Watter God moet jy aanbid?
VEREERS, wie is die een God wat alleen aanbid moet word? Die Bybel antwoord onomwonde. Die boek Openbaring sê: “U is waardig, o Here [Jehovah, NW], om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Openbaring 4:11). Ja, Jehovah, die Skepper, is die enigste God wat ons aanbidding verdien. Waarom? Ons sal weldra na daardie vraag terugkeer. Maar laat ons eers praat oor die ander gode wat deur die mens aanbid word.
Agter al die valse gode
Hoewel mense baie gode dien, is die waarheid dat die aanbidding van al die gode in al die nasies—buiten die aanbidding van Jehovah, die Skepper—net een god se planne bevorder. Hoe? Lees die apostel Paulus se woorde aan die Christene in Korinthe. Baie godhede is in daardie stad aanbid, van sedelose Aphrodite tot Asklepios, hulle god van genesing. Paulus het egter getoon dat daar net een bose mag agter al daardie gode was. Hy het geskryf: “Die dinge wat die nasies offer, offer hulle aan demone en nie aan God nie” (1 Korinthiërs 10:20, NW). Ja, die heidense Korinthiërs het demone aanbid.
Die demone het in aansyn gekom deur in opstand te kom. Die eerste en grootste van hulle was die engel wat Eva verlei het om God se wet in die tuin van Eden te verbreek (Genesis 3:1-6; Johannes 8:44). Hierdie skepsel het sodoende teen die Skepper se soewereiniteit in opstand gekom. Hy is agterna Satan genoem, wat “Teenstander” beteken. Later het ander geesskepsele saam met hom in opstand gekom. Hulle het ook demone geword, en Satan word geïdentifiseer as “die owerste van die duiwels” (Mattheüs 12:24, 26). In die boek Openbaring word hierdie demone “engele” van Satan genoem (Openbaring 12:7). Aanbidding van die demone is dus aanbidding van Satan.
Satan het geweldige invloed. Die apostel Johannes het gesê dat “die hele wêreld” in sy mag lê, en Paulus het hom “die god van hierdie wêreld” genoem (1 Johannes 5:19; 2 Korinthiërs 4:4). Die aanbidding van enige god buiten Jehovah is dus in werklikheid aanbidding van Satan. Op sy allerminste bevorder dit Satan se planne omdat dit sy doel is om die kinders van Adam en Eva te verlei sodat hulle teen Jehovah in opstand sal kom. Aangesien Satan “die hele wêreld verlei”, is dit duidelik dat hy in die meeste gevalle sukses behaal het (Openbaring 12:9). Maar nie in alle gevalle nie. Daar is nog miljoene wat daarna strewe om Jehovah te dien. Waarom?
Die vrugte van verkeerde aanbidding
Vereers weet hulle dat die aanbidding van ander gode as Jehovah meer kos as wat hulle wil betaal. Argeologiese opgrawings van eertydse Carthago in Noord-Afrika het tot die ontdekking van ’n kinderbegraafplaas gelei. Daarin was die geraamtes van kinders wat aan die Feniciese god Baäl geoffer is. Kinderofferandes was die verskriklike prys wat daardie mense van Carthago moes betaal omdat hulle Baäl aanbid het. Middeleeuse Katolisisme het ook ’n prys geverg toe dit tydens die bloedige Kruistogte en wrede Inkwisisies onmeetlike lyding veroorsaak het. Die aanbidding van die Inkagode van pre-Colombiaanse Amerika het die rituele slagting van duisende meegebring.
In onlangser tye het ander vorme van aanbidding grootskaalse slagting in Indië veroorsaak en tot ernstige politieke probleme in die Midde-Ooste en Noord-Ierland bygedra. Onkunde, bygelowe en vrees moet ook genoem word as deel van die prys wat die mens vir die aanbidding van sy baie gode betaal.
Waarom moet jy Jehovah God dien?
Daarenteen hou dit net voordele in as jy Jehovah aanbid. Vereers is hy die Een “wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is” (Openbaring 10:6). Ons moet hom dus aanbid omdat hy ons Skepper is.
Verder moet ons Jehovah God aanbid omdat sy eienskappe ons beweeg om hom te aanbid. Die apostel Johannes het gesê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Die getroue man Job het gesê: “[God] is wys van hart en sterk van krag” (Job 9:4). Moses het van hom gesing: “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deuteronomium 32:4). Wie sal huiwer om so ’n God te dien?
Daarbenewens sê die Bybel: “Godvrugtige toegewydheid is nuttig vir alle dinge, omdat dit ’n belofte inhou vir die teenwoordige en die toekomende lewe” (1 Timotheüs 4:8, NW). Hoe waar is dit tog nie! Jehovah wil dit hê wat goed is vir die mens. Hy het die aarde as ’n pragtige tuiste vir sy skepping gegee, en hy het oorgenoeg voorsiening gemaak om die lewe genotvol te maak. Ten spyte van die mens se opstand het God steeds lewe op hierdie aarde in stand gehou deur in al die materiële behoeftes van die mens te voorsien want “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges”.—Mattheüs 5:45.
Maar die ‘belofte van die teenwoordige lewe’ strek verder. Dit is bevredigend en lonend om God te dien. Dit is waarvoor ons gemaak is. En God help diegene wat hom getrou dien om sukses met hulle lewe te behaal. Deur middel van die Bybel verskaf hy leiding aan ongetroudes, getroude pare, kinders—mense in alle kringe. Hy gee betroubare, praktiese wysheid om ons in alle situasies te help sodat ons die probleme kan oplos wat opduik vanweë ’n lewe as onvolmaakte mense in ’n wêreld onder Satan se invloed. As ons God op ’n wyse aanbid wat hom behaag, kan ons “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, ervaar.—Filippense 4:7.
Wat ook belangrik is, is die ‘belofte van die toekomende lewe’. Jesus het vir die Fariseër Nikodemus gesê: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Ewige lewe! Watter godheid buiten Jehovah kan so iets belowe en dan sy belofte vervul? Die uiteindelike toestand van diegene wat daardie grootse gawe ontvang, word in Openbaring beskryf: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4, 5). Waarlik, die vooruitsig op die toekomende lewe moet maak dat ons Jehovah wil dien!
Watter God moet ons dan dien? Net Jehovah, die Skepper. Van alle godhede is hierdie woorde net op hom van toepassing: “Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het” (Openbaring 15:3, 4). Hoe verstandig is diegene tog wat gehoor gee aan die psalmis se aanmoedigende woorde: “Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het”!—Psalm 95:6.
[Prent op bladsy 6]
Party van die gode wat Satan die mens oorreed het om te aanbid
[Prent op bladsy 7]
Die vooruitsig op die toekomstige lewe moet maak dat ons Jehovah wil dien