Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 5/1 bl. 16-17
  • Van Tabor na oorwinning!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van Tabor na oorwinning!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Deur geloof het Barak ’n magtige leër op die vlug gejaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • ’n Nuwe leier en twee dapper vroue
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Twee dapper vroue
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 5/1 bl. 16-17

Tonele uit die Beloofde Land

Van Tabor na oorwinning!

STEL jou voor dat jy in ’n toring is wat uitkyk oor ’n plek waar die paaie van die geskiedenis mekaar kruis! Jy kan in werklikheid sien hoe die geskiedenis hom afspeel.

Die Bybelse terrein van Megiddo pas moontlik die beste by daardie beskrywing, want dit was reg langs lewensbelangrike handels- en militêre roetes geleë. Maar oorkant die laagte van Jisreël rys die berg Tabor uit, wat ook afgekyk het oor die Via Maris, die bekende roete na stede van die Vrugbare Halwe Maan.a

As jy van omtrent enige plek in die streek na Tabor kyk, kan jy nie anders as beïndruk wees nie. (Vergelyk Jeremia 46:18.) Tabor rys luisterryk bo sy omgewing uit en sy vorm soos dié van ’n keël is uit alle rigtings herkenbaar. Dit troon uit oor die vlakte aan die suidekant, die vrugbare laagte van Jisreël, wat die kus met die Jordaanvallei verbind.

Van die geronde kruin van Tabor kan jy suidwaarts kyk na die stad Jisreël, en dit kan jou herinner aan Jehu se woeste rit na Agab se koninklike woning en Isebel se skandelike einde (1 Konings 21:1; 2 Konings 9:16-33). Megiddo is naby. Na die weste kan jy die berg Karmel sien waar Elia die vuurtoets gehou het (1 Konings, hoofstuk 18). Van Tabor kan jy ook sien waar die Kisonrivier na die see vloei, en sowat agt kilometer wesnoordwes in die heuwels van Benede-Galilea is Nasaret.

Maar aan watter Bybelverslag herinner Tabor jou? Waarskynlik dié van Debora en Barak. In hulle tyd het die Kanaäniete onder koning Jabin van Hasor Israel 20 jaar lank onderdruk. Toe het die profetes Debora Barak aangespoor om op te tree. Hy het op sy beurt tienduisend Israeliete, hoofsaaklik uit die stamme van Naftali en Sebulon in Galilea, bymekaargebring en hulle op Tabor laat saamtrek. Hulle was lig gewapen, want daar was nie ’n skild of ’n spies in Israel nie.—Rigters 5:7-17.

’n Ontsagwekkende militêre masjien het teen hulle opgetrek. Jabin se generaal Sisera het swaar gewapende Kanaänitiese soldate na die laagte van Jisreël gebring. Hulle moes amper gelyk het soos die gewapende mans op die muurreliëf van Egipte, wat op die volgende bladsy, regs bo, getoon word. Die krygstoerusting van Egipte het dié wat in Kanaän gebruik is, beïnvloed, waaronder die skrikwekkendste deel van Sisera se wapentuig—900 strydwaens!

Daardie Kanaänitiese strydwaens was inderdaad mobiele skietplatforms. Die drywer kon die teuels om sy middellyf draai sodat sy hande los was om die wapens te hanteer. Of hy kon al sy aandag aan sy stormende perde gee terwyl ’n makker met die wapentuig werk. Die strydwaens het ystersense gehad wat van die wielnawe uitgesteek het. Vir Barak se manne, wat van Tabor af gekyk het, moes die versamelde strydwaens skrikwekkend, onstuitbaar en onoorwinlik gelyk het.

Maar Jehovah het Barak belowe: “Dan sal Ek Sisera . . . met sy strydwaens en sy menigte na jou, na die spruit Kison trek.” Op die regte oomblik het die dapper Israeliete teen die kant van Tabor afgestroom.—Rigters 4:1-14.

Die hulp wat Israel van hulle kragtige God in die hemel gekry het, was waardevoller as die blote voordeel van verrassing. Debora het later gesing: “Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg; die spruit Kison het hulle afgedrywe . . . Tree op, my siel, met mag!” (Rigters 5:20, 21). Ja, hoewel die lig gewapende maar dapper Israeliete die gewapende Kanaäniete op die vlug gejaag het, het God die ware uitslag bepaal. Hy het ’n skielike oorweldigende stortvloed in die droë rivierbedding veroorsaak wat die vreesaanjaende strydwaens immobiel gemaak het.

Onder sien jy ’n deel van die Kisonrivier. In die reënseisoen kan dit sy walle oorstroom en die gebied in ’n moeras verander. Stel jou die Kanaänitiese strydwaens voor wat deur sulke modder probeer vlug. Die onkeerbare water het sommige vlugtende soldate of strydwaens, of albei, meegesleep. Israel se oorwinning het selfs generaal Sisera ingehaal, wat sy strydwa verlaat het en te voet van die gevegstoneel gevlug het. Nadat hy in die tent van die vrou Jael geskuil het, het sy ’n goeie tyd gekies en hierdie vyand doodgemaak.—Rigters 4:17-22.

’n Belangrike en triomfantlike hoofstuk in Israel se geskiedenis het hom dus afgespeel voor Debora en enige ander wat dalk van die verhewenheid van die berg Tabor neergekyk het.

[Voetnote]

a Sien die kaart en die groot, duidelike foto van Tabor in Jehovah se Getuies se kalender vir 1990.

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel