Wat beteken die Tien Gebooie vir jou?
DRIE maande nadat hulle in 1513 v.G.J. uit Egipte verlos is, het die Israeliete voor die berg Sinaï in die woestyn laer opgeslaan. Nadat Jehovah hom ontbied het, het die profeet Moses die berg bestyg en God hoor belowe dat Hy die nasie Israel sy “eiendom uit al die volke” sou maak. Moses het hierdie inligting deur middel van die oudstes van die nasie aan die volk oorgedra. “Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen.”—Exodus 19:1-8.
Daarna het God die Tien Gebooie duidelik aan Moses gegee en het hy hierdie wette met dié kommentaar ingelei: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het” (Exodus 20:2). Hierdie Dekaloog was vir die Israeliete bedoel, wat in die Eerste Gebod beveel is: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”—Exodus 20:3.
Jehovah het Moses daarna in ander goddelike gebooie vir Israel onderrig (Exodus 20:4–23:19). Daar was altesaam sowat 600 wette. En hoe opwindend was dit nie om te besef dat God se engel voor die nasie sou uitgaan om die weg na die Beloofde Land te baan nie! (Exodus 23:20-22) Jehovah het gesê: “Voor jou hele volk sal Ek wonders doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie, sodat die hele volk onder wie jy is, die werk van die HERE kan sien. Want verskriklik is dit wat Ek aan jou gaan doen.” Wat het God in ruil daarvoor van sy volk vereis? “Onderhou wat Ek jou vandag beveel.” Ja, gehoorsaamheid aan al Jehovah se wette en voorskrifte was verpligtend.—Exodus 34:10, 11.
Wat die Tien Woorde vir Israel beteken het
Die Israeliete het as gevolg van die goddelike beskerming wat hulle geniet het toe hulle aan slawerny in Egipte ontvlug het, God se naam in ’n nuwe sin leer ken. Jehovah het hulle Redder geword (Exodus 6:2, 3). Die derde gebod het gevolglik spesiale betekenis vir hulle gekry, aangesien hulle daardeur verbied is om die goddelike naam op ’n ydellike manier te gebruik.—Exodus 20:7.
Maar wat van die vierde gebod, wat op die Sabbatdag betrekking het? Hierdie gebod het respek vir heilige dinge behels, soos Jehovah vroeër aangedui het toe hy ’n “sabbatviering” met betrekking tot die insameling van manna ingestel het (Exodus 16:22-26, NW). Omdat party Israeliete nie dadelik gehoorsaam was nie, het Jehovah hulle onomwonde daaraan herinner dat hy hulle daardie bevel gegee het. “Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het . . . So het die volk dan op die sewende dag gerus” (Exodus 16:29, 30). Jehovah het later getoon hoe eksklusief hierdie reëling was en gesê: “Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken.”—Exodus 31:17.
Beskou vervolgens die unieke tiende gebod, wat hebsug verbied het. Hier is ’n wet wat geen mens kon afdwing nie. Elke Israeliet was aanspreeklik teenoor sy God, Jehovah, wat die individu se hart ondersoek om uit te vind wat sy beweegredes is.—Exodus 20:17; 1 Samuel 16:7; Jeremia 17:10.
’n Gewysigde beskouing
Jesus Christus, wat as ’n Israeliet gebore is, het vir sy dissipels gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Mattheüs 5:17). Die apostel Paulus het aan Hebreeuse Christene geskryf: “Die wet, [het] ’n skaduwee . . . van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie” (Hebreërs 10:1). Hoe sou jy hierdie woorde verstaan het as jy ’n Hebreeuse bekeerling tot die Christelike godsdiens was? Party lede van die vroeg-Christelike gemeente het gemeen dat al die honderde wette wat God deur Moses gegee het, met inbegrip van die Tien Gebooie, nog gegeld het. Maar was dit die regte beskouing?
Beskou hierdie woorde van Paulus aan Jode wat in die provinsie Galasië Christene geword het: “Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie” (Galasiërs 2:15, 16). ’n Regverdige posisie voor God was inderdaad nie afhanklik van volkome gehoorsaamheid aan die Mosaïese Wet nie, want in die onvolmaakte menslike toestand was dit onmoontlik. Paulus het bygevoeg: “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. . . . Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word.”—Galasiërs 3:10-13.
Was Christene verplig om al die gebooie wat aan Israel gegee is te onderhou as Jesus se Joodse volgelinge nie meer onder die vloek van die Wet was nie? Paulus het aan die Kolossense geskryf: “[God het] julle al die misdade vergeef . . . en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim deur dit aan die kruis [van Christus] vas te nael” (Kolossense 2:13, 14). Talle vroeë Christene moes ongetwyfeld hulle denke verander en besef dat hulle “ontslae van die wet” was (Romeine 7:6). Deur geloof te beoefen in Jesus se offerdood, wat die Wet beëindig en die weg vir die instelling van die voorspelde “nuwe verbond” gebaan het, het hulle die vooruitsig gehad om ’n regverdige posisie voor Jehovah te verkry.—Jeremia 31:31-34; Romeine 10:4.
Wat hulle vir ons beteken
Beteken dit dat die Tien Gebooie, ’n grondliggende deel van die Wet, vir Christene niks meer beteken nie? Volstrek nie! Hoewel Christene nie wetlik verplig is om die Tien Woorde te onderhou nie, bied hierdie wette steeds gesonde riglyne, soos dit met ander gebooie van die Mosaïese Wet die geval is. Jesus het byvoorbeeld gesê dat die twee grootste gebooie is dat ons God en ons naaste moet liefhê (Levitikus 19:18; Deuteronomium 6:5; Mattheüs 22:37-40). Toe Paulus Romeinse Christene raad gegee het, het hy die sesde, sewende, agtste en tiende gebooie aangehaal en bygevoeg: “En watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Romeine 13:8, 9.
Van watter nut is die Tien Gebooie dus vandag as deel van God se geïnspireerde Woord? Hulle openbaar Jehovah se beskouing van sake (2 Timotheüs 3:16, 17). Kyk hoe hulle dit doen.
Die eerste vier gebooie beklemtoon ons verantwoordelikhede teenoor Jehovah. (Eerste) Hy is ’n God wat steeds uitsluitlike toegewydheid vereis (Mattheüs 4:10). (Tweede) Sy aanbidders mag nie beelde gebruik nie (1 Johannes 5:21). (Derde) Ons gebruik van God se naam moet reg en waardig wees, nooit oneerbiedig nie (Johannes 17:26; Romeine 10:13). (Vierde) Ons hele lewe moet om heilige aangeleenthede draai. Dit help ons om te rus, of ‘’n sabbat te neem’, van ’n handelwyse van selfvoldaanheid.—Hebreërs 4:9, 10.
(Vyfde) Die gehoorsaamheid van kinders aan hulle ouers is steeds die hoeksteen van gesinseenheid en lei tot seëninge van Jehovah. En wat ’n wonderlike hoop bied hierdie “eerste gebod met ’n belofte” tog nie! Dit is nie net “sodat dit met jou goed mag gaan” nie, maar ook dat “jy lank mag lewe op die aarde” (Efesiërs 6:1-3). Aangesien ons nou in “die laaste dae” van hierdie huidige goddelose stelsel lewe, bied sulke godvrugtige gehoorsaamheid jongmense die vooruitsig om nooit te sterf nie.—2 Timotheüs 3:1; Johannes 11:26.
Naasteliefde sal voorkom dat ons ons naaste leed aandoen deur sulke goddelose dade soos (Sesde) moord, (Sewende) egbreuk, (Agtste) diefstal en (Negende) valse getuienis (1 Johannes 3:10-12; Hebreërs 13:4; Efesiërs 4:28; Mattheüs 5:37; Spreuke 6:16-19). Maar wat van ons beweegredes? Die (Tiende) gebod, teen hebsug, herinner ons daaraan dat Jehovah vereis dat ons bedoelings altyd suiwer moet wees in sy oë.—Spreuke 21:2.
Wat ’n skat van betekenis vind ons tog nie in die Tien Gebooie nie! Omdat hulle op goddelike beginsels gegrond is wat nooit verouderd sal wees nie, moet ons hulle op prys stel as kosbare herinneringe aan ons verpligting om God en ons naaste lief te hê.—Mattheüs 22:37-39.
[Prente op bladsy 6]
Jesus se dood het die Wet, met inbegrip van die Tien Gebooie wat by die berg Sinaï aan die Israeliete gegee is, beëindig