Die Gulde Reël—Wat is dit?
“KYK! Ek pla nie my bure nie. Wat my betref, kan hulle maar doen wat hulle wil. Maar ek sal natuurlik doen wat ek kan om te help as hulle in die moeilikheid is.” Is dit jou beskouing? Wanneer daar ’n ramp is, word baie dade van welwillendheid en onselfsugtigheid moontlik verrig, dikwels tot die verbasing van baie. Maar is dit genoeg?
As jy ’n ouer is, het jy jou kinders ongetwyfeld gewaarsku om nie hulle maats uit te tart nie. Baie van ons het nog letsels uit ons kinderdae om te wys dat die verontagsaming van daardie riglyn weerwraak meebring. Ja, ons het die wysheid geleer van die beginsel wat deur die Oosterse filosoof Confucius gekristalliseer is: “Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê dat ander aan jou moet doen nie.” Besef jy egter dat dit slegs ’n minderwaardige, negatiewe weergawe is van wat as die Gulde Reël bekend staan?
’n Positiewe reël
Volgens Webster’s New Collegiate Dictionary, word “gulde reël” gedefinieer as “’n reël van etiese gedrag wat na [Mattheüs] 7:12 en [Lukas] 6:31 verwys en wat sê dat jy aan ander moet doen wat jy wil hê ander aan jou moet doen”. Kyk na die venstertjie onderaan die bladsy en beskou hoe verskillende Bybelvertalings van Mattheüs hoofstuk 7 vers 12 die luisterrykheid van hierdie riglyn laat deurstraal.
Let asseblief op dat hoewel die woorde van vertaling tot vertaling verskil, die reël positief is. Net soos Jesus trouens vroeër in die Bergpredikasie geredeneer het: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Mattheüs 7:7, 8, NAV). Vra, soek, klop, is almal positiewe aksies. “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen”, het Jesus voorts gesê, “net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12.
Die Bybel toon dat Jesus se dissipels ook dieselfde leefreël voorgestaan het (Romeine 15:2; 1 Petrus 3:11; 3 Johannes 11). Ongelukkig bewys die huidige stand van menseverhoudings egter dat mense oor die algemeen, hetsy hulle belydende Christene is of nie, dit nie volg nie. Beteken dit dat hierdie reël van etiese gedrag nie meer geldig is nie? Is dit miskien verouderd?
[Venster op bladsy 3]
“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”—NAV.
“Behandel ander mense net soos julle deur hulle behandel wil word.”—The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips.
“Wat julle ook al wil hê dat ander aan en vir julle moet doen, doen net so ook aan en vir hulle.”—The Amplified New Testament.
“Doen vir ander alles wat julle wil hê hulle vir julle moet doen.”—The New Testament in the Language of Today, deur W. F. Beck
“Behandel julle medemens dan in alle opsigte soos julle wil hê hulle julle moet behandel.”—The Four Gospels, vertaal deur E. V. Rieu.
“Julle moet ander altyd behandel soos julle wil hê hulle julle moet behandel.”—The New Testament, deur C. B. Williams.