Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 11/1 bl. 23-28
  • Ons relatiewe onderworpenheid aan die hoër owerhede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons relatiewe onderworpenheid aan die hoër owerhede
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Daarom betaal julle ook belastings”
  • ‘Betaal almal wat aan hulle verskuldig is’
  • “Vrees” en “eer”
  • Relatiewe onderworpenheid
  • ‘Wees gehoorsaam aan God’
  • “Sagmoedigheid en diepe agting”
  • Die Christelike beskouing van gesag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Moet jy jou belasting betaal?
    Ontwaak!—2003
  • Belasting—Moet jy dit betaal?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die Christen se beskouing van die hoër owerhede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 11/1 bl. 23-28

Ons relatiewe onderworpenheid aan die hoër owerhede

“Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp.”—ROMEINE 13:5.

1. Watter slegte ondervindinge het Jehovah se Getuies aan die hand van die Nazi- hoër owerhede gehad, en was dit omdat hulle ‘kwaad gedoen het’?

OP 7 JANUARIE 1940 is Franz Reiter en vyf ander jong Oostenrykers deur die guillotine tereggestel. Hulle was Bibelforscher, Jehovah se Getuies, en hulle het gesterf omdat hulle nie met ’n rein gewete wapens kon opneem vir Hitler se Ryk nie. Reiter was een van duisende Getuies wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog vir hulle geloof gesterf het. Baie het lang jare in konsentrasiekampe verduur. Het al hierdie mense weens “die swaard” van die Nazi- hoër owerhede gely omdat hulle ‘kwaad gedoen het’? (Romeine 13:4). Beslis nie! Paulus se verdere woorde toon dat hierdie Christene God se bevele in Romeine 13 gehoorsaam het, selfs al het hulle aan die hand van die owerheid gely.

2. Wat is die belangrikste rede om aan die hoër owerhede onderworpe te wees?

2 In Romeine 13:5 skryf die apostel: “Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.” Vroeër het Paulus gesê dat “die swaard” wat deur die owerheid gedra word ’n goeie rede is om aan hom onderworpe te wees. Maar nou gee hy ’n beter rede: die gewete. Ons strewe daarna om God “in ’n rein gewete” te dien (2 Timotheüs 1:3). Die Bybel maan ons om aan die hoër owerhede onderworpe te wees, en ons is gehoorsaam daaraan omdat ons wil doen wat reg is in God se oë (Hebreërs 5:14). Ons Bybelopgeleide gewete laat ons inderdaad die owerheid selfs gehoorsaam wanneer geen mens teenwoordig is om te kyk dat ons dit doen nie.—Vergelyk Prediker 10:20.

“Daarom betaal julle ook belastings”

3, 4. Watter reputasie het Jehovah se Getuies, en waarom moet Christene belasting betaal?

3 Daar was ’n paar jaar gelede in Nigerië onluste oor die betaling van belasting. Etlike lewens is verloor, en die owerhede het die leër ingeroep. Die soldate het gedurende ’n vergadering in ’n Koninkryksaal ingegaan en wou weet wat die doel van die vergadering was. Toe hulle uitvind dat dit ’n Bybelstudie van Jehovah se Getuies is, het die offisier in bevel die soldate aangesê om te loop, en gesê: “Jehovah se Getuies is nie belastingonlusstokers nie.”

4 Daardie Nigeriese Getuies het ’n reputasie gehad dat hulle in ooreenstemming met Paulus se woorde geleef het: “Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is” (Romeine 13:6). Toe Jesus melding gemaak het van die reël: ‘Betaal aan die keiser wat die keiser toekom’, het hy gepraat van die betaling van belastings (Mattheüs 22:21). Sekulêre owerhede voorsien paaie, polisiebeskerming, biblioteke, vervoerstelsels, skole, posdienste en nog veel meer. Ons maak dikwels van hierdie voorsienings gebruik. Dit is net reg dat ons deur middel van ons belasting daarvoor moet betaal.

‘Betaal almal wat aan hulle verskuldig is’

5. Wat word bedoel met die uitdrukking: “Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is”?

5 Paulus sê voorts: “Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (Romeine 13:7). Die woord “almal” sluit elke sekulêre owerheid in wat God se openbare dienaar is. Daar is geen uitsonderings nie. Selfs al lewe ons onder ’n politieke stelsel waarvan ons persoonlik nie hou nie, betaal ons belasting. As godsdienste in die gebied waar ons woon belastingvry is, kan gemeentes hiervan gebruik maak. En soos ander burgers kan Christene enige wettige voorsienings gebruik om die belasting wat hulle betaal te verminder. Maar geen Christen moet belasting onwettig ontduik nie.—Vergelyk Mattheüs 5:41; 17:24-27.

6, 7. Waarom moet ons belasting betaal al word die geld gebruik om vir iets te betaal waarmee ons nie saamstem nie of al vervolg die owerheid ons?

6 Maar sê nou ’n belasting lyk onregverdig. Of gestel ’n deel van die belastinggeld word gebruik om vir iets te betaal waarmee ons nie saamstem nie, soos gratis aborsies, bloedbanke of projekte wat in stryd is met ons neutraliteit? Ons betaal steeds al ons belasting. Dit is die owerheid wat die verantwoordelikheid moet dra van hoe hulle die belastinggeld gebruik. Ons is nie aangestel om die owerheid te oordeel nie. God is die “regter van die aarde”, en op sy tyd sal die regerings aan hom verantwoording moet doen oor hoe hulle hul gesag gebruik het (Psalm 94:2; Jeremia 25:31). Tot dit gebeur, betaal ons ons belasting.

7 Sê nou die owerheid vervolg ons? Ons betaal steeds belasting vir die alledaagse dienste wat gelewer word. Die Examiner van San Francisco het van Getuies wat in een Afrikaland vervolg is, gesê: “Jy kan hulle as modelburgers beskou. Hulle betaal getrou hulle belastings, sorg vir siekes, beveg ongeletterdheid.” Ja, daardie vervolgde Getuies het hulle belasting betaal.

“Vrees” en “eer”

8. Wat is die “vrees” wat ons die owerheid gee?

8 Die “vrees” van Romeine 13:7 is nie ’n lafhartige vrees nie, maar eerder ’n respek vir sekulêre owerheid, ’n vrees om sy wet te oortree. Hierdie respek word betoon weens die posisie wat hy beklee, nie altyd weens die persoon wat daardie posisie beklee nie. Wanneer die Bybel profeties melding maak van die Romeinse keiser Tiberius noem dit hom “’n veragtelike” (Daniël 11:21). Maar hy was die keiser en as sodanig sou ’n Christen hom gevolglik vrees en eer verskuldig wees.

9. Wat is party maniere waarop ons menslike owerhede eerbiedig?

9 Wat eer betref, volg ons Jesus se voorbeeld en gee ons nie titels wat op godsdienstige posisies berus nie (Mattheüs 23:8-10). Maar wat sekulêre owerhede betref, ons spreek hulle met genoeë aan by watter titel ook al vereis word om hulle te eerbiedig. Paulus het die term “U Eksellensie” gebruik toe hy met Romeinse goewerneurs gepraat het (Handelinge 26:25, NW). Daniël het Nebukadnesar “my heer” genoem (Daniël 4:19). Vandag kan Christene titels soos “Edelagbare” of “U Majesteit” gebruik. Hulle kan staan wanneer ’n regter in die hof inloop of selfs eerbiedig voor ’n heerser buig as dit die gebruik is.

Relatiewe onderworpenheid

10. Hoe het Jesus getoon dat daar perke is aan wat ’n menslike owerheid van ’n Christen kan verwag?

10 As Jehovah se Getuies onderworpe is aan menslike owerheid, waarom het Franz Reiter en soveel ander dan so gely? Omdat ons onderworpenheid relatief is en die owerheid nie altyd erken dat die Bybel perke stel aan die dinge wat hy kan vereis nie. As die owerheid iets vereis wat ’n opgeleide Christengewete skend, oortree dit sy godgegewe perk. Jesus het dit getoon toe hy gesê het: “Betaal . . . aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Mattheüs 22:21). Wanneer die keiser eis wat God toekom, moet ons erken dat God die voorrang geniet.

11. Watter algemeen aanvaarde beginsel toon dat daar perke is aan wat ’n menslike owerheid kan verwag?

11 Is hierdie posisie ondermynend of verraderlik? Glad nie. Dit is, om die waarheid te sê, ’n uitbreiding van ’n beginsel wat die meeste beskaafde nasies erken. In die 15de eeu is ene Peter von Hagenbach verhoor omdat hy ’n skrikbewind gevoer het in die deel van Europa waaroor hy gesag uitgeoefen het. Sy verdediging, dat hy bloot die opdragte van sy heer, die hertog van Boergondië, uitgevoer het, is verwerp. Die bewering dat iemand wat gruweldade pleeg nie daarvoor verantwoordelik is as hy die opdragte van ’n hoër owerheid uitvoer nie, is sedertdien ’n paar maal gemaak—die bekendste geval was seker die Nazi-oorlogsmisdadigers voor die Internasionale Tribunaal in Neurenberg. Die bewering is gewoonlik verwerp. Die Internasionale Tribunaal het in sy uitspraak gesê: “Mense het internasionale pligte wat belangriker is as die nasionale verpligtings van gehoorsaamheid wat deur die individuele staat opgelê word.”

12. Wat is ’n paar skriftuurlike voorbeelde van knegte van God wat geweier het om onredelike eise van die owerheid te gehoorsaam?

12 God se knegte het nog altyd erken dat daar perke is aan die onderworpenheid wat hulle gewetensgetrou aan die hoër owerhede verskuldig is. Ongeveer die tyd toe Moses in Egipte gebore is, het Farao twee Hebreeuse vroedvroue opdrag gegee om alle pasgebore Hebreeuse seuntjies dood te maak. Maar die vroedvroue het die babas laat lewe. Was hulle verkeerd omdat hulle ongehoorsaam was aan Farao? Nee, hulle het in ooreenstemming met hulle godgegewe gewete opgetree, en God het hulle daarvoor geseën (Exodus 1:15-20). Toe Israel in ballingskap in Babilon was, het Nebukadnesar vereis dat sy amptenare, onder andere die Hebreërs Sadrag, Mesag en Abednego, voor ’n beeld wat hy in die dal Dura opgerig het, moes neerbuig. Die drie Hebreërs het geweier. Was hulle verkeerd? Nee, omdat hulle God se wet sou oortree as hulle die koning se bevel gehoorsaam het.—Exodus 20:4, 5; Daniël 3:1-18.

‘Wees gehoorsaam aan God’

13. Watter voorbeeld het die vroeë Christene gestel met betrekking tot relatiewe gehoorsaamheid aan die hoër owerhede?

13 Toe die Joodse owerhede eweneens Petrus en Johannes beveel het om op te hou om oor Jesus te preek, het hulle geantwoord: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis” (Handelinge 4:19; 5:29). Hulle kon nie stilbly nie. Die tydskrif The Christian Century vestig die aandag op ’n ander standpunt wat die vroeë Christene in ooreenstemming met hulle gewete ingeneem het wanneer dit sê: “Die eerste Christene het nie in die gewapende magte gedien nie. Roland Bainton sê dat daar ‘van die einde van die Nieu-Testamentiese tydperk tot die dekade 170-180 n.C. hoegenaamd geen getuienis is dat Christene in die leër gedien het nie’ (Christian Attitudes Toward War and Peace [Abingdon, 1960], bl. 67-8). . . . Swift sê Justinus Martyr ‘aanvaar dit as vanselfsprekend dat Christene hulle onthou van gewelddade’.”

14, 15. Wat is ’n paar Bybelbeginsels wat die relatiewe gehoorsaamheid van die vroeë Christene aan menslike owerhede bepaal het?

14 Waarom het die vroeë Christene nie krygsdiens gedoen nie? Elkeen het God se Woord en wette ongetwyfeld noukeurig bestudeer en het sy persoonlike besluit geneem op grond van sy Bybelopgeleide gewete. Hulle was neutraal, “geen deel van die wêreld nie”, en hulle neutraliteit het hulle verbied om in hierdie wêreld se konflikte party te kies (Johannes 17:16, NW; 18:36, NW). Daarbenewens het hulle aan God behoort (2 Timotheüs 2:19). As hulle hul lewe vir die staat afgelê het, sou dit beteken dat hulle aan die keiser gee wat God toekom. Buitendien was hulle deel van ’n internasionale broederskap wat in liefde saamgebind is (Johannes 13:34, 35; Kolossense 3:14; 1 Petrus 4:8; 5:9). Hulle kon nie gewetensgetrou wapens opneem as die moontlikheid bestaan het dat hulle ’n mede-Christen om die lewe sou bring nie.

15 Bowendien kon Christene nie aan algemene godsdiensgebruike, soos keiseraanbidding, meedoen nie. Gevolglik is hulle as “vreemde en gevaarlike mense [beskou], en die res van die bevolking het hulle van nature wantrou” (Still the Bible Speaks, deur W. A. Smart). Al het Paulus geskryf dat Christene ‘vrees moet gee aan die wat vrees toekom’, het hulle nie hulle groter vrees, of respek, vir Jehovah vergeet nie (Romeine 13:7; Psalm 86:11). Jesus self het gesê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”—Mattheüs 10:28.

16. (a) Op watter gebiede moet Christene hulle gehoorsaamheid aan die hoër owerhede versigtig oorweeg? (b) Wat lig die venster op bladsy 27 toe?

16 As Christene het ons vandag met soortgelyke uitdagings te kampe. Ons kan aan geen moderne weergawe van afgodediens deelneem nie—of dit nou aanbiddende gebare teenoor ’n beeld of simbool is en of dit is om redding aan ’n persoon of ’n organisasie toe te skryf (1 Korinthiërs 10:14; 1 Johannes 5:21). En soos die vroeë Christene kan ons nie ons Christelike neutraliteit prysgee nie.—Vergelyk 2 Korinthiërs 10:4.

“Sagmoedigheid en diepe agting”

17. Watter raad het Petrus aan diegene gegee wat weens hulle gewete ly?

17 Die apostel Petrus het van ons gewetensgetroue standpunt geskryf en gesê: “Dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly” (1 Petrus 2:19). Ja, dit is God welgevallig as ’n Christen getrou bly ondanks vervolging, en daar is die bykomende seëning dat die Christen se geloof versterk en gelouter word (Jakobus 1:2-4; 1 Petrus 1:6, 7; 5:8-10). Petrus het ook geskryf: “Al sou julle ly ter wille van die regverdigheid, is julle gelukkig. Vrees egter nie die voorwerp van hulle vrees nie en raak ook nie in beroering nie. Maar heilig die Christus as Heer in julle hart, altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede verlang vir die hoop wat in julle is, maar doen dit met sagmoedigheid en diepe agting” (1 Petrus 3:14, 15, NW). Dit is werklik nuttige raad!

18, 19. Hoe kan ’n gesindheid van diepe agting en redelikheid help as die owerheid ons vryheid van aanbidding beperk?

18 Wanneer vervolging ontstaan omdat die owerheid onder ’n misverstand van die Christelike standpunt verkeer of omdat die Christendom se godsdiensleiers ’n wanvoorstelling van Jehovah se Getuies aan die owerheid gegee het, kan dit ’n verligting van druk meebring as die feite onder die owerheid se aandag gebring word. Omdat ’n Christen sagmoedig is en diepe agting het, veg hy nie fisies teen vervolgers terug nie. Maar hy gebruik elke wettige manier wat beskikbaar is om sy geloof te verdedig. Dan laat hy sake in Jehovah se hande.—Filippense 1:7; Kolossense 4:5, 6.

19 Diepe agting veroorsaak ook dat ’n Christen alles in sy vermoë doen om die owerheid te gehoorsaam, sonder om sy gewete te skend. As gemeentelike vergaderinge byvoorbeeld verbied word, sal Christene die een of ander minder ooglopende manier vind om aan te hou om aan Jehovah se tafel te voed. Die Opperste Gesag, Jehovah God, sê deur middel van Paulus vir ons: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie” (Hebreërs 10:24, 25). Maar sulke samekomste kan oordeelkundig gehou word. Al is daar net ’n paar mense teenwoordig kan ons seker wees dat God sulke reëlings seën.—Vergelyk Mattheüs 18:20.

20. Hoe kan Christene die situasie hanteer as daar ’n verbod is op die openbare verkondiging van die goeie nuus?

20 Party owerhede het eweneens die openbare verkondiging van die goeie nuus verbied. Christene wat onder hulle leef, onthou dat die Opperste Gesag deur middel van Jesus self gesê het: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Daarom gehoorsaam hulle die Opperste Gesag ongeag wat dit hulle kos. Waar moontlik het die apostels in die openbaar en van huis tot huis gepreek, maar daar was ander maniere om mense te bereik, soos informele getuieniswerk (Johannes 4:7-15; Handelinge 5:42; 20:20). Dikwels sal die owerhede nie met die predikingswerk inmeng as net die Bybel gebruik word nie—en dit beklemtoon hoe belangrik dit is dat alle Getuies goed opgelei moet wees om aan die hand van die Skrif te redeneer. (Vergelyk Handelinge 17:2, 17, NW.) Deur vrymoedig, maar tog eerbiedig, te wees, kan Christene dikwels ’n manier vind om Jehovah te gehoorsaam sonder om hulle die woede van die hoër owerhede op die hals te haal.—Titus 3:1, 2.

21. Wat kan Christene doen as die keiser hulle genadeloos vervolg?

21 Maar soms is die owerheid genadeloos in hulle vervolging van Christene. Dan is die enigste ding wat ons met ’n rein gewete kan doen om te volhard om reg te doen. Jong Franz Reiter het voor ’n keuse gestaan: hy moes sy geloof prysgee of sterf. Omdat hy nie kon ophou om God te aanbid nie, het hy moedig gesterf. Die nag voor hy gesterf het, het Franz aan sy moeder geskryf: “Ek gaan môre-oggend tereggestel word. Ek het my krag van God, soos dit nog altyd was met alle ware Christene in die verlede . . . As julle tot die dood toe getrou bly, sal ons mekaar weer ontmoet in die opstanding.”

22. Watter hoop het ons, en hoe moet ons intussen voortgaan?

22 Eendag sal die hele mensdom onder net een wet wees, Jehovah God s’n. Tot dan moet ons die instelling van God gewetensgetrou gehoorsaam en ons relatiewe onderworpenheid aan die hoër owerhede behou terwyl ons terselfdertyd in alle dinge aan ons Soewereine Heer Jehovah gehoorsaam is.—Filippense 4:5-7.

Onthou jy?

◻ Wat is die belangrikste rede om aan die hoër owerhede onderworpe te wees?

◻ Waarom moet ons nie huiwer om die belasting wat die keiser oplê te betaal nie?

◻ Watter soort eer moet ons die owerheid gee?

◻ Waarom is ons onderworpenheid aan die keiser net relatief?

◻ Hoe moet ons reageer as ons vervolg word omdat die keiser eis

wat God toekom?

[Venster op bladsy 27]

Respek, nie aanbidding nie

Een oggend by die skool het Terra, ’n jong Kanadese Getuie van Jehovah, gesien dat haar onderwyser ’n klasmaat ’n paar oomblikke lank uit die klaskamer neem. Kort daarna het die onderwyser Terra stilletjies gevra om saam met hom na die skoolhoof se kantoor te gaan.

Toe hulle daar aankom, het Terra gesien dat die Kanadese vlag oor die skoolhoof se lessenaar gedrapeer is. Die onderwyser het vir Terra gesê om op die vlag te spoeg! Hy het gesê dat aangesien Terra nie die volkslied sing of die vlag salueer nie, daar geen rede is dat sy nie so iets kan doen nie. Terra het geweier en verduidelik dat Jehovah se Getuies die vlag wel respekteer, al aanbid hulle dit nie.

Terug in die klaskamer het die onderwyser gesê dat hy so pas ’n eksperiment gedoen het. Hy het twee leerlinge een op ’n slag na die skoolhoof se kantoor geneem en hulle die opdrag gegee om op die vlag te spoeg. Die eerste een het aan patriotiese seremonies deelgeneem, maar sy het op die vlag gespoeg toe sy gesê is om dit te doen. Daarenteen het Terra nie die volkslied gesing of die vlag gesalueer nie, maar sy het geweier om die vlag so oneer aan te doen. Die onderwyser het gesê dat Terra die een was wat behoorlike respek betoon het.—1990 Yearbook of Jehovah’s Witnesses.

[Foto-erkennings op bladsy 23]

French Embassy Press & Information Division

USSR Mission to the UN

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel