Het hulle die Bybel onwaar bewys?
HET wetenskaplikes en Bybelkritici werklik bewys dat die Bybel foute en fiksie bevat? Voordat jy dít aanneem, moet jy onthou dat hoewel talle geleerdes hulle opinies positief en gesaghebbend aanbied, hulle nie altyd reg is nie. Hulle idees berus dikwels op ’n wankelrige grondslag.
Twyfelagtige vooronderstellings
Beskou as voorbeeld van ’n Bybelkritikus se stelling wat gesaghebbend klink S. R. Driver se kommentaar oor die boek Daniël. Volgens tradisie het Daniël self hierdie boek in die sesde eeu v.G.J. in Babilon geskryf (Daniël 12:8, 9). Maar Driver het beweer dat dit baie later geskryf is. Waarom? Een “bewys” wat aangegee is, is dat die boek Griekse woorde bevat, en Driver het beweer: “Daar kan met vertroue gesê word dat hierdie woorde nie in die Boek Daniël gebruik kon gewees het nie tensy dit geskryf is nadat Griekse invloede deur die oorwinnings van Alexander die Grote in Asië versprei is.” Alexander het omstreeks 330 v.G.J. sy oorwinnings behaal.
Driver se stelling kon nie positiewer gewees het nie. Maar ter stawing daarvan noem hy slegs drie Griekse woorde, almal name van musiekinstrumente (Daniël 3:5). Hoe kan enigiemand met reg aanvoer dat musiekinstrumente met Griekse name nie in die sesde eeu v.G.J. in Babilon gebruik is nie, aangesien die Grieke al vroeg in die geskrewe geskiedenis in noue voeling met westelike Asië was? Wat ’n swak grondslag om die tyd en outeurskap van die boek Daniël te bevraagteken!
Nog ’n voorbeeld is hoe die eerste vyf boeke van die Bybel beskou word. Volgens tradisie is die grootste deel daarvan omstreeks 1500 v.G.J. deur Moses geskryf. Maar kritici sê dat verskillende skryfstyle in die boeke voorkom. Hulle sê ook dat God soms by sy naam, Jehovah, genoem word en soms by die Hebreeuse woord vir “God”. Uit sulke waarnemings lei hulle af dat hierdie Bybelboeke in werklikheid ’n samestelling van dokumente is wat op verskillende tye geskryf is en die een of ander tyd na 537 v.G.J. gefinaliseer is.
Baie glo hierdie teorie, maar niemand kon nog verduidelik waarom Moses nie van die Skepper as God en as Jehovah kon praat nie. Niemand het nog bewys dat hy nie in verskillende style kon geskryf het wanneer hy verskillende onderwerpe behandel het, op verskillende tye in sy lewe geskryf het of vroeëre bronne gebruik het nie. En soos John Romer in sy boek Testament—The Bible and History gesê het: “’n Fundamentele beswaar teen hierdie hele ontledingsmetode is dat daar tot vandag toe hoegenaamd geen ou teks gevind is wat bewys dat die teoretiese elemente van verskillende tekste waarvan hedendaagse kenners so baie hou wel bestaan het nie.”
McClintock en Strong se Cyclopedia verduidelik ’n basiese aanname van baie Bybelkritici: “Ondersoekers . . . gaan van die veronderstelling uit dat die geskiedenisfeite wat die vertellings ten grondslag lê bloot natuurfeite is, in wese soortgelyk aan ander feite wat aan ons bekend is. . . . Sê ’n skrywer dat ’n gebeurtenis wat buite die reeks bekende natuurwette lê ’n feit is? Dan . . . [het] die beweerde gebeurtenis nie plaasgevind nie.”
Gevolglik veronderstel baie dat wonderwerke nie kon plaasgevind het nie, aangesien hulle buite die reeks bekende natuurwette lê. Langtermynprofesieë moet insgelyks onmoontlik wees, aangesien mense nie ver in die toekoms in kan sien nie. Enige wonderwerk moet ’n legende of ’n mite wees. Enige profesie wat duidelik vervul is, moes ná die vervulling geskryf gewees het.a Daarom redeneer party dat die profesieë van die boek Daniël teen die tweede eeu v.G.J. vervul is en dat die boek derhalwe toe geskryf is.
Maar hierdie soort vooronderstelling is afhanklik van ’n geloofsartikel: dat God nie bestaan nie, of dat hy, as hy wel bestaan, nooit in die mensegeskiedenis ingryp nie. Die hele strekking van die Bybel is immers dat God wel bestaan en ’n aktiewe rol in die mensegeskiedenis speel. As dit waar is—en die getuienis toon dat dit is—maak dit die grondslag van hedendaagse Bybelkritiek in groot mate ongeldig.
Het die moderne wetenskap die Bybel verkeerd bewys?
Maar wat van die bewering dat die wetenskap getoon het dat ons die Bybel nie kan glo nie? Die waarheid is dat wanneer die Bybel sogenaamd wetenskaplike sake aanroer, dit gewoonlik strook met wat hedendaagse wetenskaplikes leer.
Die Bybel gee byvoorbeeld baie praktiese bevele in verband met gesondheid en aansteeklike siektes. Die boek Manual of Tropical Medicine sê: “Niemand kan anders as om beïndruk te wees met die sorgvuldige gesondheidsvoorsorgmaatreëls van die Mosaïese tydperk nie. . . . Dit is waar dat siekte baie eenvoudig geklassifiseer is—[naamlik] as akute aandoenings wat ‘pes’ genoem is; en chroniese aandoenings met ’n soort uitslag, wat ‘melaatsheid’ genoem is—maar die uiters streng kwarantynwette was heel waarskynlik baie voordelig.”
Beskou ook die Bybel se verklaring: “Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer” (Prediker 1:7). Dit klink soos die beskrywing van die waterkringloop wat vandag in handboeke gevind word. Die riviere bring water na die see, waar dit verdamp en in die vorm van wolke oor die land teruggeneem word. Dan val dit as reën of sneeu en loop dit weer in die riviere in.
Die gevolgtrekkings van wetenskaplikes dat berge styg en daal en dat die hedendaagse berge vroeër onder eertydse seë was, strook eweneens met die poëtiese woorde van die psalmis: “Die waters het bo-oor die berge gestaan. Berge het opgerys, laagtes het weggesak—na die plek wat U vir hulle reggemaak het.”—Psalm 104:6, 8.
Een skrywer het beweer: “Al die skrywers van die Ou Testament het die aarde as ’n plat skyf beskou en hulle het soms gepraat van pilare waarop dit kwansuis gerus het.” Dit is egter nie waar nie. Jesaja het gepraat van ‘hy wat bo die kring van die aarde sit’ (Jesaja 40:22). En Job het van Hom gesê: “[Hy] wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor ’n niks” (Job 26:7). Die beskrywing van die aarde as ’n ronde liggaam wat sonder enige sigbare ondersteuning in die ruimte hang, klink merkwaardig modern.
Evolusie
Wat van die teenstrydigheid tussen die Bybel en die evolusieteorie?b Die Encyclopædia Britannica berig: “Die evolusieteorie word deur die oorgrote meerderheid van die wetenskapsgemeenskap aanvaar.” Maar die Bybel sê in taal so eenvoudig dat dit in ’n voorwetenskaplike tydperk verstaan sou kon word, dat lewe ’n resultaat van direkte skepping deur God is en dat die basiese soorte lewe nie geëvolueer het nie, maar geskep is.—Genesis 1:1; 2:7.
Daar is ooreenkomste tussen evolusioniste en Bybelkritici. Hulle het sterk oortuigings en druk hulself gesaghebbend uit. Maar enkeles is eerlik genoeg om te erken dat die evolusieteorie swakhede het. Een evolusionis sê: “Darwin se evolusiemodel . . . , wat basies ’n teorie van geskiedkundige rekonstruksie is, . . . kan onmoontlik deur eksperimente of deur direkte waarneming bewys word, soos normaalweg in die wetenskap die geval is . . . Daarbenewens dek die evolusieteorie ’n reeks unieke gebeurtenisse, die oorsprong van lewe, die oorsprong van intelligensie, ensovoorts. Unieke gebeurtenisse is onherhaalbaar en kan nie aan enige eksperimentele ondersoek onderwerp word nie” (Evolution: A Theory in Crisis, deur Michael Denton). ’n Ander evolusionis praat van “die feit van evolusie”. Maar hy wys nietemin op ’n belangrike probleem om hierdie “feit” te bewys: “Wanneer jy na skakels tussen die vernaamste diergroepe soek, is hulle eenvoudig nie daar nie.”—The Neck of the Giraffe, deur Francis Hitching.
Hoeveel kan hulle weet?
Geoloë en paleontoloë—wetenskaplikes wat die gryse verlede van die aarde bestudeer—lewer baie van die bewyse vir evolusie. Die probleme waarmee hierdie wetenskaplikes te kampe het, verskil nie veel van sterrekundiges se probleem nie. Sterrekundiges kyk met behulp van verskillende instrumente na die stralings wat oor ontsaglike afstande van sterre, planete, galaktiese stelsels en vreemde liggame soos kwasars kom. Met al die inligting tot hulle beskikking stel hulle teorieë op oor sulke belangrike dinge soos die aard van sterre en die oorsprong van die heelal. Hulle het selde die geleentheid om hulle teorieë na te gaan, en wanneer hulle dit wel doen, vind hulle dikwels dat hul teorieë onvolledig of bloot heeltemal verkeerd is.
Radiosterrekundige Gerrit Verschuur het geskryf: “Die onlangse Amerikaanse planetêre ondersoeke het ’n skokkende gebrek aan ware kennis oor die inhoud van die kosmos aan die lig gebring. Mars was van naby baie anders as enigiets wat ons ons van die aarde af kon voorstel. . . . Geen sterrekundige het verwag dat die gordels van Jupiter so ’n fantastiese struktuur sou hê nie . . . Saturnus het vir die grootste verrassings gesorg toe Voyager se kameras gevlegte ringe, mane wat mekaar om die beurt verbysteek en meer as 1 000 ringetjies aan die lig gebring het. . . . Hierdie feite oor die ruimte geld blykbaar vir laboratoriummonsters wat onder immer toenemende vergroting gefotografeer word. Elke nadere ondersoek onthul inligting wat heeltemal onverwags is, ons verstom en ons vorige opvattings wysig.”
Geoloë, paleontoloë en ander wat baie van die “bewyse” vir evolusie voorsien, is, soos sterrekundiges, gemoeid met gebeurtenisse en dinge wat baie ver is—nie in afstand nie, maar in jare. Net soos sterrekundiges vir hulle inligting staatmaak op dowwe straling wat oor ondenkbare afstande kom, is hierdie wetenskaplikes verplig om staat te maak op die oorblyfsels wat per ongeluk uit die gryse verlede van ons planeet behoue gebly het. Baie van húlle gevolgtrekkings moet dus noodwendig ook, soos dié van sterrekundiges, verkeerd wees.
Kan jy die Bybel glo?
Denkers hoef gevolglik nie oorweldig te word deur geleerdes se opinies wat daarop neerkom dat jy nie die Bybel kan glo nie. Maar dit bewys nie op sigself dat jy dit kan glo nie. Daarvoor moet jy doen wat baie van die Bybel se kritici nie gedoen het nie—die Bybel self oopmaak en dit met ’n oop gemoed lees (Handelinge 17:11). ’n Australiese teksskrywer, wat voorheen ’n Bybelkritikus was, het ’n paar jaar gelede erken: “Ek het vir die eerste keer in my lewe iets gedoen wat gewoonlik ’n verslaggewer se belangrikste plig is: ek het my feite nagegaan. . . . En ek was ontsteld, want wat ek [in die Evangelieverslae] gelees het, was nie legendes en ook nie naturalistiese fiksie nie. Dit was verslaggewing. Eerste- en tweedehandse verslae van uitsonderlike gebeurtenisse. . . . Verslaggewing het ’n smaak, en daardie smaak is in die evangelies.”
Ons spoor jou aan om sy voorbeeld te volg. Lees self die Bybel. Wanneer jy die diepe wysheid van die Bybel, die manier waarop die profesieë daarin vervul word en die verstommende eenheid daarvan ondersoek, sal jy besef dat dit meer as net ’n versameling onwetenskaplike mites is (Josua 23:14). Wanneer jy self sien hoe die wysheid van die Bybel jou lewe ten goede kan verander, sal jy geensins twyfel dat die Bybel God se Woord is nie (2 Timotheüs 3:16, 17). Ja, jy kan die Bybel glo!—Johannes 17:17.
[Voetnote]
a Baie Bybelstudente besef dat hierdie teorie verkeerd is, aangesien die Griekse Skrifte, wat in die eerste eeu G.J. geskryf is, die vervulling bevat van baie profesieë van die Hebreeuse Skrifte, wat beslis eeue vantevore geskryf is. Die eerste-eeuse vervulling van al die besonderhede in Daniël 9:24-27 is byvoorbeeld òf in die Griekse Skrifte, òf deur sekulêre geskiedskrywers opgeteken.
b Sien die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? wat in 1985 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is vir ’n volledige bespreking van evolusie versus die skepping.
[Prent op bladsy 7]
Dit is net so moeilik vir paleontoloë om vas te stel wat in die gryse verlede gebeur het as wat dit vir sterrekundiges is om vas te stel wat die aard van dinge in afgeleë dele van die ruimte is