Jesus se lewe en bediening
Doodstryd aan die paal
SAAM met Jesus word twee rowers uitgelei om tereggestel te word. Die optog kom net buite die stad tot stilstand by die plek wat Golgota, of Plek van die Hoofskedel, genoem word.
Die gevangenes se klere word uitgetrek. Dan word hulle wyn gemeng met mirre gegee. Dit word waarskynlik deur die vroue van Jerusalem berei, en die Romeine ontsê diegene wat die paalstraf opgelê word nie hierdie verdowingsmiddel nie. Maar wanneer Jesus dit proe, weier hy om dit te drink. Waarom? Hy wil blykbaar by sy volle sinne wees terwyl sy geloof tot die uiterste beproef word.
Jesus word nou met sy hande bo sy kop op die paal uitgestrek. Dan slaan die soldate groot spykers deur sy hande en voete. Hy ruk van die pyn wanneer die spykers sy vlees en ligamente deurboor. Die pyn is verskriklik wanneer die paal regop geswaai word, want die liggaam se gewig ruk aan die spykerwonde. Maar pleks van hulle te dreig, bid Jesus vir die Romeinse soldate: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Pilatus laat ’n teken op die paal aanbring wat sê: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” Hy skryf dit blykbaar nie net omdat hy Jesus respekteer nie, maar omdat hy die Joodse priesters verafsku aangesien hulle Jesus se doodvonnis van hom afgedwing het. Sodat almal die teken kan lees, laat Pilatus dit in drie tale skryf—in Hebreeus, in die amptelike Latyn en in die algemene Grieks.
Die owerpriesters, Kajafas en Annas inkluis, is ontsteld. Hierdie positiewe opskrif bederf hulle uur van triomf. Hulle protesteer dus: “Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.” Ergerlik omdat hy as werktuig vir die priesters gedien het, antwoord Pilatus met besliste minagting: “Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.”
Die priesters en ’n groot menigte vergader nou by die teregstellingsplek, en die priesters probeer die getuienis van die opskrif weerspreek. Hulle herhaal die valse getuienis wat vroeër by die Sanhedrinverhore gelewer is. Dit is dus nie verbasend nie dat die verbygangers hom smaad, hulle hoofde spottend skud en sê: “U wat die tempel sou afbreek en in drie dae sou opbou, red uself! As u ’n seun van God is, kom dan van die folterpaal af!”
“Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie!” spot die owerpriesters en hulle godsdienstrawante saam. “Hy is koning van Israel; laat hom nou van die folterpaal afkom, dan sal ons in hom glo. Hy het sy vertroue op God gestel; laat Hy hom nou verlos indien Hy hom wil hê, want hy het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’”
Die soldate smaad Jesus ook. Hulle bied hom spottend asyn aan en hou dit blykbaar net buite die bereik van sy droë lippe. “As U die Koning van die Jode is”, spot hulle, “verlos Uself.” Selfs die rowers—die een aan ’n paal aan Jesus se regter- en die ander aan sy linkerkant—smaad hom. Stel jou dit voor! Die grootste man wat nóg gelewe het, ja, die een wat Jehovah God gehelp het om alle dinge te skep, verdra hierdie gehoon onverskrokke!
Die soldate neem Jesus se boklere en verdeel dit in vier dele. Hulle werp die lot daaroor om te sien wie s’n dit sal word. Die onderkleed is egter van hoë gehalte en het nie ’n naat nie. Die soldate sê dus vir mekaar: “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees.” Hulle vervul derhalwe onwetend die skrif wat sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp.”
Een van die rowers besef mettertyd dat Jesus waarlik ’n koning moet wees. Daarom berispe hy sy maat en sê: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?—ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” Dan wend hy hom tot Jesus en smeek hom: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.”
Jesus antwoord hom: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.” Hierdie belofte sal vervul word wanneer Jesus as Koning in die hemel regeer en die berouvolle kwaaddoener opwek tot lewe op die Paradysaarde wat Armageddon-oorlewendes en hulle metgeselle die voorreg sal hê om te bewerk. Mattheüs 27:33-44, vgl. NW; Markus 15:22-32; Lukas 23:27, 32-43, vgl. NW; Johannes 19:17-24.
◆ Waarom weier Jesus om die wyn gemeng met mirre te drink?
◆ Waarom is die opskrif op Jesus se paal aangebring, en watter verdere woordewisseling laat dit tussen Pilatus en die owerpriesters ontstaan?
◆ Hoe word Jesus verder aan die folterpaal gehoon, en wat gee blykbaar aanleiding daartoe?
◆ Hoe word die profesie vervul deur wat met Jesus se klere gedoen word?
◆ Watter verandering bring een van die rowers in sy gesindheid aan, en hoe sal Jesus aan sy versoek voldoen?