Hoe die menslike natuur verander kan word
“MENSE se lewe is nie net betekenisvol as hulle euwels beveg nie”, het filosoof sir Isaiah Berlin gesê. “Hulle het positiewe doelwitte nodig, as individue en as ’n gemeenskap, om hulle lewe betekenisvol te maak.” Maar hoeveel kan sulke “positiewe doelwitte” vind? Die menslike natuur is alte dikwels geneig tot dít wat negatief en vernietigend is.
In Brittanje het gewelddadige misdade byvoorbeeld onlangs met 11 persent toegeneem. “Ons taak”, sê die Britse eerste minister, “is om iets te probeer vind wat misdaad aan bande sal lê sodat die groot beskawing kan voortbestaan.” Maar kan wette en politieke druk, al word dit ook hoe goed bedoel, werklik mense se neiging om verkeerde dinge te doen verander? Die feit dat wetteloosheid bestaan en toeneem ondanks wetgewing, en selfs ondanks streng wetstoepassing, spreek vanself. Iets meer as regsmaatreëls is nodig om dit te bekamp. Dit is mense se natuur self wat moet verander.
Die Bybel, wat ’n eerlike, realistiese lewensbeskouing huldig, beskryf die mens se slegte karaktertrekke. Die apostel Paulus het byvoorbeeld aan sy mede-Christene in Galasië geskryf oor “onsedelike, onreine en onwelvoeglike dade . . . Mense word vyande en hulle baklei; hulle word jaloers, toornig en . . . is afgunstig, word dronk, hou orgieë, en doen ander dergelike dinge.” Volgens Today’s English Version, waaruit ons hier aanhaal, is al hierdie verlagende praktyke dinge “wat die menslike natuur doen”.—Galasiërs 5:19-21.
Die kern van die probleem
Maar Today’s English Version is ’n vry vertaling en die uitdrukking “wat die menslike natuur doen” is bloot ’n parafrase van wat Paulus eintlik gesê het. Die Griekse woord sarx wat Paulus gebruik het, beteken “vlees”, nie “menslike natuur” nie. Daarom praat letterlike vertalings hier van “die werke van die vlees” om die uitdrukking wat Paulus gebruik het akkuraat in ons moderne taal weer te gee.a
Die Bybelverhaal oor hoe sonde oor die mens gekom het, is duidelik en eenvoudig—trouens, só eenvoudig dat die meeste mense dit nie wil glo nie. Paulus het dit só beskryf: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Paulus verwys hier indirek na Genesis, die eerste boek van die Bybel, en na die skepping van die eerste mens, Adam, en sy vrou Eva. Hulle opsetlike ongehoorsaamheid is welbekend. As gevolg daarvan is hulle tot die dood veroordeel. Hulle nakomelinge het hulle onvolmaakthede, asook die dood, van hulle geërf. Daarom het “almal . . . gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Om hierdie basiese rede is die menslike natuur op sy beste net ’n troebel beeld van wat dit was toe God die mens oorspronklik volmaak geskep het.—Romeine 3:23; Genesis, hoofstukke 2 en 3.
Die menslike natuur kan verander!
Dit is egter moontlik om baie van die slegste eienskappe van die menslike natuur te bowe te kom. Trouens, die Bybel sê ons kan ons natuur verander in die sin dat ons ons persoonlikheid verander. Hoe? Met die hulp van God se heilige gees.—Romeine 8:9.
In sy brief aan mede-Christene in Kolosse stel die apostel Paulus dit soos volg: “Lê die ou persoonlikheid met sy werke af en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur middel van juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat hom geskep het.” Onder die praktyke van die ou persoonlikheid, noem hy van die eienskappe wat maak dat mense neig tot die dinge wat vernietigend is: slegte begeertes, toorn, woede en boosheid.—Kolossense 3:5-10, NW.
In sy brief aan die Christene in Efese meld Paulus insgelyks die nodigheid van ’n “nuwe mens [“persoonlikheid”, NW]”, wat soos hy sê “na God [se wil] geskape is in ware geregtigheid en heiligheid”. Hy brei daarop uit en sê: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar.”—Efesiërs 4:24, 31, 32.
Was Paulus se woorde realisties? Kan persoonlikhede werklik verander word? Wel, die getuienis toon dat daardie vroeë Christene radikale veranderinge in hulle lewe aangebring het. As ’n groep mense was hulle opvallend anders as die res van die wêreld om hulle. Justinus Martyr, ’n geskiedskrywer in die vroeë Christelike tye, het geskryf: “Ons wat mekaar gehaat en vernietig het, en wat vanweë verskille in gewoontes geweier het om met mense van ’n ander ras saam te lewe, lewe nou, sedert die verskyning van Christus, met gemeensame omgang saam met hulle, en bid vir ons vyande en probeer om diegene wat ons sonder oorsaak haat te oorreed om ooreenkomstig die volmaakte voorskrifte van Christus te lewe.”
Maar wat van vandag? Is dit nog moontlik vir iemand om sulke radikale veranderinge in sy natuur aan te bring? Ja! Tienduisende voorbeelde toon dat hierdie ingrypende veranderinge nog steeds plaasvind. Die volgende is slegs een daarvan.
Stephen het grootgeword in een van die nywerheidsentrums van Engeland. Sy vader was ’n ateïs. Toe Stephen 12 jaar oud was, is hy tot drie jaar in ’n verbeteringskool gevonnis. Hy het skuld erken op 64 gevalle van inbraak! Hy het gou respek vir alle gesag verloor, en namate hy groter geword het, het sy misdade al hoe ernstiger geword. Dit het bedrog, dronkenskap, wanordelike gedrag en aanranding van die polisie ingesluit. Vir laasgenoemde oortreding is Stephen tronk toe gestuur. Hy het baie gewelddadig geword. “Daar is geen misdaad wat ’n godlose mens nie sal pleeg as sy behoefte groot genoeg is nie”, het hy gesê.
Wat kon so ’n verstokte misdadiger laat verander? Stephen het mettertyd hulp van sy broer aanvaar wat een van Jehovah se Getuies geword het. Nadat hy die Bybel ’n kort rukkie bestudeer het, het Stephen hom met ’n “nuwe persoonlikheid” begin beklee. Die veranderinge wat hy gemaak het, was voorwaar ingrypend. En nou, vyf jaar later, is hy gelukkig getroud en ’n verantwoordelike lid van ’n gemeente van Jehovah se Getuies, waarin hy as ’n bedieningskneg dien.
Die menslike natuur kan dus in individuele gevalle verander word. Maar is menslike swakhede die enigste rede waarom die “beskawing” vandag “ondermyn” word?
“Die Duiwel waarvan die Skrif praat”
Die apostel Paulus het ’n merkwaardige profesie aangaande hierdie “laaste dae” opgeteken. Sy woorde word in die venster hierbo aangehaal. Let op dat die geweld en boosheid wat hoogty vier “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” meebring. Is dit net die menslike natuur wat vir dit alles verantwoordelik is?—2 Timotheüs 3:1, vgl. NW.
Nee, daar is iets anders, ’n bose mag wat menslike swakhede uitbuit. Net soos mense dit moeilik vind om te glo dat die mens sonde oorgeërf het, vind hulle dit ook moeilik om te aanvaar dat daar ’n bomenslike mag is wat die mens probeer manipuleer. Die Bybel sê egter dat daar wel so ’n mag bestaan: Satan die Duiwel.
Die woord “Duiwel” (wat “lasteraar” beteken) kom 33 keer in die Bybel voor, en “Satan” (wat “teenstander” beteken) 52 keer. In die meeste van hierdie verwysings word daar van dieselfde bose geespersoon gepraat. Maar daar is mense wat die bestaan van ’n persoonlike Satan ontken en wat verkies om te sê: “Die menslike natuur met sy neiging tot sonde is die duiwel waarvan die Skrif praat.”b Dit is egter interessant dat die Hebreeuse teks in die verhaal oor Jehovah se getroue kneg Job die uitdrukking has·Sa·tanʹ, die Satan, gebruik, en in Lukas 4:2 lees ons dat dit die Duiwel (Grieks, ho di·aʹbo·los) was wat Jesus versoek het (Job 1:6). In albei daardie gevalle toon die grammatika dat daar van ’n bepaalde individu gepraat word. Die menslike natuur is nie hier ter sprake nie.
Die apostel Paulus help ons om beter te verstaan hoe magtig Satan is wanneer hy in sy brief aan die Efesiërs praat van “die wêreldheersers van die duisternis . . . die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Demone, onsigbare bose geesskepsele, maak saam met Satan die Duiwel hierdie “wêreldheersers” uit. Hulle ‘verlei die hele wêreld’, terwyl hulle die mens se gevalle toestand soveel moontlik uitbuit (Openbaring 12:9). Dit is die rede waarom Paulus alle Christene ten sterkste aanspoor om ‘staande te bly teen die liste van die duiwel’. Die Duiwel is die hoofoorsaak van die verval van die mensdom wat ons om ons sien.—Efesiërs 6:11.
Herstelling
Petrus, Paulus se tydgenoot, verseker ons dat Satan en sy demone nie vir ewig hier sal wees om die mensdom tot boosheid te beïnvloed nie. Hy sê: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Trouens, binnekort sal alle vorme van boosheid nie meer ’n deel van die menslike toneel wees nie. Satan en sy demone gaan vernietig word (Romeine 16:20; Openbaring 20:1-3). Dan sal die menslike natuur inderdaad “die heerlikheid van God” weerspieël, en die ewige lewe sal die gewisse vooruitsig vir die mensdom wees.—Romeine 3:23.
“Ek het nog altyd gesê en sal altyd sê”, het Amerikaanse president Thomas Jefferson verklaar, “dat dit van ons beter burgers sal maak as ons die Heilige Boek sorgvuldig deurlees . . . Die Bybel maak die beste mense in die wêreld.” Soos ons gesien het, kan ons natuur verander word as ons die Bybel se kragtige boodskap ’n geleentheid gee om ons lewe te beïnvloed (Romeine 12:2). Ons kan kies om dít wat edel en godvrugtig is na te streef en aan te kleef. En om ons te onderskraag in ons poging om te verbeter, kan ons kies om met diegene te assosieer wat dit ook graag wil doen (Hebreërs 10:24, 25). Jehovah se Getuies is bereid om jou op elke moontlike manier te help. Waarom kom jy nie nou met hulle in aanraking nie!
[Voetnote]
a Vergelyk: New World Translation of the Holy Scriptures; The Holy Bible, deur Robert Young; The Emphasised Bible, deur Joseph B. Rotherham; The Holy Bible in Modern English, deur Ferrar Fenton; The Modern Reader’s Bible, deur Richard G. Moulton.
b ’n Amptelike geloofsverklaring van Christadelfianisme, ’n sekte van die Christendom.
[Venster op bladsy 6]
“DIE LAASTE DAE”—Die Bybel se beskrywing
“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
[Prent op bladsy 7]
Die menslike natuur sal binnekort die heerlikheid van God ten volle weerspieël