Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 3/15 bl. 19-22
  • Wie het werklik ’n hemelse roeping?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie het werklik ’n hemelse roeping?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Medelydende priesters en konings
  • Die gees se getuienis
  • Waarom hulle die embleme gebruik
  • Waarom is sommige verkeerd?
  • Sorgvuldige ondersoek noodsaaklik
  • Onthou wie die keuse maak
  • Wat beteken die Here se Aandmaal vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Glorieryke vryheid vir die kinders van God is op hande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jehovah bring baie seuns tot heerlikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Die gees getuig met ons gees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 3/15 bl. 19-22

Wie het werklik ’n hemelse roeping?

JEHOVAH het die mens lief. Hierdie liefde is so groot dat hy sy Seun, Jesus Christus, as ’n losprys gegee het om terug te koop wat ons voorvader Adam verloor het! En wat was dit? Ewige, volmaakte menselewe met al sy regte en vooruitsigte (Johannes 3:16). Die losprys was ook ’n betuiging van Jesus se liefde vir die mensdom.—Mattheüs 20:28.

Goddelike liefde is getoon deurdat twee godgegewe verwagtinge voorsien is wat op die waarde van Jesus se losprysoffer gegrond is (1 Johannes 2:1, 2). Voordat Jesus as ’n mens gesterf het, was lewe in ’n aardse paradys die enigste hoop wat voorgehou is aan diegene wat God se goedkeuring weggedra het (Lukas 23:43). Ná Pinkster 33 G.J. het Jehovah egter ’n “klein kuddetjie” ’n hemelse hoop gegee (Lukas 12:32). Maar wat het in die laaste tyd gebeur? Sedert 1931 het die Koninkryksboodskap die aandag meer op die “ander skape” gevestig, en God trek sedert 1935 “’n groot menigte” van sulke “skape” deur Christus na hom (Johannes 10:16; Openbaring 7:9). God het die hoop op ewige lewe in ’n aardse paradys in hulle hart geplaas. Hulle wil vir ewig volmaakte voedsel eet, liefdevol oor die diere heers en met hulle regverdige medemens omgaan.

Medelydende priesters en konings

Jesus sal beslis ’n medelydende hemelse koning wees, aangesien liefde hom beweeg het om sy lewe as ’n losprys af te lê. Maar Jesus sal nie op sy eie die mensdom gedurende sy Duisendjarige Heerskappy tot volmaaktheid ophef nie. Jehovah het voorsiening gemaak vir ander medelydende konings in die hemel. Ja, “hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”.—Openbaring 20:1-6.

Hoeveel medeheersers sal Christus hê, en hoe word hulle vir so ’n ontsagwekkende voorreg gekies? Wel, die apostel Johannes het 144 000 op die hemelse berg Sion saam met die Lam, Jesus Christus, gesien. Omdat hulle “gekoop is uit die mense” sal hulle weet wat dit beteken om beproewinge te ondervind, die laste van onvolmaaktheid te verduur, te ly en as mense te sterf (Openbaring 14:1-5; Job 14:1). Hulle sal voorwaar medelydende koning-priesters wees!

Die gees se getuienis

Die 144 000 “het die salwing van die Heilige”, Jehovah (1 Johannes 2:20). Dit is ’n salwing tot ’n hemelse hoop. God het ‘sy seël op hulle gedruk en in hulle hart die onderpand gegee van wat sal kom, naamlik die gees’.—2 Korinthiërs 1:21, 22, NW.

Ja, diegene met die hemelse roeping het die getuienis van God se gees dat dit so is. Hieroor het Paulus in Romeine 8:15-17 geskryf: “Julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Dit is deur middel van God se gees, of werkende krag, dat gesalfdes uitroep: “Abba, Vader!”

Die belangrikste aanduiding dat iemand tot die hemelse roeping gesalf is, is ’n gees, of oorheersende besef, van seunskap (Galasiërs 4:6, 7, NW). So iemand is heeltemal seker dat God hom verwek het tot geestelike seunskap as een van die 144 000 mede-erfgename van die hemelse Koninkryk. Hy kan daarvan getuig dat sy hemelse hoop nie sy eie aangekweekte begeerte of sy verbeelding is nie, dit kom eerder van Jehovah af weens die werking van God se gees op hom.—1 Petrus 1:3, 4.

Die gees, of oorheersende gesindheid, van die gesalfdes tree op as dryfkrag onder die invloed van God se heilige gees. Dit beweeg hulle om positief te reageer op wat God se Woord oor die hemelse hoop sê. Hulle reageer ook positief op Jehovah se optrede teenoor hulle deur die heilige gees. Hulle is dus seker dat hulle God se geestelike kinders en erfgename is.

Wanneer gesalfdes lees wat God se Woord oor sy geestelike kinders en die hemelse hoop sê, dink hulle spontaan: ‘Dit praat van my!’ Ja, hulle reageer met blydskap wanneer hulle Vader se Woord ’n hemelse beloning belowe. Hulle sê: ‘Dit praat van my!’ wanneer hulle lees: “Geliefdes, nou is ons kinders van God” (1 Johannes 3:2). En wanneer gesalfdes lees dat God mense voortgebring het “as eerstelinge van sy skepsele”, is hulle gesindheid om so te reageer: ‘Ja, hy het my met daardie doel voortgebring’ (Jakobus 1:18). Hulle weet dat hulle “in Christus Jesus” en in sy dood gedoop is (Romeine 6:3). Hulle is dus vas oortuig dat hulle ’n deel van Christus se geestelike liggaam is en hulle koester die hoop om dieselfde dood as hy te sterf en tot hemelse lewe opgewek te word.

As gesalfdes die hemelse Koninkryk wil beërwe, moet hulle ‘hulle des te meer beywer om hulle roeping en verkiesing vas te maak’ (2 Petrus 1:5-11). Hulle wandel deur geloof en maak voortdurend geestelik vooruitgang, net soos diegene wat die aardse hoop het. Wat behels die getuienis van die gees dan nog?

Waarom hulle die embleme gebruik

Gesalfde Christene wil nie hemel toe gaan omdat hulle ontevrede is met hulle huidige aardse lewe nie. (Vergelyk Judas 3, 4, 16.) Die heilige gees getuig eerder saam met hulle gees dat hulle God se kinders is. Hulle is ook seker dat hulle lede van die nuwe verbond is. Die partye in hierdie verbond is Jehovah God en geestelike Israel (Jeremia 31:31-34; Galasiërs 6:15, 16; Hebreërs 12:22-24). Deur hierdie verbond, wat deur Jesus se vergote bloed bekragtig is, word ’n volk vir Jehovah se naam aangeneem en word hierdie gesalfde Christene deel van Abraham se “saad” (Galasiërs 3:26-29; Handelinge 15:14). Die nuwe verbond bly van krag totdat alle geestelike Israeliete tot onsterflike lewe in die hemel opgewek is.

Diegene wat werklik die hemelse roeping het, twyfel boonop nie dat hulle ook in die verbond vir die hemelse Koninkryk is nie. Jesus het na hierdie verbond tussen homself en sy volgelinge verwys toe hy gesê het: “Dit is julle wat in my beproewinge steeds by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30, NW). Hierdie verbond het ten opsigte van Jesus se dissipels in werking getree toe hulle op Pinkster 33 G.J. met heilige gees gesalf is. Dit bly vir ewig van krag tussen Christus en sy medekonings.—Openbaring 22:5.

Diegene wat die hemelse roeping het, is oortuig dat hulle in die nuwe verbond en die verbond vir ’n Koninkryk is. Daarom gebruik hulle tereg die emblematiese brood en wyn by jaarlikse vieringe van die Here se aandmaal, of die herdenking van Jesus Christus se dood. Die ongesuurde brood simboliseer Jesus se sondelose menseliggaam, en die wyn sy volmaakte bloed wat hy in die dood uitgestort het en wat die nuwe verbond bekragtig.—1 Korinthiërs 11:23-26.

As Jehovah die onmiskenbare hoop op hemelse lewe in jou geplaas het, vertrou jy daarop. Jy druk daardie hoop in jou gebede uit. Dit neem al jou aandag in beslag en is onlosmaaklik deel van jou. Jy het brandende geestelike aspirasies. Maar as jy twyfel, moet jy beslis nie die embleme van die Here se aandmaal gebruik nie.

Waarom is sommige verkeerd?

Sommige gebruik moontlik verkeerdelik die Gedenkmaalembleme omdat hulle in werklikheid nie erken dat salwing ‘nie van die een wat wil of van die een wat loop, afhang nie, maar van God’ (Romeine 9:16). Dit berus nie by die persoon om te besluit dat hy of sy graag deel van die nuwe verbond wil uitmaak en ’n mede-erfgenaam saam met Christus in die hemelse Koninkryk wil word nie. Dit is Jehovah se keuse wat tel. In eertydse Israel het God diegene gekies wat as sy priesters sou dien, en hy het Korag tereggestel omdat hy vermetel die priesteramp begeer het wat God aan Aäron se familie gegee het (Exodus 28:1; Numeri 16:4-11, 31-35; 2 Kronieke 26:18; Hebreërs 5:4, 5). Dit sal Jehovah eweneens mishaag as iemand sê dat hy geroepe is om een van die hemelse konings en priesters te wees as God hom nie daartoe geroep het nie.—Vergelyk 1 Timotheüs 5:24, 25.

Iemand kan verkeerdelik aanneem dat hy die hemelse roeping het weens sterk emosies wat uit ernstige probleme voortspruit. Die dood van ’n huweliksmaat of ’n ander tragedie kan veroorsaak dat ’n persoon belangstelling in die lewe op aarde verloor. Of ’n intieme metgesel sê moontlik dat hy ’n gesalfde is, en daarom het die persoon dalk ook die begeerte om hemel toe te gaan. Sulke faktore kan hom laat voel dat die hemelse lewe vir hom bestem is. Maar dit is nie hoe God iemand die gees van seunskap gee nie. Dit sal ’n gebrek aan waardering vir God se voorneme met die aarde toon as iemand die begeerte het om hemel toe te gaan weens ongunstige omstandighede of emosionele bekommernis met betrekking tot ’n lewe op aarde.

Vroeëre godsdienstige beskouings kan ook maak dat iemand verkeerdelik tot die slotsom kom dat hy die hemelse roeping het. Hy was moontlik voorheen verbonde aan ’n valse godsdiens wat hemelse lewe as die enigste hoop vir die getroues voorgehou het. ’n Christen moet dus daarteen waak dat hy deur emosies of vroeëre verkeerde opvattinge gelei word.

Sorgvuldige ondersoek noodsaaklik

Die apostel Paulus het ’n baie belangrike punt gestel toe hy geskryf het: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie” (1 Korinthiërs 11:27-29). ’n Gedoopte Christen wat in die laaste jare begin dink het dat hy die hemelse roeping ontvang het, moet die saak derhalwe baie sorgvuldig en biddend oordink.

So ’n persoon kan hom ook afvra: ‘Het ander my beïnvloed om te dink dat ek hemelse lewe gaan ontvang?’ Dit sal verkeerd wees, want God het niemand aangewys om ander vir so ’n voorreg te werf nie. ’n Neiging om te fantaseer, sal geen aanduiding wees dat God iemand gesalf het nie, en hy salf nie Koninkrykserfgename deurdat hy hulle stemme met sulke boodskappe laat hoor nie.

Party kan hulle dalk afvra: ‘Het ek dwelms gebruik voordat ek ’n Christen geword het? Gebruik ek medisyne wat ’n uitwerking op die gemoedstoestand het? Het ek behandeling ontvang vir geestes- of emosionele probleme?’ Sommige het al gesê dat hulle eers geveg het teen wat hulle gedink het die hemelse hoop is. Ander het gesê dat God hulle aardse hoop ’n tyd lank weggeneem het en hulle eindelik ’n hemelse hoop gegee het. Maar dit strook nie met God se handelwyse nie. Geloof is buitendien nie onseker nie; dit is seker.—Hebreërs 11:6.

’n Persoon kan hom ook afvra: ‘Wil ek graag vernaam wees? Begeer ek nou ’n gesagsposisie of ’n posisie as een van Christus se medekonings en -priesters?’ In die eerste eeu G.J., toe alle mense genooi is om lede van die hemelse Koninkryk te word, het nie alle gesalfde Christene verantwoordelike posisies as lede van die bestuursliggaam of as ouere manne of bedieningsknegte beklee nie. Baie was vroue en hulle het nie spesiale gesag gehad nie; salwing met die heilige gees bring ook nie buitengewone insig in God se Woord mee nie, want Paulus het dit nodig geag om sekere gesalfdes te onderrig en raad te gee (1 Korinthiërs 3:1-3; Hebreërs 5:11-14). Diegene met die hemelse roeping beskou hulleself nie as vernaam nie, en hulle vestig nie die aandag op die feit dat hulle gesalfdes is nie. Hulle openbaar eerder die nederigheid wat tereg verwag word van diegene wat die “sin van Christus” het (1 Korinthiërs 2:16). Hulle besef ook dat alle Christene aan God se regverdige vereistes moet voldoen, of hulle nou die hemelse of die aardse hoop het.

’n Mens ontvang nie spesiale openbaringe as jy sê dat jy die hemelse roeping het nie. God het ’n kommunikasiekanaal waardeur hy geestelike voedsel aan sy aardse organisasie voorsien (Mattheüs 24:45-47). Niemand moet dus dink dat as hy ’n gesalfde Christen is dit hom meer wysheid sal gee as wat die “groot menigte” met die aardse hoop het nie (Openbaring 7:9). Dit is nie ’n aanduiding dat iemand ’n geesgesalfde is as hy bedrewe is in die predikingswerk, die beantwoording van skriftuurlike vrae of die hou van Bybeltoesprake nie, want Christene met die aardse hoop vaar ook baie goed in hierdie aspekte. Soos die gesalfdes lei hulle ook ’n voorbeeldige lewe as Christene. Trouens, Simson en ander in voorchristelike tye het God se gees gehad en is met ywer en insig vervul. Tog het nie een van daardie “groot wolk van getuies” die hemelse hoop gehad nie.—Hebreërs 11:32-38; 12:1; Exodus 35:30, 31; Rigters 14:6, 19; 15:14; 1 Samuel 16:13; Esegiël 2:2.

Onthou wie die keuse maak

As ’n medegelowige vrae oor die hemelse roeping het, kan ’n aangestelde ouere man of ’n ander ryp Christen die saak met hom bespreek. Maar een persoon kan nie namens ’n ander besluit nie, en dit is Jehovah wat die hemelse hoop gee. Iemand wat werklik die hemelse roeping het, het nooit nodig om mede-Christene te vra of hy so ’n hoop het nie. Gesalfdes “is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Petrus 1:23). God plant die “saad” wat die persoon “’n nuwe skepsel” met ’n hemelse hoop maak deur sy gees en Woord in hom in (2 Korinthiërs 5:17). Ja, Jehovah maak die keuse.

Wanneer ’n mens die Bybel met nuwelinge studeer, sal dit derhalwe onvanpas wees om te sê dat hulle moet besluit of hulle die hemelse roeping het. Maar sê nou ’n gesalfde Christen word afvallig en moet vervang word? Dan sal dit redelik wees om tot die slotsom te kom dat God die hemelse roeping sal gee aan iemand wat ons hemelse Vader baie jare lank al op voorbeeldige wyse getrou dien.

Die belangrikste doelwit van God se boodskap vandag is nie dat mense lede van Christus se hemelse bruid moet word nie. Inteendeel, “die Gees en die bruid sê: Kom!” Dit is ’n uitnodiging tot lewe in ’n aardse paradys (Openbaring 22:1, 2, 17). Terwyl gesalfdes die leiding in hierdie bedrywigheid neem, openbaar hulle “nederigheid” en werk hulle ‘om hulle roeping en verkiesing vas te maak’.—Efesiërs 4:1-3; 2 Petrus 1:5-11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel