Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 5/1 bl. 10-13
  • Jehovah het my as ’n vriend onderskraag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het my as ’n vriend onderskraag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek ervaar God se vriendskap
  • Ek beantwoord sy vriendskap
  • Hy versaak nooit sy vriende nie
  • Ek vind baat by ’n blywende vriendskap
  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Gee ons geloof wat nie sal kwyn”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 5/1 bl. 10-13

Jehovah het my as ’n vriend onderskraag

Soos vertel deur Maria Hombach

AS ’N sesjarige dogtertjie het ek die pragtige Duitse volksliedjie op skool geleer: “Weet jy hoeveel sterre daar in die blou lug is? . . . God, die Heer, het almal getel, nie ’n enkele een word vermis nie . . . Ken jou ook en het jou innig lief.” (Uit Duits vertaal.) Ek het dit een dag gesing toe my moeder sê: “Hy ken jou en het jou ook lief.” Van daardie oomblik af het God soos ’n vriend vir my geword. Ek het besluit om sy liefde te beantwoord. Dit was voor die Eerste Wêreldoorlog toe ons in Bad Ems aan die Lahnrivier gewoon het.

Sewentien jaar later het ek gedurende ’n vakansie in 1924 ’n meisie van my ouderdom ontmoet. Sy was een van die Bybelstudente, vandag bekend as Jehovah se Getuies. Ons het vier weke lank oor godsdiens gestry. Toe het die “hel” ter sprake gekom. “Jy sal nie ’n lewende kat in ’n warm oond sit nie, sal jy?” het sy gevra. Dit het my soos ’n weerligstraal getref, en ek het besef dat ek skandelik bedrieg is. Nou kon ek alles omtrent God leer—watter soort God hy werklik is, trouens, alles wat ek van kleins af van hom wou weet!

Dit het vir my gevoel of ek “’n skat wat verborge is in die saailand” ontdek het (Mattheüs 13:44). Terug by die huis het ek my geesdriftig na die bure gehaas, aangesien my hart gebrand het om ander te vertel van die nuwe dinge wat ek geleer het. Kort daarna het ek na die dorp Sindelfingen in die suide van Duitsland verhuis, waar ’n groep van omtrent 20 Bybelstudente gewoon het. Ek het ywerig saam met hulle aan hierdie nuwe evangelisasiewerk van huis tot huis deelgeneem.

In 1929 het ek tydens ’n toespraak van ’n broer wat ’n reisende bedienaar was, vir die eerste keer van pionierdiens gehoor. Hy het gevra wie gewillig sou wees om ’n pionier te word. Ek het my hand spontaan opgesteek. Daar het geen twyfel by my bestaan nie. “Hier is ek, stuur my”, het my hart gesê.—Jesaja 6:8.

Ek het uit my kantoorbetrekking bedank en op 1 Oktober 1929 die spesiale pionierdiens, soos dit vandag genoem word, in suidwestelike Duitsland betree. Ons het die saad van waarheid in gedrukte vorm vinnig en oorvloedig in Limburg, in Bonn, op die internasionale vragskepe in Keulen se hawe en in ander gebiede gesaai.—Prediker 11:1.

Ek ervaar God se vriendskap

Toe Adolf Hitler in 1933 sy diktatorskap in Duitsland tot stand gebring het, moes ek die pionierdiens laat vaar en na Bad Ems terugkeer. Die owerheid het weldra uitgevind dat ek nie tydens die verkiesing gestem het nie. Twee dae later het ’n paar konstabels my kamer kom deursoek. Eenkant in ’n hoek het die snippermandjie gestaan waarin ek ’n oomblik tevore al my adresse van mede-Getuies gegooi het. Daar was nie tyd om dit leeg te maak nie! Die konstabels het alles deursoek—behalwe hierdie mandjie.

Ek het dit inderdaad waardeer dat my suster Anna intussen ook vriendskap met die ware God aanvaar het! Ons het in 1934 saam na die dorp Freudenstadt verhuis en versigtig begin om Bybellektuur daar te versprei. Eenkeer het ons dit tydens ’n vakansie reggekry om ’n blitsbesoek per trein aan ons tuisdorp Bad Ems te bring waar ons gou ’n hele kartondoos met 240 brosjures versprei en toe verdwyn het. Omdat die Gestapo ons in Freudenstadt nie met rus wou laat nie, het ons na ’n ander stad verhuis en in 1936 is ons na Stuttgart. Daar het ek met ons ondergrondse administrasie in aanraking gekom—en dadelik is ek “werk” gegee om te doen. Ek het gereeld prentposkaarte met groete ontvang. Dit was in werklikheid verborge boodskappe. My werk was om hulle na ’n geheime plek in die stad te neem. Om hierdie bedrywigheid nie in gevaar te stel nie, is ek aangesê om geen lektuur te versprei nie. Alles het vlot verloop tot Augustus 1938.

Op ’n dag het ek ’n poskaart ontvang waarin ek gesê is om ’n sekere aand voor ’n bekende kerk te staan. Daar sou ek verdere inligting ontvang. Ek het na die ontmoetingsplek gegaan. Dit was stikdonker. ’n Man het homself as Julius Riffel voorgestel. Ek het geweet dat dit die naam is van ’n getroue broer wat ondergronds werk. Hy het my haastig vertel om op ’n sekere dag na Bad Ems te reis sodat ek iemand kon ontmoet. Hy het vinnig verdwyn.

Op die perron in Bad Ems het net die Gestapo egter op my gewag. Wat het verkeerd geloop? Die man voor die kerk—in werklikheid ’n voormalige broer van Dresden, Hans Müller, wat alles omtrent die ondergrondse werk in Duitsland geweet en met die Gestapo begin saamwerk het—het vir my ’n strik gestel. Maar dit het nie gewerk nie. Kort tevore het my moeder my laat weet dat sy ’n ligte beroerte-aanval gehad het en in antwoord daarop het ek belowe om haar op ’n sekere dag in Bad Ems te besoek. Dit het gelukkig met die “opdrag” saamgeval en ons briewe het met my latere geregtelike verhoor ’n alibi verskaf. Tot my verbasing is ek vrygespreek. Ja, in Februarie 1939, na vyf en ’n half maande in aanhouding, was ek weer vry!

Ek beantwoord sy vriendskap

Ek was natuurlik nie van plan om onaktief te bly nie, veral omdat die meeste van die broers in konsentrasiekampe gely of elders in aanhouding was.

Nadat die verantwoordelike Duitse broers met die hulp van Müller in hegtenis geneem is, het Ludwig Cyranek die verspreiding van geestelike voedsel oorgeneem. Hierdie broer, ’n voormalige Bethelwerker in Magdeburg, is kort tevore uit die tronk vrygelaat en het my in Bad Ems besoek. “Kom, Maria! Laat ons aanhou werk”, het hy gesê. Hy het my teruggebring na Stuttgart waar ek ’n sekulêre betrekking gekry het. My regte werk het egter in Maart 1939 begin en was die verspreiding van tasse vol afgerolde eksemplare van Die Wagtoring in Stuttgart en omgewing. Ander Getuies het moedig aan die werk deelgeneem.

Intussen het Broer Cyranek die hele land behalwe die noordoostelike deel gedek. Aangesien die Getuies se wonings dopgehou is, moes hy met groot versigtigheid te werk gaan en het hy partymaal selfs in die woude geslaap. Hy het van tyd tot tyd met ’n sneltrein na Stuttgart gekom, waar hy spesiale verslae omtrent ons situasie in Duitsland aan my gedikteer het. Ek het gewone briewe geskryf en hierdie boodskappe met geheim-ink tussen die reëls geplaas en hulle dan, via ’n skuiladres, na die Nederlandse Bethel gestuur.

Ongelukkig het ’n tweede broer ’n verraaier geword in die hoop dat hy opsluiting sou vryspring. ’n Jaar later het hy na die Gestapo gegaan en die groepe in Stuttgart en elders verraai. Ons is op 6 Februarie 1940 gearresteer. Ludwig Cyranek het na Müller se woonstel in Dresden gegaan—hy het gedink dat Müller steeds ’n mede-Getuie was—en is daar gevang. Broer Cyranek is later ter dood veroordeel en op 3 Julie 1941 onthoof.a

Ons vyande het nou geglo dat hulle al ons bedrywighede in Duitsland stopgesit het. Maar reëlings was alreeds getref om te verseker dat die water van waarheid aanhou vloei, al was dit tot ’n straaltjie verminder. Die groep in Holzgerlingen het byvoorbeeld daarin geslaag om tot aan die einde van die oorlog in 1945 aktief te bly.

Hy versaak nooit sy vriende nie

Ek en Anna is saam met ander getroue susters na die tronk in Stuttgart gestuur. Ek kon dikwels hoor hoe gevangenes geslaan word. Eensame opsluiting met niks om te doen nie is ’n verskriklike ondervinding. Maar omdat ons nooit ’n Christenvergadering oorgeslaan het nie en nog jonk was, kon ons amper al die Wagtoring-artikels herroep. Gevolglik het ons geloof sterk gebly en kon ons volhard.

Eendag het twee Gestapo-manne van Dresden my en my medegevangene, Gertrud Pfisterer (nou Wulle), vir uitkenning kom haal. Gevangenes is gewoonlik net toegelaat om op stadige treine, wat dae geneem het, te reis. Maar vir ons is ’n hele kompartement op ’n sneltrein bespreek, al was die trein oorvol. “Julle is te belangrik vir ons. Ons wil julle nie verloor nie”, het die offisiere verduidelik.

In Dresden het die Gestapo my met ’n derde verraaier uit ons geledere gekonfronteer. Ek het aangevoel dat iets verkeerd was en het dus stilgebly en hom nie eers gegroet nie. Toe word ek van aangesig tot aangesig met ’n lang, fris man in soldate-uniform gebring: die verraaier Müller, wat ek voor die kerk ontmoet het. Ek het die vertrek sonder ’n woord verlaat. Die Gestapo het niks uit my gekry nie.

Sake het vir elkeen van hierdie verraaiers sleg verloop. Soos die Nazi’s gesê het, hulle het van die verraad gehou, maar nie van die verraaier nie. Al drie is na die oostelike front gestuur en het nooit teruggekom nie. Hoe anders het sake tog nie verloop vir diegene wat nooit hul vriendskap met God en sy volk prysgegee het nie! Baie van die lojales, onder hulle Erich Frost en Konrad Franke wat soveel om die Here se ontwil gely en later takopsieners in Duitsland geword het, het lewend uit die vuuroond van vervolging teruggekeer.b

Die Gestapo in Stuttgart—baie trots op hul “vangs”—het in Mei 1940 hul kollegas in Dresden gevra om ons terug te stuur. Ons hofsake sou in Suid-Duitsland verhoor word. Maar die Gestapo in die noorde en in die suide het blykbaar nie op goeie voet met mekaar verkeer nie, en gevolglik het die Dresden-kantoor geweier, waarna dié van Stuttgart ons persoonlik kom haal het. Wat nou? Die rit na die stasie het ’n aangename uitstappie langs die Elberivier geword; ons het so lank nie groen bome en blou lug gesien nie, omdat ons in selle was. Soos tevore is ’n hele treinkompartement vir ons alleen bespreek en is ons selfs toegelaat om Koninkryksliedere te sing. Toe ons moes oorstap, het ons ’n maaltyd in die stasierestaurant ontvang. Dink net, die oggend het ons net ’n stukkie droë brood gehad en nou dit!

My hofsaak is op 17 September 1940 in Stuttgart verhoor. Omdat ek Ludwig Cyranek se briewe geskryf en aangestuur het, is mense in die buiteland omtrent ons ondergrondse aktiwiteite en vervolging ingelig. Dit was hoogverraad en strafbaar met die dood. Dit het derhalwe soos ’n wonderwerk gelyk toe ek, die hoofverweerder in Stuttgart, net tot drie en ’n half jaar se eensame opsluiting gevonnis is! ’n Gestapo-amptenaar genaamd Schlipf, wat ons goedgesind was en deur sy gewete gekwel is, het klaarblyklik sy invloed gebruik. Hy het eenkeer gesê dat hy vanweë ons “meisies” nie meer kon slaap nie. In Dresden sou ek nie so lig daarvan afgekom het nie.

Ek vind baat by ’n blywende vriendskap

Alhoewel die kos in die tronk nie so sleg was soos dié in die konsentrasiekampe nie, het ek baie gewig verloor en was ek uiteindelik net vel en been. Die jare 1940 tot 1942 het verbygegaan en ek het dikwels gedink: “Wanneer jou vonnis verstryk het, sal hulle jou in ’n konsentrasiekamp sit waar jy die geselskap van jou susters sal hê en nie meer alleen sal wees nie.” Min het ek geweet.

Die bewaarders was totaal verstom toe ’n aansoek van my Katolieke ouers om my vrylating toegestaan is. (Ek het herhaaldelik geweier om so ’n persoonlike versoek te rig.) Terwyl medegelowiges in konsentrasiekampe gegooi is, het ek—wat vir hoogverraad gevonnis is en geen vergelyk aangegaan het nie—so lig daarvan afgekom. Ek was gevolglik in 1943 weer vry en kon dus deur uiters versigtig te werk te gaan teokratiese lektuur in Holzgerlingen kry. Nadat ek afskrifte daarvan gemaak het, het ek dit tussen die wande van ’n thermosfles vol koffie weggesteek en dit na broers geneem wat langs die Rynrivier en in die Westerwald-deel van Duitsland gewoon het. Van toe af tot aan die einde van die oorlog kon ek ongestoord werk. Ek het later verneem dat vriendelike polisieamptenare wat aanklagte teen ons ontvang het dit nie na die Gestapo aangestuur het nie.

En na 1945? Ek het die begeerte gehad om so gou moontlik weer die pionierdiens te betree. Heeltemal onverwags is die beste uitnodiging wat ek ooit ontvang het aan my gerig. Ek het nie in my wildste drome gedink dat ek genooi sou word om by die Bethel in Wiesbaden te werk nie!

En sedert 1 Maart 1946 is ek hier in Bethel (nou in Selters/Taunus). Ek het die genoeë gehad om baie jare lank in ’n kantoor onder die toesig van die voormalige takopsiener, Konrad Franke, te werk. Ek het ook met vreugde in ander afdelings, byvoorbeeld die wassery, gewerk. Selfs vandag, op die ouderdom van 87, help ek ’n paar uur per week daar handdoeke opvou. As jy al ons Bethel besoek het, het ons mekaar dalk gesien.

Met die verloop van tyd het ek die voorreg gehad om talle mense, my moeder en ’n ander vleeslike suster inkluis, te help om die waarheid te aanvaar. Ek het gevind dat Moeder se woorde: “Hy ken jou en het jou ook lief”, asook die psalmis se woorde: “Hy sal jou onderskraag” waar is (Psalm 55:22, NW). Wat’n vreugde is dit tog om Jehovah lief te hê terwyl hy my as ’n vriend onderskraag!

[Voetnote]

a Kyk 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 179, 180.

b Kyk Die Wagtoring, 1 Augustus 1961, bladsye 352-357 en The Watchtower, 15 Maart 1963, bladsye 180-183.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel