Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 2/15 bl. 3-4
  • Geregtigheid vir almal—Sal dit ooit kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geregtigheid vir almal—Sal dit ooit kom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Soortgelyke materiaal
  • “Al sy weë is geregtigheid”
    Kom nader aan Jehovah
  • Jehovah het geregtigheid lief
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Sal daar ooit geregtigheid wees?
    Nog onderwerpe
  • Sal God ooit iets omtrent ongeregtigheid doen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 2/15 bl. 3-4

Geregtigheid vir almal—Sal dit ooit kom?

MENSE wat Londen se historiese Old Bailey, die sentrale strafhofgebou, besoek, sien bo-op die gebou ’n standbeeld van ’n vrou wat geregtigheid simboliseer. In die een hand hou sy ’n weegskaal, wat aandui dat getuienis sorgvuldig geweeg sal word. In haar ander hand is daar ’n swaard om die onskuldiges te beskerm en die skuldiges te straf. Op baie ander plekke kan jy weergawes van hierdie simbool sien, en “Geregtigheid” is soms geblinddoek om haar onpartydigheid voor te stel.a

Maar jy vra dalk: ‘Bestaan dit wat sy simboliseer, naamlik geregtigheid vir almal, werklik in enige land?’ In elke land is daar natuurlik wette, sowel as diegene wat dit toepas. En daar is regters en howe. Daar is weliswaar talle beginselvaste mense wat probeer het om menseregte te verdedig en te sorg dat daar gelyke geregtigheid vir almal is. Dit is nietemin duidelik dat die meeste van hulle pogings misluk het. Ons sien, hoor of lees byna daagliks van korrupsie, onregverdighede en onreg.

Beskou die voorbeeld van een vrou wat voor die hof gedaag is. Voordat haar skuld of onskuld bewys is, het die regter haar laat weet dat hy vir die aanklag teen haar sou “sorg” as sy hom by ’n motel sou ontmoet, blykbaar vir ’n ongeoorloofde verhouding. Ja, diegene wat veronderstel is om geregtigheid te waarborg, is dikwels korrup of onbevoeg. Die tydskrif Time het vertel van een staat in die Verenigde State waar drie vyfdes van die hooggeregshofregters van onetiese gedrag beskuldig is nadat hulle ’n mederegter gehelp het.

Wanneer mense bowendien hoor van misdadigers wat gedurig straf vryspring, word baie taamlik sinies en vind hulle dit makliker om self die wet te oortree (Prediker 8:11). ’n Berig uit Nederland lui: “Baie Hollanders blameer politici daarvoor dat hulle permissiwiteit aanmoedig wat misdaad in die hand werk. Ander beskuldig die howe, in die besonder die regters . . . wat aanhou om minimale, soms absurd toegeeflike, vonnisse op te lê.” Maar ons dringende behoefte aan geregtigheid behels meer as die regstelling van die wetstoepassing- en regstelsel.

Jy weet dat daar in die meeste lande ’n ryk minderheid is wat al hoe ryker word, terwyl die arm massa op ekonomiese gebied onreg ly. Hierdie soort onreg kom voor wanneer mense, op grond van hulle velkleur, etniese agtergrond, taal, geslag of godsdiens, min geleentheid het om hulle toestand te verbeter of selfs om hulleself te onderhou. Die gevolg is dat miljoene deur armoede, honger en siekte geteister word. Terwyl baie mense in welvarende lande die voordeel van gevorderde mediese prosedures geniet, is daar ongetelde miljoene wat ly en sterf omdat hulle nie basiese geneesmiddels of selfs skoon water kan bekostig nie. Praat met hulle oor geregtigheid! Vir hulle is onreg ’n lewenswyse, van die wiegie tot die graf.—Prediker 8:9.

En wat van die oënskynlike onregte wat nie deur mense veroorsaak word nie? Dink aan die babas wat met gebreke gebore word—blindheid, vertraging of misvormdheid. Voel ’n vrou dat geregtigheid geskied het as haar baba gebreklik of dood gebore word terwyl ander vroue rondom haar gesonde babas troetel? Soos die volgende bespreking sal toon, sal sulke oënskynlike onregte reggestel word.

Maar onderskryf jy nie op hierdie tydstip die kommentaar in Prediker 1:15 nie? Daar het ’n wyse en ervare koning die volgende erken, uit ’n menslike oogpunt gesien: “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie.”

’n Selfs beroemder man was Jesus Christus. In Lukas 18:1-5 lees ons sy gelykenis van ’n regter “wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie”. Wel, ’n weduwee het by daardie regter bly aandring op die geregtigheid wat haar kragtens die wet toegekom het. Maar Jesus het gesê dat die slegte regter haar net gehelp het omdat haar gepleit vir hom ’n ergernis geword het. Jy kan dus sien dat Jesus geweet het dat onregte gedy. Trouens, hy is later self gemartel en tereggestel op ’n valse aanklag, gewis nog ’n skreiende regsdwaling!

Talle glo dat daar ’n God is wat besorg is oor onreg. Gedurende ’n Mis in een Sentraal-Amerikaanse land het pous Johannes Paulus II gesê: “Wanneer jy ’n mens vertrap, wanneer jy op sy regte inbreuk maak, wanneer jy hom flagrant veronreg, wanneer jy hom aan pyniging onderwerp, inbreek en hom ontvoer of inbreuk maak op sy reg om te lewe, begaan jy ’n misdaad en ’n groot oortreding teenoor God.” Mooi woorde. Maar onregte duur voort. In daardie land teister wanvoeding 8 uit 10 kinders jonger as vyf jaar. Twee persent van die mense besit 80 persent van die beboubare grond.

Is daar dan werklik ’n God wat hom waarlik oor sulke verskriklike onregte bekommer, ’n God wat selfs besorg sal wees oor die onregte wat jou raak? Sal hy ooit sorg dat geregtigheid geskied?

[Voetnoot]

a Ons buitebladfoto is van die Justitia-fontein in Frankfurt am Main, Duitsland. Die standbeeld op hierdie bladsy is op ’n munisipale gebou in Brooklyn, New York, VSA.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel