Jesus se lewe en bediening
Die gelykenis van die minas
JESUS is moontlik nog in Saggeüs se huis, waar hy op pad na Jerusalem vertoef het. Sy dissipels glo dat hy, wanneer hulle in Jerusalem aankom, homself as die Messias sal bekendmaak en sy Koninkryk sal oprig. Jesus vertel ’n gelykenis om hierdie idee reg te stel en te wys dat die Koninkryk nog ver is.
“’n Sekere man van adellike geboorte”, vertel hy, “het na ’n ver land gereis om koninklike mag te verkry en dan terug te keer.” Jesus is die “man van adellike geboorte”, en die hemel is die “ver land”. Wanneer hy daar aankom, sal sy Vader hom koninklike mag gee.
Voordat hy egter vertrek, roep die edelman tien slawe en gee aan elkeen ’n silwermina en sê: “Dryf handel daarmee totdat ek kom.” Die tien slawe in die eerste vervulling beeld Jesus se vroeë dissipels af. In ’n groter toepassing beeld hulle almal af wat voornemende erfgename saam met hom in die hemelse Koninkryk is.
Die silwerminas is waardevolle geldstukke, en elkeen is gelyk aan omtrent drie maande se loon vir ’n landarbeider. Maar wat beeld die minas af? En watter soort handel moet die slawe met hulle dryf?
Die minas beeld bates af wat die geesverwekte dissipels kan gebruik om meer erfgename van die hemelse Koninkryk in te bring totdat Jesus as Koning in die beloofde Koninkryk kom. Na sy opstanding en verskyning aan sy dissipels het hy vir hulle die simboliese minas gegee om meer dissipels te maak en sodoende die ‘Koninkryk van die hemele’-klas te vermeerder.
“Maar”, gaan Jesus voort, “sy burgers het [die man van adellike geboorte] gehaat en ’n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons word nie.’” Die burgers is Israeliete, of Jode, met uitsondering van sy dissipels. Toe hierdie Jode Jesus se dissipels na sy hemelvaart vervolg het, het hulle getoon dat hulle hom nie as hulle koning wou hê nie. So het hulle soos die burgers opgetree wat ’n gesantskap uitgestuur het.
Hoe gebruik die tien slawe hulle minas? Jesus verduidelik: “Toe hy uiteindelik teruggekom het, nadat hy die koninklike mag verkry het, het hy gebied dat die slawe aan wie hy die silwergeld gegee het, na hom geroep word, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. Toe het die eerste vorentoe gekom en gesê: ‘Heer, u mina het tien minas opgelewer.’ Hy sê toe vir hom: ‘Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy jou in ’n baie geringe saak getrou getoon het, kry jy nou gesag oor tien stede.’ Daarop kom die tweede en sê: ‘U mina, Heer, het vyf minas opgelewer.’ Hy sê ook vir hierdie een: ‘Voer jy ook bewind oor vyf stede.’”
Die slaaf met tien minas beeld ’n klas, of groep, dissipels vanaf Pinkster 33 G.J. tot nou toe af wat die apostels insluit. Diegene wat vyf minas verdien het, verteenwoordig ook ’n groep gedurende daardie selfde tydperk wat, na gelang van hulle geleenthede en vermoëns, hulle koning se bates op aarde vermeerder. Albei groepe verkondig die goeie nuus ywerig en baie persone met die regte harttoestand word gevolglik Christene. Nege van die slawe het met welslae handel gedryf en het vermeerder wat aan hulle toevertrou is.
“Maar”, gaan Jesus voort, “’n ander een kom en sê: ‘Heer, hier is u mina, ek het dit in ’n doek weggebêre. Ek was bang vir u, want u is ’n streng man; u eis op wat u nie belê het nie en oes wat u nie gesaai het nie.’ Hy sê toe vir hom: ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou, slegte slaaf. Jy het tog geweet dat ek ’n streng man is, wat eis wat ek nie belê het nie en oes wat ek nie gesaai het nie? Waarom het jy dan nie my silwergeld in ’n bank gesit nie? Dan kon ek dit by my aankoms met rente ingevorder het.’ Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Neem die mina van hom af weg en gee dit aan hom wat die tien minas het.’”
Die verlies van die simboliese mina beteken dat die slegte slaaf ’n plek in die hemelse Koninkryk verloor. Ja, hy verloor as ’t ware die voorreg om oor tien stede of vyf stede te regeer. Let ook op dat die slaaf nie as sleg bestempel word omdat hy iets slegs gedoen het nie, maar eerder omdat hy versuim het om die rykdom van sy heer se koninkryk te vermeerder.
Wanneer die slegte slaaf se mina aan die eerste slaaf gegee word, word die beswaar gemaak: “Heer, hy het tien minas!” Maar Jesus antwoord: “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word; maar van die een wat nie het nie, sal selfs wat hy het, weggeneem word. En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek oor hulle koning moet word nie, bring hulle hier en maak hulle voor my dood.” Lukas 19:11-27, NW; Mattheüs 28:19.
◆ Wat gee aanleiding tot Jesus se gelykenis van die minas?
◆ Wie is die man van adellike geboorte, en wat is die land waarheen hy gaan?
◆ Wie is die burgers, en hoe toon hulle hul haat?
◆ Wie is die slawe, en wat word deur die minas afgebeeld?
◆ Waarom word een slaaf sleg genoem, en wat beteken die verlies van sy mina?