Vrae van lesers
◼ Waarom sê Jesaja 40:26 dat daar ‘nie een van die sterre gemis word nie’, as wetenskaplikes beweer dat sommige sterre uitbrand of ontplof?
Jehovah bespreek nie hier die kwessie of hy sterre toelaat om te verdwyn nie. Hy beklemtoon die omvang van sy wysheid en vermoë.
Die profeet Jesaja het God se waarskuwing dat die Babiloniërs die Jode in gevangenskap sou wegvoer aan koning Hiskia oorgedra (Jesaja 39:5-7). Sou die Babiloniërs God se volk ’n onbepaalde tyd kon gevange hou? Nee. Jehovah was nie net van voorneme om hulle na 70 jaar te bevry nie, maar hy sou dit ook doen. Niks kon die Een verhinder wat ‘die waters in die holte van sy hand afmeet en met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal’ nie. Hy hoef niemand te raadpleeg nie, want “die nasies is vir Hom soos ’n druppel aan ’n emmer” (Jesaja 40:12-17, NAV). Om sy verstommende vermoë te beklemtoon, het Jehovah die aandag gevestig op sy vermoë wat deur die skepping geopenbaar word, iets wat Hiskia vantevore erken het (Jesaja 37:16, 17). God het verklaar:
“By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die [oorvloed van dinamiese energie] en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”—Jesaja 40:25, 26, vgl. NW.
Wetenskaplikes skat dat daar miljarde sterre in ons Melkweg is, en daar is sowat honderdmiljard galaktiese stelsels. Tog ken God elke ster by die naam, hetsy ’n individuele naam of ’n beskrywende naam, miskien in goddelike taal. Hy is in beheer van hulle situasie. Soos ’n generaal die soldate kan laat aantree, kan Jehovah die sterre byeenroep. As hy dit sou doen, sou geeneen “gemis” word of ontbreek nie. Hy ken die situasie van elke ster en al sou party van hulle tot ’n natuurlike einde kom, verbaas dit nie die Een wat bewus is van alles wat gebeur nie.—Vergelyk Jesaja 34:16.
Sterrekundiges en fisici meen dat sterre uitbrand of ontplof. Robert Jastrow teoretiseer in Red Giants and White Dwarfs oor hoe dit dalk gebeur: “Binne-in die . . . ster het ’n reeks kernreaksies begin, waarin al die ander elemente in die heelal uit die basiese bestanddeel, waterstof, vervaardig is. Hierdie kernreaksies het uiteindelik opgehou, en die ster se lewe het geëindig. Ontneem van sy bronne van kernenergie, het hy onder sy eie gewig ineengestort en ná die ineenstorting het ’n ontploffing plaasgevind, wat al die stowwe wat gedurende die ster se leeftyd in hom gevorm is die ruimte laat inskiet het.”
Daar word gemeen dat party sterre, wat hulle waterstof verbruik, in rooi reuse verander en dan tot wit dwerge of supernovae ontwikkel, waarvan party uiteindelik neutronsterre of, teoreties gesproke, gravitasiekolke word.
Hoewel sulke verduidelikings algemeen aanvaar word, is die finale woord miskien nog nie gehoor nie; meer word moontlik nog uitgevind. Beskou byvoorbeeld punte wat in The New York Times van 24 Januarie 1989 gemeld is: “Wetenskaplikes glo dat hulle op die punt staan om belangrike ontdekkings oor die ‘donker eeue’ van die heelal te doen, die kritieke tydperk vanaf drie minute ná die ontploffingsoomblik van die skepping, tot die verskyning van ontsaglike galaktiese stelsels. . . . Omdat daar so min direkte getuienis is, slaan die genesis van struktuur wetenskaplikes behoorlik dronk. James S. Trefil, ’n fisikus aan die George Mason-Universiteit in Fairfax, Virginië, het geskryf: ‘Die probleem om die bestaan van galaktiese stelsels te verduidelik, blyk een van die neteligste probleme in kosmologie te wees. Hulle behoort na regte eenvoudig nie daar te wees nie, maar daar sit hulle tog.’”
Die artikel het die moontlike gebeure gedurende “die eerste drie minute” bespreek, soos dit deur dr. John Mather, astrofisikus, verduidelik is. Tog lees ons: “Dr. Mather, wat ’n onderhoudvoerder se groeiende verwarring gemerk het, het sy relaas van die algemeen aanvaarde skeppingscenario onderbreek om te sê: ‘Ons dink dit natuurlik alles uit’, en daarmee het hy bedoel dat dit ’n uitbouing van teorieë is wat op gevolgtrekkings berus.”
Ja, menslike wetenskaplikes is baie beperk aangaande wat hulle werklik weet en kan weet. Maar hoe anders is dit tog nie met die Skepper nie. Sy kennis en dinamiese energie verdien beslis ons ontsag. Die psalmis het tereg gesê: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig. [Prys Jah]!”—Psalm 147:4, 5, 20, vgl. NW.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Foto: NASA