Waardering vir ons broers
“[Deur] ongeveinsde broederliefde . . . moet julle mekaar vurig liefhê uit ’n rein hart.”—1 PETRUS 1:22.
1. Wat het baie mense daarvan oortuig dat Jehovah se Getuies ware Christelikheid beoefen?
LIEFDE is die kenmerk van ware Christelikheid. Gedurende die laaste maaltyd wat Jesus saam met sy apostels geniet het, het hy dit benadruk deur te sê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Baie mense het vir die eerste keer daarvan oortuig geraak dat Jehovah se Getuies ware Christelikheid beoefen toe hulle ’n vergadering by die Koninkryksaal of ’n groter byeenkoms bygewoon het. Hulle het daadwerklike liefde gesien, en hieraan het hulle geweet dat hulle tussen Christus se ware dissipels was.
2. Wat het die apostel Paulus oor liefde, die kenmerkende blyk van Christelikheid, gesê?
2 Ons almal is verheug dat hierdie kenmerk van ware Christelikheid vandag onder Jehovah se volk waarneembaar is. Soos die vroeë Christene besef ons nietemin dat ons voortdurend op die uitkyk moet wees na ander maniere om waardering vir ons broers te toon. Paulus het aan die gemeente in Thessalonika geskryf: “Mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak” (1 Thessalonicense 3:12, NAV). Hoe kan ons ons liefde vir mekaar laat groei?
Liefde en broederlike geneentheid
3. Wat benewens ’n rein lewenswyse is volgens die apostel Petrus vir Christene nodig?
3 In ’n algemene brief wat aan Christengemeentes in Klein-Asië gerig is, het die apostel Petrus geskryf: “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele [of, lewens] deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde [fi·la·del·fiʹa; “broederlike geneentheid”, NW] gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê [vorm van a·ga·paʹo] uit ’n rein hart” (1 Petrus 1:22). Petrus toon dat dit nie genoeg is om ons lewens te reinig nie. Ons gehoorsaamheid aan die waarheid, met inbegrip van die nuwe gebod, moet lei tot ongeveinsde broederlike geneentheid en vurige liefde vir mekaar.
4. Watter vrae moet ons vra, en wat het Jesus in hierdie verband gesê?
4 Is ons geneig om ons liefde en waardering vir ons broers net aan diegene te betoon van wie ons hou? Is ons geneig om ruimhartig teenoor hulle te wees, ons oë vir hulle tekortkominge te sluit, terwyl ons gou die foute en tekortkominge van ander opmerk tot wie ons nie van nature aangetrokke voel nie? Jesus het gesê: “As julle liefhet [vorm van a·ga·paʹo] die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?”—Mattheüs 5:46.
5. Watter onderskeid tref ’n Bybelgeleerde tussen die Griekse woord wat “liefde” beteken en die een wat “geneentheid” beteken?
5 In sy boek New Testament Words sê professor William Barclay die volgende oor die Griekse woord wat met “geneentheid” vertaal en die een wat as “liefde” weergegee word: “Hierdie woorde [fi·liʹa, wat “geneentheid” beteken, en die verwante werkwoord fi·leʹo] bevat ’n innige hartlikheid. Hulle slaan op toegeneentheid vir iemand. . . . Die selfstandige naamwoord agapē en die werkwoord agapan is verreweg die algemeenste N[ieu-]T[estamentiese] woorde vir liefde. . . . Filia was ’n mooi woord, maar dit was definitief ’n woord van hartlikheid en hegtheid en geneentheid. . . . Agapē het met die verstand te doen: dit is nie bloot ’n emosie wat ongevraag in ons harte opwel nie; dit is ’n beginsel wat ons doelbewus naleef. Agapē het hoofsaaklik met die wil te doen. Dit is ’n oorwinning en ’n prestasie. Niemand het ooit sy vyande van nature liefgehad nie. Om jou vyande lief te hê, is ’n oorwinning oor al ons natuurlike neigings en emosies. Hierdie agapē . . . is trouens die vermoë om die onbeminlike lief te hê, om mense lief te hê van wie ons nie hou nie.”
6. (a) Watter deurdringende vrae moet ons ons afvra? (b) Waarom kan ons, volgens Petrus, nie net broederlike geneentheid hê vir diegene tot wie ons ons van nature aangetrokke voel nie?
6 Is ons geneig om ons gevoelens te rasionaliseer, onder die voorwendsel dat die Skrif toegee dat ons groter geneentheid vir party broers as vir ander voel? (Johannes 19:26; 20:2). Dink ons dat ons ’n kil, beredeneerde “liefde” teenoor party kan betoon omdat ons moet, terwyl ons hartlike broederlike geneentheid net teenoor diegene betoon tot wie ons aangetrokke is? Dan het ons die kern van Petrus se vermaning nie begryp nie. Ons het nie ons siele genoeg gereinig deur ons gehoorsaamheid aan die waarheid nie, want Petrus sê: “Noudat julle deur gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele gereinig het totdat julle opregte geneentheid vir julle mede-Christene voel, moet julle mekaar met al julle krag heelhartig liefhê.”—1 Petrus 1:22, The New English Bible.
“Ongeveinsde broederlike geneentheid”
7, 8. Wat is die oorsprong van die woord wat met “ongeveinsde” vertaal word, en waarom het Petrus dus hierdie woord gebruik?
7 Die apostel Petrus gaan selfs verder. Hy sê dat ons broederlike geneentheid ongeveins moet wees. Die woord wat met ‘ongeveins’ vertaal word, kom van die negatiewe vorm van ’n Griekse woord wat gebruik is vir toneelspelers wat met maskerbedekte gesigte gepraat het. Dit het hulle in staat gestel om etlike karakters in ’n toneelstuk te vertolk. Die woord het toe die figuurlike betekenis van skynheiligheid, geveinsdheid of skyn aangeneem.
8 Hoe voel ons diep in ons hart teenoor party van die broers en susters in die gemeente? Groet ons hulle by die vergaderinge met ’n gedwonge glimlag en kyk ons dan vinnig weg of loop ons verder? Nog erger, probeer ons dit vermy om hulle enigsins te groet? Wat kan dan gesê word van ons “gehoorsaamheid aan die waarheid” wat ons siele moes gereinig het totdat ons opregte geneentheid vir ons mede-Christene voel? Deur die woord ‘ongeveins’ te gebruik, sê Petrus dat ons geneentheid vir ons broers nie vir die skyn getoon moet word nie. Dit moet opreg, hartgrondig wees.
“Vurig uit ’n rein hart”
9, 10. Wat het Petrus bedoel toe hy gesê het dat ons mekaar “vurig”, of “uitgestrek”, moet liefhê?
9 Petrus voeg by: “Julle [moet] mekaar vurig [letterlik, “uitgestrek”] liefhê uit ’n rein hart.” Dit verg geen strekking van die hart om liefde te betoon teenoor diegene tot wie ons ons van nature aangetrokke voel en wat so teenoor ons voel nie. Maar Petrus sê dat ons mekaar “uitgestrek” moet liefhê. Wanneer a·gaʹpe-liefde onder Christene betoon word, is dit nie bloot ’n intellektuele, beredeneerde liefde soos ons vir ons vyande moet hê nie (Mattheüs 5:44). Dit is ’n vurige liefde en verg inspanning. Dit beteken dat ons ons harte moet uitstrek, hulle moet verruim sodat hulle mense kan insluit tot wie ons gewoonlik nie aangetrokke sou voel nie.
10 In sy Linguistic Key te the Greek New Testament lewer Fritz Rienecker kommentaar oor die woord wat in 1 Petrus 1:22 met “vurig”, of “uitgestrek”, vertaal word. Hy skryf: “Die fundamentele idee is die van opregtheid, ywer (om iets nie maklik te doen nie . . . maar as ’t ware m[et] inspanning) (Hort).” Inspanning beteken onder meer ‘om jou uiterste bes te doen’. Om mekaar vurig uit die hart lief te hê, beteken derhalwe dat ons ons tot die uiterste moet inspan in ons pogings om broederlike geneentheid vir al ons Christenmetgeselle te hê. Het party van ons broers en susters dit te nou in ons tere geneenthede? Dan moet ons verruim word.
‘Word verruim’
11, 12. (a) Watter raad het die apostel Paulus aan die Christene in Korinthe gegee? (b) Hoe het Paulus ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig gestel?
11 Die apostel Paulus het blykbaar gemeen dat daar in die gemeente in Korinthe ’n behoefte hieraan was. Hy het aan die Christene aldaar geskryf: “Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword. Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste [“tere geneenthede”, NW] het julle dit te nou. Maar by wyse van vergoeding—ek praat soos met kinders—moet julle ook verruim word.”—2 Korinthiërs 6:11-13.
12 Hoe kan ons ons harte verruim om al ons broers en susters in te sluit? Paulus het ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig gestel. Hy het uiteraard na die beste in sy broers gesoek, en hy het hulle nie weens hulle tekortkominge onthou nie, maar weens hulle goeie eienskappe. Die laaste hoofstuk van sy brief aan die Christene in Rome lig dit toe. Kom ons ondersoek Romeine hoofstuk 16 en kyk hoe dit Paulus se positiewe gesindheid teenoor sy broers en susters weerspieël.
Hartlike waardering
13. Hoe het Paulus sy waardering vir Febe uitgespreek, en waarom?
13 Paulus het sy brief aan die Romeine omstreeks die jaar 56 G.J., gedurende sy derde sendingreis, vanuit Korinthe geskryf. Hy het blykbaar die manuskrip toevertrou aan ’n Christin met die naam Febe, ’n lid van die nabygeleë gemeente in Kenchreë, wat na Rome gereis het. (Lees verse 1, 2.) Let op hoe hartlik beveel hy haar by die broers in Rome aan. Op die een of ander manier het sy baie Christene, met inbegrip van Paulus, beskerm, miskien gedurende hulle reise via die besige seehawe van Kenchreë. As ’n onvolmaakte sondares het Febe, soos alle ander mense, ongetwyfeld haar swakhede gehad. Maar in plaas van die gemeente in Rome teen Febe se tekortkominge te waarsku, het Paulus hulle aangesê om “haar [te] ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam”. Wat ’n mooi, positiewe gesindheid!
14. Watter vriendelike dinge het Paulus oor Priscilla en Aquila gesê?
14 Van vers 3 tot vers 15 stuur Paulus groete aan meer as 20 Christene wat hy by name noem, en aan talle ander wat hy individueel of gesamentlik meld. (Lees verse 3, 4.) Kan jy die broederlike geneentheid aanvoel wat Paulus vir Priscilla en Aquila gehad het? Hierdie egpaar het hulle ter wille van Paulus aan gevare blootgestel. Nou het hy hierdie medewerkers met dankbaarheid gegroet en stuur hy ’n dankbetuiging namens die nie-Joodse gemeentes aan hulle. Hoe moes hierdie hartgrondige groete Priscilla en Aquila tog nie aangemoedig het nie!
15. Hoe het Paulus sy edelmoedigheid en nederigheid getoon toe hy Andronicus en Junias gegroet het?
15 Paulus het blykbaar binne ’n jaar of twee na Christus se dood ’n toegewyde Christen geword. Teen die tyd dat hy sy brief aan die Romeine geskryf het, is hy al baie jare deur Christus as ’n vooraanstaande apostel vir die nasies gebruik (Handelinge 9:15; Romeine 1:1; 11:13). Let egter op sy edelmoedigheid en nederigheid. (Lees vers 7.) Hy het Andronicus en Junias gegroet as manne “wat in aansien is onder die apostels [gestuurdes]” en het erken dat hulle Christus al langer as hy dien. Geen spoor van kleinsielige jaloesie dáár nie!
16. (a) Met watter liefdevolle uitdrukkings het Paulus van ander Christene in Rome gepraat? (b) Waarom kan ons seker wees dat hierdie begroetinge voorbeelde van “ongeveinsde broederlike geneentheid” was?
16 Ons weet min of niks van vroeë Christene soos Epenetus, Amplias en Stachis nie. (Lees verse 5, 8, 9.) Maar bloot aan die manier waarop Paulus hulle al drie gegroet het, kan ons seker wees dat hulle getroue manne was. Hulle het hulle so bemind by Paulus gemaak dat hy elkeen van hulle “my geliefde” genoem het. Paulus het ook vriendelike woorde vir Apelles en Rufus gehad en het onderskeidelik van hulle as “die beproefde in Christus” en “die uitverkorene in die Here” gepraat. (Lees verse 10, 13.) Watter pragtige komplimente was dit tog nie vir hierdie twee Christene nie! En met die oog op Paulus se rondborstigheid kan ons seker wees dat dit nie net ’n formaliteit was nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 10:18.) Terloops, Paulus het nie vergeet om Rufus se moeder te groet nie.
17. Hoe het Paulus diepe waardering vir sy susters getoon?
17 Dit bring ons by Paulus se waardering vir sy susters. Benewens Rufus se moeder het Paulus nie minder nie as ses ander Christinne gemeld. Ons het reeds gesien met watter vriendelikheid hy van Febe en Priscilla gepraat het. Maar let op met watter hartlike broederlike geneentheid hy Maria, Trifena, Trifosa en Persis groet. (Lees verse 6, 12.) ’n Mens kan aanvoel hoe hierdie hardwerkende susters wat vir hulle broers ‘baie gearbei het’ hom na aan die hart gelê het. Hoe opbouend is dit tog om Paulus se hartgrondige waardering vir sy broers en susters te sien, ondanks hulle onvolmaakthede!
Ons moenie ons broers se beweegredes wantrou nie
18. Hoe kan ons Paulus probeer navolg, maar wat is dalk nodig?
18 Volg Paulus gerus na en probeer om iets moois te vind om van elke broer en suster in die gemeente te sê. Met party sal dit nie moeilik wees nie. Met ander sal ’n mens ’n bietjie moet soek. Bring gerus tyd saam met hulle deur om hulle beter te leer ken. Jy sal ongetwyfeld vind dat hulle innemende eienskappe het en, wie weet, hulle leer dalk om jou meer as voorheen te waardeer.
19. Waarom moet ons nie ons broers se beweegredes wantrou nie, en hoe stel Jehovah vir ons ’n goeie voorbeeld van liefde?
19 Ons moenie ons broers se beweegredes wantrou nie. Hulle almal het Jehovah lief; anders sou hulle nie hulle lewe aan hom toegewy het nie. En wat verhoed dat hulle na die wêreld teruggaan en die gemaksugtige weë daarvan volg? Dit is hulle liefde vir Jehovah, sy geregtigheid en sy Koninkryk onder Christus (Mattheüs 6:33). Maar hulle almal moet, in verskeie opsigte, hard stry om getrou te bly. Jehovah het hulle hiervoor lief (Spreuke 27:11). Hy aanvaar hulle as sy knegte ondanks hulle foute en tekortkominge. Wie is ons, aangesien dit die geval is, om te weier om tere geneentheid teenoor hulle te toon?—Romeine 12:9, 10; 14:4.
20. (a) Wie alleen moet ons volgens Paulus se brief aan die Romeine wantrou, en wie se leiding kan ons gerus in hierdie opsig volg? (b) Hoe moet ons origens al ons broers beskou?
20 Die enigstes wat Paulus ons waarsku om te wantrou is diegene wat “tweedrag en aanstoot veroorsaak”, en diegene wat optree “teen die leer wat julle geleer het”. Paulus sê vir ons dat ons sulke persone in die oog moet hou en moet vermy (Romeine 16:17). Die gemeentelike ouere manne sou hulle probeer help het (Judas 22, 23). Ons kan dus op die ouere manne vertrou om ons in te lig as sekere persone vermy moet word. Origens moet ons al ons broers beskou as persone wat ongeveinsde broederlike geneentheid toekom en moet ons leer om hulle vurig uit die hart lief te hê.
21, 22. (a) Wat lê vir ons voor? (b) Watter situasies sal dalk ontstaan, en wat is dit derhalwe hoog tyd om te doen? (c) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
21 Satan, sy demone en sy hele wêreldstelsel van dinge is teen ons. Armageddon lê vir ons voor. Dit sal ontketen word deur die aanval van Gog van Magog (Esegiël, hoofstukke 38, 39). Op daardie tydstip sal ons ons broers meer as ooit tevore nodig hê. Ons sal dalk die hulp nodig hê van die einste persone wat ons nie juis waardeer nie. Of juis hierdie persone het miskien ons hulp broodnodig. Nou is die tyd om verruim te word en ons waardering vir al ons broers te vergroot.
22 Waardering vir ons broers sluit natuurlik gepaste eerbied vir die gemeentelike ouere manne in. In hierdie opsig moet die ouere manne self goeie voorbeelde wees deur gepaste waardering nie net vir al die broers te toon nie, maar ook vir hulle mede- ouere manne. Hierdie aspek van die onderwerp sal in die volgende artikel bespreek word.
Gedagtes ter hersiening
◻ Wat is die kenmerk van ware Christelikheid?
◻ Waarom is liefde sowel as broederlike geneentheid nodig?
◻ Hoe kan ons mekaar “vurig”, of “uitgestrek”, liefhê?
◻ Hoe het Paulus in Romeine hoofstuk 16 waardering vir sy broers en susters getoon?
◻ Waarom moet ons nie ons broers se beweegredes wantrou nie?
[Prent op bladsy 12]
Probeer om innemende eienskappe in diegene te vind tot wie jy jou nie van nature aangetrokke voel nie