Vrae van lesers
◼ Is daar ’n minimum ouderdom vir ’n Christenman om as bedieningskneg in die gemeente aanbeveel te word?
Nee, die Bybel gee nie ’n minimum ouderdom aan nie.
In eertydse Israel het God in sommige gevalle ouderdomme gespesifiseer. Manspersone wat vir militêre diens geregistreer is, moes 20 jaar oud wees; blote seuns is nie na die gevegsfront gestuur nie, in teenstelling met wat vandag op sekere plekke die geval is. Ouderdom was ook vir die Leviete ’n faktor. Die Kehatiete wat by die tabernakel gedien het, moes tussen 30 en 50 jaar oud wees. Waarom? Hierdie beperking is gemeld in verband met “die swaar werk” en die “werk van vervoer by die tent van samekoms” (Numeri 4:3, 47, vgl. NW). Die Leviete kon skynbaar voor 25 ligte takies begin doen, maar hulle moes 30 wees voor hulle kon deel hê aan die swaarder werk en verantwoordeliker voorregte soos om die tabernakel af te slaan, te vervoer en op te slaan (Numeri 8:24-26). Sulke harde werk sou nie later by die tempel nodig wees nie, en daarom kon die Leviete toe op die ouderdom van 20 begin dien.—1 Kronieke 23:24.
Maar het Jehovah ’n minimum ouderdom vir bedieningsknegte (diakens) in die Christengemeente vasgestel toe hy opgehou het om vleeslike Israel te gebruik en geestelike Israel begin gebruik het?
’n Mens kan so dink as jy na die verslag van latere eeue kyk. In die Rooms-Katolieke Kerk is ’n diaken “’n geordende leraar, direk onder die rang van priester, in die goddelik ingestelde rangorde in die Kerk”. Bingham se Antiquities of the Christian Church sê: “Dit was gewoonlik ontoelaatbaar om biskoppe en ouderlinge . . . voor dertig te orden; maar diakens kon op vyf-en-twintig, en nie voor dit nie, georden word. Dit is die beperking van die burgerlike sowel as die kerkreg . . . In die hele geskiedenis van die Kerk is daar weinig gevalle waar enigeen voor die ouderdom van vyf-en-twintig georden is.”
Wat is egter die vereistes wat in die Bybel gevind word? Die enigstes wat gegee word, is dié in 1 Timotheüs 3:8-10, 12, 13 (NW): “Bedieningsknegte moet insgelyks ernstig wees, nie dubbeltongig nie, nie oorgegee aan baie wyn nie, nie belus op oneerlike wins nie, en hulle moet die heilige geheim van die geloof met ’n rein gewete behou. Laat hul geskiktheid eers op die proef gestel word en laat hulle daarna, wanneer hulle vry van beskuldiging is, as bedieningsknegte dien. Bedieningsknegte moet manne van een vrou wees wat hulle kinders en hulle eie huise op voortreflike wyse beheer. Want diegene wat op voortreflike wyse dien, verwerf vir hulself ’n voortreflike reputasie en groot vrymoedigheid van spraak in die geloof in verband met Christus Jesus.”
Ons kan sien dat hier nie ’n minimum ouderdom aangegee word vir die aanstelling van ’n bedieningskneg nie. Wanneer die ouere manne dus bymekaarkom om die bevoegdhede van manspersone in die gemeente te bespreek, kan hulle in gedagte hou dat daar geen Bybelse grondslag is vir die vereiste dat ’n Christenman 20, 25 of 30 jaar oud moet wees voor hy aanbeveel kan word en kan dien nie. Die Bybel praat van diegene wat hierdie amp beklee as ‘diegene wat dien’, en daarom kan ons nouliks verwag dat hulle in hul vroeë of middel-tienderjare sal wees. Die Bybel bevestig dit deur te sê dat sulke bedieningsknegte getroud kan wees en kinders kan hê.
Boonop moes manne wat as bedieningsknegte aanbeveel word se “geskiktheid eers op die proef gestel” gewees het en moes hulle bewys het dat hulle ’n verantwoordelikheidsbesef het. Dit beteken nie dat hulle ’n proeftyd deurmaak nie. Hulle moes eerder oor ’n redelike tydperk (ten minste een jaar nadat hulle gedoop is) Christelike rypheid aan die dag gelê het en getoon het dat hulle manne is wat gewillig en in staat is om hulle verantwoordelikhede na te kom. As ’n ‘ernstige’ jong man hierdie eienskappe openbaar en as hy nederig is en aan die ander vereistes voldoen, kan die ouere manne hom vir aanstelling aanbeveel al is hy nog nie 20 jaar oud nie. Ander manne kan baie ouer wees voor hulle duidelik toon dat hulle aan die vereistes voldoen om ‘op voortreflike wyse te dien, waardeur hulle vir hulleself ’n voortreflike reputasie en groot vrymoedigheid van spraak verwerf’.