Lesse uit die Skrif: Miga 1:1–7:20
Jehovah se geregtigheid en naam word verheerlik
DIE profeet Miga het in die agtste eeu v.G.J. gelewe, ’n tyd van afgodediens en ongeregtigheid in Israel en Juda. Toestande in daardie tyd stem so nou ooreen met dié in ons dag dat Miga se boodskappe en waarskuwings vir ons tyd gepas is. En die positiewe tyding wat hy ook gegee het, verskaf ons ware hoop in ’n wêreld wat deur Satan oorheers word.—1 Johannes 5:19.
Miga se boodskap kan miskien die heel beste in die volgende drie uitdrukkings opgesom word: “Wee die wat . . . kwaad smee.” “Wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en [beskeie] te wandel met jou God?” “Óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.”—Miga 2:1; 6:8, vgl. NW; 4:5.
Afgodediens veroordeel
Jehovah sal oortreders nie vir altyd duld nie. Afgodediens en opstand vier hoogty in Israel en Juda. Jehovah dien gevolglik as ’n getuie teen hulle. Hul beelde sal verbrysel word. Die afgodedienaars sal ‘kaalkop soos ’n aasvoël’ word en sal in ballingskap weggevoer word.—1:1-16.
Jehovah is die God van hoop vir die getroues. Tiranne wat onreg uitdink, word as diewe en rowers veroordeel. Onheil sal hulle tref. Tog word ’n belofte van herstel aan “die oorblyfsel van Israel” gemaak. “[Ek sal] almal bymekaarbring soos skape in ’n kraal”, sê Jehovah.—2:1-13.
Jehovah verwag dat diegene wat verantwoordelike posisies onder sy volk beklee geregtigheid beoefen. Aan die leiers van Israel wat hul gesag misbruik, word gesê: “Betaam dit julle nie om die reg te ken nie? Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hulle gebeente.” Miga, “mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed”, verkondig God se oordele teen hulle. Die onregverdige leiers, sê hy, oordeel vir ’n geskenk, die priesters gee onderrig vir loon, en die profete beoefen waarsêry vir geld. Jerusalem sal dus blote “puinhope” word.—3:1-12.
’n Boodskap van hoop
Ware aanbidding sal aardwyd beoefen word. Miga voorspel dat mense van baie nasies “aan die einde van die dae” in Jehovah se weë onderrig sal word. God sal oordeel, en daar sal nie meer oorlog wees nie. Ware aanbidders ‘sal vir ewig in die naam van Jehovah hulle God wandel’. Sy volk sal ten spyte van ballingskap en pyn uit die hand van hul vyande verlos word.—4:1-13.
Ons kan vertroue hê in God se beloofde Verlosser. ’n Heerser uit Betlehem sal in Jehovah se krag as herder optree. Bevryding van Assur (Assirië) word voorspel. ’n Oorblyfsel van ware aanbidders sal soos verfrissende dou en oorvloedige reënbuie wees, en alle vorme van valse godsdiens en demonisme sal uitgeruk word.—4:14–5:1-14, NW.
Jehovah se geregtigheid sal seëvier
Jehovah verwag dat sy volk aan sy regverdige standaarde sal vashou. Wat het hy gedoen om afskeepaanbidding te verdien? Hy het goeie dinge vir sy volk gedoen. ‘En wat vra Jehovah anders as dat hulle reg doen, liefde betrag en beskeie wandel met hulle God?’ Indien hulle met hul bose geweld en uitbuiting voortgaan, kan hulle net sy ongunstige oordeel verwag.—6:1-16, vgl. NW.
Ons moet op Jehovah se geregtigheid en barmhartigheid vertrou. Selfs gesinslede sal vyande word. Maar Miga sê: “Ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor.” Die profeet vertrou op Jehovah se geregtigheid, in die wete dat God ‘nie toorn vir ewig vashou nie, maar ’n welbehae in goedertierenheid het’.—7:1-20.
Lesse vir vandag: Jehovah verwag dat sy volk geregtigheid beoefen. Met verwysing na sakegebruike kan die Christen hom gevolglik afvra: ‘Sal ek rein kan wees by ’n valse weegskaal en by ’n sak vol bedrieglike gewigte?’ (6:11). In hierdie laaste dae moet al Jehovah se knegte bydra tot die eenheid van sy aardse organisasie en onderrigting in sy weë van vrede aanvaar. Ons behoort alles moontlik te doen om Jehovah se naam te verheerlik en ware aanbidding te bevorder.—2:12; 4:1-4.
[Venster op bladsy 14]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
o 1:16—Kaalhoofdigheid is in Israel met skande, rou en benoudheid vereenselwig (Jesaja 3:24-26; 15:2, 3; Jeremia 47:5). Sommige heidense nasies het die gebruik gehad om hul hoofde kaal te skeer wanneer hulle oor ’n gestorwe familielid rou. Ofskoon natuurlike kaalhoofdigheid nie onder die Wet as onrein beskou is nie, mag die Israeliete nie hulle hoofde geskeer het terwyl hulle gerou het nie, omdat hulle “’n volk heilig aan die HERE” was (Deuteronomium 14:1, 2). Miga het egter vir Israel en Juda gesê om hulle hare af te skeer omdat hul sondige, afgodiese weg hulle onbevoeg gemaak het om ’n heilige volk te wees en hulle en hul nakomelinge gevangenskap laat verdien het. Die Hebreeuse woord wat hier met “aasvoël” vertaal word, verwys moontlik na die grypvoël wat net ’n bietjie sagte wit dons op sy kop het.
o 2:12—Hierdie woorde word vandag met betrekking tot geestelike Israel vervul (Galasiërs 6:16). Veral van 1919 af is die weg vir die gesalfde oorblyfsel geopen sodat hulle aan hul gevangenskap in die godsdiensryk van Babilon die Grote kon ontsnap (Openbaring 18:2). Soos Miga voorspel het, is hulle bymekaar gebring “soos skape in ’n kraal, soos’n kudde in sy weiveld”. Aangesien die “groot menigte” “ander skape” sedert 1935 by hulle aangesluit het, ‘dreun’ hulle inderdaad ‘van mense’—Openbaring 7:9; Johannes 10:16.
o 3:1-3—Hier is ’n verbasende kontras tussen Jehovah, die liefdevolle Herder, en die wrede leiers van sy eertydse volk in Miga se dag. Hulle het gefaal in hulle opdrag om die kudde te beskerm deur geregtigheid te beoefen. Hulle het die figuurlike skape wreed uitgebuit, nie net deur hulle te melk nie, maar ook deur ‘hulle vel af te trek’—soos wolwe. Die bose herders het die volk geregtigheid ontneem en hulle aan “dade van bloedvergieting” onderwerp (3:10, NW). Deur verdraaide uitsprake is die weerloses van hul huise en lewensmiddele beroof.—2:2; vergelyk Esegiël 34:1-5.
o 4:3—Hierdie “baie volke” en “magtige nasies” moet nie met die politieke nasies en regerings geïdentifiseer word nie. Dit is eerder individue uit al die nasies, persone wat van hul nasionalisme wegbreek en hulle tot verenigde diens in Jehovah se berg van ware aanbidding wend (Jesaja 2:2-4). Jehovah ‘oordeel en spreek reg’ op ’n geestelike wyse vir hierdie gelowiges wat hulle aan die kant van God se Koninkryk skaar. Hierdie lede van die “groot menigte” bring hulle lewens in ooreenstemming met goddelike oordele deur van hul swaarde pikke te smee en sodoende in vrede met mede-Getuies van Jehovah te leef.
o 5:1—Betlehem Efrata is moontlik as sodanig geïdentifiseer omdat daar twee dorpe met die naam Betlehem was. Miga identifiseer die een in Juda, net suid van Jerusalem. Die ander dorp was in Sebulon in die noorde (Josua 19:10, 15). “Efrata”, of “Efrat”, is ’n vroeë naam vir die Betlehem in Judea of die omstreke daarvan (Genesis 48:7; Rut 4:11). Sulke gedetailleerde identifisering onderstreep die akkuraatheid van God se profetiese beloftes aangaande die Messias.
o 6:8, vgl. NW—Miga het nie die waarde van die soenoffers gekleineer nie, maar het beklemtoon wat waarlik kosbaar in Jehovah se oë was. (Vergelyk Deuteronomium 10:12.) Die sondaar moes geregtigheid, goedheid en beskeidenheid openbaar sodat die offerandes vir Jehovah aanvaarbaar kon wees. Jehovah verwag vandag dieselfde in ons diens.—1 Korinthiërs 13:4-8.
o 7:4—Die doringstruik en doringheining is plante wat klere kan haak en die vel kan skeur. Miga het hier die morele agteruitgang van die nasie in sy dag beskryf. Hy het dus klaarblyklik bedoel dat selfs die beste onder die weerbarstige Israeliete net soveel skade of pyn soos ’n doringstruik of ’n doringheining kan veroorsaak vir enigeen wat te naby kom.
[Prent op bladsy 15]
Miga het Jesus se geboorteplek voorspel