Bid vir mekaar”
JEHOVAH is die “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:3). Hy verhoor altyd die gebede van diegene wat heelhartig aan hom toegewy is, en ons kan seker wees dat hy luister wanneer hulle vir mekaar bid.
Maar waarom moet ons vir mekaar bid? Waaroor moet sulke gebede handel? En watter goddelike eienskappe word versterk wanneer ons vir mekaar bid?
Waarom moet ons vir mekaar bid?
Die Bybel moedig Jehovah se volk aan om vir mekaar te bid. Gebede ten behoewe van ander was onder die apostel Paulus se smeekbedes tot God (Kolossense 1:3; 2 Thessalonicense 1:11). Die dissipel Jakobus het boonop geskryf: “Bid vir mekaar.”—Jakobus 5:16.
Gebede vir ander knegte van God is doeltreffend. Dit word in Jakobus 5:13-18 getoon waar ’n geestelik siek Christen aangemoedig word om die gemeentelike ouere manne toe te laat om ‘oor hom te bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het’. Wanneer die gekwelde hulle gebed aanhoor, kan dit hom versterk en oortuig dat God ook sy eie gebede sal verhoor (Psalm 23:5; 34:18). Die ouere manne bid nie net vir hom nie, maar hulle probeer ook sy geestelike gesondheid herstel deur skriftuurlike gedagtes met hom te deel wat soos strelende olie is.
Jakobus voeg by: “Die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.” Ja, die geestelik siek persoon sal gehelp word deur die ouere manne se “gebed van die geloof”. God sal hom boonop tot geestelike gesondheid “oprig” as hy bereid is om deur die Skrif gehelp te word. Maar wat as die geestelike siekte die gevolg van ernstige sonde is? Wel, as die persoon berouvol is, sal Jehovah hom vergewe.
Jakobus sê: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag. Elia . . . het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (1 Konings 17:1-7; 18:1, 42-45). Daar is krag in ’n regverdige se gebed wat in ooreenstemming met God se wil is.—1 Johannes 5:14, 15.
Waaroor moet ons bid?
Enigiets kan die onderwerp van ons gebede vir ’n medegelowige wees. Paulus het byvoorbeeld vir ander gevra om te bid dat hy die vermoë mag hê om die goeie nuus bekend te maak (Efesiërs 6:17-20). Wat as ons weet dat iemand in versoeking verkeer? Ons kan bid dat hy ‘geen kwaad doen nie’ en dat God hom nie aan versoeking sal oorgee nie, maar hom van die bose, Satan die Duiwel, sal verlos (2 Korinthiërs 13:7; Mattheüs 6:13). En as iemand liggaamlik siek is, kan ons Jehovah vra om hom die sielskrag te gee om sy siekte te verduur.—Psalm 41:2-4.
Dit is altyd gepas om vir vervolgde mede-aanbidders van Jehovah te bid. Paulus en sy metgeselle het hewige vervolging verduur, en hy het vir die Korinthiese Christene gesê: “Terwyl julle ook vir ons saamwerk deur die gebed, sodat daar vir die genadegawe aan ons deur baie persone op baie maniere vir ons gedank mag word” (2 Korinthiërs 1:8-11; 11:23-27). Selfs al is ons in die gevangenis kan ons vir ander vervolgde broers bid, en altyd onthou dat Jehovah “die gebed van die regverdige hoor”.—Spreuke 15:29.
Ons moet veral bid vir ons broers wat groot verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie dra. Dit sluit diegene in wat die organisasie rig en die geestelike voedsel voorberei wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” uitgegee word (Mattheüs 24:45-47). Die lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies verdien byvoorbeeld ons gebede; en ons kan bid dat God hulle ‘’n gees van wysheid’ gee.—Efesiërs 1:16, 17.
Christelike eienskappe word versterk
Wanneer ons vir medegelowiges bid, toon ons dat ons besorg, onselfsugtig en liefdevol is. Onselfsugtige, liefdevolle besorgdheid vir ons geestelike broers en susters stem ooreen met Paulus se punt dat liefde ‘nie sy eie belang soek nie’ (1 Korinthiërs 13:4, 5). Om vir ander te bid is een manier om ‘nie elkeen na sy eie belange om te sien nie, maar elkeen ook na die ander s’n’ (Filippense 2:4). Wanneer ons vir die geestelike welsyn van ander bid, sal dit ons bande met hulle versterk in die broederliefde wat Jesus se dissipels identifiseer.—Johannes 13:34, 35.
Die eienskap van meegevoel word versterk teenoor diegene vir wie ons bid (1 Petrus 3:8). Ons het simpatie met hulle, deel in hulle belangstellinge en bekommernisse. Wat die menseliggaam betref, wanneer een hand beseer word, versorg die ander hand dit en probeer dit die lyding verlig wat deur die wond veroorsaak word. (Vergelyk 1 Korinthiërs 12:12, 26.) Wanneer ons vir broers en susters bid wat swaarkry, versterk dit insgelyks ons simpatie vir hulle en help dat ons hulle in gedagte hou. Ons benadeel net onsself as ons nie vir getroue mede-Christene bid nie, want God en Christus laat hulle nie in die steek nie.—1 Petrus 5:6, 7.
Verskeie goddelike eienskappe word versterk wanneer ons vir ander bid. Ons word simpatieker en geduldiger teenoor hulle. Moontlike bitterheid word uitgeroei, en dit laat plek vir opbouende gedagtes wat ons liefdevol en vreugdevol maak. Wanneer ons vir ander bid, bevorder dit vrede en eenheid onder Jehovah se volk.—2 Korinthiërs 9:13, 14.
Hou aan om vir mekaar te bid
Ons kan soos Paulus vir ander vra om vir ons te bid. Ons vriende kan, behalwe om saam met ons te bid, namens ons privaat tot God bid, ons naam noem, ons probleem noem en vra dat Hy ons moet help. En hulp sal kom, omdat “Jehovah weet hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te bevry”.—2 Petrus 2:9, NW.
Getuies van Jehovah wat ons in hulle gebede noem, het ook beproewinge—moontlik swaarder as ons s’n. Tog dra hulle ons belange aan die Ewige Koning op en stort selfs trane ter wille van ons. (Vergelyk 2 Korinthiërs 2:4; 2 Timotheüs 1:3, 4.) Hoe dankbaar behoort ons tog hiervoor te wees! Laat ons dus uit waardering, asook om die ander redes wat bespreek is, vir mekaar bid.