Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 10/15 bl. 10-15
  • “Dit is die dag der dae”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Dit is die dag der dae”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vier perderuiters
  • Die meting van die tempel
  • Die klein boekrol
  • “Beskryf die tempel”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
  • Glanspunte uit die boek Esegiël—II
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • “Rig jou hart op” God se tempel!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 10/15 bl. 10-15

“Dit is die dag der dae”

“Ek was in die Gees op die dag van die Here.”—OPENBARING 1:10.

1. In watter “dag” lewe ons, en waarom is hierdie feit so opwindend?

“DIT is die dag der dae. Kyk, die Koning heers!” Hierdie dramatiese woorde wet in 1922 deur die tweede president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap geuiter is, maak ons vandag nog opgewonde. Hulle herinner ons steeds daaraan dat ons in die opwindendste tyd van die ganse geskiedenis lewe, die tyd wat in die Bybel “die dag van die Here” genoem word (Openbaring 1:10). Dit is inderdaad “die dag der dae”, want dit is die tyd wanneer Jehovah, deur Christus se Koninkryk, al Sy groot voornemens ten uitvoer sal bring en Sy heilige naam voor die ganse skepping sal heilig.

2, 3. (a) Hoe lank duur die dag van die Here? (b) Waar kan ons inligting aangaande hierdie dag vind?

2 Hierdie dag het in 1914 begin toe Jesus as Koning van God se Koninkryk gekroon is. En dit sal voortduur tot en met die einde van die Duisendjarige Heerskappy, wanneer Christus ‘die koninkryk aan God die Vader sal oorgee’ (1 Korinthiërs 15:24). Getroue Christene sien al eeue lank na die dag van die Here uit. Nou het dit uiteindelik aangebreek! Wat het hierdie “dag der dae” vir God se volk en vir die wêreld in die algemeen beteken?

3 Die Bybelboek wat ons die meeste van die dag van die Here vertel, is Openbaring. Byna al die profesieë van hierdie boek word gedurende die dag van die Here vervul. Maar Openbaring is bloot die klimaks van ’n reeks profetiese boeke wat ons van daardie dag vertel. Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël, onder andere, vertel ons ook daarvan. Wat hulle sê, help ons dikwels om die profesieë in Openbaring beter te verstaan. Kom ons kyk hoe die boek Esegiël in die besonder lig werp op die vervulling van Openbaring gedurende die dag van die Here.

Die vier perderuiters

4. Wat het volgens Openbaring hoofstuk 6 aan die begin van die dag van die Here gebeur?

4 In die sesde hoofstuk van Openbaring beskryf die apostel Johannes byvoorbeeld ’n dramatiese visioen: “Ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Openbaring 6:2). Wie is hierdie seëvierende perderuiter? Niemand anders nie as Jesus Christus, wat as Koning van God se Koninkryk gekroon is en ry om sy vyande te oorwin (Psalm 45:4-7; 110:2). Jesus se triomfantlike rit het reeds in 1914, reg aan die begin van die dag van die Here, begin (Psalm 2:6). Sy heel eerste oorwinning was toe hy Satan en sy demone na die aarde neergewerp het. Wat het dit vir die mensdom meegebring? “Wee die bewoners van die aarde en die see.”—Openbaring 12:7-12.

5. Watter skrikwekkende gedaantes volg die Ruiter op die wit perd, en watter mag het elke gedaante?

5 Daar volg drie skrikwekkende gedaantes in die visioen: ’n vuurrooi perd wat oorlog simboliseer, ’n swart perd wat hongersnood simboliseer en ’n vaal perd waarvan die ruiter se naam “die dood” is. Ons lees van hierdie vierde perd: “Ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk [“Hades”, NW] het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”—Openbaring 6:3-8; Mattheüs 24:3, 7, 8; Lukas 21:10, 11.

6. Watter uitwerking het hierdie drie skrikwekkende perde en ruiters op die aarde gehad?

6 In ooreenstemming met die profesie het die mensdorn sedert 1914 verskriklik weens oorlog, hongersnood en siekte gely. Maar die vierde perderuiter maak ook dood deur middel van “die wilde diere van die aarde”. Was dit sedert 1914 ’n belangrike aspek? ’n Ondersoek van ’n soortgelyke profesie deur Esegiël help ons om hierdie aspek van die profesie in perspektief te bring.

7. (a) Watter profesie het Esegiël aangaande Jerusalem uitgespreek? (b) Hoe is hierdie profesie vervul?

7 In ’n profesie wat Esegiël ongeveer vyf jaar voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. opgeteken het, het hy ’n verskriklike straf vir die Jode voorspel weens hulle ontrouheid. Hy het onder inspirasie geskryf: “Hoeveel te meer as Ek my vier kwaai gerigte, swaard en hongersnood en wilde diere en pes, op Jerusalem afstuur om daaruit mens en dier uit te roei!” (Esegiël 14:21; 5:17). Is dit destyds letterlik vervul? Jerusalem het ongetwyfeld weens hongersnood en oorlogvoering gely namate sy einde nader gekom het. En hongersnood veroorsaak gewoonlik siekte (2 Kronieke 36:1-3, 6, 13, 17-21; Jeremia 52:4-7; Klaagliedere 4:9, 10). Was daar ook destyds ’n letterlike plaag wilde diere? Waarskynlik was daar gevalle waar mense deur wilde diere weggesleep of selfs doodgemaak is, aangesien Jeremia dit ook voorspel het.—Levitikus 26:22-33; Jeremia 15:2, 3.

8. Watter rol het wilde diere tot in hierdie stadium van die dag van die Here gespeel?

8 Wat van vandag? In die ontwikkelde lande is wilde diere nie die gevaarlike probleem wat hulle vroeër was nie. Maar in ander lande word mense steeds die slagoffers van wilde diere, veral as ons slange en krokodille by “die wilde diere van die aarde” insluit. Sulke tragiese sterfgevalle word selde in die internasionale pers gemeld, maar hulle is belangrik. Die boek Planet Earth—Flood sê dat talle mense in Indië en Pakistan wat voor oorstromings uit gevlug het “in pyn gesterf het nadat hulle deur giftige slange gepik is”. In India Today was daar ’n berig oor een dorp in Wes-Bengale waar ongeveer 60 vrouens hulle mans weens tieraanvalle verloor het. Dalk sal sulke tragedies in die toekoms selfs algemener voorkom namate die mensegemeenskap verbrokkel en hongersnood toeneem.

9. Watter ander soort “dier” het in hierdie eeu verwoesting en lyding onder die mensdom veroorsaak?

9 Maar Esegiël het op ’n ander soort “dier” gesinspeel toe hy gesê het: “’n Sameswering van sy profete is in hom, soos ’n leeu wat brul, wat prooi verskeur; hulle eet die siele op . . . Sy vorste is in hom soos wolwe wat prooi verskeur” (Esegiël 22:25, 27). Mense kan dus ook soos diere optree, en hoe het die mensdom tog nie in ons eeu weens sulke roofdiere gely nie! Talle is deur dierlike misdadigers en terroriste om die lewe gebring. Ja, die dood het op meer as een manier ’n ryk oes van slagoffers van “die wilde diere van die aarde” geëis.

10. Wat leer ons uit die feit dat Johannes oorlog, hongersnood, siekte en wilde diere as doodsoorsake opnoem?

10 Die feit dat oorlog, hongersnood, siekte en wilde diere in Johannes se visioen gemeld word, help ons om te sien dat die lyding wat Jerusalem in 607 v.G.J. deurgemaak het talle parallelle in ons tyd sou hê. Die dag van die Here het dus reeds lyding vir die wêreld beteken, hoofsaaklik omdat die mensdom se heersers geweier het om hulle aan daardie eerste Perderuiter, die gekroonde Koning, Jesus Christus, te onderwerp (Psalm 2:1-3). Maar wat van God se volk? Wat het die dag van die Here vir hulle beteken?

Die meting van die tempel

11. Wat is Johannes in Openbaring 11:1 beveel om te doen, en met betrekking tot watter tempel?

11 In Openbaring 11:1 sê die apostel Johannes: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel [ “tempelheiligdom”, NW] van God en die altaar en die wat daarin aanbid.” Hierdie visioenêre meting van die tempel was baie betekenisvol vir God se volk. Watter tempelheiligdom het Johannes gemeet? Nie die letterlike Joodse tempel waar Johannes aanbid het voordat hy ’n Christen geword het nie. Daardie tempel is deur Jehovah verwerp, en dit is in 70 G.J. vernietig (Mattheüs 23:37–24:2). Dit was eerder Jehovah se groot geestelike tempelreëling. In hierdie figuurlike tempel dien gesalfde Christene as onderpriesters in die aardse voorhof.—Hebreërs 9:11, 12, 24; 10:19-22; Openbaring 5:10.

12. Wanneer het daardie tempel in aansyn gekom, en watter ontwikkelinge in verband daarmee het in die eerste eeu plaasgevind?

12 Daardie tempel het in 29 G.J. in aansyn gekom toe Jesus as hoëpriester gesalf is (Hebreërs 3:1; 10:5). Dit sou 144 000 onderpriesters hê, en baie van hulle is in die eerste eeu gekies en verseël en het toe getrou gesterf (Openbaring 7:4; 14:1). Maar toe daardie eerste-eeuse Christene gesterf het, het hulle in die graf geslaap en is hulle nie onmiddellik na die hemel opgewek nie (1 Thessalonicense 4:15). Bowendien het ’n groot afval na die eerste eeu begin, en die priesterlike gesalfde Christene is deur florerende “onkruid”, afvalliges, omring (Mattheüs 13:24-30). Daar is heel moontlik deur die eeue sedertdien gevra: ‘Sal al 144 000 onderpriesters ooit verseël word?’ ‘Sal dié wat getrou gesterf het ooit opgewek word om in die hemelse heiligdom te dien?’ Die visioenêre meting van die tempel het getoon dat die antwoord op elk van hierdie vrae ja is. Waarom?

13. Waarvan was Johannes se meting van die tempelheiligdom ’n waarborg, en wat het vroeg in die dag van die Here gebeur?

13 Omdat die meting van iets in Bybelprofesieë gewoonlik aandui dat Jehovah se voorneme daarmee gewis en deeglik uitgevoer sal word (2 Konings 21:13; Jeremia 31:39; Klaagliedere 2:8). Johannes se visioenêre meting van die tempelheiligdom was dus ’n waarborg dat al Jehovah se voornemens aangaande die tempel gedurende die dag van die Here vervul sou word. In ooreenstemming hiermee en volgens al die getuienis is die gesalfdes wat reeds getrou gesterf het vanaf 1918 na hulle beloofde plek in die hemelse heiligdom opgewek (1 Thessalonicense 4:16; Openbaring 6:9-11). Maar wat van die res van die 144 000?

14. Wat het voor en gedurende die Eerste Wêreldoorlog met gesalfde Christene gebeur?

14 Selfs voordat die dag van die Here begin het, het gesalfde Christene wat die afvallige Christendom verlaat het in ’n afsonderlike organisasie byeen begin kom. Hulle het ’n voortreflike reputasie van getrouheid opgebou deur die belangrikheid van die jaar 1914 aan te kondig, maar in daardie beslissende jaar, toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, is daar begin om hulle te verdruk, te “vertrap”. Dit het in 1918 ’n klimaks bereik toe die direkteure van die Wagtoringgenootskap opgesluit is en die georganiseerde predikingswerk byna tot stilstand gekom het. Op daardie tydstip is hulle feitlik ‘doodgemaak’ (Openbaring 11:2-7). Wat het die meting van die tempelheiligdom vir hierdie Christene beteken?

15. Wat het die meting van ’n visioenêre tempel vir God se volk van Esegiël se dag beteken?

15 In 593 v.G.J., 14 jaar nadat Jehovah se tempel in Jerusalem vernietig is, het Esegiël ’n visioenêre huis van Jehovah gesien. Hy is op ’n omvattende toer van hierdie tempel geneem en het toegekyk terwyl elke deel daarvan sorgvuldig gemeet is (Esegiël, hoofstukke 40–42). Wat het dit beteken? Jehovah het self verduidelik: Die meting van die tempel het ’n toets vir Esegiël se volk beteken. As hulle hul sou verneder, oor hulle sondes berou sou hê en Jehovah se wette sou nakom, sou die afmetinge van die tempel aan hulle meegedeel word. Dit sou klaarblyklik hulle hoop versterk dat Jehovah se volk eendag uit Babilon bevry sou word en Jehovah weer eens in sy letterlike tempel sou aanbid.—Esegiël 43:10, 11.

16. (a) Waarvan het die feit dat Johannes die tempelheiligdom gemeet het God se volk in 1918 verseker? (b) Hoe is dit vervul?

16 As daardie ontmoedigde Christene in 1918 hulle eweneens sou verneder en berou sou hê oor enige sondes wat hulle gedoen het, sou hulle bevry word om Jehovah se seën te geniet en ’n volle aandeel in sy tempelreëling te hê. En dit is wat gebeur het. Volgens Openbaring 11:11 het hulle ‘opgestaan’, of is hulle figuurlik opgewek. ’n Verwante opstandingsvisioen in Esegiël het voorspel dat die Jode in hulle eie land herstel sou word (Esegiël 37:1-14). Hierdie hedendaagse ‘opstanding’ was ’n herstel van God se volk uit hulle ontmoedigde, byna onbedrywige toestand, tot ’n lewende toestand waarin hulle ’n volle aandeel in Jehovah se diens kon hê. So ’n ‘opstanding’ het in 1919 plaasgevind.

Die klein boekrol

17. (a) Beskryf Johannes se visioen in Openbaring 10:1. (b) Wie was die engel wat deur Johannes gesien is, en gedurende watter dag sou die visioen vervul word?

17 In Openbaring 10:1 het Johannes ’n “sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met ’n wolk, en ’n reenboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur”. Dit stem in sekere mate ooreen met visioene van Jehovah wat Esegiël en Johannes self voorheen gesien het (Esegiël 8:2; Openbaring 4:3). Maar Johannes het hier ’n engel gesien, nie Jehovah nie. Dit moes derhalwe Jehovah se groot engeleseun, Jesus Christus, gewees het, wat ‘die Beeld van die onsienlike God is’ (Kolossense 1:15). Bowendien beeld Openbaring 10:2 (NW) Jesus uit waar hy in ’n posisie van groot gesag staan, met ‘sy regtervoet op die see, maar sy linkervoet op die aarde’. Die engel stel dus Jesus gedurende die dag van die Here voor.—Kyk Psalm 8:5-9; Hebreërs 2:5-9.

18. (a) Wat is Johannes beveel om te eet? (b) Wat is Esegiël in ’n soortgelyke visioen beveel om te eet, en met watter gevolg?

18 In hierdie luisterryke visioenêre gestalte het Jesus ’n klein boekrol in sy hand, en Johannes word beveel om die boekrol te neem en dit te eet (Openbaring 10:8, 9, vgl. NW). Sodoende het Johannes ’n ondervinding soortgelyk aan dié van Esegiël, wat ook beveel is om ’n visioenêre boekrol te eet. In Esegiël se geval het Jehovah self die boekrol vir die profeet gegee, en Esegiël het gesien dat ‘klaagliedere en gesug en wee daarop geskrywe was’ (Esegiël 2:8-10). Esegiël vertel: “Ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet” (Esegiël 3:3). Wat het die eet van die boekrol vir Esegiël beteken?

19. (a) Wat is voorgestel deur die feit dat Esegiël die boekrol geëet het? (b) Wie sou die bitter boodskappe ontvang wat Esegiël beveel is om te verkondig?

19 Die boekrol het ongetwyfeld geïnspireerde profetiese inligting bevat. Toe Esegiël die boekrol geëet het, het hy die opdrag aanvaar om hierdie inligting dermate te verkondig dat dit ’n deel van hom geword het. (Vergelyk Jeremia 15:16.) Maar die inhoud van die boekrol was nie vir ander soet nie. Die boekrol was vol “klaagliedere en gesug en wee”. Vir wie was hierdie bitter boodskap? Esegiël is ten eerste beveel: “Mensekind, kom, gaan na die huis van Israel, en spreek hulle aan met my woorde” (Esegiël 3:4). Later het Esegiël se boodskap uitgebrei om die nie-Joodse nasies in die omtrek in te sluit.—Esegiël, hoofstukke 25–32.

20. Wat het gebeur toe Johannes die klein boekrol geëet het, en wat het dit tot gevolg gehad?

20 In Johannes se geval was die gevolge soortgelyk toe hy die boekrol geëet het. Hy sê: “Toe neem ek die [klein boekrol] uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword” (Openbaring 10:10, vgl. NW). Dit was ook vir Johannes soet om die boekrol te eet. Dit was vir hom opwindend dat Jehovah se woord ’n deel van hom geword het. Maar die boodskap het ook bitter geklink. Bitter vir wie? Johannes is beveel: “Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.”—Openbaring 10:11.

21. (a) Wat het gesalfde Christene in 1919 gedoen wat ooreengekom het met die feit dat Johannes die klein boekrol geëet het, en met watter gevolg? (b) Wat was die gevolg vir die Christendom en die wêreld in die algemeen?

21 Hoe is dit alles gedurende die dag van die Here vervul? Volgens die geskiedenisfeite het getroue Christene in 1919 die voorreg van diens aan Jehovah so volkome aangegryp dat dit ’n deel van hulle geword het, en dit was inderdaad soet. Maar hulle seën en voorreg was bitter vir ander—veral vir die geestelikes van die Christendom. Waarom? Omdat hierdie getroue gesalfde Christene moedig Jehovah se hele boodskap vir die mensdom verkondig het. Hulle het nie net die “goeie nuus van die koninkryk” verkondig nie, maar hulle het ook die geestelik dooie toestand van die Christendom en die wêreld in die algemeen onthul.—Mattheüs 24:14, NW; Openbaring 8:1–9:21; 16:1-21.

22. (a) Op watter wonderlike manier het Jehovah die gesalfdes tot dusver gedurende die dag van die Here gebruik? (b) Wat het die dag van die Here vir Satan se wêreld en vir God se volk beteken?

22 Hierdie getroue groep Christene is deur Jehovah gebruik om die laaste lede van die 144 000 vir verseëling in te samel, en hulle het die voortou geneem met die insameling van die groot menigte, wat ’n aardse hoop koester (Openbaring 7:1-4, 9, 10). Hierdie groot menigte speel ’n belangrike rol in Jehovah se voornemens met hierdie aarde, en die verskyning van die groot menigte het groot vreugde in die hemel sowel as op aarde meegebring (Openbaring 7:11-17; Esegiël 9:1-7). Hierdie “dag der dae” het dus reeds lyding vir Satan se wêreld beteken, maar ryk seëninge vir Jehovah se volk. Laat ons nou sien hoe dit steeds die geval sal wees namate die dag van die Here voortduur.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is die dag van die Here?

◻ Watter vernietigende rol speel “die wilde diere van die aarde” gedurende die dag van die Here?

◻ Watter versekering het Jehovah deur middel van Johannes se meting van die tempelheiligdom voorsien?

◻ Wat het die feit dat Johannes die klein boekrol geëet het in 1919 vir die gesalfde oorblyfsel beteken?

◻ Wat het die dag van die Here tot dusver vir God se volk en vir die wêreld in die algemeen beteken?

[Prent op bladsy 13]

Johannes se meting van die tempel het vir die gesalfdes in die dag van die Here vaste waarborge gegee

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel