Koninkryksverkondigers berig
Bybelwaarhede seëvier oor tradisie
GODSDIENSTRADISIE kan baie diep gewortel wees. Miljoene meen dat dit verkeerd is om ’n mens se godsdiens te verander. Saulus, wat die apostel Paulus geword het, was klaarblyklik van dieselfde mening, aangesien hy gesê het: ‘Ek was baie yweriger vir die oorleweringe van my voorvaders as baie van my eie ouderdom.’ Maar toe die waarheid aan hom bekend gemaak is, het hy Judaïsme verlaat en ’n Christen geword (Galasiërs 1:13-16, NW). Vandag het baie mense al besef dat Bybelwaarheid van ’n bron kom wat hoër as tradisie is. Let op hoe Bybelwaarheid in Italië geseëvier het.
Een vrou verduidelik: “Ek en my suster het in ’n groot gesin met ou Katolieke tradisies grootgeword, en ons was toegewyde Katolieke. Mettertyd is ek getroud. Toe het ek my man verloor, en ek het jare lank as ’n weduwee saam met my kinders gewoon. My niggie het katkisasielesse gegee, en sy het gedurig vir die priester Bybelvrae gevra, maar sy het nie bevredigende antwoorde ontvang nie.
“Terwyl ek in my tuisdorp gekuier het, het ek vir die eerste keer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en ’n Bybelstudie aanvaar. Al my gewese Katolieke vriende het my bespot omdat ek die Bybel bestudeer het. Maar ek is nie ontmoedig nie. Ek het vir die eerste keer ’n Bybel besit en niemand sou dit van my wegneem nie. My suster het ook haar standpunt vir Jehovah ingeneem, en in minder as twee jaar is ons albei gedoop.
“Ek het gehuil toe ek die eerste keer van die kerk weggebreek het, omdat ek bang was om afstand te doen van tradisies wat al 76 jaar in my gewortel is. Maar nou is ek gelukkig om in Jehovah se weë te wandel en ek doen my bes om ander te help om uit geestelike duisternis te kom!”—Vergelyk 1 Petrus 2:9.
Barbier stel verkeerde denke reg
’n Barbier in Japan was lief daarvoor om oor demone en VVV’s te praat terwyl hy kliënte se hare gesny het. Maar nadat hy die Bybel begin studeer het, het hy besef hoe gevaarlik hierdie gewoonte is. Hy het sy kliënte dus uitgenooi om eerder saam met hom die Bybel te studeer. Hy het vir jong kliënte oor die skepping getuig. Elke week het hy Bybels en eksemplare van die boek Jy kan vir ewig in die paradys op aarde lewe van die Getuie bestel wat ’n Bybelstudie met hom gehou het sodat hy hulle by sy kliënte kon laat.
Hoewel hy nog nie ’n Getuie is, het hy oor die 30 stelle Bybels en Paradys op aarde-boeke gedurende sy eerste jaar van Bybelstudie versprei. Meer as 25 mense het as gevolg van sy informele getuienis die Bybel begin studeer. Partykeer het tot tien mense aan sy Bybelstudiegroep deelgeneem. Nou het sewe van die diegene vir wie hy getuig het terwyl hy hulle hare gesny het, hulle verkeerde denke laat regstel en is hulle gedoopte Getuies van Jehovah!