Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 11/1 bl. 18-22
  • Die rol van die hoër owerhede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die rol van die hoër owerhede
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ware Christene ‘versit hulle nie teen die mag nie’
  • Gehoorsaamheid aan die wet
  • ’n Voorwerp van vrees
  • “Hy is ’n dienaar van God”
  • Geloof is nodig
  • Wanneer die staat nie wil help nie
  • Die Christelike beskouing van gesag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Die Christen se beskouing van die hoër owerhede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Wie se gesag moet jy erken?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Respek vir gesag—Waarom is dit noodsaaklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 11/1 bl. 18-22

Die rol van die hoër owerhede

“Hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan.”—ROMEINE 13:4.

1, 2. Hoe het baie mense in die Christendom by revolusionêre aktiwiteite betrokke geraak?

TWEE jaar gelede het ’n vergadering van biskoppe in Londen ’n verontwaardigde hoofartikel in die New York Post uitgelok. Die vergadering was die Lambeth-konferensie, wat deur meer as 500 biskoppe van die Anglikaanse gemeenskap bygewoon is. Die verontwaardiging was weens ’n resolusie wat deur die konferensie goedgekeur is wat begrip uitgespreek het vir persone “wat, na hulle alle ander middele probeer het, hulle tot die wapenstryd wend as die enigste weg tot geregtigheid”.

2 Die Post het gesê dat dit, in der waarheid, ’n regverdiging van terrorisme is. Maar die biskoppe het bloot ’n toenemende tendens gevolg. Hulle beskouing is een en dieselfde as dié van die Katolieke priester in Ghana wat guerrilla-oorlogvoering as die vinnigste, sekerste en veiligste manier om Afrika te bevry aanbeveel het; of van die Metodiste-biskop in Afrika wat beloof het om “die vryheidsoorlog tot die bittere einde toe” te voer; of van al die sendelinge van die Christendom wat in Asië en Suid-Amerika saam met rebelle teen die gevestigde regerings geveg het.

Ware Christene ‘versit hulle nie teen die mag nie’

3, 4. (a) Watter beginsels word deur sogenaamde Christene wat revolusie voorstaan, geskend? (b) Wat het een persoon oor Jehovah se Getuies agtergekom?

3 In die eerste eeu het Jesus van sy volgelinge gesê: “Hulle [is] geen deel van die wêreld . . . nie, net soos Ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14, NW). Enige sogenaamde Christen wat revolusie voorstaan, is beslis ’n deel van die wêreld. Hy is nie ’n volgeling van Jesus nie; en hy is ook nie ‘onderworpe aan die hoër owerhede’ nie (Romeine 13:1, NW). Hy kan gerus ag slaan op die waarskuwing van die apostel Paulus dat “hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang”.—Romeine 13:2.

4 In teenstelling met baie mense in die Christendom het Jehovah se Getuies niks met wapengeweld te doen nie. ’n Man in Europa het dit agtergekom. Hy skryf: “Toe ek sien wat godsdiens en die politiek veroorsaak het, het ek my daaraan gewy om die gevestigde maatskaplike orde omver te werp. Ek het by ’n terroristegroep aangesluit en is opgelei om allerhande wapens te hanteer; ek het aan baie gewapende rooftogte deelgeneem. My lewe was voortdurend in gevaar. Mettertyd het dit duidelik geword dat ons geen kans het om te wen nie. Ek was ’n gefrustreerde man, verslae deur die absolute hopeloosheid in die lewe. Toe het ’n Getuie ons besoek. Sy het my van God se Koninkryk vertel. Ek het volgehou dat dit ’n vermorsing van my tyd is en het voorgestel dat my vrou luister. Sy het, en ’n tuisbybelstudie is begin. Ek het uiteindelik ingestem om by te sit wanneer hulle studeer. Ek kan nie die gevoel van verligting beskryf wat ek ervaar het toe ek verstaan het wat die dryfkrag is wat die mens tot goddeloosheid aanspoor nie. Die wonderlike Koninkryksbelofte het my ’n aanmoedigende hoop en ’n doel in die lewe gegee.”

5. Waarom bly Christene vreedsaam onderworpe aan die hoër owerhede, en tot wanneer sal dit die geval wees?

5 Christene is ambassadeurs of gesante van God en van Christus (Jesaja 61:1, 2; 2 Korinthiërs 5:20, NW; Efesiërs 6:19, 20). As sodanig bly hulle neutraal in hierdie wêreld se konflikte. Selfs al lyk party politieke stelsels ekonomies suksesvoller as ander, en al laat hierdie stelsels meer vryheid as ander toe, bevorder of beskou Christene nie een stelsel as beter as ’n ander nie. Hulle weet dat alle stelsels onvolmaak is. Dit is “die instelling van God” dat hulle bly voortbestaan tot sy Koninkryk oorneem (Daniël 2:44). Christene bly derhalwe vreedsaam onderworpe aan die hoër owerhede terwyl hulle die ewigdurende welsyn van ander bevorder deur die goeie nuus van die Koninkryk aan hulle te verkondig.—Mattheüs 24:14; 1 Petrus 3:11, 12.

Gehoorsaamheid aan die wet

6. Waarom is baie menslike wette goed, al lê “die hele wêreld in die mag van die Bose”?

6 Nasionale regerings lê stelsels van wette neer, en die meeste van hierdie wette is goed. Behoort dit ons te verbaas, as ons in gedagte hou dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”? (1 Johannes 5:19). Nee. Jehovah het ons oorspronklike vader, Adam, ’n gewete gegee, en hierdie ingebore sin vir reg en verkeerd word op baie maniere in die wette van mense weerspieël (Romeine 2:13-16). Hammoerabi, ’n eertydse Babiloniese wetgewer, het sy wetkode soos volg ingelei: “Op daardie tyd het [hulle] my benoem om die welsyn van die volk te bevorder, ek, Hammoerabi, die vroom, godvresende prins, om regverdigheid te laat bloei in die land, om die goddeloses en die boosdoeners te vernietig, sodat die sterke nie die swakke verdruk nie.”

7. As iemand die wet breek, wie het die reg om hom te straf, en waarom?

7 Die meeste regerings sou sê dat dit ook die doel van hulle wette is: om die welsyn van burgers en goeie orde in die gemeenskap te bevorder. Daarom straf hulle antisosiale dade, soos moord en diefstal, en lê hulle regulasies neer, soos snelheidsgrense en parkeerreëls. Enigiemand wat hulle wette opsetlik breek, weerstaan die gesag en “sal hulle oordeel ontvang”. Wie sal hulle oordeel? Nie noodwendig God nie. Die Griekse woord wat hier as oordeel vertaal is, kan na burgerlike regsvordering verwys, pleks van oordele deur Jehovah. (Vergelyk 1 Korinthiërs 6:7.) As enigiemand onwettig optree, het die hoër owerheid die reg om hom te straf.

8. Hoe sal die gemeente reageer as iemand ’n ernstige misdaad pleeg?

8 Jehovah se Getuies het ’n goeie reputasie dat hulle hul nie teen menslike owerhede versit nie. As dit sou gebeur dat iemand in die gemeente wel die wet oortree, sal die gemeente hom nie help om wetlike straf vry te spring nie. As enigiemand steel, moor, laster, met sy belasting kul, iemand verkrag, bedrog pleeg, dwelms gebruik of hom op enige ander manier teen die wettige owerheid versit, sal hy ernstige tug van die gemeente ontvang—en hy moet dit nie as vervolging beskou wanneer die sekulêre owerheid hom straf nie.—1 Korinthiërs 5:12, 13; 1 Petrus 2:13-17, 20.

’n Voorwerp van vrees

9. Wat het Christene die reg om te doen as hulle deur wettelose elemente bedreig word?

9 Paulus sit sy bespreking van die hoër owerhede voort deur te sê: “Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang” (Romeine 13:3). Dit is nie lojale Christene wat straf van die owerheid moet vrees nie, maar oortreders, diegene wat ‘slegte dade’, misdade, pleeg. Wanneer Jehovah se Getuies deur sulke wettelose elemente bedreig word, kan hulle heel gepas beskerming van die polisie of die militêre owerheid aanvaar.—Handelinge 23:12-22.

10. Hoe het Jehovah se Getuies van die owerheid ‘lof ontvang’?

10 Paulus sê vir die Christen wat die wet van die hoër owerheid gehoorsaam: “Jy sal lof van hom ontvang.” Beskou as voorbeeld hiervan ’n paar briewe wat Jehovah se Getuies in Brasilië na hulle streekbyeenkomste ontvang het. Van die hoof van ’n munisipale departement van sport: “Julle vreedsame gedrag verdien die hoogste lof. Dit is gerusstellend om te weet dat daar in vandag se geteisterde wêreld soveel mense is wat nog in God glo en hom aanbid.” Van die bestuurder van ’n munisipale stadion: “Danksy die uitstekende organisasie, was daar, ondanks die uiters groot aantal teenwoordiges, niks wat afbreuk gedoen het aan die verrigtinge nie.” Van ’n burgemeesterskantoor: “Ons wil hierdie geleentheid gebruik om julle geluk te wens met julle ordelikheid en wonderlike, spontane dissipline, en ons wens julle sukses toe vir toekomstige byeenkomste.”

11. Waarom kan daar glad nie gesê word dat die verkondiging van die goeie nuus ’n slegte daad is nie?

11 Die term “goeie dade” praat van dade in gehoorsaamheid aan die hoër owerhede. Daarbenewens is ons predikingswerk, wat deur God, en nie deur mense nie, beveel word, nie ’n slegte daad nie—en die politieke owerhede behoort dit te erken. Dit is ’n publieke diens wat die sedelike kaliber van diegene wat daarop reageer, verhef. Daarom hoop ons dat die hoër owerhede ons reg om die predikingswerk te doen, sal beskerm. Paulus het hom op die owerhede beroep om die prediking van die goeie nuus wetlik te bevestig (Handelinge 16:35-40; 25:8-12; Filippense 1:7). Jehovah se Getuies het onlangs eweneens wetlike erkenning van hulle werk in Oos-Duitsland, Hongarye, Pole, Roemenië, Benin en Myanma (Birma) gevra en dit gekry.

“Hy is ’n dienaar van God”

12-14. Hoe het die hoër owerhede as God se dienaar opgetree (a) in Bybelse tye? (b) in hedendaagse tye?

12 Met betrekking tot die sekulêre owerheid sê Paulus voorts: “Hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”—Romeine 13:4.

13 Nasionale owerhede het soms op spesifieke maniere as God se dienaar opgetree. Kores het dit gedoen toe hy die Jode opdrag gegee het om van Babilon terug te keer en God se huis te herbou (Esra 1:1-4; Jesaja 44:28). Artasasta was God se dienaar toe hy Esra met ’n bydrae gestuur het om daardie huis te herbou en later toe hy Nehemia opdrag gegee het om die mure van Jerusalem te herbou (Esra 7:11-26; 8:25-30; Nehemia 2:1-8). Die Romeinse hoër owerheid het as sodanig opgetree toe hy Paulus van die bende in Jerusalem gered het, hom tydens ’n skipbreuk beskerm het en gereël het dat hy sy eie huis in Rome gehad het.—Handelinge 21:31, 32; 28:7-10, 30, 31.

14 Sekulêre owerhede het eweneens in hedendaagse tye as God se dienaar opgetree. Byvoorbeeld, in 1959 het die Hooggeregshof van Kanada een van Jehovah se Getuies, wat in Quebec daarvan aangekla is dat hy opruiende smaadskrifte gepubliseer het, onskuldig bevind—en sodoende die vooroordeel van die destydse premier van Quebec, Maurice Duplessis, teengewerk.

15. Hoe het die owerhede oor die algemeen as God se dienaar opgetree, en watter reg besorg dit hulle?

15 Daarbenewens tree nasionale regerings oor die algemeen as God se dienaar op deur die openbare orde te bewaar totdat God se Koninkryk daardie verantwoordelikheid oorneem. Volgens Paulus is dit om hierdie rede dat die owerheid ‘die swaard dra’, wat sy reg om straf toe te dien voorstel. Dit sluit gewoonlik tronkstraf of boetes in. In sommige lande kan dit ook die doodstraf insluit.a Daarteenoor het baie nasies verkies om nie die doodstraf te hê nie, en dit is ook hulle reg.

16. (a) Aangesien die owerheid God se dienaar is, waarteen het party van God se knegte geen beswaar nie? (b) Watter soort betrekking sal ’n Christen nie aanvaar nie, en waarom nie?

16 Die feit dat die hoër owerhede God se dienaar is, verduidelik waarom Daniël, die drie Hebreërs, Nehemia en Mordegai verantwoordelike posisies in die Babiloniese en Persiese regerings kon aanvaar. Hulle kon hul dus ten behoewe van God se volk op die gesag van die staat beroep (Nehemia 1:11; Ester 10:3; Daniël 2:48, 49; 6:2, 3). Vandag werk party Christene ook in die staatsdiens. Maar aangesien hulle geen deel van die wêreld is nie, sluit hulle nie by politieke partye aan nie, stel hulle hul nie verkiesbaar vir politieke ampte nie of aanvaar hulle geen beleidvormende posisies in politieke organisasies nie.

Geloof is nodig

17. Watter situasies kan veroorsaak dat party nie-Christene hulle teen die owerheid verset?

17 Maar sê nou die owerheid laat korrupsie of selfs verdrukking toe? Behoort Christene die owerheid te probeer vervang deur een wat skynbaar beter is? Wel, ongeregtigheid en korrupsie in regerings is niks nuuts nie. In die eerste eeu het die Romeinse Ryk onregte soos slawerny toegelaat. Dit het selfs korrupte amptenare geduld. Die Bybel praat van tollenaars wat gekul het, ’n onregverdige regter en ’n provinsiale goewerneur wat omkoopgeskenke wou hê.—Lukas 3:12, 13; 18:2-5; Handelinge 24:26, 27.

18, 19. Hoe reageer Christene as regeringsamptenare mag misbruik of korrup is?

18 Christene kon destyds probeer het om ’n einde te maak aan sulke misbruike, maar hulle het nie. Paulus het byvoorbeeld nie die einde van slawerny voorgestaan nie, en hy het Christene wat slawe besit het, nie aangespoor om hulle slawe vry te laat nie. Hy het slawe en hulle eienaars eerder aangemoedig om Christelike barmhartigheid in hulle handelinge teenoor mekaar aan die dag te lê. (1 Korinthiërs 7:20-24; Efesiërs 6:1-9; Filemon 10-16; sien ook 1 Petrus 2:18.) Christene het eweneens nie by revolusionêre bedrywighede betrokke geraak nie. Hulle was te besig om “die evangelie van vrede” te verkondig (Handelinge 10:36). In 66 G.J. het ’n Romeinse leër Jerusalem omsingel en toe teruggetrek. Pleks van by die opstandige verdedigers van die stad te bly, het Hebreeuse Christene Jesus se opdrag gehoorsaam en ‘na die berge gevlug’.—Lukas 21:20, 21.

19 Die vroeë Christene het met die toestande soos dit was, saamgeleef en het die lewe van individue probeer verbeter deur hulle te help om Bybelbeginsels te volg. Geskiedskrywer John Lord het, in sy boek The Old Roman World, geskryf: “Die ware triomf van die Christelike geloof was die vermoë daarvan om goeie mense te maak van diegene wat die leerstellinge daarvan bely het, eerder as om uiterlik gewilde instellings, of die regering of wette te verander.” Moet Christene vandag anders optree?

Wanneer die staat nie wil help nie

20, 21. (a) Hoe het een sekulêre owerheid nagelaat om ten goede op te tree as God se dienaar? (b) Hoe reageer Jehovah se Getuies wanneer hulle met die medewerking van die staat vervolg word?

20 Wrede vervolging het in September 1972 teen Jehovah se Getuies in ’n land in Midde-Afrika uitgebreek. Duisende is van al hulle besittings beroof en het weens ander wreedhede gely, onder andere aanrandings, marteling en moord. Het die hoër owerheid sy plig nagekom om die Getuies te beskerm? Nee! Dit het eerder die geweld aangemoedig en hierdie onskadelike Christene genoodsaak om na buurlande te vlug.

21 Moet Jehovah se Getuies nie woedend wees en teen sulke wrede owerhede in opstand kom nie? Nee. Christene moet sulke vernederinge geduldig verduur en nederig in navolging van Jesus optree: “Toe Hy gely het, [het hy] nie gedreig . . . nie, maar dit oorgegee . . . aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). Hulle onthou dat Jesus, toe hy in die tuin van Getsemane in hegtenis geneem is, ’n dissipel bestraf het wat hom met ’n swaard te hulp gekom het, en dat hy later vir Pontius Pilatus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”—Johannes 18:36; Mattheüs 26:52; Lukas 22:50, 51.

22. Watter goeie voorbeeld het party Getuies in Afrika gestel toe hulle wreed vervolg is?

22 Met Jesus se voorbeeld in gedagte het daardie Getuies in Afrika die moed gehad om Paulus se raad te volg: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan my kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (Romeine 12:17-19; vergelyk Hebreërs 10:32-34.) Wat ’n aanmoedigende voorbeeld is ons broers in Afrika tog vir ons almal! Ware Christene laat vaar nie Bybelbeginsels nie, al weier die owerheid om eerbaar op te tree.

23. Watter vrae sal nog bespreek word?

23 Maar wat kan die hoër owerhede van Christene verwag? En is daar enige perke aan die eise wat hulle tereg kan stel? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Die Wet wat in eertydse Israel deur God gegee is, het die doodstraf vir ernstige misdade ingesluit.—Exodus 31:14; Levitikus 18:29; 20:2-6; Numeri 35:30.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is party maniere waarop ’n mens jou teen die hoër owerhede kan ‘versit’?

◻ Wat is “die instelling van God” met betrekking tot regeringsowerheid?

◻ Hoe is die owerhede ’n “voorwerp van vrees”?

◻ Hoe dien menseregerings as “God se dienaar”?

[Venster op bladsy 21]

’n Brief van ’n polisiehoof

DIE takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Brasilië het ’n brief met die briefhoof van die “Openbare diens van die staat Minas Gerais” ontvang. Dit was van die polisiehoof van die dorp Conquista. Het iets geskort? Laat die brief verduidelik. Dit sê:

“Meneer

“Dit gee my genoeë om my met hierdie brief aan u voor te stel. Ek is bykans drie jaar die polisiehoof van die dorp Conquista, Minas Gerais. By die werk probeer ek altyd om pligsgetrou te wees, maar ek het gesukkel om die vrede in die tronk te bewaar. Die gevangenes was rusteloos, al het hulle opleiding gekry in sekere take.

“’n Paar maande gelede het senhor O—— na ons dorp gekom en hom as een van Jehovah se Getuies voorgestel. Hy het party gevangenes van die Bybel begin leer, hulle geleer lees en skryf en hulle die grondbeginsels van higiëne en sosiale vaardighede gewys, sowel as om hulle van die Heilige Bybel te vertel. Die manier waarop hierdie prediker gewerk het, het sy toegewydheid, liefde en selfopoffering duidelik geopenbaar. Die gedrag van die gevangenes het, tot die verbasing van almal wat dit gesien het, gou merkbaar verbeter.

“Met die oog op wat in ons tronk gebeur het, wil ek die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap amptelik in kennis stel van ons waardering vir die goeie werk wat die waardige prediker in ons gemeenskap gedoen het.”

Die apostel Paulus het van die regeringsowerheid gesê: “Doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang” (Romeine 13:3). Dit het beslis in die bogenoemde geval gebeur. Wat ’n getuienis is dit tog van die krag wat God se Woord het om mense te verander, want die goeie nuus het in ’n paar maande reggekry wat die strafstelsel in jare nie kon doen nie!—Psalm 19:8-10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel