Behou geloof en ’n goeie gewete
Glanspunte uit Eerste Timotheüs
ONGEVEER 56 G.J. het die apostel Paulus die ouere manne van die gemeente in Efese gewaarsku dat “wrede wolwe” onder hulle sou opstaan wat ‘verkeerde dinge praat om dissipels weg te trek agter hulle aan’ (Handelinge 20:29, 30). Binne enkele jare het die afvalligheid sulke ernstige afmetings aangeneem dat Paulus Timotheüs ten sterkste aangespoor het om ’n geestelike stryd binne die gemeente te voer om die reinheid van die gemeente te bewaar en medegelowiges te help om in die geloof te bly. Dit was een van die vernaamste redes waarom Paulus in ongeveer 61-64 G.J. uit Macedonië sy eerste brief aan Timotheüs geskryf het.
Timotheüs het instruksie ontvang oor die pligte van ’n ouere man, die Godaangewese posisie van die vrou, vereistes vir ouere manne en bedieningsknegte en ander aangeleenthede. Hierdie instruksie is ook vandag nuttig.
Vermaning om aan die geloof vas te hou
Paulus open sy brief met raad om aan die geloof en ’n goeie gewete vas te hou (1:1-20). Hy moedig Timotheüs aan om in Efese aan te bly en “om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie”. Paulus is dankbaar vir die bediening waarin hy gestel is, en erken dat hy in onkunde en in ongeloof gehandel het toe hy Jesus se volgelinge vervolg het. Die apostel gelas Timotheüs om voort te gaan om die geestelike stryd te stry, ‘aan die geloof en ’n goeie gewete vas te hou’ en nie soos sommige te word wat ‘aan die geloof skipbreuk gely het’ nie.
Raad oor aanbidding
Vervolgens gee Paulus raad as “’n leraar van die nasies insake geloof en waarheid” (2:1-15, vgl. NW). Voorbedes moet gedoen word vir almal wat hooggeplaas is, sodat Christene rustig kan lewe. Dit is die wil van God dat alle soorte mense gered word, en ’n lewensbelangrike lering is dat Christus “homself gegee het as ’n ooreenkomstige losprys vir almal”. Paulus toon dat ’n vrou haar met beskeidenheid moet versier en nie oor die man moet heers nie.
Die gemeente moet goed georganiseer wees (3:1-16). Daarom sit Paulus die vereistes vir opsieners en bedieningsknegte uiteen. Uit wat die apostel geskryf het, sal Timotheüs weet hoe hy hom moet gedra in die gemeente wat “’n pilaar en grondslag van die waarheid” is.
Paulus gee Timotheüs persoonlike raad wat hom sal help om op sy hoede te wees teen valse leringe (4:1-16). In die laaste tye sal sommige van die geloof afvallig word. Maar deur voortdurend op homself en op sy leer te let, sal Timotheüs ‘homself red sowel as die wat na hom luister’.—NW.
Timotheüs ontvang ook raad oor hoe om met mense, jonk en oud, te werk (5:1-25). Daar moet byvoorbeeld behoorlike voorsiening gemaak word vir ouer weduwees wat ’n goeie reputasie as Christinne het. Jonger weduwees moet liewer trou en kinders baar as om te loop en skinder. Ouere manne wat op ’n voortreflike wyse die leiding neem, moet dubbele eer waardig geag word.
Godvrugtige toegewydheid saam met vergenoegdheid
Paulus se brief word afgesluit met raad oor godvrugtige toegewydheid (6:1-21, vgl. NW). “Godvrugtige toegewydheid saam met vergenoegdheid” is ’n groot wins, maar die begeerte om ryk te word, lei tot vernietiging en verderf. Paulus spoor Timotheüs aan om die goeie stryd van die geloof te stry en ‘die ewige lewe stewig vas te gryp’. Sodat hulle daardie werklike lewe stewig kan vasgryp, moet die rykes ‘nie hulle hoop op onsekere rykdom vestig nie, maar op God’.
[Venster/Prent op bladsy 30]
Gered deur kinders te baar: Paulus praat nie hier van redding tot die ewige lewe nie, maar oor ’n godvrugtige vrou se regmatige rol toe hy geskryf het: “Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in die geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid” (1 Timotheüs 2:11-15). As ’n vrou kinders baar, hulle versorg en ’n huishouding bestuur, sal dit haar ‘red’ dat sy nie ledig rondloop en skinder en haar met ander mense se sake bemoei nie (1 Timotheüs 5:11-15). Haar huishoudelike bedrywighede sal haar diens aan Jehovah aanvul. Alle Christene moet natuurlik op hulle gedrag let en hulle tyd wyslik gebruik.—Efesiërs 5:15, 16.