Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 5/15 bl. 10-15
  • Vrees Jehovah, die Hoorder van die gebed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrees Jehovah, die Hoorder van die gebed
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe ons die Ewige Koning nader
  • ’n Beperkte voorreg
  • “Bid met heilige gees”
  • Ons word nooit afgewys nie
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wie se gebede word verhoor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hoe jy na aan God kan kom
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Wat sê jou gebede oor jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 5/15 bl. 10-15

Vrees Jehovah, die Hoorder van die gebed

“o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!”—PSALM 65:3.

1. Waarom kan ons verwag dat Jehovah vereistes stel vir diegene wat hom in gebed wil nader?

JEHOVAH GOD is die “Koning van die ewigheid”. Hy is ook die “Hoorder van die gebed” tot wie ‘alle vlees moet kom’ (Openbaring 15:3, NW; Psalm 65:3). Maar hoe moet hulle na hom toe kom? Aardse konings bepaal dinge soos die kleredrag en die houding van diegene wat in hulle teenwoordigheid toegelaat word. Ons kan dan tog sekerlik verwag dat die Ewige Koning vereistes sal hê wat enigiemand wat met smeking en danksegging voor hom wil verskyn, sal moet nakom.—Filippense 4:6, 7.

2. Watter vrae word oor gebed geopper?

2 Wat vereis die Ewige Koning van diegene wat hom in gebed nader? Wie kan bid en verhoor word? En waaroor kan hulle bid?

Hoe ons die Ewige Koning nader

3. Watter voorbeelde kan jy noem van gebede wat vroeë diensknegte van God gedoen het, en het hulle hom deur ’n tussenganger genader?

3 Adam, ’n “seun van God”, het blykbaar voor hy ’n sondaar geword het intiem met die Koning van die ewigheid gekommunikeer (Lukas 3:38; Genesis 1:26-28). Toe Adam se seun Abel “van die eersgeborenes van sy kleinvee” voor God gebring het, het hierdie offerande ongetwyfeld met smeking en lof gepaard gegaan (Genesis 4:2-4). Noag, Abraham, Isak en Jakob het altare gebou en Jehovah biddend met hulle offerandes genader (Genesis 8:18-22; 12:7, 8; 13:3, 4, 18; 22:9-14; 26:23-25; 33:18-20; 35:1, 3, 7). En die gebede van Salomo, Esra en goddelik geïnspireerde psalmdigters toon dat die Israeliete God sonder enige tussenganger genader het.—1 Konings 8:22-24; Esra 9:5, 6; Psalm 6:2, 3; 43:1; 55:2; 61:2; 72:1; 80:2; 143:1.

4. (a) Watter nuwe manier om tot God in gebed te nader is in die eerste eeu ingestel? (b) Waarom is dit besonder gepas dat gebed in Jesus se naam gedoen word?

4 ’n Nuwe manier om tot God in gebed te nader is gedurende die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling ingestel. Dit was deur sy Seun, Jesus Christus, wat besonder lief was vir die mensdom. In sy voormenslike bestaan het Jesus vreugdevol as “’n meesterwerker” gedien en was hy lief vir dinge wat met die mens verband gehou het (Spreuke 8:30, 31, NW). Toe Jesus as mens op aarde was, het hy liefdevol geestelike hulp aan onvolmaakte mense gegee, die siekes genees en selfs die dooies lewend gemaak (Mattheüs 9:35-38; Lukas 8:1-3, 49-56). Bowenal het Jesus ‘sy lewe gegee as ’n losprys vir baie’ (Mattheüs 20:28). Hoe gepas is dit dan tog dat diegene wat gebruik maak van die losprys God nader deur hierdie persoon wat so lief is vir die mensdom! Dit is nou die enigste manier om die Ewige Koning te nader, want Jesus self het gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” en: “Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Johannes 14:6; 16:23). As ons dinge in Jesus se naam vra, beteken dit dat ons hom erken as die een deur wie ons tot die Hoorder van die gebed nader.

5. Wat is God se gesindheid teenoor die mensewêreld, en watter verband het dit met gebed?

5 Ons moet veral die liefde waardeer wat Jehovah betoon het deur die losprys te voorsien. Jesus het gesê: “So lief het God die [mense]wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die diepte van God se liefde word goed in die psalmdigter se woorde uitgedruk: “So hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:11-14). Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat die gebede van Jehovah se toegewyde Getuies na so ’n liefdevolle Vader opstyg deur sy Seun!

’n Beperkte voorreg

6. Met watter gesindheid moet Jehovah in gebed genader word?

6 Mensekonings laat nie toe dat sommer enigiemand onaangekondig in die koninklike paleis inkom nie. ’n Oudiënsie by ’n koning is ’n beperkte voorreg. Dit is ook die geval met gebed tot die Koning van die ewigheid. Diegene wat hom deur Jesus Christus nader met behoorlike waardering vir God se glorieryke majesteit kan natuurlik verwag om verhoor te word. Die Ewige Koning moet met ’n eerbiedige, biddende gesindheid genader word. En dié wat verhoor wil word, moet “die vrees van Jehovah” betoon.—Spreuke 1:7, NW.

7. Wat is “die vrees van Jehovah”?

7 Wat is “die vrees van Jehovah”? Dit is groot eerbied vir God, gekoppel met ’n gesonde vrees om hom te mishaag. Hierdie ontsag spruit voort uit diep dankbaarheid vir sy goedertierenheid en goedheid (Psalm 106:1). Dit behels dat ons hom erken as die Koning van die ewigheid, wat die reg en die mag het om enigiemand wat ongehoorsaam aan hom is te straf, selfs met die dood. Diegene wat die vrees van Jehovah aan die dag lê, kan tot hom bid en verwag om verhoor te word.

8. Waarom verhoor God die gebede van diegene wat hom vrees?

8 God verhoor natuurlik nie die gebede van goddelose, ontroue en eiegeregtige mense nie (Spreuke 15:29; Jesaja 1:15; Lukas 18:9-14). Maar diegene wat Jehovah vrees, word verhoor omdat hulle aan sy regverdige standaarde voldoen. Maar hulle het meer gedoen. Mense wat Jehovah vrees, het hulle in gebed aan God toegewy en dit gesimboliseer deur waterdoop. Hulle het dus ’n onbeperkte voorreg van gebed.

9, 10. Kan ongedoopte persone bid met die hoop om verhoor te word?

9 Om deur God verhoor te word, moet ’n mens in gebed gedagtes uitspreek wat in ooreenstemming is met die goddelike wil. Ja, ’n mens moet opreg wees, maar meer word verwag. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag”, het die apostel Paulus geskryf, “want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Kan ongedoopte persone dan aangespoor word om te bid met die hoop om verhoor te word?

10 Koning Salomo het geweet dat gebed ’n beperkte voorreg is en het gevra dat Jehovah slegs uitlanders wat in die rigting van God se tempel in Jerusalem bid, sal verhoor (1 Konings 8:41-43). Eeue later was die nie-Joodse uitlander Cornelius as ’n vroom man “altyddeur in die gebed tot God”. Toe hy juiste kennis verkry het, het Cornelius hom toegewy aan God, wat hom toe die heilige gees gegee het. Daarna is Cornelius en ander nie-Jode gedoop (Handelinge 10:1-44). Enigiemand wat vandag, soos Cornelius, daarna streef om hom toe te wy, kan aangespoor word om te bid. Maar ’n mens kan nie sê dat iemand wat nie opreg is in sy studie van die Skrif, wat nie die goddelike vereistes vir gebed ken en wat nog nie ’n gesindheid wat God behaag aan die dag lê nie, Jehovah vrees, geloof het of dat hy hom ernstig soek nie. So iemand kan nie gebede doen wat vir God aanvaarbaar is nie.

11. Wat het met party gebeur wat daarna gestreef het om hulle toe te wy, en wat moet hulle hulself afvra?

11 Party wat vroeër daarna gestreef het om hulle toe te wy, aarsel blykbaar nou. As hulle nie genoeg liefde vir God in hulle hart het om ’n onvoorwaardelike toewyding aan hom te maak nie, moet hulle hulself afvra of hulle nog die wonderlike voorreg van gebed het. Blykbaar nie, want diegene wat God nader, moet hom, sowel as geregtigheid en ootmoedigheid, ernstig soek (Sefanja 2:3). Elkeen wat Jehovah werklik vrees, is ’n gelowige wat hom aan God toewy en dit simboliseer deur gedoop te word (Handelinge 8:13; 18:8). En slegs gedoopte gelowiges het ’n onbeperkte voorreg om die Ewige Koning in gebed te nader.

“Bid met heilige gees”

12. Wanneer kan dit gesê word dat ’n persoon ‘met heilige gees bid’?

12 Nadat iemand hom aan God toegewy en dit gesimboliseer het deur gedoop te word, kan hy ‘met heilige gees bid’. In hierdie verband het Judas geskryf: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou op julle allerheiligste geloof en bid met heilige gees, en julleself aldus bewaar in God se liefde, in afwagting van die barmhartigheid van onse Heer Jesus Christus, met die ewige lewe in die vooruitsig” (Judas 20, 21, NW). ’n Mens bid met heilige gees wanneer jy onder die invloed van God se gees, of werkende krag, en in ooreenstemming met die dinge in Sy Woord bid. Die Skrif, wat geskryf is deur inspirasie van Jehovah se gees, leer ons hoe om te bid en waarvoor ons in gebed moet vra. Ons kan byvoorbeeld met vertroue bid dat God ons sy heilige gees gee (Lukas 11:13). Wanneer ons met heilige gees bid, lewer ons gebede blyk van ’n hartstoestand waarvoor Jehovah lief is.

13. Wat sal ons vermy as ons met heilige gees bid, en watter raad van Jesus sal ons toepas?

13 Wanneer ons met heilige gees bid, is ons gebede nie vol hoogdrawende woorde nie. Hulle bestaan nie uit formules wat uit die kop opgesê word nie. Nee, hulle bevat nie feitlik betekenislose doksologieë, onopregte lofprysings, nie. Daardie soort gebede is volop in die Christendom en die res van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Maar ware Christene slaan ag op Jesus se raad: “As julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van hoofstrate te staan en bid sodat mense hulle kan sien . . . En wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene woorde soos ’n papegaai opsê nie; want hulle dink [verkeerdelik] dat hulle verhoor sal word weens hoeveel hulle sê. Moet dan nie soos hulle wees nie.”—Mattheüs 6:5-8, Byington.

14. Watter insigryke kommentaar het party oor gebed gelewer?

14 Benewens Jesus en Bybelskrywers het ander ook insigryke kommentaar oor gebed gelewer. Die Engelse skrywer John Bunyan (1628-88) het byvoorbeeld gesê: “Gebed is ’n opregte, verstandige, liefderyke uitstorting van die siel aan God, deur Christus, in die krag en hulp van die Gees, om die dinge wat God beloof.” Puriteinse predikant Thomas Brooks (1608-80) het gesê: “God kyk nie na die retoriek van jou gebede, hoe sierlik hulle is nie; ook nie na die geometrie van jou gebede, hoe lank hulle is nie; ook nie na die rekenkunde van jou gebede, hoe baie van hulle daar is nie; nie na die logika van jou gebede, hoe sistematies hulle is nie; maar hy kyk na die opregtheid daarvan.” Bunyan se opmerking kan by hierdie kommentare gevoeg word: “Dit is beter om in gebed ’n hart sonder woorde te hê as woorde sonder ’n hart.” Maar gestel ons is opreg en voldoen aan goddelike vereistes. Hoe kan ons seker wees dat die Koning van die ewigheid ons gebede sal verhoor?

Ons word nooit afgewys nie

15. Wat is die hoofsaak van Jesus se woorde in Lukas 11:5-8?

15 Jehovah God hou hom nooit doof vir die gebede van sy toegewyde knegte nie. Dit is duidelik gestel in Jesus se verblydende woorde toe sy dissipels instruksies oor gebed gevra het. Hy het gedeeltelik gesê: “Wie van julle sal ’n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want ’n vriend van my het van ’n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie—en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het” (Lukas 11:1, 5-8). Wat was die les in hierdie gelykenis?

16. Wat wou Jesus hê moet ons met betrekking tot gebed doen?

16 Jesus het beslis nie bedoel dat Jehovah onwillig is om ons te help nie. Christus wil eerder hê dat ons God volkome moet vertrou en hom genoeg moet liefhê om sonder ophou te bid. Daarom het Jesus voortgegaan: “Ek sê vir julle: Bly vra, en vir julle sal gegee word; bly soek, en julle sal vind; bly klop en daar sal vir julle oopgemaak word. Want almal wat vra ontvang, en almal wat soek, vind, en vir almal wat klop, sal oopgemaak word” (Lukas 11:9, 10, NW). Ons moet dus beslis aanhou bid wanneer ons vervolg word, ontsteld is oor die een of ander diepgewortelde persoonlike swakheid of wanneer ons enige ander beproewing verduur. Jehovah is altyd bereid om sy getroue knegte te help. Hy sê nooit vir ons: “Moenie my lastig val nie.”

17, 18. (a) Hoe het Jesus ons aangespoor om heilige gees te vra, en wat versterk die krag van sy woorde? (b) Hoe het Jesus die optrede van ’n aardse ouer met dié van God vergelyk?

17 As ons ’n hegte verhouding met God wil geniet, het ons sy heilige gees, of werkende krag, nodig. Jesus het derhalwe verder gesê: “Vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ’n klip gee; of ook ’n vis, en hy sal hom in plaas van ’n vis ’n slang gee; of ook as hy ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:11-13; Mattheüs 7:9-11). Die krag van Jesus se woorde word vergroot as ons besef dat die brood van eertydse Bybellande die grootte en vorm van ’n plat, ronde klip gehad het. Party soorte slange lyk na sekere soorte visse, en daar is ’n wit skerpioentjie wat nogal na ’n eier lyk. Maar watter soort vader sal sy kind ’n klip, ’n slang of ’n skerpioen gee as hy brood, ’n vis of ’n eier vra?

18 Daarna het Jesus die optrede van ’n aardse ouer vergelyk met dié van God teenoor die lede van Sy familie van aanbidders. As ons goeie dinge vir ons kinders gee, al is ons min of meer sleg weens oorgeërfde sonde, hoeveel te meer verwag ons dat ons hemelse Vader die voortreflike gawe van sy heilige gees aan sy lojale diensknegte sal gee wat nederig daarom vra!

19. (a) Wat gee Jesus se woorde wat in Lukas 11:11-13 en Mattheüs 7:9-11 opgeteken is te kenne? (b) Hoe sal ons ons beproewinge beskou as ons deur heilige gees gelei word?

19 Jesus se woorde gee te kenne dat ons God om meer van Sy heilige gees moet vra. As ons daardeur gelei word, sal ons nie ‘oor ons lot kla’ en beproewinge en teleurstellings as werklik skadelik vir ons beskou nie (Judas 16). Dit is waar dat “die mens uit ’n vrou gebore, . . . kort van dae en sat van onrus” is, en dat baie nie die einde van hulle probleme of hartseer in hulle lewe gesien het nie (Job 14:1). Maar ons moet nooit ons beproewinge as klippe, slange en skerpioene beskou wat die Hoorder van die gebed op die een of ander manier vir ons gee nie. Hy is die verpersoonliking van liefde en versoek niemand met slegte dinge nie. Hy gee ons eerder ‘elke goeie gif en volmaakte gawe’. Uiteindelik sal hy alles regstel vir almal wat hom liefhet en hom vrees (Jakobus 1:12-17; 1 Johannes 4:8). Diegene wat al jare lank in die waarheid wandel, weet uit ondervinding dat party van hulle swaarste beproewinge, deur gebed en geloof, uiteindelik tot hulle voordeel was en die vrug van God se gees in hulle lewe vergroot het (3 Johannes 4). Trouens, watter beter manier is daar waarop ons kan leer om op ons hemelse Vader te vertrou en gehelp kan word om die vrug van die gees, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, aan te kweek?—Galasiërs 5:22.

20. Watter uitwerking behoort Jesus se woorde wat in Lukas 11:5-13 opgeteken is op ons te hê?

20 Jesus se woorde wat in Lukas 11:5-13 opgeteken is, gee ons dus die verkwikkende versekering van Jehovah se liefde en tere sorg. Dit behoort ons harte met die diepste dankbaarheid en liefde te vul. Dit moet ons geloof versterk en ons begeerte vergroot om dikwels na die voetbank van die Ewige Koning te gaan en in sy liefdevolle teenwoordigheid te vertoef. Bowendien verseker Jesus se woorde ons dat ons nooit afgewys sal word nie. Ons hemelse Vader is baie bly as ons ons sorge op hom werp (Psalm 55:23; 121:1-3). En wanneer ons, as sy getroue toegewyde knegte, om sy heilige gees vra, gee hy dit in oorvloedige mate aan ons. Dit is ons liefdevolle God, en ons kan vas glo dat hy die Hoorder van ons gebede is.

Onthou jy?

◻ Deur wie moet ons tot God in gebed nader, en waarom?

◻ In watter sin is gebed ’n beperkte voorreg?

◻ Wat beteken dit om ‘met heilige gees te bid’?

◻ Hoe kan jy uit die Skrif bewys dat die gebede van Jehovah se getroue, gedoopte Getuies verhoor word?

[Prente op bladsy 14]

Soos mensevaders goeie gawes vir hulle kinders gee, gee Jehovah heilige gees vir die wat hom daarvoor vra

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel