Vereer Jehovah met jou rykdom
‘EK IS nie ryk nie; ek is net ’n jongeling met baie min besittings.’ ‘Ek het nie veel skoolgegaan nie; wat kan ek Jehovah gee?’ ‘Ek is ernstig gestrem; Jehovah sal my maar moet oorsien.’ ‘Ek is al bejaard; dit is te laat vir my om rykdom te verwerf.’
Flits daar sulke besware deur jou gedagte terwyl jy oor die titel van hierdie artikel nadink? Maar jy is moontlik ryker as wat jy dink. Onthou die woorde van die Here Jesus aan die gemeente in Smirna: “Ek ken jou . . . verdrukking en armoede—maar jy is ryk” (Openbaring 2:9). Jesus het vroeër in die Bergpredikasie gesê: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde . . . nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel . . . want waar julle skat is daar sal julle hart ook wees” (Mattheüs 6:19-21). Beur hierdie woorde van ons Meester jou op? Ja, daar kan iets in jou wees wat in die oë van ons hemelse Vader, Jehovah, en sy Seun baie waardevol is. Kom ons gaan ’n bietjie in op die saak.
Die prag van die jeug—krag en ywer
Hoe kan ’n jongeling waardevolle diens aan Jehovah lewer? Spreuke 20:29 verseker ons dat jongmense ’n pragtige hulpmiddel—liggaamskrag—besit. Hoe verkwikkend is dit tog om te sien dat ’n jeugdige sy krag en die fleur van sy lewe aan die diens van onse God wy!
Kom ons blaai terug in die geskiedenisbladsye na die begin van die dertigerjare toe ’n aantal jongmense die waarheid van die Bybel gehoor het. Een 16-jarige het by sy vriend die Bybelstudiehulp Skepping geleen, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. Teen die tyd dat hy by die hoofstuk “Die nuwe skepping” gekom en van toewyding gelees het, het hy geweet wat hy met sy lewe wil doen. Hy het hom daar en dan aan die almagtige Skepper toegewy. Die daaropvolgende jaar het hy ’n ander publikasie, Regverdiging (Boek Een), gelees, wat hom ingelig het oor die geleentheid om ’n aandeel aan die regverdiging van God se naam en soewereiniteit te hê. Hierdie inligting het ’n brandende begeerte by hom gewek om in die voltydse diens te wees. Daardie selfde jaar het hy aansoek om pioniervoorregte gedoen, en hy is nou nog in die voltydse diens. Hoewel ’n aantal van sy tydgenote reeds hulle aardse loopbaan voltooi het, lê baie van die wat nog lewe steeds ’n gees van hardgrondige toegewydheid aan ons hemelse Vader aan die dag.
Openbaar die Christenjeug onder die groot menigte vandag dieselfde kosbare hoedanigheid? Ja, beslis! Jaarboekverslae toon dat ’n menigte so talryk soos doudruppels nou by die pioniergeledere aansluit (Psalm 110:3). Die Filippyne het berig dat 13 persent van hulle gewone pioniers jonger as 20 jaar is. Is dit ook elders die geval? Ja, dit is. ’n Opname in die klein eilandjies Trinidad en Tobago het byvoorbeeld getoon dat 282 nuwe pioniers tussen 1 September 1986 en 30 September 1988 aangestel is. Agt-en-veertig van hulle was jonger as 20 jaar. Wil jy graag hoor wat een van hulle te sê het?
Ontmoet Charmaine Francis. Sy sê: “Van kleins af het my ouers met my gepraat oor hoe ons Jehovah moet dien en aan hom getrou moet bly. Wanneer my ouers my dan gevra het wat ek sou doen as hulle in die gevangenis gesit word omdat hulle die goeie nuus verkondig, het ek gesê: ‘Ek sal Jehovah dien.’ Ek het my toegewy toe ek 13 was en is gedoop toe ek 14 was. Ek het dadelik daarna begin om gedurende elke skoolvakansie hulppionierdiens te doen. In 1983 het ek ’n gewone pionier geword. In my eerste jaar as ’n pionier het ek die vreugde gehad om ’n huisvrou te help om ’n kneg van Jehovah te word. Tans hou ek nege Bybelstudies. Een student is besig om vir doop voor te berei, en drie ander woon die vergaderinge by.”
Wel, jongmense, stem julle nie saam dat julle iets waardevols het waarmee julle Jehovah kan vereer nie? Natuurlik het julle! En al is julle nie nou in die voltydse diens nie kan julle Jehovah na gelang van julle omstandighede vereer. Daar lê miskien nog baie skooljare vir julle voor. Nogtans het julle ’n gulde geleentheid om Jehovah teenoor julle onderwysers en klasmaats te loof. Christian Kalloo, wat tien jaar oud is, het sy eksemplaar van die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? saamgevat skool toe. Die gevolg? Hy het sewe eksemplare gelaat by diegene wat in daardie onderwerp belanggestel het. Hy het ook een in die bediening van huis tot huis by iemand gelaat. Jy kan dieselfde doen.—Vergelyk Mattheüs 21:15, 16.
Ons Grootse Onderrigter leer ons
Die profeet Jesaja het gesê: “Die HERE het My ’n geoefende tong gegee.” Hy het aan Jehovah die eer gegee vir sy spreekvermoë. Hy het ook Jehovah se belofte opgeteken: “My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos . . . nie” (Jesaja 50:4; 59:21). Net soos ongeleerde en gewone manne apostels van Jesus geword het en God hulle in geestelike aangeleenthede wys gemaak het, so het Jehovah vandag gewone mense wys gemaak.
Die jaarboek vir 1986 bevat bemoedigende inligting vir diegene wat min of geen skoolopleiding gehad het nie. In baie lande reël Jehovah se Getuies klasse waar volwassenes geleer word om te lees en te skryf. Hoe het Jehovah tog sulke persone geseën! Tussen 1962 en 1984 het sowat 19 238 persone in Nigerië uitstekende vordering gemaak om te leer lees en skryf, en hulle kan nou inderdaad self die Bybel lees en dit ook aan diegene voorlees vir wie hulle getuig. Watter ryk seëninge het hulle tog ontvang! Een broer het so goed gedoen dat hy die onderrigter van die leesklas in sy gemeente geword het.
Neem ook die ondervinding van Ezekiel Ovbiagele. Hy kon nie lees toe hy in 1940 gedoop is nie. Nadat hy geleer lees het, het hy gevorder totdat hy ’n pionier kon word, en nog later, in 1953, is hy as ’n reisende opsiener aangestel.
Die leerproses het geen ouderdomsperke nie. Sommige sal miskien die ou Engelse gesegde aanhaal: “Jy kan nie ’n ou hond nuwe toertjies leer nie!” Dit is dalk waar van honde, maar mense is nie diere nie. Selfs bejaardes kan nog leer en doen dit wel as hulle regtig Jehovah wil leer ken en wil dien. Jy ken moontlik sommige wat dit gedoen het. Alice Okon in Nigerië is byvoorbeeld aangemoedig om die Bybel te lees en te leer van die hoop wat dit bied; sy het dit gedoen en haar in die hoop verheug. Op 80-jarige leeftyd was sy nie te oud om te leer nie. Dink jy nie sy het Jehovah se hart verbly nie? Sy is ryk in die geloof. Spreuke 3:14 verseker ons aangaande wysheid: “Die verkryging daarvan is beter as dié van silwer en die verwerwing daarvan beter as van goud.” Wanneer iemand die waarheid met juistheid kan spreek, word sy woorde soos “goue appels op versierde silwerborde”.—Spreuke 25:11; Kolossense 3:16.
Gestrem en tog ryk in geloof en goeie werke
Iemand wat met ’n liggaamsgebrek gebore is, kan baie mismoedig raak namate hy ouer word en bewus word van sy situasie. Dit is nog meer traumaties vir iemand wat as volwassene ’n invalide word. Is die situasie vir sulke individue hopeloos? Nee, dit kan selfs die weg tot die ewige lewe vir hulle open.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Edward Stead in die dorpie Arvada, Wyoming, VSA, ’n huurstal bedryf en sy vrou ’n klein hotel bestuur. Die gevreesde Spaanse griep wat hy opgedoen het, het sy weerstand verswak, en hy het ’n slagoffer van gewrigsrumatiek geword, wat sy gewrigte so laat sluit het dat sy liggaam tot die vorm van sy rolstoel verwring is. Hoewel hy andersins hulpeloos was, kon hy nog praat en sy hande effens beweeg. ’n Ruk lank het hy daaraan gedink om sy eie lewe te neem. Toe het hy met die waarheid in aanraking gekom en dit gretig aangeneem.
Aanvanklik het hy by die ingang van die hotel gesit en met die gaste oor sy pasgevonde geloof gepraat. Hy kon sy hande darem gebruik om ’n Bybelpublikasie oop te slaan en vir diegene te wys wat vasgesteek het om te luister. Sommige wat sy pogings op prys gestel het, het hom die kruppel hemelloods genoem. Daarna het hy besluit dat hy in ander dorpe kon gaan getuig as daar ’n spesiale kajuit op ’n bakkie vir hom gebou word. Dit is gedoen, en baie jare lank het hy op hierdie buitengewone manier pionierdiens gedoen. Hy het duisende kilometers tussen Wyoming en Texas afgelê in die geselskap van twee of drie jong pioniers wat na hom omgesien het. Hy was tot sy dood toe ’n groot aanmoediging vir almal wat hom geken het.
Indien jy as gevolg van ’n liggaamlike gebrek mismoedig voel, lees gerus die artikel op bladsy 22-5 van Die Wagtoring van 15 November 1986. Al die mans wat daarin vermeld word, is ouere manne, geestelike raadgewers, wat toegerus is om hulle broers te vertroos wat miskien liggaamlik fiks is maar wat geestelike opbouing nodig het. Hoe ryk is hulle tog in God se oë!—1 Timotheüs 6:18.
Esterleta Dick, 63 jaar oud, is reeds 16 jaar lank ’n gedoopte Getuie. In 1978 het sy heeltemal blind geword, maar die afgelope twee jaar dien sy as ’n gewone pionier. Hoe is dit moontlik? Wel, kom ons laat haar antwoord.
“Eendag”, sê sy, “het ’n jong pioniersustertjie vir my gevra: ‘Suster Dick, jy bereik altyd jou doelwitte as ’n hulppionier. Hoekom probeer jy nie om ’n gewone pionier te wees nie?’”
Esterleta was bang dat sy ’n las vir die broers sou wees, maar sy het onthou dat die kringopsiener die broers aangemoedig het om in die pionierdiens te tree. Sy sê: “Ek het begin, en nou is ek reeds twee jaar ’n pionier. Ek doen straatgetuieniswerk en het heelwat herbesoeke. Daarbenewens hou ek ses tuisbybelstudies. Hoe? Voordat ek die huisbewoner besoek, lees iemand tuis die studiemateriaal en die teksverwysings vir my voor, sodat ek by die studie kommentaar kan lewer. Drie van my Bybelstudente woon saam met my die vergaderings by, en een is gedoop.”
Enigeen kan ‘sy hand vul’ met ’n offer
Is dit net op geestelike gebied wat ’n mens kan gee? Nee. Toe koning Dawid van weleer voorbereidings getref het vir die bou van die tempel, het hy gevra: “Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir ’n offer aan die HERE?” (1 Kronieke 29:5). Enigeen kon dit doen. Net so is daar vandag baie wat vrywillig materieel wil bydra om die Koninkryksbelange te bevorder, afgesien daarvan of hulle jonk of oud is, goeie gesondheid geniet of nie. Dit kan gedoen word deur die takkantoor in jou land of deur die plaaslike gemeente. Op dié manier kan enigeen, na sy vermoë, help met die onkoste wat aangegaan word om toe te sien dat die goeie nuus oor die hele bewoonde aarde verkondig word. Dit is ’n voorreg.—2 Korinthiërs 9:8-12.
Nog belangriker is die feit dat jy geestelike rykdom het waarmee jy Jehovah kan vereer. Jongmense het krag en die fleur van hulle jeug. Die ongeletterdes kan leer om aan Jehovah die vrug van hulle lippe te offer. Die gestremdes kan in kennis, wysheid en insig vorder, en het ook, sodat baie van hulle nie net voltydse lowers van Jehovah is nie maar ook raadgewers en herders in die Christengemeente. Is jy nie ryker as wat jy gedink het nie? Eer Jehovah derhalwe met jou rykdom.—Hebreërs 13:15, 16.