“Wat moet ek doen om gered te word?”
“WAT moet ek doen om gered te word?” In die jaar 50 G.J. het ’n tronkbewaarder in Filippi, Macedonië, hierdie vraag gestel. ’n Groot aardbewing het pas tevore plaasgevind, en die deure van die tronk waaroor hy toesig gehad het, het almal oopgegaan. Omdat hy aangeneem het dat die gevangenes ontsnap het, het die tronkbewaarder op die punt gestaan om homself om die lewe te bring. Maar een van die gevangenes, die apostel Paulus, het uitgeroep: “Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.”—Handelinge 16:25-30.
Paulus en sy medegevangene, Silas, het na Filippi gekom om ’n boodskap van redding te verkondig, en hulle was in die gevangenis weens valse aantygings wat teen hulle gemaak is. Die tronkbewaarder was dankbaar dat die gevangenes nie ontsnap het nie en wou Paulus en Silas se boodskap hoor. Wat sou hy moes doen om die redding te geniet wat hierdie twee Christensendelinge verkondig het?
Mense het vandag nog die redding nodig wat Paulus en Silas verkondig het. Maar ongelukkig beskou baie die kwessie van redding met groot agterdog. Hulle word afgeskrik deur die verwaandheid en gierigheid van etlike van die dwepers wat beweer dat hulle hul leer hoe om gered te word. Ander deins terug vir die redelose emosionaliteit wat kenmerkend is van talle evangeliese godsdienste wat die idee van redding beklemtoon. Engelse joernalis Philip Howard het gesê dat sulke sogenaamde evangeliste “’n aanval maak op die emosies en die hande wat tjeks uitskryf pleks van op die verstande van hulle gehoor”.—Vergelyk 2 Petrus 2:2.
Nog ander is geskok deur die veranderinge wat soms plaasvind in mense wat glo dat hulle gevoel het hoe hulle “gered” word. In hulle boek Snapping bespreek Flo Conway en Jim Siegelman die baie godsdiensondervindinge—onder meer “redding”—wat in die afgelope paar dekades mode geword het. Hulle skryf omtrent “die donker sy” van sulke ondervindinge en sê dat mense “oombliklik” persoonlikheidsveranderinge ondergaan wat hulle nie die beloofde bevrediging en verligting verskaf nie, maar eerder lei tot illusies, geslote gemoedere en ’n onvermoë om die werklikheid die hoof te bied. Die skrywers voeg by: “Ons kan die proses beskryf as sluiting van die gemoed, as redeloosheid.”
Dit was nie die geval toe eerste-eeuse Christene redding verkry het nie. Die Filippensiese tronkbewaarder het nie ‘sy gemoed gesluit’ toe die apostel Paulus sy vraag: “Wat moet ek doen om gered te word?” beantwoord het nie. En Paulus en Silas het nie ‘’n aanval op sy emosies gemaak’ en ’n groot finansiële bydrae gevra nie. Hulle het eerder “aan hom die woord van die Here verkondig”. Hulle het met die man geredeneer en hom gehelp om ’n duidelike begrip van God se voorsienings vir redding te verkry.—Handelinge 16:32.
“Glo in die Here Jesus Christus”
Daardie Christensendelinge het die tronkbewaarder se gemoed vir ’n grondwaarheid omtrent redding ontsluit. Dit was dieselfde waarheid wat die apostel Petrus verduidelik het toe die Christengemeente gestig is. Petrus het gewys op Jesus Christus se belangrike rol in die kwessie van redding en het hom “die Vernaamste Bewerker van die lewe” genoem. Daardie apostel het ook gesê: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 3:15, NW; 4:12). Paulus en Silas het die Filippensiese tronkbewaarder se aandag op hierdie selfde Bewerker van redding gevestig toe hulle gesê het: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word.”—Handelinge 16:31.
Maar wat beteken dit om in die Here Jesus Christus te glo? Waarom is daar geen naam buiten Jesus s’n waardeur ons gered kan word nie? Sal almal uiteindelik gered word? Het die apostels in die idee van “eenmaal gered, altyd gered” geglo? Hierdie is belangrike vrae, want ondanks die feit dat die woorde en dade van baie hedendaagse dwepers die uitdrukking verlaag het, het ons steeds redding nodig.” Ons moet almal ’n bevredigende, redelike antwoord kry op die vraag: “Wat moet ek doen om gered te word?”