Jesus—Wie is hy?
DAAR is min sekulere verslae wat melding maak van Jesus. Maar ’n paar doen dit wel, en van hulle sê The Encyclopædia Britannica: “Hierdie onafhanklike verslae bewys dat selfs die teenstanders van die Christelike godsdiens in antieke tye nooit die historisiteit van Jesus betwyfel het nie. Dit is iets wat vir die eerste keer en op onvoldoende gronde aan die einde van die 18de, gedurende die 19de en aan die begin van die 20ste eeu deur verskeie skrywers betwis is.”
Vra jou nou af: As Jesus se bestaan ’n mite is, is dit dan waarskynlik dat dit eers in die 18de eeu ontdek sou word? Beskou ook die feit dat daar tans meer as ’n miljard mense is wat beweer dat hulle volgelinge van Jesus is. Die invloed van sy leringe op kultuursake, opvoeding en heerskappy—op die hele gang van wêreldgeskiedenis—kan nie ontken word nie. Lyk dit redelik dat al hierdie dinge die gevolg is van iets wat niks anders as ’n mite is nie?
Watter grondige rede het ons om te glo dat Jesus Christus, die stigter van die Christelike godsdiens, nie ’n werklike persoon was nie as die stigter van Islam, die Arabiese profeet Mohammed, een was? Jesus het nou wel sowat 600 jaar voor Mohammed gelewe, maar let op dat die stigter van die Boeddhisme, Siddharta Gautama—die Boeddha, of die “Verligte”—selfs vroeër, meer as 500 jaar voor Jesus, gelewe het. Watter grondige rede het ons dan om te glo dat Jesus nie ’n werklike persoon was nie as die Boeddha wel een was?
Duitse geskiedskrywer en argeoloog Hans Einsle skryf dat Joodse geskiedskrywer Flavius Josephus, Romeinse skrywers Suetonius en Plinius en in die besonder Romeinse geskiedskrywer Tacitus, “almal die historisiteit van Jesus en die vernaamste feite van sy lewe bevestig”.
Meer as bloot ’n gewone man?
Jesus het bestaan—maar as wat? Sommige mense beweer dat by bloot ’n gewone mens was, hoewel hulle erken dat by ’n baie wyse man moes gewees het, een wat die waarheid gespreek het. Selfs sy vyande van die eerste eeu het dit in werklikheid erken en gesê: “Meester, ons weet . . . U sien nie die persoon van mense aan nie, maar U leer die weg van God in waarbeid.”—Markus 12:13, 14.
Ander meen egter dat Jesus meer as ’n blote mens moes gewees het. Waarom? Ten eerste, omdat by dinge kon doen wat gewone mense nie kan doen nie. Het jy byvoorbeeld al ooit iemand teëgekom wat op water kan loop, water in wyn kan verander, ongeveer 5 000 mense met twee vissies en vyf garsbrode kan voed, blindes kan genees of die dooies kan opwek?—Mattheüs 14:25, 26; Markus 8:22-25; Johannes 2:1-11; 6:1-13; 11:30-44.
Jesus kon ook dinge bespeur wat gewone mense nie kan nie. Toe ’n vrou vir hom gesê het dat sy nie ’n man het nie, het Jesus geantwoord: “Jy het reg gesê: Ek het nie ’n man nie: want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.” Die verbaasde vrou het tot die slotsom gekom: “[Meneer], ek sien dat U ’n profeet is” (Johannes 4:16-19, vgl. NAV). Kyk Lukas 22:31-34, 54-62 vir ’n voorbeeld van Jesus se merkwaardige versiendheid oor die feit dat Petrus hom sou verloën.
Jesus het buitengewone gesag gehad. Mense was “verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Markus 1:22). Daarby kon Jesus “sy twaalf dissipels . . . mag [gee] oor onreine geeste . . . om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees”.—Mattheüs 10:1.
Kan ons die verslae glo?
‘Maar wag ’n bietjie’, sê jy dalk. ‘Is die besonderhede oor wat Jesus gedoen het nie moontlik oordryf nie?’ Nie volgens F. F. Bruce nie, ’n afgetrede professor in Bybelkritiek en -verklaring aan die Universiteit van Manchester, wat skryf: “Dit is gewoonlik nie moontlik om die waarheid van elke besonderheid in ’n antieke geskrif, hetsy binne of buite die Bybel, deur historiese argumente te bewys nie. Dit is voldoende om redelike vertroue in ’n skrywer se algemene betroubaarheid te hê; as dít bewys is, is daar ’n a priori waarskynlikheid dat sy besonderhede waar is. . . . Die feit dat Christene die Nuwe Testament as ‘heilige’ lektuur aanvaar, maak die historiese betroubaarheid daarvan nie minder waarskynlik nie.”
Alles getuig van die Evangelieskrywers se betroubaarheid. Ofskoon hulle besonderhede soms op verskillende maniere weergee, weerspreek hulle mekaar nie, net soos twee ooggetuies van ’n verkeersongeluk mekaar nie weerspreek as die een se dat ’n rooi motor wat van die linkerkant gekom het ’n groen motor getref het wat van die regterkant gekom het, terwyl die ander sê dat ’n Mercedes wat suidwaarts gery het ’n Renault getref het wat noordwaarts gery het nie. Die feit dat die Evangelies oor bykomstige besonderhede verskil, is ’n sterk aanduiding dat hulle waar is. As die skrywers mense wou mislei het om ’n mite te glo, sou hulle hulle verhale ongetwyfeld baie noukeurig gekoördineer het.
Selfs Jesus se vyande het die verslae oor hom as waar bevestig. Ons lees: “Die mense [het] ’n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe [gebring]. En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. . . . Maar die Fariseërs het gesê: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit” (Mattheüs 9:32-34). Let op dat die Fariseërs nie ontken het dat Jesus ’n wonderwerk gedoen het nie. Hulle het bloot geweier om sy vermoë om dit te doen aan die werking van God se heilige gees toe te skryf.
’n Verdere bewys dat die verslae oor Jesus waar is, is die feit dat toepassing van die beginsels wat in sy leringe vervat is praktiese waarde het. Hierdie beginsels lei tot ’n suksesvolle en gelukkige lewe. Daarbenewens is talle langtermynprofesieë van Jesus, soos dié wat in Mattheüs hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 opgeteken is, in ons dag vervul.
Jesus—“Jehovah van die On Testament”?
Dit is duidelik dat Jesus nie ’n gewone mens was nie. Hy was uniek omdat hy, soos die Bybel ons meedeel, in die hemel gelewe het voor hy na die aarde gekom het (Johannes 6:38, 62). Hy het derhalwe kennis en vermoëns gehad wat dié van gewone mense oortref het. Dit help om sy wonderwerke en sy uitsonderlike wysheid te verklaar.
Maar beteken Jesus se voormenslike bestaan dat hy God is? ’n Onderwyshandboek beweer dat dit die geval is en sê: “Telkens wanneer Jesus van Homself gepraat het as ‘Ek Is’ . . . , het Hy Homself as die Jehovah van die Ou Testament geïdentifiseer.” Is dit waar?
Volgens die Afrikaanse Bybel se weergawe van Exodus 3:13, 14 het Moses gevra: “As ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam?—wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.” Aangaande hierdie teks sê The Pentateuch and Haftorahs (Hebreeuse teks met Engelse vertaling en uiteensetting, geredigeer deur dr. J. H. Hertz) dat die uitdrukking “Ek is wat Ek is . . . die klem laat val op die aktiewe openbaring van die Goddelike bestaan”. Die gebruik daarvan as ’n titel of naam vir God was dus gepas, omdat God op die punt gestaan het om sy bestaan ten behoewe van sy volk op ’n besondere wyse te openbaar deur hulle uit Egiptiese slawerny te bevry. Hertz sê dat “die meeste hedendaagse geleerdes Rashi [’n welbekende Middeleeuse Franse Bybel- en Talmoedkommentator] volg, deur dit met ‘Ek sal wees wat Ek sal wees’ te vertaal”. Dit strook met die New World Translation se weergawe, wat lees: “EK SAL BLYK TE WEES WAT EK SAL BLYK TE WEES.”
Die Afrikaanse Bybel vertaal Johannes 8:58 weer eens asof Jesus die uitdrukking “Ek is” (hier net in omgekeerde woordorde) op homself toepas waar by sê: “Voordat Abraham was, is Ek.” Maar hier verskil die uitdrukking heeltemal van die in Exodus 3:14. Jesus het dit nie as ’n naam of titel gebruik nie, maar bloot as ’n manier om sy voormenslike bestaan te verduidelik. Volgens die New World Translation lui die meer korrekte weergawe van Johannes 8:58 dus: “Voordat Abraham bestaan het, was ek gewees.”
Dit is duidelik dat daar geen Skriftuurlike grond bestaan vir die bewering dat Jesus dieselfde as Jehovah van die Hebreeuse Skrifte is nie. Selfs die onderwyshandboek wat vroeër aangehaal is, erken: “Die feit dat Christus voor Sy geboorte in Betlehem bestaan het, bewys nie op sigself dat Hy God is nie (Hy kon as ’n engel bestaan het).” Trouens, dit is wat die Bybel leer. Tydens sy voormenslike bestaan was Jesus “’n god”, of goddelike wese, maar nie die God, die almagtige God Jehovah nie.—Johannes 1:1-3, NW; 1 Thessalonicense 4:16.
Wie is Jesus dan, aangesien by nie God is nie?
[Prent op bladsy 5]
Jesus se wonderwerke het bewys dat hy meer as bloot ’n gewone mens was