Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 3/1 bl. 14-15
  • Jehovah ons God is barmhartig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah ons God is barmhartig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Israel se opstandige weg
  • Maai ’n storm!
  • Keer terug na Jehovah
  • Glanspunte uit die boek Hosea
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bybelboek nommer 28—Hosea
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hosea se profesie help ons om met God te wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wandel met God en maai wat goed is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 3/1 bl. 14-15

Lesse uit die Skrif: Hosea 1:1–14:9

Jehovah ons God is barmhartig

JEHOVAH is “’n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Nehemia 9:17). Hy handhaaf sy regverdige standaarde, maar nooi oortreders om berou te toon en ’n goeie verhouding met hom te geniet. Hoe goed is dit tog toegelig deur wat God aan die opstandige Israeliete deur sy profeet Hosea gesê het!

Die profeet Hosea het die Bybelboek wat sy naam dra na sy lang diens van ongeveer 59 jaar (van ongeveer 804 v.G.J. tot na 745 v.G.J.) in die streek Samaria voltooi. Hosea het in die tienstammeryk van Israel geprofeteer in die dae van koning Jerobeam II en Juda se heersers Ussia, Jotam, Agas en Jehiskia (Hosea 1:1). Omdat Israel oproepe tot bekering geïgnoreer het, is die nasie deur die Assiriërs verower, en sy hoofstad, Samaria, is in 740 v.G.J. vernietig. Hoewel Hosea se profesie gerig was aan mense wat eeue gelede gelewe het, bevat dit lesse vir ons oor die barmhartigheid van ons God, Jehovah.

Israel se opstandige weg

Jehovah betoon barmhartigheid op grond van ’n sondaar se hartgrondige berou (Psalm 51:19; Spreuke 28:13). God se bereidwilligheid om barmhartigheid aan Israel te betoon, is toegelig deur Hosea se optrede teenoor sy vrou, Gomer. Hy het, soos by beveel is, “’n hoervrou” geneem. Nadat sy vir Hosea een kind gebaar het, het Gomer blykbaar twee buite-egtelike kinders gebaar. Maar die profeet was barmhartig en het sy vrou teruggeneem. Israel was eweneens soos ’n ontroue vrou teenoor Jehovah deur verkeerdelik seëninge aan die valse god Baäl toe te skryf. Maar Jehovah was bereid om hulle barmhartig te wees as hulle hul van hul geestelike owerspel sou bekeer.—1:1–3:5.

Sondaars wat graag goddelike barmhartigheid wil ontvang, moet hul sondige handelwyse laat vaar en hulle lewens ooreenkomstig die kennis van God verander (Psalm 119:59, 66, 67). Jehovah het ’n regsaak met Israel se inwoners gehad, omdat daar geen trou, liefde en kennis van God in hulle land was nie. Aangesien hulle kennis verwerp het, sou Jehovah hulle verwerp. Afgodsaanbiddende Israel en Juda sou vergelding ontvang. Maar daar is voorspel dat hulle God sou soek wanneer hulle in “nood” verkeer.—4:1–5:15.

Maai ’n storm!

Werke wat by bekering pas, is noodsaaklik as oortreders wil hê dat God hulle barmhartig moet wees (Handelinge 26:20). “Laat ons terugkeer tot die HERE”, het Hosea gepleit. Maar die liefde van Israel (wat Efraim genoem is vanweë sy hoofstam) en Juda was “soos ’n dou wat vroeg weer verdwyn”. Die volk het God se verbond oortree en geen vrugte voortgebring wat by bekering gepas het nie. “Soos ’n onnosele duif sonder verstand”, het hulle hulp van Egipte en Assirië gesoek. Maar hierdie politieke maatreëls sou hulle net so min help soos “’n bedrieglike boog” wat nie pyle na ’n teiken kan skiet nie.—6:1–7:16.

Om goeie dinge te maai, moet diegene wat Jehovah se barmhartigheid soek goeie dinge saai (Galasiërs 6:7, 8). Omdat die Israeliete die goeie verwerp het, het hulle die kwaad gemaai. ‘Hulle het aangehou om wind te saai, maar hulle sou ’n storm maai.’ God sou “besoeking doen oor hulle sondes”, en hulle sou nie sy barmhartigheid nie, maar sy ongunstige oordeel maai. Hulle sou “rondswerwe onder die nasies”, en die Assiriese verowering het waarskynlik tot hierdie situasie bygedra.—8:1–9:17; Deuteronomium 28:64, 65; 2 Konings 15:29; 17:1-6, 22, 23; 18:9-12; 1 Kronieke 5:26.

Slegs as ons heilige dinge voortdurend waardeer, sal ons aanhou baat vind by God se barmhartigheid (Hebreërs 12:14-16). Die Israeliete het nie sulke waardering gehad nie. Pleks van in regverdigheid te saai en ooreenkomstig die liefde te maai, het hulle goddeloosheid ingeploeg en onregverdigheid gemaai. God het Israel as ’n seun uit Egipte geroep, maar Sy liefde is met bedrog beantwoord. “Tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg”, het Jehovah gemaan. Maar Efraim het hom aan growwe oortreding skuldig gemaak en het teregwysing pleks van barmhartigheid verdien.—10:1–12:15, vgl. NW.

Keer terug na Jehovah

Selfs diegene wat ’n ernstige sonde begaan, kan tot Jehovah terugkeer en barmhartigheid ontvang (Psalm 145:8, 9). Hosea meld weer eens God se tere sorg vir die Israeliete. Hoewel die nasie hulle teen Jehovah gedraai het, het hy herstel belowe en gesê: ‘Uit die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood.’ Samaria (Israel) sou ’n prys vir hulle opstandigheid moes betaal. Maar die Israeliete is aangespoor om na God terug te kom met heilsame woorde, ‘as offerdiere die lippe’. Die profesie het afgesluit met die bemoedigende gedagte dat die verstandiges en regverdiges wat in Jehovah se regverdige weë wandel sy barmhartigheid en liefde sal geniet.—13:1–14:10, NW.

Lesse om te onthou: Jehovah betoon barmhartigheid op grond van ’n oortreder se hartgrondige berou. Maar sondaars wat wil hê dat hy hulle barmhartig moet wees, moet hulle lewe in ooreenstemming met die kennis van God verander en werke voortbring wat by bekering pas. Hulle moet saai wat goed is en aanhou om heilige dinge te waardeer. En ons kan bemoedig word uit die wete dat selfs diegene wat ernstige sondes pleeg hoopvol na die Allerhoogste kan terugkeer, want Jehovah ons God is barmhartig.

[Venster op bladsy 14]

BYBELTEKSTE ONDERSOEK

○ 2:20-22—Jisreël beteken “God sal saad saai” (NW). Jehovah sou ’n getroue oorblyfsel bymekaarmaak en hulle soos saad in Juda saai, waar koring, mos en olie sou wees. Hierdie goeie dinge sou die aarde ten behoewe van die behoeftige oorblyfsel versoek om minerale vry te laat vir die koringhalms, die wingerde en die olyfbome. Die aarde sou ’n beroep op die hemele doen vir reën, en hulle sou God versoek om wolke voort te bring wat die nodige reën sou gee.

○ 5:1—Die afvallige priesters en konings van Israel het ’n vangnet en ’n net vir die volk geword deur hulle te verlei om aan valse aanbidding deel te neem. Die berg Tabor (wes van die Jordaan) en Mispa (’n stad oos van daardie rivier) was waarskynlik sentrums van valse aanbidding. Mense het dwarsdeur Israel afgodediens beoefen as gevolg van die slegte voorbeeld van hulle leiers, wat God se ongunstige oordeel sou ontvang.

○ 7:4-8—Owerspelige Israeliete is vergelyk met ’n bakkersoond, waarskynlik as gevolg van die bose begeertes wat in hulle gebrand het. Omdat Efraim (Israel) hulle met die nasies vermeng het deur hulle weë aan te neem en verbonde met hulle te probeer aangaan, was hulle ook soos ’n roosterkoek wat net aan een kant gebak is.

○ 9:10—Die Israeliete het “hulle aan die skandegod toegewy” toe hulle hul op die vlaktes van Moab aan Baäl-Peor gekoppel het (Numeri 25:1-5). Hosea het ’n Hebreeuse werkwoord gebruik wat “om hul af te sonder vir; om hul afgeskeie te hou vir” beteken. Die Israeliete was aan God toegewy, maar het hulleself afgeskei vir Baäl-Peor. Daardie voorval is dalk gemeld omdat die aanbidding van Baäl een van die groot sondes van die tienstammeryk was (Hosea 2:7, 12). Mag ons op hierdie waarskuwing ag slaan en nooit ons toewyding aan Jehovah prysgee nie.—1 Korinthiërs 10:8, 11.

○ 10:5—Bet-Awen (wat “Huis van skandelikheid” beteken) is in ’n neerhalende sin vir Bet-el gebruik, wat “Huis van God” beteken. Bet-el was ’n huis van God, maar het ’n huis van skandelikheid geword vanweë die kalfaanbidding wat daar beoefen is (1 Konings 12:28-30). Toe die kalfafgod in ballingskap weggevoer is, sou die volk daaroor beangs wees. Die lewelose afgod kon homself nie beskerm nie, en nog minder kon diegene wat dit aanbid het.—Psalm 115:4-8.

○ 13:14—Jehovah sou die ongehoorsame Israeliete nie spaar deur hulle gedurende daardie tyd uit die mag van die doderyk te verlos of uit die dood op te wek nie. Hy sou geen medelye betoon nie, want hulle het nie barmhartigheid verdien nie. Maar die apostel Paulus het getoon dat God die dood en sy oorwinning uiteindelik sou vernietig. Jehovah het sy mag om dit te doen, getoon deur Jesus Christus uit die dood en die doderyk op te wek, en het sodoende ’n waarborg gegee dat mense wat in God se geheue is onder Koninkryksheerskappy deur sy Seun opgewek sal word.—Johannes 5:28, 29.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel