Die opstanding—Vir wie en wanneer?
DIT het plaasgevind in die jaar 32 G.J. in Betanië, waar Lasarus saam met sy twee susters, Martha en Maria, gewoon het. Die susters het Jesus laat weet dat Lasarus siek is. Jesus het Lasarus en sy susters liefgehad, en daarom het Hy na Betanië vertrek. Onderweg het Jesus vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels het gedink dat Jesus letterlike slaap bedoel. Jesus het dus onomwonde gesê: “Lasarus is dood.”—Johannes 11:1-15.
Die besoekers het vier dae na Lasarus se dood daar aangekom. Toe Jesus Maria en ander sien huil het, het hy “geween” en daardeur sy innige liefde en medelye getoon (Johannes 11:17, 35). Lasarus se lyk was reeds in ’n spelonk. Jesus het beveel dat die steen voor die ingang van die graf weggeneem word. Hy het tot sy Vader gebid en toe hard uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Lasarus het uitgekom. Hoe verblydend moes dit tog vir sy susters gewees het!—Johannes 11:38-45.
Hierdie gebeurtenis gee ’n ware hoop op ’n opstanding. Maar die dood is oor die algemeen ’n verskriklike vyand wat ons geliefdes wegneem sonder die vooruitsig dat Jesus hulle onmiddellik sal opwek. Soos ons weet, is baie van hierdie dierbares baie goeie en liewe mense. Gevolglik ontstaan ’n vanselfsprekende vraag . . .
Waarom moet mense sterf?
As ons ’n akkurate, betroubare antwoord wil hê, moet ons terugkyk na die mensdom se begin in die tuin van Eden. God het Adam se gehoorsaamheid getoets deur hom daar te beveel om nie die vrugte van ’n sekere boom te eet nie. As hy en Eva van die vrugte eet, het God gesê, sou hulle “sekerlik sterwe” (Genesis 2:17). Toe hulle deur Satan versoek is, was hulle ongehoorsaam aan God en het hulle nie daardie beslissende toets deurstaan nie. Dit het tot die dood gelei.
Waarom so ’n straf vir ’n oënskynlik geringe misdaad? Hulle daad was gering, maar die misdaad was dodelik ernstig—’n opstand deur volmaakte mense, Adam en Eva, teen hulle Skepper. Hulle was nie meer volmaak nie, en God het hulle ter dood veroordeel. Maar God het gereël dat daardie regverdige vonnis vir afstammelinge van Adam ter syde gestel kan word. Hoe? Paulus het geskryf dat “Christus Jesus . . . Homself gegee het as ’n [ooreenstemmende] losprys vir almal”.—1 Timotheüs 2:5, 6, vgl. NW; Romeine 5:17.
Wat is die toestand van die dode?
Lasarus was vier dae lank dood. As jy gesterf het, maar in werklikheid vier dae lank in die geesteryk geleef het en toe opgewek is, sou jy nie vir ander daarvan wou vertel nie? Maar Lasarus het glad nie gesê dat hy in ’n ander ryk gelewe het nie. Die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie.”—Prediker 9:5; Psalm 146:3, 4.
Dink aan die implikasies daarvan. Miljoene mense glo aan die vaevuur, hoewel die woord nie in die Bybel voorkom nie. Nog meer glo dat daar ’n vurige hel is. Maar jy sou nie eens ’n vyand vir ewig in ’n vuur laat brand nie. As jy sou weier om iets so wreeds te doen, sou ons liefdevolle Skepper dit doen deur mense in die helse vuur te laat ly? Maar oorweeg gerus die pas gemelde, vertroostende Bybelse versekering—die dode “weet glad niks nie”.
Volgens die Skrif gaan betreklik min mense saam met Christus in die hemel regeer. Jesus het hulle ’n “klein kuddetjie” genoem (Lukas 12:32). Die apostel Johannes het gesien dat “die Lam [Jesus Christus] staan op die [hemelse] berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend . . . wat van die aarde vrygekoop is” (Openbaring 14:1-3). Dit beteken dus dat sulke persone mense was, gesterf het en later opgewek is om in die hemel saam met Christus te lewe.
Soos jy jou kan voorstel, was dit voordelig vir mense om hierdie Bybelwaarhede te verstaan—naamlik dat daar geen vaevuur of brandende hel is nie en dat daar ’n hoop is dat dooie mense tot hemelse lewe opgewek kan word. Maar as so min mense tot hemelse lewe opgewek word, watter hoop is daar vir ander?
Die aardse opstanding
Jesus Christus het die weg tot ’n opstanding tot hemelse lewe geopen (Hebreërs 9:24; 10:19, 20). Johannes die Doper sal gevolglik nie die hemelse opstanding ontvang nie, want hy is vermoor voordat Jesus gesterf en die weg tot hemelse lewe geopen het. Jesus het gesê: “Daar [het] nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy” (Mattheüs 11:11). Watter beloning bied God aan hierdie getroue man en ander soos hy wat gesterf het?
Blaai in jou Bybel na Lukas 23 en lees verse 39 tot 43 (vgl. NW). Een van die kwaaddoeners wat langs Jesus aan ’n paal gehang is, het gesê: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus het hom verseker dat hy in die Paradys sou wees. Dit is nie die hemel nie, maar dit is ’n aardse paradys, soos die eerste Paradys was.
Die opstanding—’n bron van vertroosting
Daardie geldige Bybelse vooruitsig behoort baie vertroostend te wees, en ons het ook rede om te verwag dat dit wel sal wees. Waarom? Want Jehovah is liefde (1 Johannes 4:8). Toe hy toegelaat het dat sy Seun ’n skandelike dood sterf, het God in werklikheid sy wonderlike liefde geopenbaar. Jesus het vroeër gesê: “So lief het God die wêreld [die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Jesus het ook uitsonderlike liefde betoon deur sy lewe as ’n losprys vir die gelowige mensdom te gee. Hy het self gesê: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”—Mattheüs 20:28.
Soos die eerste artikel getoon het, was Carolann, wat etlike van haar geliefdes in ’n verskriklike ongeluk verloor het, heeltemal verslae na die tragedie. Maar die wete dat daardie dooie geliefdes nie ly nie, was vir haar ’n troos. Was daar ook ander dinge wat haar gehelp het om die situasie te verduur? Die liefde en opregte betuigings van meegevoel van haar geestelike broers, Jehovah se Getuies, het haar baie gehelp.—Psalm 34:19.
Gebed tot Jehovah het ook baie gehelp. Sy het dikwels snags wakker geword en gedink dat dit alles ’n nagmerrie was, maar dan het die werklikheid haar getref. Smeekgebede tot Jehovah het haar gekalmeer, en sy het Paulus se woorde meer begin waardeer: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filippense 4:6, 7.
Shirley se ondervinding is nog ’n voorbeeld van hoe vertroostend die opstandingshoop is. Haar jong seun Riccardo is op slag dood toe ’n swaar stuk beton op sy bors geval en sy hartjie laat bars het. Na hierdie tragedie, wat in Januarie 1986 plaasgevind het, het Shirley vir vriende gesê: “Dit was soos ’n nagmerrie.” In die Katolieke Kerk het sy die volgende gehoor: “God sal die lewendes en die dooies oordeel.” Shirley het begin dink: ‘Hoe kan ’n mens weet waarheen mense na hul dood gaan as God die lewendes en die dooies gaan oordeel? En as hulle in die hemel is, waarom moet hulle later opgewek word om geoordeel te word? Bowendien, hoe kan hulle opgewek word as hulle reeds in die hemel lewe?’ Die Bybel meld glad nie die opstanding van die lewendes nie, net dié van die dooies.
Shirley het haar man oor hierdie probleem geraadpleeg, want hy het die Bybel geken. Toe sy ’n beter begrip gehad het van wat die Skrif oor die onderwerp sê, het Shirley nooit weer kerk toe gegaan nie. ’n Familielid wat een van Jehovah se Getuies is, het in Maart 1986 ’n Bybelstudie met Shirley en haar man begin hou, en hulle is weldra gedoop. Sy sê nou: “Dit is so wonderlik om die waarheid te ken, om van die opstanding te weet en te weet wat ’n wonderlike persoon Jehovah is.”
Die opstanding—Wanneer?
Die apostel Johannes het in ’n visioen “’n groot menigte [gesien] wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam” (Openbaring 7:9). Dat die groot menigte ‘voor God se troon staan’, strook met die feit dat hulle op die aarde gaan woon (Jesaja 66:1). Wanneer sal dié van hulle wat nou sterf, opgewek word? Die Bybel verskaf nie ’n datum nie, maar dit sal wees ná die naderende oorlog waarin God almal op aarde wat nie volgens sy regverdige standaarde wil lewe nie, sal vernietig (2 Thessalonicense 1:6-9). Dit sal die weg baan vir die Oordeelsdag en die opstanding van almal wat na God se mening in aanmerking kom vir ’n aardse opstanding (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat hierdie opwindende en wonderlike ontwikkelinge binnekort gaan plaasvind!—Openbaring 16:14-16.
Jesus se dissipels het hom eenkeer gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” In antwoord daarop het Jesus oorloë, voedseltekorte, aardbewings, pessiektes en die aardwye verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk voorspel.—Mattheüs 24:3-14; Lukas 21:7-11.
Hierdie merkwaardige profesie ondergaan sy vervulling al sedert 1914, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog begin het. Dit het miljoene lewens geëis en in baie lande hongersnood en voedseltekorte veroorsaak. Die wêreldsituasie gedurende en na die Tweede Wêreldoorlog was baie erger.
Wat pessiektes betref, meen baie dat die ergste voorbeeld Vigs is. “Die epidemie is so verbreid en so dodelik dat kenners dit met die Swart Dood vergelyk wat in die veertiende eeu ’n kwart van Europa se bevolking afgemaai het.”—Reader’s Digest, Junie 1987.
Wat ’n wonderlike gebeurtenis sal die opstanding tog in teenstelling met sulke huidige verskrikkinge wees! Dit sal ’n tyd van onkeerbare vreugde wees wanneer gesinne wat deur die dood geskei is, soos dié van Carolann en Shirley, herenig sal word! Dit is duidelik dat dit vir ons almal die verstandige weg sal wees om ons lewe nou na God se wil te skik en sodoende aan die vereistes te voldoen om self daar te wees wanneer die opstanding plaasvind.
[Prent op bladsy 7]
Die Bybel sê dat net soos ’n boom afgekap kan word en tog weer kan uitloop, God diegene wat hy onthou uit die dood kan opwek.—Job 14:7-9, 14, 15