Belydenis van sondes—Op die mens se manier of op God s’n?
DIE bieg onder Katolieke het deur die eeue heen opvallend verander. In die beginjare van die Katolieke Kerk is die bieg en boetedoening net vir ernstige sondes vereis. Die boek Religion in the Medieval West sê hieroor: “Die boetestelsel was tot laat in die sesde eeu baie streng: die sakrament kon net een keer in ’n leeftyd bedien word, die bieg was in die openbaar en die boetedoening was lank en streng.”
Hoe streng was sulke boetedoenings? In 1052 moes een boeteling al die pad van Brugge in België tot in Jerusalem kaalvoet loop! “Daar kon nog in 1700 Katolieke gevind word wat by heilige putte en fonteine tot by hulle nekke in ysige water gekniel het om hulle boetegebede op te sê”, sê die boek Christianity in the West 1400-1700. Aangesien kwytskelding in daardie tyd weerhou is totdat die boetedoening voltooi is, het baie dit uitgestel om te bieg totdat hulle op hulle sterfbed was.
Wanneer het die hedendaagse gewoonte om te gaan bieg begin? Religion in the Medieval West sê: “’n Nuwe vorm van boetedoening is laat in die sesde eeu deur Keltiese monnike in Frankryk ingestel. . . . Dit was die oorbieg, waar die boeteling sy sondes privaat aan ’n priester gebieg het, en dit was ’n wysiging van die kloostergebruik van geestelike raadgewing.” Volgens die ouer kloostergebruik het die monnike hulle sondes aan mekaar bely om geestelike hulp te kry sodat hulle hulle swakhede te bowe kon kom. Met die nuwer oorbieg het die kerk egter die groter “mag of gesag om sondes te vergewe” aan die priester gegee.—New Catholic Encyclopedia.
Het Jesus werklik sulke mag aan sommige van sy volgelinge gegee? Wat het hy gesê wat sommige tot hierdie slotsom laat kom het?
“Die sleutels van die Koninkryk”
Jesus Christus het by een geleentheid vir die apostel Petrus gesê: “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees” (Mattheüs 16:19). Wat het Jesus met “die sleutels van die koninkryk” bedoel? Ons kan dit beter verstaan as ons na ’n ander geleentheid kyk waar Jesus die woord “sleutel” gebruik het.
Jesus het eenkeer vir die Joodse godsdiensleiers wat in die Mosaïese Wet bedrewe was, gesê: “Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder” (Lukas 11:52). Ander “verhinder” om waar in te gaan? Jesus sê vir ons in Mattheüs 23:13: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.” Die Joodse geestelikes het as ’t ware die deur vir baie toegemaak deur hulle van die geleentheid te beroof om saam met Jesus Christus in die hemel te wees. Die “sleutel” wat daardie godsdiensleiers “weggeneem” het, het niks met die vergifnis van sondes te doen gehad nie. Dit was die sleutel tot godgegewe kennis.
Net so stel “die sleutels van die koninkryk” wat aan Petrus gegee is, nie die mag voor om die hemel in te lig oor wie se sondes vergewe of nie vergewe moet word nie. Hulle stel eerder Petrus se groot voorreg voor om die weg tot die hemel te open deur godgegewe kennis deur middel van sy bediening te versprei. Hy het dit eers onder Jode en Joodse proseliete versprei, toe onder Samaritane en laastens onder die nie-Jode.—Handelinge 2:1-41; 8:14-17; 10:1-48.
“Wat julle op die aarde bind”
Later is Jesus se woorde aan Petrus weer aan ander dissipels herhaal. “Voorwaar Ek sê vir julle”, het Jesus gesê, “alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees” (Mattheüs 18:18). Watter gesag het Christus hier aan sy dissipels gegee? Die konteks toon dat Jesus bespreek het hoe persoonlike geskille tussen gelowiges besleg moes word en die gemeente rein van onberouvolle kwaaddoeners gehou moes word.—Mattheüs 18:15-17.
In gevalle waar ernstige oortredinge van God se wet betrokke was, moes verantwoordelike manne in die gemeente sake oordeel en besluit of ’n oortreder “gebind” (as skuldig beskou) moes word of “ontbind” (vrygespreek) moes word. Het dit beteken dat die besluite van mense in die hemel gevolg word? Nee. Soos Bybelkenner Robert Young toon, sou enige besluit wat die dissipels neem op die besluit in die hemel volg, en dit nie voorafgaan nie. Hy sê dat vers 18 letterlik behoort te lees: Wat julle op die aarde bind, “sal dít wees wat (reeds) gebind is” in die hemel.
Dit is werklik onredelik om te dink dat enige onvolmaakte mens besluite kon neem wat bindend sou wees op diegene in die hemelse hof. Dit is baie redeliker om te sê dat Christus se aangestelde verteenwoordigers sy riglyne sou volg om sy gemeente skoon te hou. Hulle sou dit doen deur ’n besluit te neem wat gegrond is op beginsels wat reeds in die hemel neergelê is. Jesus self sou hulle rig om dit te doen.—Mattheüs 18:20.
Kan enige mens Christus dermate “as die vaderlike regter verteenwoordig” dat hy oor die ewige toekoms van ’n medegelowige kan besluit? (New Catholic Encyclopedia). Priesters wat die bieg afneem, verleen amper sonder uitsondering kwytskelding, selfs “al lyk dit asof daar ’n onuitgesproke opvatting [onder Katolieke teoloë] is dat daar min mense is wat werklik jammer is oor hulle sondes” (The New Encyclopædia Britannica). Trouens, wanneer laas het jy gehoor van ’n priester wat weier om kwytskelding te verleen of ’n oortreder van skuld te onthef? Dit is waarskynlik omdat die priester nie dink dat hy alleen die vermoë het om te oordeel of ’n sondaar berouvol is of nie. Maar as dit die geval is, waarom beweer hy dat hy die mag het om kwytskelding te verleen?
Stel jou ’n geregshof voor waar ’n barmhartige regter misdadigers, selfs hardnekkige wetsoortreders, gereeld vryspreek omdat hulle elke keer as hulle oortree, dit maar net erken en sê dat hulle jammer is. Hoewel dit oortreders tevrede sal stel, sal so ’n misplaaste beskouing van barmhartigheid die respek vir geregtigheid ernstig ondermyn. Laat die gebruik in die Katolieke Kerk om te bieg mense in werklikheid nie in hulle sondige lewenswandel volhard nie?—Prediker 8:11.
“Om te gaan bieg, veroorsaak glad nie dat mense die sonde in die toekoms sal probeer vermy nie”, sê Ramona, wanneer sy terugdink aan hoe sy, sedert sy sewe jaar oud was, as Katoliek gaan bieg het. Sy voeg by: “Die bieg van sondes laat die idee ontstaan dat God ’n mens altyd vergewe en dat hy jou sal vergewe ongeag wat jou onvolmaakte vlees jou laat doen. Dit wek nie ’n diep begeerte by jou om te doen wat reg is nie.”a
Maar wat van Jesus se woorde wat in Johannes 20:22, 23 opgeteken is? Daar het hy aan sy dissipels gesê: “Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Gee Jesus sy dissipels nie hier spesifiek gesag om sondes te vergewe nie?
As ’n mens dit alleen beskou, lyk dit moontlik asof hierdie Bybelteks dit sê. Maar tot watter slotsom moet ons kom wanneer ons hierdie woorde beskou saam met die verslag in Mattheüs 18:15-18, asook al die ander dinge wat die Bybel oor belydenis en vergifnis leer? Dat Jesus sy dissipels in Johannes 20:22, 23 die gesag gegee het om onberouvolle oortreders van ernstige sondes uit die gemeente te sit. Christus het sy volgelinge terselfdertyd die gesag gegee om barmhartigheid en vergifnis aan berouvolle sondaars te verleen. Jesus het beslis nie gesê dat sy dissipels elke sonde aan ’n priester moet bieg nie.
Verantwoordelike persone in die gemeente het dus die gesag ontvang om te besluit hoe daar teen diegene opgetree gaan word wat hulle aan ernstige sondes skuldig maak. Sulke besluite sou geneem word onder leiding van God se heilige gees en in harmonie met God se riglyne wat deur Jesus Christus en die Heilige Skrif gegee is. (Vergelyk Handelinge 5:1-5; 1 Korinthiërs 5:1-5, 11-13.) Daardie verantwoordelike manne sou sodoende gehoor gee aan riglyne uit die hemel, en nie hulle besluite aan die hemel oplê nie.
“Bely mekaar julle misdade”
Wanneer is dit dus gepas vir Christene om hulle misdade aan mekaar te bely? In die geval van ernstige sonde (nie elke klein tekortkoming nie) moet ’n persoon dit teenoor verantwoordelike opsieners in die gemeente bely. Selfs al is ’n sonde nie ernstig nie, maar die sondaar se gewete kwel hom baie, is daar groot waarde daarin om te bely en geestelike hulp te soek.
In hierdie verband sê die Bybelskrywer Jakobus: “Is daar iemand [geestelik] siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar.”—Jakobus 5:14-16.
In hierdie woorde is daar geen aanduiding van ’n formele, ritualistiese oorbieg nie. Wanneer ’n Christen so belas word deur sonde dat hy voel hy kan nie bid nie, moet hy eerder die aangestelde ouere manne, of opsieners, van die gemeente inroep en hulle sal vir hom bid. Om hom te help om geestelik te herstel, sal hulle ook die olie van God se Woord aanwend.—Psalm 141:5; vergelyk Lukas 5:31, 32; Openbaring 3:18.
Opmerkenswaardig is Johannes die Doper se vermaning om ‘vrugte te dra wat by die bekering pas’. (Mattheüs 3:8; vergelyk Handelinge 26:20.) ’n Waarlik berouvolle oortreder laat vaar sy sondige lewenswyse. Die berouvolle sondaar wat sy sonde aan God bely, sal, soos koning Dawid van eertydse Israel, vergifnis ontvang. Dawid het geskryf: “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.”—Psalm 32:5.
Boetedoening kan nie sulke vergifnis verdien nie. Slegs God kan dit verleen. Hy neem die vereistes van volmaakte geregtigheid in ag, maar sy vergifnis gee uiting aan sy liefde vir die mensdom. Sy vergifnis is ook ’n bewys van onverdiende goedheid, wat op die losprysoffer van Jesus Christus gegrond is, en dit word uitsluitlik aan berouvolle sondaars verleen wat ophou om te doen wat sleg is in God se oë (Psalm 51:9; Jesaja 1:18; Johannes 3:16; Romeine 3:23-26). Slegs diegene wat deur Jehovah God vergewe is, sal die ewige lewe ontvang. En om sulke vergifnis te ontvang, moet ons ons sondes op God se manier, nie op die mens s’n nie, bely.
[Voetnoot]
a Sien in teenstelling hiermee, Markus 3:29; Hebreërs 6:4-6; 10:26. In hierdie tekste toon Bybelskrywers dat God beslis nie alle sondes vergewe nie.
[Prent op bladsy 7]
Dawid het sy sondes teenoor Jehovah bely, wat hom vergewe het