel teen diegene wat hulle op onberouvolle wyse tot hierdie wêreld se skandelike weë wend?
◻ Watter seëninge lê vir diegene voor wat vry bly van die veragtelike gedrag van hierdie wêreld?
[Prent op bladsy 16, 17]
Dit sal knegte van God help om die nuwe wêreld van geregtigheid binne te gaan as hulle hierdie wêreld se skandelike weë met hulle hele wese verafsku
[Prent op bladsy 18]
Die wêreld se skandelike vermaak kan ’n onbedagte Christen verstrik